Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons gewone vreugdes word maklik deur slegte omstandighede weggeneem. Daar is egter net een vreugde wat niemand van ons kan wegneem nie: die vreugde wat die HERE in ons bekragtig – hierdie vreugde is die weerklank van God se lewe binne jou wanneer jy die pad met Hom stap.
GODSDIENS KAN GEVAARLIK WEES!
Ds. A.E van den Berg
Inleiding
Godsdiens het die Westerse beskawing eeue lank bevorder maar teen die laaste helfte van die 20ste eeu ongewild begin word. Kerkbesoek het gekwyn, lidmaatskappe is opgesê en gemeentes het tot niet gegaan. Godsdiensswendelaars en TV evangeliste het op die toneel verskyn en van godsdiens ʼn handelsproduk gemaak en baie ryk geword.
Op akademiese gebied het ongeloof oorhand toegeneem en deure vir die vestiging van kommunisme, sosialisme en vrysinnigheid oopgemaak. Op kerkgebied het skoktroepe dwaalleraars mense so van die Bybelse waarheid vervreem, dat geen godsdiens ʼn gewilde godsdiens geword het.
1. ʼn Aangebore behoefte
Daar is vir elke menslike behoefte op aarde bevrediging. Vir die mens wat honger is, is daar voedsel. Vir hulle met estetiese behoeftes is daar kuns, drama en modes en vir diegene met ʼn behoefte aan sosiale omgang, is daar talle bevredigingsgeleenthede.
Die mens het ook ʼn aangebore behoefte om iets groter as hyself te aanbid. Benewens die Bybel se getuienis dat daar ʼn God in die hemel is, getuig hierdie behoefte ook daarvan. God het dit so beskik. Daarom het Hy die mens na sy beeld geskape.Wie dit ontken, onderdruk die waarheid:
“Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is...” (Rom.1:18,19).
2. Kritiek teen godsdiens
Alle mense is egter nie positief oor godsdiens nie. Seneca, ʼn Romeinse politikus het bv. van godsdiens gesê dat dit vir agterlike mense eg, vir slimmes vals en vir regeerders handig is. Edgar Allen Poe (1809-1849) het geglo dat godsdiens uit bedrog, vrees, gierigheid en verbeelding gebore is en Isaac Asimov (1920-1992), ʼn professor in biochemie, dat wie die Bybel lees, nie anders as ʼn ateïs kan wees nie.
Napoleon Bonaparte het ook godsdiens verag en dit bloot as ʼn middel beskou waarmee die heersersklas veronregte burgers gekalmeer en beheer het. Die Franse skrywer Emile Zola (1840-1902) het godsdiens as ʼn struikelblok in die pad van beskawing beskou en gesê dat die beskawing nooit ʼn hoogtepunt sou bereik alvorens die laaste steen van die laaste kerk op die laaste priester val nie!
Robert Heinlein (1907-1988) het weer geskryf dat godsdiens innerlike swakheid openbaar en dat kerke met die geelwortel van staatkundige mag omgekoop kon word. David Eddings(1931-2009)het weer geglo dat God alleen mense van godsdiens kan red. So ook Lenny Bruce (1925-1966) wat gesê het dat mense kerke sal moet verlaat om God te vind.
Die grootste kritikus van godsdiens was ongetwyfeld Karl Marx. Sy gesegde dat godsdiens die opium van die volk is, was ʼn terloopse opmerking ter inleiding van ʼn boek wat hy in 1843 geskryf het. Hy het godsdiens as ʼn ydele sug na lewensvreugde beskou wat in nood gekweek is om mense te help om aan hul troostelose werklikheid te probeer ontsnap. Dit het niks van die verslawing aan opium verskil nie; beide is ʼn poging om die leegheid te vul.
Die Amerikaanse sosioloog Phil Zuckerman skryf in sy Society Without God (2010) dat nasies wat die minste godsdienstig is, vreedsamer en voorspoediger is en voer ses redes daarvoor aan. Eerstens skei godsdiens mense van mekaar; binnestaanders van buitestaanders. Laasgenoemdes word eerder verdink as om iets goed in hulle te sien. Hy verwys na Paulus se vermaning aan gelowiges om nie in die selfde juk as ongelowiges te trek nie (2 Kor.6:14). Dit ontmoedig ondertrouery en die ideaal om deel van ʼn groter mensegeheel te word.
Tweedens skryf hy dat godsdiens mense aan die ystertyd-era boei. Dit was ʼn era van histeriese bygeloof, onverskilligheid, ongelykheid, dwang en slawerny waartydens wanhopige mense diere en landbouprodukte aan wraaksugtige gode geoffer ten einde die kwade van hul af te weer. Die feit dat die Bybel, Torah en Koran onmenslike optredes onderskryf, lewer syns insiens voldoende bewyse van uitgediende denke.
