Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe langer mens leef, hoe meer besef mens dat ons keuse in die lewe nooit tussen pyn en geen pyn is nie, maar wel 'n keuse tussen om slegs jou pyn te verduur of om dit positief te gebruik. En God met sy groot geduld en liefde, wys ons hoe om dit reg te kry.
GOD BEHEER ALLES
Ds A.E. van den Berg
“En in die dag sal die Here vir die vlieë fluit wat aan die einde van die strome van Egipte is, en die by wat in die land Assur is” (Jes.7:18).”
Wat ʼn eienaardige teks. Jy kan amper nie glo dat so ʼn iets in die Bybel staan nie! Ons lees dikwels dat God praat, maar net eenmaal fluit. Wat beteken dit? Die feit dat alles aan God onderworpe is; goed sowel as sleg. Hy beheer ook dinge wat skynbaar sleg lyk en stel sodoende ook aan Satan perke. Luister hoe sidder die legio van bose geeste in die besetene van Gadara as Jesus by hom kom: “En hulle het Hom gesmeek dat Hy hulle nie sou beveel om in die onder-wêreld af te vaar nie” (Luk.8:31).
In Jes. 7 bevind Juda hul op die vooraand van ʼn nasionale ramp – ballingskap. Juda het telkens oortree en ten spyte van herhaaldelike oproepe om bekering geen ommekeer gemaak nie. Daarom het God die vyand as ʼn tugroede in sy hand gebruik om Juda te straf. Juda het hul doel versaak om vir God ʼn lig in die goddelose wêreld te wees en toe net so donker soos die heidene geword.
Jesaja kla en sê dat Juda soos diere geword het: “ ʼn Os ken sy besitter en ʼn esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie. Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners , die kinders wat verderflik handel! Hulle het die Here verlaat, die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai” (Jes.1:3,4). Hierdie woorde spreek van algehele ontsporing en ʼn jammerlike ontaarding. Niks het Juda van die heidene laat verskil nie.
God het dit nie net daar gelaat nie. Hy is wel ʼn God van liefde maar ook van geregtigheid. Juda was soos sy kinders. ʼn Vader wat lief is vir sy kinders sal hulle tug as hulle verkeerd doen. Tug is mos nie iets wat jy aan jou kinders doen nie, maar vir hulle doen. Ouers wat ongedissiplineerde kinders laat begaan, is in werklikheid nie lief vir hulle nie!
Na alles wat Juda teen God se wil gedoen het, kon Hy hulle afgeskryf het. Sy vaderlike liefde het dit egter verhoed. Jou kind bly jou kind; ook vir God. Hy wou hul tot besinning bring en ʼn geestelike ommekeer maak. Juda het soos ʼn stout kind nie gehoor nie en moes toe maar voel. God het die vyand as tugroede gebruik; die oënskynlike slegte teen die oënskynlike goeie – vlieë teen die bye.
Naas die dood was krygsgevangenskap die ergste straf denkbaar. Mense is met net die klere aan hul lyf na die vreemde weggevoer. Hulle moes alles agterlaat om dit waarskynlik nooit weer te sien nie – land, huis, besittings, familie ens.
Maar dan sien ons ook God se genade in hierdie benarde situasie skitter en herstel belowe. Sy geregtigheid het nie toegelaat dat Juda met hul sondes voortgaan en niks oorkom nie. Dit moes gestraf word. Desondanks het God hul belowe dat Hy nie onbepaald daaroor kwaad sou wees nie en dat daar op sy tyd vir hulle herstel sou kom. Hoe wonderlik is die liefde van God nie! Soos ʼn vader sy kind na ʼn pak slae troos.
Die wegvoering na Babel het in drie sarsies plaasgevind. Jeremia was ook onder hulle en beskryf ʼn droewige prentjie as hy Jerusalem verlaat: “Ag, hoe verlate sit die stad wat vol mense was! Sy het soos 'n weduwee geword, sy wat magtig was onder die nasies; die vorstin onder die provinsies het dienspligtig geword” (Klaagl.1:1).
Babel se onderwerping van Jerusalem het wêreldopslae gemaak. As daar destyds Nuusbulletins was, sou dit hoofopskrifte gehaal het. Die heiden-nasies het geweet dat Juda ʼn sterk God gehad het. Talle het Jerusalem al probeer verower en telkens misluk. Toe slaag Babel daarin. Wat ʼn opskudding!
