Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Elke mens is uniek maar elkeen het 'n diepe eensaamheid binne hom wat nog altyd daar was en altyd daar sal wees. Elke mens leef sy eie lewe en elke mens sterf sy eie dood – alleen. Ons is wel nie altyd so bewus van hierdie eensaamheid wanneer geliefdes by ons is nie maar dis nog daar. Al wat dit draaglik maak is ons binding met die Gees van God, ons liefde vir Hom omdat Hy ons eerste liefgehad het.
DIE GROOT ONTNUGTERING
Die lot van dwaalgeeste
Ds. Andre van den Berg
“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”(Mt.7:21-23)
1. Wees gewaarsku
Jesus waarsku in die Bergrede sy volgelinge om nie deur dwaalleraars se voorkoms en optredes geflous te word nie: “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is” (Mt.7:15).Hulle is Satansagente wat keer dat siele gered word.
Gelowiges moet baie duidelik tussen die gesante van God en dié van die Satan kan onderskei. Eersgenoemdes praat namens Hom en wys mense die rigting van die hemel. Dis die smal pad(Mt.7:14). Satan se gesante lei mense op die breë weg sodat hulle die hemel kan mis.
“Pasop” (prosechoin Grieks) is ʼn waarskuwing en opdrag tegelyk. Gelowiges moet gedurig op die uitkyk vir die gesante van Satan wees. Nie minder as 24 van die 27 boeke van die NT waarsku teen hulle. Hulle misleiding gaan voor die wederkoms van Christus skerp toeneem omdat Satan weet dat sy tyd min is.
Hy kom nie altyd met stewels op mense afmarsjeer nie, maar beweeg dikwels op die punte van sy tone om via sy gesante mense met voorkoms en optrede te flous. Talle hoofstroomkerke is al deur hierdie agterdeur-benadering besmet.“En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig” (2 Kor.11:14).
2. Onderskei
Christus help gelowiges om tussen ware en valse leraars te onderskei:
“Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ’n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ’n slegte boom dra slegte vrugte.En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig’n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom ook geen goeie vrugte nie.Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken”(Mt.7:16-20).
Gelowiges moet soos vrugte-inspekteurs te werk gaan. Valse leraars dra nooit goeie vrugte nie. Die vrugte aan hul takke is alles valse vertoon en hul woorde leuens.
“Julle moet òf die boom goed maak en sy vrugte goed, òf julle moet die boom sleg maak en sy vrugte sleg; want aan die vrugte word die boom geken. Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond. Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn. Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word”(Mt.12:33-37).
3. Twee soorte valse profete
Die OT maak van twee soorte valse profete melding. Eerstens diegene wie se bose profesieëwel bewaarheid word(Deut.13:1-5) en tweedens hulle waarvan die profesieë nie in vervulling gaan nie (Deut.18:20-22). In beide gevalle gaan dit oor dinge wat hulle sê. Israel moes luister wat profete sê en vasstel of dit met wat God gesê het, ooreenstem. Die gelowiges in Berea het dit ook gedoen:
“En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessalonika; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (Hand.17:11).
Indien so ʼn profetewoord nie met God se woordeooreengestem het nie, was dit vals. Egte woorde stem altyd daarmee ooreen - ʼn eeue lange toetsstandaard.
“God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ’n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?” (Num.23:19).“Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid” (Jes.40:8).
4. Ses Skrifkriteria
Die Skrif leer ses kriteria waaraan valse profete geken kan word.
(i) Hulle praat nie namens God nie: “Maar die profeet wat so vermetel is om ’n woord in my Naam te spreek wat Ek hom nie beveel het om te spreek nie, of wat in die naam van ander gode spreek, dié profeet moet sterwe” (Deutr.18:20).
(ii) Hulle profeteer vir stoflike gewin: “Sy hoofde spreek vonnisse uit vir ’n geskenk, en sy priesters gee onderrig vir loon, en sy profete is waarsêers vir geld. Nogtans steun hulle op die HERE en sê: Is die HERE nie in ons midde nie? Geen onheil sal ons wedervaar nie!”(Miga 3:11)
(iii) Hulle bely nie Jesus as Here nie: “Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus ’n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees (1 Kor.12:3)
(iv) Hulle is vleeslik:“Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld. (1 Joh.4:2,3).
(v) Hulle sien die wederkoms van Christus nie as ʼn kosmiese gebeure nie:“Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê.As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn — moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer — moet dit nie glo nie.Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees”(Mt.24:24-27)
(vi) Hulle ywer is valse voorgee: “Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ’n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word; en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie” (2 Pet.2:1-3).
5. Waarheid en leuen
Om die waarheid van die leuen te onderskei, is ʼn deeglike kennis van die bron van die waarheid (Bybel)nodig. Met die woorde “Here, Here ....” in Mt.7:21 erken die dwaalleraars Jesus se heerskappy en herhaal dit selfs. Desondanks vra hulle Hom om Hom van hul voortreflike optredes te vergewis omdat dat hulle in sy Naam geprofeteer, bose geeste uitgedryf en wonders gedoen het.
Dus vra hulle Jesus om die peil van hul geloof aan hul doen en late te meet. Hoe groter die tekens, hoe groter die geloof. Dis ʼn leuen. Ongelowiges kan ook wondertekens doen. Judas was ʼn ongelowige maar een van die 70 wat Jesus uitgestuur het:
“En die sewentig het met blydskap teruggekom en gesê: Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam” (Luk.10:17).