Derdens maak godsdiens volgens hom ʼn deug van geloof. Gelukkig slaag die wetenskap daarin om gebiede wat lank deur godsdiens beset was, te verower en mense van uitgediende menings te bevry. Vierdens maak godsdiens hom aan kunsmatige welwillendheid skuldig en vyfdens wakker dit hulpeloosheid aan. Armoede, droogtes en siektes word as die wil van God eerder as slegte besluite beskou. Gevolglik wag mense eerder op God om hierdie probleme op te los as om self iets daaraan te doen.
Laastens streef alle godsdiens volgens hom na staatkundige mag. Kerke sal selfs van beleid verander net om beheer oor mense te verkry. En so kom hy tot die slotsom dat mense sonder godsdiens vreedsamer en voorspoediger is.
3. Jesus se kritiek teen godsdiens
Jesus was ook krities teen die godsdiens van sy tyd – Fariseïsme. Die Fariseërs was ʼn groep godsdienstige mense wat gereeld met Jesus se suiwere vertolking van die Wet gebots het. Fariseër beteken afgesonderde. Hulle het hul van die gemeenskap afgesonder om die wet te bestudeer en mense daarin te onderrig en dikwels hoogmoedig opgetree.
Hulle het in die tyd van die Makkabeërs (160 v.C.) ontstaan en volgens Flavius Josephus in die tyd van Jesus ongeveer 6,000 sterk. Hulle het die sinagoges, godsdiens en onderwys beheer. Hulle het, soos die latere Roomse Kerk, oorlewering op gelyke voet met die Skrif geplaas en vormgodsdiens geskep.
Jesus was minsaam teenoor die verstotelinge van sy tyd en hard op valse vroomheid. Die Fariseërs het geweet dat God sonder enige selfverheffing gehoorsaam moes word, maar dit nie gedoen nie. Dit het tot groot onreg in kerkgeledere gelei:
“Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie” (Mt.5:20).
Godsdiens het vir die Fariseërs uit ʼn stiptelike nakom van sekere Bybelse reëls bestaan en die bal mis geslaan. Geloof is nie wetties nie maar ʼn verhouding met God. Wie godsdiens gebruik om God se guns te wen of mense beter oor hulself te laat voel, skep ʼn eie weergawe daarvan wat niks van die goue kalf-episode (Ex.32) tydens Israel se uittog uit Egipte verskil nie.
Ongelukkig het baie van die Jode ʼn misplaaste agting vir die Fariseërs se skyntoewyding gehad. Jesus het die Fariseërs egter ontmasker en gereeld skerp berispe omdat hulle mense met godsdiens belas het. Hulle was witgepleisterde grafte; van buite goed maar binne sleg!
Die Fariseërs het graag openbare plekke besoek om deur mense raakgesien en geëer te word. Hul skyngodsdiens het baie mense die leuen laat glo en die verderf ingestuur:
“Maar wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie” (Mt.23:13).
Vormgodsdiens maak kerkgangers meer begaan oor hoe hulle vir mense lyk, as hoe hulle vir God lyk. Daarenteen help gesonde godsdiens mense om meer aandag aan hul siel te gee. Geen mens kan met ʼn skynvoorbeeldige godsdiens en goeie werke na God toe opklim en geestelike krediete verdien nie:
“En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie” (Rom.11:6).
4. Godsdiensdwang
Die ou Romeinse keisers het die ganse gemeenskapslewe op bygeloof gebou ten einde die gepeupel in bedwang te hou. Hulle was so bygelowig, dat hulle nie vir hulself wou dink nie. Die geskiedskrywer Strabo skryf dat die mense van sy tyd so bygelowig was, dat daar nie logies met hulle geredeneer kon word nie - alles aan godsdiens te wyte. Die priesters het gedoen wat die keiser wou hê en die mense soos wat die priesters hulle aangesê het. Hulle moes nie dink nie, net blindelings volg.
Om godsdiens as ʼn staatkundige beheermiddel te gebruik, lewer niks goeds op nie. Islam met nagenoeg 1,5 biljoen aanhangers is ʼn sprekende voorbeeld hiervan. Godsdiens het by hulle so ingeburger geraak, dat dit nie van hul volkslewe geskei kan word nie. Daarom slaag ekstremiste gereeld daarin om Islamiete tot weersinswekkende optredes op te sweep.
Slot
Ja, godsdiens kan gevaarlik wees. Baie evangeliese kerke het die ou-ou tyding vir ʼn nuwe een verruil - dié van politieke korrektheid. Die Bybel waarsku dat daar aan die einde van die tyd ʼn godsdiens op die wêreldtoneel sal verskyn met kerklui wat voorgee om Christus se verteenwoordigers op aarde te wees, maar in werklikheid dié van Satan is. Hulle gaan ter voorbereiding van die koms van die Antichris ʼn mag uitoefen wat Islam maar net kan beny!
Gevolglik moet gelowiges waak en bid dat hulle nie deur dwaalleer meegesleur word nie:
“Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openb.18:4).