Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
"Kyk, wat ek as 'n goeie ding gesien het, wat voortreflik is, is dat iemand eet en drink en die goeie geniet vir al sy arbeid waarmee hy hom vermoei onder die son gedurende die getal van sy lewensdae wat God hom gee; want dit is sy deel." - Pred. 5:17
GOED BEGIN...
...MAAR SLEG GEËINDIG
Ds A.E.van den Berg
“Maar die Gees van die Here het van Saul gewyk...”(1 Sam.16:14).
Ek het op skool nie in sport uitgeblink nie. As daar vir atletiek geoefen moes word, het ek maar noodgedwonge aan die langafstand deelgeneem; vier keer om die rugbyveld. Aan die einde van die eerste rondte was daar niemand voor my nie. Aan die einde van die laaste rondte was daar niemand agter my nie!
Die Bybel praat ook van mense wat goed begin maar sleg geëindig het; mense soos Saul wat deur goeie dinge omring was, maar God se hand gelos en ʼn tragiese dood gesterf het. Hy het voorbeelde van goeie lewens gehad. Hy het vir Samuel as ʼn man van gebed geken. So ook vir Dawid; ʼn geseënde man na aan God se hart. Sy eie seun Jonathan; ʼn toonbeeld van geloof en broederliefde.
Ongelukkig was nie een van hierdie deugde in Saul se lewe teenwoordig nie. Sy lewe was soos die spreekwoordelike klip deur ʼn tregter en een van die mees tragiese figure in die Ou Testament en dit ʼn koning wat ʼn voorbeeld moes wees!
Israel was van die begin af ʼn teokrasie; ʼn staatkundige model met God as Koning en geestelike leiers wat moes toesien dat sy Wet gehoorsaam word. Israel is dikwels gestraf as sy ongehoorsaam was en God die vyand as ʼn karwats gebruik het om hulle mee te looi. As sy haar egter bekeer en van die verkeerde wee afgesien het, was God genadig deur die vyand te laat verdryf en Israel te herstel.
Die eertydse geestelike leiers is Rigters genoem en het vir 300 jaar as leiers opgetree. Sommige van hulle was goed en ander glad nie. En so het dit toe gekom dat Israel na ʼn koning as volksleier gesmag het. Al haar buurlande het konings gehad; net nie sy nie.
Samuel was die laaste rigter, oud en sonder ʼn goeie opvolger. Iets moes gedoen word. “Al die leiers van Israel het bymekaargekom en na Samuel toe in Rama gegaan. Hulle het vir hom gesê: ‘Kyk, u het oud geword. U kinders is nie soos u nie. Stel nou liewer 'n koning oor ons aan om oor ons te regeer, soos dit by al die nasies is.”(1 Sam.8:4,5).
Samuel was teleurgestel met hul versoek. Was God dan nie goed genoeg nie? Wat moes hy as rigter doen? Toe sê God vir hom om Israel se versoek toe te staan en wys Saul as koning aan. En wat ʼn begin het hierdie rysige Israeliet nie gehad nie! Benewens ʼn liggaamlike gestalte wat hom kop en skouers bo almal laat uitstaan het, sê die Bybel dat God met hom was. En dis ʼn wenresep!
Pas na sy salwing het Saul met die Ammoniete in ʼn oorlog gewikkel geraak. Hulle was naas die Filistyne Israel se gedugste vyand. God het egter aan Saul die oorwinning gegee waarna hy met ʼn helde-ontvangs deur sy mense begroet is. Israel was in haar noppies met hul eerste koning!
Alles het vir twee jaar met Saul goed gegaan waarna hy geestelik afvallig geword het. God het met Samuel daaroor gepraat: “Ek het berou gekry dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My afvallig geword en my woorde nie uitgevoer nie”(1 Sam.15:11).
