Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons herdenk die Slag van Bloedrivier as 'n groot daad van God in ons geskiedenis, 'n daad wat ons nie mag vergeet nie en aan óns opkomende geslagte moet oordra. Daarby gedenk ons dit as 'n groot daad in die geskiedenis van die Kerk van die HERE in ons land en oor die hele wêreld.
IS JY 'N ERDEKRUIK MET 'N SKAT IN JOU?
Ds Andrè van den Berg
“Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God moet wees en nie uit ons nie” - 2 Kor.4:7
Naas Christus was Paulus die grootste evangelis van alle tye. Sy prediking het eerstens uit die prediking van sondevergifnis bestaan. Sondaars moes tot bekering kom. Tweedens was sy prediking op die versterking van gelowiges se geloof gerig sodat hulle volwasse in die geloof kon word. Paulus was baie geesdriftig en het soos ʼn goeie verkoopsman in sy produk geglo omdat hy self sondevergifnis en die nuutword in Christus ervaar het.
Daarbenewens was sy lewe ʼn oop boek. Hy het geen verskuilde agendas gehad en derhalwe niks in die geheim gedoen nie. Wat meer is, het hy ook nie sy amp vir selfsugtige begeertes misbruik nie, maar die waarheid gepreek soos wat God hom op die hart gelê het: “Daarom, aangesien ons hierdie bediening het volgens die barmhartigheid wat ons ontvang het, gee ons nie moed op nie” (:1).
Ongelukkig het met Paulus gebeur wat al met baie predikante gebeur het – die Satan het teenstanders verwek. Paulus se tweede brief aan die Korintiërs is ʼn verdedigingskrif. Hy was ampshalwe genoodsaak om hom teen kwaadwillige stories wat teenstanders oor sy bediening versprei het, te verdedig. Wat hierdie stories was, weet ons nie presies nie, maar uit Paulus se tweede brief aan die Korintiërs kan die afleiding gemaak word dat hulle vertel het dat hy sy eie beuel blaas, vir eie aansien en eer werk en sy bediening dus oëverblindery was.
Omdat ʼn leraar se amp met sy persoon verbind is, was Paulus genoodsaak om homself te verdedig. Hy vergelyk sy amp in vers 7 met treffende beeldspraak: “Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God moet wees en nie uit ons nie”. Die Korintiërs het erdekruike baie goed geken; selfs skatte in erdekruike. Korinte was ʼn groot, welvarende stad met baie ryk mense wat skatte opgegaar en in kruike vir bewaring geplaas het.
Paulus gebruik die voorbeeld van so ʼn skat in ʼn kruik om die grootste van alle skatte te belig; die skat wat God aan sy kinders gee: geloofsekerheid: “ Want God wat gesê het dat daar uit die duisternis lig moet skyn – dit is Hy wat in ons harte geskyn het om ons die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus” (vers 6). Van watter kennis praat Paulus hier? Daardie vaste kennis (wete) wat ons van Christus ontvang dat ons siel gered is. “Maar ek, ek weet my Verlosser leef....” (Job.19:25).
Geloofsekerheid is die kosbaarste skat om te besit. Geld kan dit nie koop nie. Christus sê: “Want wat baat dit ʼn mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ʼn mens gee as losprys vir sy siel?” (Mt.16:26).
Paulus sê dat gelowiges hierdie skat soos ʼn skat in ʼn erdekruik het. Sulke beeldspraak het die Korintiërs aan twee dinge laat dink – eerstens aan ʼn skat wat vervoer en tweedens daarna bewaar moes word. Ryk mense het destyds hul skatte in houers gesit en in skatkamers laat bewaar. So ʼn kruik was ʼn vervoer- en bewaarmiddel. Paulus sê dat God die skat van die Evangelie in ons geplaas het om te bewaar, maar ook om uit te dra.
Hierdie beeldspraak verwys eerstens na die apostels wat die boodskap van verlossing begin verkondig het. Dis egter nie waar dit eindig nie. Dit het ook op elkeen wat dienskneg van God geword het, betrekking; nie net leraars nie, maar ook gewone gelowiges.
Elke gelowige het die opdrag om hierdie skat te bewaar maar ook om dit uit te dra. Dink aan Jesus se laaste opdrag – om dissipels vir Christus te maak en hul te leer om alles te onderhou wat Hy gesê het (Mt.28:19). Wat in ons teksvers staan, geld vir elke gelowige. Vir God is elke gelowige op sy eie besondere wyse ʼn erdekruik waarin die boodskap van sondevergifnis bewaar bly met die doel om dit oral bekend te maak.
Wat moet ons met dié skat doen? Eerstens teen verdraaiings, misleidings en dwaalleer bewaar. Dis ons bewaringstaak: Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim.3:16). Dis ons eerste verpligting om die suiwerheid van die Evangelie te bewaar. En om dit te kan doen, moet ons dit kan verdedig.. Daarna het ons as God se erdekruike ook die taak om die evangelie uit te dra in ʼn wêreld wat arm aan hoop en sonder uitsig op redding is.
