Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In Matthéüs 11:20-24 waarsku die Here Jesus dat mense wat Hom nie as Verlosser aangeneem nadat hulle van Hom gehoor het nie, 'n groter oordeel kan verwag in die hiernamaals as mense wat nooit van Hom gehoor het nie. Het u die voorreg gehad om Hom te leer ken? Gebruik daardie geleentheid om die ewige lewe te verkry.
GEEN GEBEDE VIR DIE DOOIES!
Ds A.E. van den Berg
“Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!” (Gal. 1:8).
Die Roomse Kerk (RK) leer dat daar vir dooies gebid kan word. Dit het geen Bybelse stawing nie en is sonde. As die dood intree, is die mens se ewige bestemming reeds bepaal. Hy is gered of verlore. Niks kan verder aan sy sieleheil gedoen word nie. Die verhaal van Lasarus en die ryk man onderstreep dit al te duidelik.
Daar is niks mee verkeerd nie om vir treurendes te bid, maar nie vir dooies nie. Niemand is in staat om vir iemand na sy dood te bid asof dit 'n gunstige effek vir hom sal hê nie. Die Bybel sê dat die mens se ewige eindbestemming deur sy optrede tydens sy aardse lewe bepaal word: “En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel” (Hebr 9:27).
Omdat daar geen na-doodse moontlikheid vir redding is nie, kan geen verandering aan 'n mens se geestelike toestand na sy dood gemaak word nie. Ons het net een lewe en moet aan die einde daarvan verantwoording doen. Mense kan hoogstens ons keuses beïnvloed, maar uiteindelik moet ons van ons eie keuses wat gemaak is verslag doen.
As die dood intree, kan geen verdere keuses gemaak word nie en is verdere gebede gevolglik almal tevergeefs. Desondanks steur die RK haar nie daaraan nie en bid vir dooies. Die Bybel leer ons dat geredde mense na die dood in die teenwoordigheid van God is (Luk 23:43) en derhalwe geen behoefte aan aardse gebede het nie.
Die leer van gebede vir dooies kom van die Roomse dwaalleer van die vagevuur en op ‘n deel van ‘n apokriewe boek nl. 2 Makkabeërs gebou. Die RK leer dat slegs mense wat ‘n sekere graad van geestelike volmaaktheid bereik het, onmiddellik na die dood hemel toe gaan. Diegene wat nie in die RK gedoop is nie, asook mense wat na hul doop doodsondes gepleeg het, gaan glo reguit hel toe.
Wie sterf, volgens die RK, maar nie die gewenste graad van heiligheid bereik het nie, ondergaan eers die vagevuur; ‘n nadoodse reinigingstraf alvorens hulle hemel toe kan gaan. Feitlik niemand ontsnap daaraan nie. Dit laat Roomse lidmate met ‘n gedurige vrees vir die dood leef omdat hulle nie weet hoe lank hulle in so ‘n kondisionele hel gaan deurbring nie.
Die RK leer dat alhoewel God sondes vergeef, sy geregtigheid nogtans vereis dat oortreders ‘n nadoodse staat van pyn en lyding moet verduur. Deur aan die kerk geld te gee, word die pyn van kermende siele verlig en hul tyd van aanhouding verkort. Die enigste verskil tussen die hel en vagevuur is dat die vagevuur wel ‘n einde het.
Die leer van die vagevuur en gevolglike gebede vir dooies is heidens. Die Romeine en Egiptenaars het ook beoefen. Die Bybel leer baie duidelik dat verlorenes nie na hul dood rein word nie. Wie sonder Christus sterf, is vir ewig verlore. God keer nooit die oordeel om nie (Luk. 16:19-31). Wanneer die RK die vagevuur verkondig, doen sy presies dieselfde met die mensdom as wat Satan met Eva gedoen het. Hy het gesê: “Is dit ook so dat God gesê het …?” waarna hy die waarheid as ‘n leuen afgemaak en die leuen as die waarheid aangebied het.
Die RK lieg deur te sê dat sondaars ‘n tweede kans op verlossing na die dood kry. Sulke bedrog baar die ewige dood! Dis nie 'n vagevuur wat sondes wegbrand nie, maar Jesus wat dit met sy bloed afwas – twee wyduiteenlopende leerstelings.