Saul is in God se weegskaal geweeg en te lig bevind. Daarmee het sy uurglas uitgeloop. Samuel het met Saul oor sy afvalligheid en God se misnoeë met hom gepraat waarna Saul mooi beloftes gemaak en dinge beter begin lyk het. Dit was egter net tydelik waarna die verval weer die oorhand verkry het. Om dinge te vererger was ʼn oorlog met die Filistyne onafwendbaar en Saul erg bekommerd. Wou God hom met ʼn nederlaag straf? Hy moes weet wat die toekoms vir hom sou oplewer en hom na duiwelsdinge gewend deur ʼn heks in Endorte gaan besoek; iets wat die Bybel duidelik verbied het.
Dit was die spyker in Saul se spreekwoordelike doodskis. Sy twee seuns sterf in die oorlog teen die Filistyne op die berg Gilboa waarna hy selfmoord pleeg. Die ergste vernedering was toe die Filistyne hul lyke gaan haal, onthoof en teen die stadsmure van hul vesting Bet San as oorwinnaarstrofeë laat vasspyker het vir almal om te sien. Wat ʼn kontras! Saul wat die eerste rondte voor was, eindig laaste – verneder en sonder God!
Naas die sondeval is Saul se verhaal seker die mees tragiese in die OT. Wat maak dit so tragies? Sy selfmoord? Nee. Die bebloede koppe teen die stadsmuur? Nee. Daardie woorde van die teksvers: “Maar die Gees van die Here het van Saul gewyk ...”
Dit klink soos wat van Simson in Rigters16:20 gesê word. Toe Delila vir hom sê dat die Filistyne op hom is, sê hy “Ek sal vry uitgaan soos die vorige kere ... want hy het nie geweet dat die Here van hom gewyk het nie”.
Niks is gevaarliker as geestelike afvalligheid nie. Jy verloor jou verhouding met God en gaan verlore. Let op Saul se lewe. Toe sy verhouding met God reg was, was hy voorspoedig. God het hom geseën en vyande in sy hand gegee. Die lig van God se guns het helder in Saul se lewe geskyn. Toe die Gees van God egter van hom gewyk het, het dit donker geword en sy lewe uitmekaar begin val wat met selfmoord geëindig het.
Saul se lewe is vir ons ʼn waarskuwing –moenie onder die heerskappy van God in jou lewe uitbeweeg nie. Wees gehoorsaam aan Hom en bewaar God se guns. Laat niks vir jou belangriker as dit wees nie want jy gaan ʼn ewigheid tegemoet!
ʼn Mens se lewe is soos ʼn leë kamer met twee persone maar net een stoel daarin; jy en die Here. Net een kan op die stoel sit. As God op die stoel sit, leef jy onder sy Gees. As jy op die stoel sit, is daar geen plek vir God nie en verlaat sy Gees jou soos wat met Saul gebeur het.
Saul se eerste twee jaar as koning was voorspoedig. God was op die troon van sy lewe en het hom geseën. Toe Saul op die troon van sy lewe gaan sit het, was daar geen plek vir God nie en het die Gees hom met droewige gevolge verlaat. Moenie op jou eie troon sit nie – die eie ek durf nie koning wees nie!
Ek het talle mense geken wat geestelik voorspoedig begin en God gedien het. Daarna het hulle ongehoorsaam aan sy Woord geword, die pad byster geraak en deur die stormwind van hul geestelike, onverskilligheid weggewaai. Daar is geen donkerte so erg as geestelike onverskilligheid nie.Dit raak donker in so ʼn mens se siel en sy lewe soos ’n maanlose nag met geen sterre wat skyn nie.
Moet nooit nie vergeet dat die lewe ʼn huiswaarts reis is. Jy het net een lewe. Maak die beste daarvan. Jy gaan ʼn einde tegemoet en daarna ʼn ewigheid in. Niemand kan die lewe van vooraf begin nie. Maar deur onder die Gees van God te leef, kan ons wel ʼn ander eindbestemming vol heerlikheid en vreugde bereik.