Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Om nie 'n afspraak na te kom nie is 'n daad van oneerlikheid en ontrouheid. Dit is vandag 6 April, die dag waarop ons voorsate die HERE belowe het dat ook ons nakomelinge hierdie dag vir altyd tot ‘n vasblywende dank- en biddag sal stel tot eer van God se weldade. Kom dan hierdie afspraak vandag met Hom na.
NET EEN GEESTELIKE VADER
“En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is”. (Mat 23:9).
Jesus het tydens sy aardse bediening mense gereeld op God se wil vir hul lewe gewys en nie geskroom om die Skrifgeleerdes en Fariseërs se skynheiligheid te veroordeel nie. Hulle was juis daarvoor verantwoordelik dat mense Jesus en sy leer verwerp het. In Mat 23 ontbloot Jesus hulle ware kleure.
Die Skrifgeleerdes en Fariseërs was aan die stuur van die Jode se godsdienssake. Jesus sê in vers 2 dat hulle soos leermeesters en verklaarders van die Skrif op die stoel van Moses sit. Hierdie stoel van Moses was 'n gesagsposisie wat hulle vir hulself toegeëien en op tuisgemaak het. Hulle het nie geskroom om mense te mislei nie. Hulle het dit in godsdienstige taal geklee en as God se wil aangebied. Mense het hulle geglo want dominees lieg mos nie vir hul lidmate nie!
Misleiding is sedert die gebeure in die tuin van Eden aan die orde van die dag. Gevolglik is dit uiters belangrik om mense wat hul as leiers voordoen se ware karakter vas te stel. Sterk name, glinster-titels en pronkerige magsvertoon is dikwels misleidend. Mense moet op wolwe in skaapsklere bedag wees, veral goedgelowige mense wat gereeld 'n rat voor die oë gedraai word. Dis hoe sektes ontstaan het. Paulus waarsku: “Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie” (Hand.20:29).
Ongelukkig word hoë ampte nie net in die politiek nie maar ook in kerklike geledere deur slegte mense beklee. Hulle word dikwels deur mense vereer terwyl hulle in werklikheid hul amp onteer.
In Jesus se tyd was kerkleiers dikwels godsdienstig-sadisties. “Want hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra, en sit dit op die skouers van die mense, maar self wil hulle dit nie met hulle vinger verroer nie” (:4). Daarom het Jesus sterk woorde oor hul heilige titels uitgespreek:”En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is”.
Die Joodse kerklui was baie gesteld op die aanspreek as vader omdat dit hulle 'n bedenklike gevoel van mag oor mense gegee het. Jesus sê in die teksvers dat daar net een geestelike vader is nl. God. Ons aardse vaders is vaders na die vlees maar God die enigste Een na die gees. “Want al sou julle tienduisend tugmeesters in Christus hê, dan het julle tog nie baie vaders nie; want in Christus Jesus het ek julle vader geword deur die evangelie” ( 1Kor.4:15) .
Die Skrifgeleerdes en Fariseërs het hulle as konserwatief-godsdienstig voorgedoen. Jesus het dwarsdeur hulle gesien en harde woorde vir hulle gehad. In Mat 23 noem Jesus hulle sewe keer skynheilig, twee keer dwase, vyf keer blinde leiers en een keer slange. Hulle het uitspattige ampsgewade gedra om die voorkoms van toewyding te gee en was gevolglik baie op godsdienstige titels gesteld; veral vader.
Hulle het nie daarin geslaag om mense die weg van God te wys nie : “.....want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie” (:13). Hul prediking het afbreek aan die gebooie en wil van God gedoen. Dit was vol van oorlewerings wat geensins met die Skrif ooreengestem het nie: “Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Mat 15:7-9).
In plaas daarvan om mense te vertel wat God se wil is, het hulle eie stories verkondig. 'n Leraar moet sê wat die Bybel sê en niks anders nie. “As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus...., (1 Pet 4:11).
Die Fariseër-bedeling bestaan in wese vandag nog steeds. Dit het net 'n ander naam; Roomse Katolisisme (RK). Hul kerklui word as vader aangespreek In die bieg-hokkie begin die een wat bieg met die woorde: “Vader, ek het gesondig”. Wie sondig werklik? Die een wat bieg of die Roomse kerk-karikatuur? Luister na Jesus se waarskuwing: “En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is” Wat is duideliker as dit? Die RK minag dit!