Destyds is skatte in verskillende soorte kruike vervoer en bewaar. In sommige gevalle was die kruik self van kosbare edelmetale of albaster gemaak. Ons lees in die Evangelie van die vrou met die albasterfles met kosbare salf waarmee sy Jesus se voete gesalf het. In sommige gevalle was die kruik byna net so waardevol soos die skat wat dit gehuisves het!
Maar met erdekruike was dit anders. Dit was so ʼn algemene gebruiksartikel dat dit nooit deel van die skat kon wees nie. Dit was goedkoop en het maklik gebreek. En dis hoe Paulus ʼn dienskneg van die Here sien - dit gaan nie oor die houer nie want dis eintlik onaansienlik. Dit gaan oor wat binne in die kruik is. Dis hoe Paulus sy eie persoon gesien het; ʼn erdekruik sonder uiterlike waarde.
En dit geld vir elke dienaar van Christus. Iemand wat vir die Here werk, durf nooit meer as net ʼn erdekruik wees nie. Want hoe meer die kruik op sy eie wil skitter, hoe minder aandag kry die skat wat daar binne in is. Daarvan is die geskiedenis ʼn hartseer getuie! Oral waar die leraar waarlik net erdekruik is, geniet die gemeente die skat. Daarvan is die geskiedenis ook ʼn blye getuie!
Tussen die skat en die erdekruik moet daar altyd ʼn oneweredigheid wees - die skat is altyd kosbaarder as die kruik. Maar nou moet mense hul ook nie deur hierdie oneweredigheid laat flous nie. Al is die kruik net van klei gemaak, lelik, vol barste en krake, is die skat daarbinne altyd vlekloos volmaak.
Ons is almal erdekruike wat van mekaar verskil. Nogtans huisves ons een en dieselfde skat - die evangelie van verlossing. Uiterlik beskou, is ons niks om oor opgewonde te raak nie. En so moet dit wees en bly. Nogtans moet die buitekant van die erdekruik mense nie blind maak vir die heerlikheid van die skat binne in nie.
Wanneer ʼn predikant preek, is daar maar dikwels kritiek. Miskien is hy nie so ʼn goeie spreker of is daar nie genoeg skop in sy preek nie. Moet nooit die skat aan die kruik beoordeel nie. Uit die eerste brief aan die Korintiërs blyk dit dat Paulus self nie juis ʼn baie dinamiese prediker was nie. Daarom skryf hy in sy tweede brief dat hy nie belangriker as ʼn erdekruik is soos wat die mense beweer het nie.
En dis een van die grootste probleme in die kerk – kruike wat meer as die skat wil wees – die eie ek. Miskien is dit ook een van die redes waarom al hoe meer kerke vandag ontspoor. Leraars preek nie meer die waarheid nie. Met hul leuens trek hulle groot gehore en maak baie geld.
Tydens ʼn onlangse opname oor kerkgang in Amerika het dit aan die lig gekom dat 85% van alle kerkgangers rylopers is – mense wat van die een kerk na die ander reis op soek na beter ervarings of ander soort vermaak. Dis waarom talle kansels al ʼn verhoog vir vermaaklikheidskunstenaars geword het en eredienste eerder na ʼn sirkus lyk! Vir Paulus het dit nie gegaan om mense tevrede te stel nie, maar om in gehoorsaamheid aan Christus die Woord suiwer te bedien. Die gelowiges in Korinte kon dit sien. Daar was egter ook mense wat geestelik blind was en dit nie wou sien nie!
In vers 6 maak Paulus melding van die eerste opdrag van God aan sy skepping dat daar lig moes wees. “Want God wat gesê het dat daar uit die duisternis lig moet skyn – dit is Hy wat in ons harte geskyn het om ons die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus”.
Deur die prediking skyn die lig van God se vergifnis in harte wat weens sonde donker is. God wil nie hê dat een mens verlore moet gaan nie. Daarom het Hy Christus gestuur en daarna predikers om lig in die mens se sondeduister te bring. Hy wil tot vandag toe nog hê dat alle mense kennis van die reddende genade moet hê en hul bekeer. En dis al wat vir Paulus belangrik was. Hy wil hê dat deur sy prediking verlore sondaars tot bekering moet kom – nie na die erdekruik kyk nie, maar na die skat daarbinne.
Die erdekruik is slegs beeld van die veranderde mens; iemand wat, soos Paulus, net deur genade gered is. Is jy ʼn erdekruik? Het die Gees van God jou al deur die wedergeboorte verander? God het vir jou ʼn wonderlike taak - om die draer van hierdie groot skat te wees. Doen jy dit? Kan mense dit sien? Beteken jou lewe vir hulle geestelik iets? As wedergeborene is jy ʼn erdekruik met ʼn skat in jou. Maar wees ook versigtig om nie minder as ʼn erdekruik te wil wees nie want dan sê jy vir die Here om jou maar oor te sien en iemand beter te kry om vir Hom te werk. Dan begrawe jy jou talent soos die man wat een ontvang en niks daarmee gedoen het nie!
Dra die skat van die evangelie uit. As jy kind van God is sal Hy jou deur sy krag in staat stel om die skat van die evangelie in al sy prag en heerlikheid te bewaar tot die einde toe en deur jou lewe te laat skitter.
Amen!