Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Al sou iemand met wie se lewe die Here tevrede is, struikel, hy sal nie val nie want die Here hou sy hand vas – Ps 37:24
DIE “MAAR” IN JOU LEWE
Ds A.E. van den Berg
“..... en die man was ʼn dapper held, maar melaats” (2 Kon.5:1).
Die lewe is relatief kort. In Ps.90 skryf Moses:
“Want al ons dae gaan verby deur u grimmigheid, ons bring ons jare deur soos ’n gedagte” (:9).
Ons kry net een kans om te lewe en moet gevolglik die beste daarvan te maak. Niemand kan aan die lengte van sy lewe iets doen nie, slegs aan die diepte. Daarom maak dit nie saak hoe ons eendag sterf nie, maar hoe ons leef. God gee ons die lewe as ʼn kans om ons siel vir die ewigheid voor te berei.
Wie ’n goeie lewe in geloofsekerheid leef, verlaat dit sonder hartseer al was dit nie aldag maneskyn en rose nie. Ons leef in ʼn gebroke wêreld wat van sonde en siekte deurtrek is. Soms voel ons dit soos Naäman van ouds aan ons eie liggame: “...en die man was ʼn dapper held, maar melaats” .
Die woord maar is ʼn nare woord. Dit dui op iets wat ontbreek en jou van ware geluk, topprestasie en volle lewensontplooiing beroof. Talle beroemde mense het ʼn maar in hulle lewe gehad. Beethoven was ʼn uitstaande komponis, maar hy was doof. Milton was ʼn beroemde digter maar hy was blind. Paulus was ʼn baanbreker sendeling maar met ʼn gesondheidsprobleem (doring in die vlees).
Baie mense met ʼn belowende toekoms voor hulle, se lewens is al kortgeknip weens ʼn maar in hul lewe; iets wat hulle oor hulself gebring het. Ek noem een voorbeeld. Karel was ʼn geniale jong man wat sulke hoë punte in matriek behaal het dat hy ʼn Rhodes-beurs vir ingenieurswese gekry het. Hy was homoseksueel en het in sy tweede studiejaar VIGS opgedoen en is op 24 daaraan oorlede!
Daar is in soveel belowende mense se lewens ʼn hartseer maar. Hierdie maar knaag soos ʼn wurm aan die wortel van lewensgeluk. Eugene Marais skryf: “’n Druppel gal is in die soetste wyn; ʼn traan is op elk’ vrolike snaar, in elke lag ʼn sug van pyn , in elk’ roos ʼn dowwe blaar”.
Daar is geen mens wat nie ʼn maar in sy lewe het nie; hoe groot of klein ook al. Hierdie maar behoort ons nederig te hou en telkens na God te laat uitreik omdat Hy ʼn Vader met deernis vir sy kinders se swakhede is. Dit moet ons op ons knieë hou en ons hande soos bedelaars in die geloof na Christus om hulp uitsteek.
In 2 Kon.5 ontmoet ons ʼn man met ʼn dodelike maar in sy lewe. Naäman was ʼn veggeneraal van die koning van Aram en ʼn vyand van Israel. In hom sien ons in ʼn mindere of meerdere mate iets van onsself raak. Naäman was suksesvol; ʼn man met ʼn briljante militêre loopbaan en die hoogste rang in die weermag. Sy militêre en politiese insig en raad was vir die koning van onmisbare waarde.
Daarbenewens het Naäman ʼn innemende persoonlikheid gehad. Mense was mal oor hom. Sy rang het nie na sy kop toe gegaan nie. Hy was lojaal teenoor sy koning en het sy soldate regverdig behandel en agting by almal afgedwing.
In ons geestesoog sien ons hom op sy strydwa onder dawerende applous die strate afkom. Hy het besondere gawes gehad. Maar wat hierdie heiden nie geweet het nie, was dat God dit kwistig aan hom gegee het .. met ʼn ander doel.
Kyk weer na Naäman; ʼn man van ongekende sukses. Maar hierdie prentjie is nie voltooi nie. Hy was in alle opsigte suksesvol, maar het melaats geword. Wanneer Naäman trots en vier in sy strydwa verby juigende volksgenote gery het, sou niemand kon dink dat daar ʼn maar in sy lewe was nie. Onder sy glinsterende militêre harnas was die reuk van die dood – ʼn maar!