Koning Agas het van die komende straf geweet. God het hom ingelig. So ook van die herstel en vir hom gesê: “Eis vir jou 'n teken van die HERE jou God....” (:11). Waarom? Sodat hy kon weet dat die straf nie vir altyd sou duur nie.
Konings het graag van God tekens geëis as iets goddelik wonderlik sou gebeur. Hiskia was so ʼn persoon. Toe hy van God die boodskap ontvang dat hy van sy dodelike siekte sou genees, het hy ʼn teken gevra nl. dat die skaduwee op die sonwyser 10 grade vooruit moes beweeg wat toe ook gebeur het. Dit het alle twyfel uit die weg geruim dat dit van God was.
Juda se volkslewe het wel bitter donker geword, maar die lig sou weer skyn. God het Agas genooi om van Hom ʼn teken te vra maar Agas het geweier. Toe gee God dit self: “Daarom sal die HERE self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immanuel noem” (Jes.7:11). Kortom: Daar gaan ʼn Verlosser kom!
Agas het in sy verharding geweier om dit te aanvaar en daarmee die basis van die verbond verwerp nl. dat God sy volk sal verlos. Agas was blind vir sy volk se verlede. Het God dan nie telkens ingegryp en opgetree as die volk in nood was en sy verbondsbeloftes nagekom het nie? Die teken van redding was nie net vir Agas nie maar vir die hele volk bedoel. Let op hoe begin vers 14: “Kyk...” Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word, hinneh is ʼn baie sterk woord wat gebruik is om die aandag op ‘n buitengewone gebeure te vestig, amper soos ʼn beuel wat geblaas word om mense se aandag te kry.
Die woord is ook gebruik om ʼn besondere geboorte aan te kondig. So lees ons van Jesus se geboorte: “En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees” (Luk.2:10). In Jes.7 gaan dit nie oor die geboorte van ʼn gewone kind nie maar oor ʼn besondere Een – Jesus.
Al het hierdie geboorte ver in die toekoms gelê, was redding aan die kom. Die maagd sal swanger word, ʼn seun baar en hom Immanuel noem. Dis ʼn veelseggende naam – God met ons. Dit moes vir Juda ʼn troos gewees het. God het hulle gestraf maar te midde van ʼn volkskrisis nie afgeskryf nie. In krisistye kan ʼn mens nog van mense verlate wees, maar nie van God nie! Alles is aan God onderworpe; goed en sleg; bye en vlieë.
God fluit vir die bye en vlieë. En hul reaksie? “...en hulle sal kom en almal gaan sit in die dale van die steil hoogtes en in die skeure van die rotse en op al die doringbosse en op die drinkplekke: (:19). Wat sê dit? Dat God in beheer van alles is – die menslike bye (goeies) en die menslike vlieë (slegtes). Geen vyand kan sonder God se toestemming optree nie. Hulle is of God se tugroede of vervloektes. Hy stuit hulle mag op sy tyd.
Luister wat sê God van dieselfde Babiloniese koning wat Juda weggevoer het: “Hoe het jy uit die hemel geval, blink ster, seun van die môre! Jy is op die aarde neergegooi, jy wat die nasies van die wêreld verpletter het.... Maar in plaas daarvan sal jy in die doderyk beland, in sy diepste deel” (Jes.14:12,15).
Dit mag soms vir die bye lyk asof God hulle aan die vlieë uitgelewer het. Nee, Hy sal nie, maar hulle wel as ʼn tugroede teen ongehoorsame gebruik. In Jesus bly Hy onder alle omstandighede Immanuel onder sy kinders. Daarvoor is volksberou ʼn volstrekte vereiste. en as my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees” (2 Kron.7:14).
Jes.7:18 het ʼn boodskap vir ons volk – maak reg wat in God se oë verkeerd is. Hy sal dit doen want Hy het mag oor bye en vlieë. Hy wil ons die goeie gee; nie vullis soos wat vlieë hulle in verlustig nie maar heuning soos vir bye. God wil graag van hierdie vlieë-nes aan die suidpunt van Afrika ʼn land van bye maak. Bid vir die bekering van ons volksgenote en hul ontspoorde kerke. Niks is vir God onmoontlik nie!