Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Telkens as ons sondig, kies ons die dood bo die lewe. Daarna is ons so lief om die sonde te ontsmet sodat dit darem nie so sleg klink nie.
PAD VAN DIE LEWE OF DIE DOOD?
Die eis van gehoorsaamheid
Ds. A.E van den Berg
Nadat Israel uit Egiptiese slawerny bevry en op pad Kanana toe was, het God Moses deeglik oor sy wil vir Israel ingelig. As die volk gehoor gee, sou Hy hulle seën. Indien hulle nie wou luister nie, sou Hy hulle straf.
God het Israel uit vrye wil vir sy doel uitverkies. Hy wou hulle uitsonderlik seën en voorspoedig maak, dat dit die omliggende heidenvolke moes opval en hulle laat besef dat hulle nietige afgode aanbid en dat die God van Israel die enigste ware God was en die knie voor Hom buig (Deut.11:18-25).
Om sulke getuies te kon wees, moes Israel God waarlik liefhê. En dit was slegs moontlik deur sy opdragte te gehoorsaam (Deut.11:1-7). Israel moes alles wat Hy hulle beveel het, doen. (Deut.11:8-12). God sou hulle gehoorsaamheid met vrugbaarheid in Kanaän beloon (Deut.11:13-17).
Die eerste vereiste wat Moses sterk beklemtoon, is dat Israel hul liefde vir God deur gehoorsaamheid aan sy opdragte moes laat blyk wat voorskrifte, bepalings en gebooie ingesluit het. Om dit te verduidelik, het Moses die volk ʼn oorsig van die hele verloop van die onlangse gebeure in hul midde gegee; van die uittog uit Egipte, die tog deur die woestyn tot waar hulle by die beloofde land was. Israel moes God se grootheid, magtige dade en wondertekens telkens in herinnering roep.
Die tweede vereiste wat Moses onder die volk se aandag bring, is ʼn uitbreiding van die eerste. Die klem val hier op die gunstige gevolge van gehoorsaamheid. Israel se onderhouding van die tweede gebod (geen afbeeldinge van God nie) sou verseker dat hul nageslag lank in die land van die belofte sou woon.
Derdens het Moses die liefde vir God en die nougesette gehoorsaamheid aan sy gebooie as voorwaarde vir vrugbaarheid voorgehou. Hy grond dit op God se almag om reën op die regte tyd te gee. Goeie oeste en genoegsame weiding moet Israel dankbaar teenoor God laat leef want Hy kan ook reën terug hou en Israel die genot van voorspoedige landbou ontsê as hulle ontrou aan Hom sou word en ander gode vereer.
Dit het eeue later in die tyd van die profeet Elia gebeur. Elia het tydens ʼn knellende droogte van meer as drie jaar die ramp aan God se straf vir Israel se geestelike ontrouheid toegeskryf. Israel het besin en die droogte is verbreek nadat die profeet om reën gebid en God sy gebede verhoor het.
God se wil moes vir Israel die lewe wees. Hulle moes in hul huise met mekaar en hul kinders daaroor praat; so ook met hul volksgenote in die openbaar. God sou hulle gehoorsaamheid met militêre oorwinnings seën, hul vyande voor hulle uit verdryf en die verowerde grondgebiede laat ontvang:
“Elke plek waar julle voetsool op trap, sal aan julle behoort; van die woestyn en die Líbanon, van die rivier, die Eufraatrivier, tot by die Westelike See sal julle grondgebied wees. Niemand sal teen julle standhou nie; die HERE julle God sal die skrik en vrees vir julle oor die hele land laat kom waarop julle sal loop, soos Hy julle beloof het” (Deutr.11:24,25).
Daarmee het Moses die pad van die lewe en dié van die dood aan sy volksgenote voorgehou; elkeen met sy eie reël. Dié van die lewe vereis gehoorsaamheid. Ongehoorsaamheid baar die dood. Moses wou nie sy volk met rigiede wettiese nakoming van God se wil bind nie. Israel moes eerder ʼn geseënde lewenspad met Hom loop.
Geld hierdie waarheid dat God seën en straf en die natuur in sy optredes gebruik, nog steeds? Die wyse waarop die NT hieroor praat, dui baie duidelik daarop. As dit goed gaan, wil Hy mense tot dankbaarheid beweeg en as dit sleg gaan, hulle hul afhanklikheid van Hom laat besef.
Jesus sê in die Bergrede dat God oor slegtes en goeies reën laat val (Mt.5:45). Paulus noem dit ook op sy eerste sendingreis (Hand. 14:17). Dis deel van God se algemene genade aan alle mense – ʼn getuienis van sy almag en genade. Deur sy goedheid wil God mense tot eerbied en aanbidding bring.
Jakobus, die broer van Jesus, wys op die ander kant daarvan - God straf ook deur natuurrampe en haal die voorbeeld van Elia aan wat sy volk op God se beheer oor die natuur wys. Eers het hy in opdrag van die Here vir droogte gebid en dit was so. Na drie jaar het hy weer in opdrag van God vir reën gebid en dit het gereën(Jak.5:17-18).
Jakobus gebruik hierdie voorbeeld om gelowiges tot dieselfde gebedsvertroue op te roep. Hy laat ons verstaan dat Elia net so ʼn mens soos ons was. Openbaring skets natuurrampe as God se toorn. Die sesde trompet wat verwoesting onder die mense saai, het ten doel om hulle tot besinning te bring en van hul afvalligheid te bekeer. Dis egter alles tevergeefs.
Mense het weens hul sondige aard dikwels ʼn selfvernietigingsdrang. Gevolglik sien hulle die waarheid wat hulle kan vrymaak, nie raak nie en kom selfs bewustelik in verset daarteen. Hulle kies die pad van die dood!
Ons lewe is die somtotaal van die keuses wat ons maak. Mense is waar hulle is omdat hulle so gekies het al erken hulle dit nie graag nie. Daar is geen middel paadjie tussen goed en kwaad nie. As jy die kwaad nie beveg nie, oorwin dit jou.
Ons leef in ʼn bose wêreld wat ʼn mens links of reg kan buig. Jy kies na watter kant toe. Om in die middel van die pad loop, is gevaarlik. Jy kan van agter sowel as van voor raakgery word. Maak ’n duidelike keuse. Dit gaan miskien nie maklik wees nie maar wel die moeite werd!