Pous Johannes Paulus 2 het meer as enige ander pous gedoen om afgodery en die raadpleging van geeste in die RK te bevorder. Hy skryf in sy boek Crossing the Threshold of Hope dat die vagevuur 'n teken van God se liefde is omdat dit mense ‘n kans op 'n nadoodse verlossing bied. Dis 'n tydelike staat van reiniging en nie straf nie. Paulus waarsku: “Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!” (Gal. 1:8).
Dooie mense kan ons nie hoor of op versoeke reageer nie. Die Bybel praat dikwels oor die dode maar nooit dat hulle met lewendes kan skakel nie. Wie ongered sterf se lot is vir ewig verseël. Ons kan hul lot nie verander en hulle ook nie beïnvloed nie. Waarom wil mense vir dooies bid wat gebede nie kan hoor, beantwoord of enige verandering in hul lewe kan bring nie? Dis 'n mors van tyd. Vir gebed is daar vir die mens twee opsies – bid tot God of bid soos die Afrika-mens tot voorvadergeeste (demone.)
Om tot dooies te bid, 'n ernstige sonde: “En Saul het gesterwe weens ontrou wat hy teen die Here begaan het, weens die woord van die Here wat hy nie gehou het nie; en ook omdat hy die gees van 'n afgestorwene om inligting gevra het, maar die Here nie geraadpleeg het nie. Daarom het Hy hom omgebring en die koningskap laat oorgaan op Dawid...” (1 Kron.10:13.14).
Enige poging om met dooies eerder as met God te skakel, laat die gevaarligte brand. Eerstens verontagsaam dit God se bevel. Tweedens systap dit God wat die enigste Een is tot Wie gebid mag word. Derdens maak dit die pad vir bose geeste wyd oop.
Roomse lidmate glo dat gebede tot dooies in orde is solank as wat die dooies gevra word om namens jou met God te praat en jou versugting direk aan Hom voor te lê. Wat ook al hul bedoelings is, bly die antwoord staan – gebede aan dooies is teen God se wil en uiters gevaarlik vir geestelike veiligheid.
Die meeste van die Roomse gebede vir dooies gaan vir Maria. Nêrens is daar enige Bybelse aanduiding dat sy tot dieselfde vlak as Jesus verhef, aanbid of verheerlik moet word nie. Sy was slegs geseënd omdat sy die Christuskind gebaar het en niks meer nie. Daarom het die vroeë Christenkerk geen Mariaverering geken nie.
Die grootste lasteraar in hierdie verband was Alfonsus Liguori. Hy skryf in die 1700's dat ‘n sondaar wat hom direk tot Jesus wend moontlik bedroë daarvan afkom omdat hy hom in Jesus se wraak op sonde kan vasloop en is dit dus raadsaamer om eerder tot Maria vir die nodige bemiddeling te bid.
Liguori laster as hy sê dat Jesus nie die nodige liefde en meegevoel vir sondaars toon alvorens sy moeder Hom daartoe oortuig nie. Hy speel Jesus as ‘n hardvogtige Regter teenoor ‘n genadige en liefdevolle Maria af en sê dat haar moederhart meer toeganklik vir mense met probleme is. Hy is in 1819 tot 'n heilige verklaar!
Die RK dwaal as sy leer dat sondaars wat hulle voor Jesus verootmoedig, nooit werklik van gebedsverhoring verseker kan wees nie. Jesus hou Hom glo eerder met geregtigheid en oordeel besig en laat genadebetoning aan sy moeder oor.
Maria is die vernaamste voorwerp van die RK se aanbidding. Pouse bid onbeskaamd tot haar en moedig mense aan om hul voorbeeld te volg. Hulle glo dat Maria en ander heiliges na hul dood verheerlik is en dat elkeen van hulle van God die voorreg ontvang het om gebede aan te hoor en selfs te vergewe.
Nêrens in die Bybel is daar enige aanduiding dat daar tot Maria of ander mense gebid moet word nie. In die OT het gelowiges bv. nooit tot Abraham, Moses, Dawid of enige ander geloofsheld gebid nie. Nog minder het enige van die apostels gelowiges daartoe versoek. Desondanks leer die RK dat Maria gebede kan hoor en verhoor.
Sy was 'n sondaar soos enigeen en sê dit self: “My siel maak die Here groot, en my gees is verheug in God, my Saligmaker” (Luk.1:46-47). Gevolglik verskil gebede tot haar niks van gebede vir dooies nie en is 'n ergerlike sonde in God se oog. Jesus leer ons reg bid:
“Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. (Mat 6).