Niemand het die vaagste vermoede gehad dat hierdie volksheld tot die dood toe siek was nie. Naäman het swaar aan daardie maar in sy lewe gedra en geweet dat ʼn vroeë dood op hom gewag het.
Wat die maar in jou lewe is, weet ek nie. Miskien weet net jy dit. Miskien is dit siekte, ʼn liggaamsgebrek, gesinsprobleme, ʼn bindende gewoonte of boesemsonde. Net jy en die Here weet dit.
Die ergste in Naäman se lewe was egter nie die melaatsheid nie. Hy was sonder God! Wie ʼn maar in sy lewe het en nog sonder God is, is die aller ellendigste van die ellendiges. Maar God het ʼn doel met Naäman gehad. Sy maar was die begin van sy redding waarvoor God ʼn aantal persone gebruik het. Een van hulle was ʼn Joodse slavinnetjie wat tydens ʼn militêre optrede ontvoer is en in Naäman se huishouding opgeneem is. Dis juis haar getuienis wat die bal aan die rol sit: “ ... ag was my heer maar net by die profeet wat in Samaria is” . Hier praat die gelowige as God se spreekbuis met die oorlogvoos, stormgejaagde sondaar: “ Naäman, jy moet met jou die ‘maar’ in jou lewe dringend by God uitkom!”
Naäman kon haar raad nie veronagsaam nie. Hy het diep in sy hart geweet dat dit sy enigste kans was. As die Woord van God vir jou sê dat daar by Jesus Christus genesing vir die maar in jou lewe is, durf jy nie talm nie. Dit kan jou laaste kans wees!
Naäman gaan eers na sy aardse koning toe maar dié kan niks vir hom doen nie. Hy het aan die verkeerde koning se deur geklop - hy moet by die Koning van alle konings uitkom. En so begin sy reis na Samaria. Die profeet Elisa het nie eens uit sy huis gegaan om die veggeneraal te ontmoet nie, maar hom slegs opdrag gegee om sewe maal in die Jordaan te gaan was. Naäman was vies oor die gebrekkige ontvangs sowel as die voorskrif wat hy gekry het en wou omdraai terug huis toe. Ja, so dikwels wil ons van die Here af wegdraai omdat die evangelie vir geestelike melaatses te eenvoudig en benede ons verwagtings is. Dis ʼn eenvoudige eis. Paulus sê vir die tronkbewaarder van Philippi: “Glo in die Here Jesus en jy sal gered word”. Dis ʼn universele geestesgenesing.
Naäman wou omdraai. Gelukkig het sy reisgenote hom oorreed om die profeet se raad te volg waarna hy gesond geword het. Daarna kon Naäman die Here nie genoeg dank vir sy vriende wat soos geestelike steunpilare by hom in sy nood gestaan het nie! Hy was ontslae van die maar in sy lewe – die dood het vir die lewe pad gegee. Daarna het hy na Elisa teruggegaan en ʼn roerende belydenis van sy geloof in die ware God gedoen.
Die Evangelie vra nie baie nie. Jy moet net van jou wa afklim. Dis die simbool van eie prestasies en aansien. Wie van homself afsien en na God opkyk, ontvang genesing van sy siel en selfs baie meer. Johannes die Doper sê van Jesus: “Hy moet meer word, maar ek minder” (Joh.3:30).
Miskien is daar iemand met ʼn groot maar in sy lewe waarvan hy net nie ontslae kan raak nie, nie omdat dit te moeilik is om dit af te lê nie, maar omdat hy nie eintlik wil nie. Altans nie op ʼn eenvoudige manier nie! Hy soek ʼn beter boodskap, ʼn vuriger boodskapper, miskien meer dramatiese verskynsels ens. Iets opwindend! Onthou dat Elia vir God op Karmel nie in die aardbewing, vuur of storm gevind het nie, maar in die sagte suising van die wind.
Wat gaan jy, hier aan die einde van die jaar, met die maar in jou lewe maak? Saamsleep die nuwe jaar in? Gaan jy dit vertroetel dat jy nog sieker kan word? Of gaan jy soos Naäman van die wa van eiewaan afklim en jou in die bloed van Christus wat vir jou gestort is, was en genesing ontvang? “... en die bloed van Jesus Christus .... reinig ons van alle sonde” (1 Joh.1:7). Kom asseblief met die maar in jou lewe by Jesus uit voordat dit te vir ewig en altyd te laat is. Die lewe is wel bitter kort maar niks is te laat alvorens jou hart gaan staan nie!