Die Antichris gaan ook wonders doen ten einde mense te mislei: “...hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen” (2 Thess.2:9). Bileam se donkie is nog ʼn voorbeeld van Satan se nabootsing.
Wonderbewerkers wat glo dat hulle op grond van hul wonders hemel toe gaan, ontken in effek die groot waarheid dat Jesus die enigste brug tussen God en mens is. “ ... Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6).
Die Bybel leer dat niemand op grond van werke gered word nie, maar slegs deur Jesus se versoeningsoffer aan die kruis. Geloof is nie dade nie, maar vertroue. Verlossing word nie verdien nie, maar ontvang.
Ongelukkig word mense maklik deur dwaalleraars se voorgee mislei. Dit was die probleem met die eertydse Fariseërs. Daarom waarsku Jesus dat baie mense wat glo dat hulle die hemel sal beërwe, uitgesluit gaan word:
“En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”(Mt.7:23).
“... En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit.Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, Meneer, maak vir ons oop! Maar Hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie” (Mt.25:10-12).
6. Ontnugtering
Die wonderbewerkers se woorde “...het ons nie in u Naamgeprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? ” spreek van verbasing sowel as ontnugtering. Hulle het geglo dat hul bediening Jesus welgeval het. Gevolglik is sy woorde hard en ʼn waarskuwing dat die doen van wonders geen bewys van saligmakende geloof is nie. Dwaalleraars kan bose geeste uitdryf maar nog steeds verlore wees!
“En sommige van die rondtrekkende Jode, duiwelbesweerders, het dit gewaag om die Naam van die Here Jesus te noem oor die wat bose geeste gehad het, en te sê: Ons besweer julle by die Jesus wat Paulus verkondig!” (Hand.19:13).
Bose geeste kan sonder die krag van die Heilige Gees uitgedryf word. Satan kan verstommende tekens en wonders deur mense doen. Ex.7 vertel van Farao se towenaars wat slange gemaak het en in Hand.13 berispe Paulus ʼn Joodse towenaar. Ja, bose geeste speel dikwels saam om mense te mislei!
God kan ook booswigte gebruik om sy wil uit te voer. Hy het bv. ʼn bose gees gestuur om Saul te pla (1 Sam.19). Judas het, al was hy verlore, op die eerste sendingtog dieselfde wonders as die ander dissipels verrig. “ ... en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word” (Joh.17: 12).
7. Op die breë weg
Uit Jesus se voorafgaande woorde in Mt.7 is dit duidelik dat wonderbewerkers die breë weg bewandel. Hulle is nie ateïste, afgodsdienaars of gelowiges wat eens op ʼn tyd die saligheid gehad en toe verloor het nie. Hulle is mense wat nooit die ware bekering gesmaak het nie. Nie alle mense wat sy Naam gebruik gaan hemel toe nie; alleenlik hulle wat die wil van God doen deur aan Hom gehoorsaam te wees.
“En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Joh.6:40).“As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding” (Rom.10:9,10).
Lukas bevestig dit ook later:
“En ons is sy getuies van hierdie dinge, en ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is.... En die woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder, en ’n groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof” (Hand.5:32; 6:7).
8. Redding
Jesus maak in Mt,7 die skokkende stelling dat baie godsdienstige mense in die hel gaan beland. Godsdiens en goeie werke red geen siel nie; alleenlik die bloed van Christus. Redding volg op wedergeboorte.“ Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie” (Joh.3:3,7).
Wie anders oor redding praat, verstaan nie die Skrif nie of word mislei.Jesus ken hulle almal.“Want baie is geroep, maar min uitverkies” (Mt.22:14). Die Gelykenis van die Onkruid (Mt.13)bevestig dit ook.
Paulus het ook dwaalgeeste geken:
“Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie — as julle ten minste nie verwerplik is nie” (2 Kor.13:5).
So ook Petrus:
“Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie” (2 Pet.1:10).
Johannes praat ook van hulle:
“Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie” (1 Joh.2:19).
9. Oordeel
Jesus skok die wonderbewerkers met sy antwoord: “ .... Ek het julle nooit geken nie...”(Mt.7:23). Hy praat nie hier met mense wat op ʼn stadium die geloof gehad en toe afvallig geword het nie, maar van mense van meet af aan in hul sonde verlore was. En as Hy klaar gepraat het, volg ʼn vinnige oordeel:“ ..... Gaan weg van My....”.
Dis seker die ontstellendste woorde in die ganse Bybel en die dag waarop die ganse mensegeskiedenis afstuur. Elke mens sal sy afspraak met Jesus nakom. Nie eens die dood kan as verskoning aangevoer word nie!
“En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke” (Openb.20:12).
Die oordeelsdag sal vir alle dwaalleraars en hul volgelinge ʼn ontsettende ontnugtering wees. Hulle gaan te laat besef dat hulle al die tyd nie na die stem van die Herder geluister het nie, maar na dié van die wolf!
“My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie” (Joh.10:27-29).
Die tragiese is dat dwaalleraars dieselfde tyd en ywer waarmee hulle dwaalleer verkondig het, kon gebruik het om die Evangelie van verlossing te bring. Die einde is dat hulle wat verwag het om op ʼn verebed in die hemel ingedra te word, ʼn ewige hel tegemoet stap!