Let op die RK se term pous. Dit kom van die Latynse papa wat vader beteken; weereens lynreg in stryd met Jesus se bevel. As magshebber word die pous se amp die pontifikaat genoem wat brugbouer beteken. Dis ‘n heidense titel waarmee Romeinse keisers wat ampshalwe ook die hoëpriesters van afgodery was, mee vereer is.
Die vroeë Christelike kerk het geen hiërargiese gesagstrukture geken nie. Gelowiges was dienaars en nie heersers nie; broers en susters en aan mekaar gelyk. ‘n Leraar is as die eerste onder die gelykes beskou maar niks meer nie. Namate Satan die lig van die Evangelie begin verdof het, is 'n vreemde leer die kerk ingedra met ampsdraers wat, net soos in oud-Babilon, met geheimsinnige mag oor ander geheers het. Dis wesenlik 'n herlewing van dieselfde sisteem ook met 'n vrou wat skaamteloos aanbid word – Maria, die herlewing van Semiramis van Babilon!
Christene het van die begin af Jesus as Hoof van die kerk bely. “En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul” (Ef 1:22-23). “En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees” (Kol. 1:18). “Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik” (Kol. 2:9).
Die RK leer in stryd met die Bybel dat die pous die leraar van God, hoof van alle kerke, vader en leermeester van alle Christene en heerser oor die wêreld is. Daarmee neem die pous die plek van Jesus wederregtelik in. Behalwe dat die pous as heilige vader of sy heiligheid aangespreek word, verwag hy onverbiddelike onderworpenheid aan hom. Kardinale het eeue lank voor pouse neergeval en hul voete gesoen. Wat sê die Bybel?“ Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie....” (Ex.20:4,5)
Die Bybel leer dat die pous nie God se leraar op aarde is nie, maar die Heilige Gees is. In Joh.14:26 sê Jesus: “...maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het”. Deur homself as heerser van die wêreld te sien, trap die pous in dieselfde strik as wat Satan vir Jesus wou stel (Mat.4:8-10). Die pous behoort eerder Jesus se voorbeeld te volg en vir die verleier te sê: “Gaan weg agter my, Satan!”
Die optrede van Roomse pouse verskil hemelsbreed van dié van Petrus wat homself ‘n mede-ouderling noem: “Hou as herders toesig oor die kudde van God … nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie … ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde” ( I Petr. 5:2-3).
As die hoof korrup is, is die res van die liggaam ook korrup. Roomse ampdraers vertolk almal ‘n heidense rol, van die pous tot by die priesters en skiet ver tekort by die Bybelse voorskrifte vir kerklike opsieners (I Tim.3:1-7). Die priesterskap is met ‘n nuwe amp vervang. Elke gelowige is ‘n priester met Jesus as Hoëpriester. “Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom …” (I Petr. 2:9).
Die vroeë Christendom het geen priesteramp geken nie. Petrus stel hom as volg voor: “Ek vermaan die ouderlinge onder julle, ek wat ‘n mede-ouderling en getuie van die lyde van Christus is …” (I Pet. 5:1). Paulus het nie priesters nie, maar ouderlinge in die nuut gestigte gemeentes aangestel. Daarbenewens kom titels soos aartsbiskop, kardinaal of pous nêrens in die Bybel voor nie.
Jesus het groot voorregte vir sy kerk bestem. Met die volharding van die priesteramp gooi die RK dit as’t ware in sy gesig terug. Terwyl die Bybel leer dat gelowiges voor God gelyk is, stel die RK geestelike diktators aan wat hul bo mense verhef. Paulus waarsku: “Julle is duur gekoop; moenie slawe van mense word nie” (I Kor. 7:23).
Waar pas Jesus in die Roomse prentjie? Hy val die oog nie maklik op nie. Daar moet behoorlik na Hom gesoek word. Hy is iewers op die agtergrond – ágter Maria, ágter die priester, ágter die kerk; iewers daar ver agter. Daarom is die geestelike peil van Roomse lidmate opvallend swak en verkeer Roomse lande in geestelike duisternis.
Kom ons bid op die vooraand van die herdenking van die Hervorming vir mense wat in die web van Roomse Katolisisme vasgevang is. Bid dat hulle hul toevlug tot God as die enigste Vader sal neem want Jesus verseker hulle: “ Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh. 6:37).