Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
“Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?” (2 Kor.6:14).
KRUISTOG-KRONIEK VAN MAMELODI
KRUGERDAG 10 Oktober
Saamgestel deur dr. Jeanette van Rensburg en Etienne Hansen
Die woord Mamelodi is saamgestel uit twee Noord-Sotho-woorde wat “moeder van melodieë” beteken en was die bynaam wat swart mense vir Paul Kruger (1825-1904) gegee het omdat hy ʼn uitsonderlike vermoë gehad het om te fluit en voëlgeluide na te boots. Die woonbuurt Mamelodi aan die oostekant van Pretoria, wat in 1953 gestig is, is na Paul Kruger vernoem.
Sammy Marks (1844-1920), die suksesvolle Joodse sakeman, vriend en ondersteuner van Kruger, het in 1895 die bedrag van £10 000 aan die stad van Pretoria beskikbaar gestel vir die oprigting van ʼn marmerstandbeeld van die President, op die plek van sy keuse. Die ZAR-regering het Marks skriftelik bedank “voor deze rijke gift” en aangedui dat Burgerspark in Jacob Maréstraat die gekose plek vir die standbeeld is. Dit was Kruger se begeerte dat enige geld wat moontlik sou oorbly, vir die skep van ʼn dieretuin in Pretoria aangewend sou word. Die Superintendent van Onderwys, Nico Mansvelt (1852-1933), self ʼn kunskenner, het voorgestel dat die beeld eerder van brons gemaak moes word, wat meer bestand as marmer teen Transvaalse klimaatsveranderinge sou wees. Op Marks se aanbeveling is die opdrag aan die toe nog onbekende Nederlandse beeldhouer, Anton van Wouw (1862-1945), opgedra.
Marks en die Uitvoerende Raad van die ZAR-regering was beïndruk met Van Wouw se voorstelle dat Kruger in ampsdrag, omring deur vier gewapende burgers, uitgebeeld word. Kruger het geweier om vir die standbeeld te poseer en Van Wouw moes hom vir ʼn tyd lank in sy daaglikse wandel rondvolg om genoeg inligting en detail vir die projek te versamel. Aan die einde van 1896 het Van Wouw na Europa vertrek waar hy teen ʼn salaris van £40 per maand, vir twee jaar moes toesig hou oor die vervaardiging van die beelde. Van Wouw se eerste keuse vir die gietwerk, die Koninklijke Nederlandsche Fabriek van Gouden en Zilveren werken van J.M. Kempen & Zonen, was nie ingerig om die massiewe Krugerbeeld te giet nie. ʼn Kontrak van 39 500 Liere is met die Italianer Franciscus Bruno aangegaan om die hele beeldegroep in ʼn allooi van 92% koper en 8% tin te giet.
In Julie 2019 is die enigste bronsgietstuk wat ooit van die gipsmaket of -ontwerpmodel van die Krugerbeeld gemaak is, op ʼn veiling vir ʼn rekordbedrag van R10,47m verkoop. Dit is die hoogste prys wat enige Van Wouw-beeldhouwerk nog ooit behaal het. Die woord maquette is Frans en verwys na ʼn skaalmodel wat ʼn beeldhouer maak om homself en die opdraggewer te help om die finale kunswerk te visualiseer en ʼn drie-dimensionele idee te vorm van waarvoor daar betaal word. Dit help ook met die beplanning van die finale beeldhouwerk en besparing van materiaal en produksietyd. Die gipsmaket was waarskynlik vroeg al in Kruger se besit, want dit het in 1904 saam met sy oorskot in Suid-Afrika aangekom. Ernst Oppenheimer (1880-1957) het dit bekom en in Rome ʼn bronsgietwerk deur Giovanni Nisini daarvan laat maak, waarna hy dit aan die Rand Club in Johannesburg vir ongeveer £125 verkoop het. Dié beeld staan een meter hoog en is deur die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (SAEHA) as ʼn erfenishulpbron met hoë historiese betekenis verklaar, wat beteken dat daar nooit ʼn uitvoerpermit daarvoor uitgereik mag word nie.
Terwyl Van Wouw in Europa was, het Marks ʼn voetstuk vir die standbeeld op Kerkplein laat oprig omdat hy gereken het dat dit te weggesteek sal wees in Burgerspark. Die Uitvoerende Raad het hom daarin ondersteun. Die argitek belas met die voetstuk, Wim de Zwaan (1867-1948), het tot ontsteltenis van Sytze Wierda (1839-1911), 200 ton Skotse graniet ingevoer en nie van plaaslike klipsoorte gebruik gemaak nie.
Van Wouw was in Oktober 1899 terug in Suid-Afrika, en die gegote beelde het kort daarna in Delagoabaai, in Portugees-Oos-Afrika aangekom, maar die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het toe reeds uitgebreek en die hele projek gekelder. Herbert Kitchener (1850-1916), die Opperbevelvoerder van die Britse magte in Suid-Afrika van 1900 tot 1902, het Marks versoek om die beelde van die vier brandwagte aan hom te skenk. Tydens die Victoriaanse tyd en die bloeitydperk van die Britse Ryk, was dit ʼn statussimbool vir soldate om voorwerpe as aandenkings uit verowerde wêrelddele huis toe te neem. Marks het jare later aan Gustav Preller (1875-1943) beken dat hy in daardie stadium onder die indruk was dat die oorlog verby was en dat die Engelse nie sou toelaat dat die beelde opgerig word nie.
Die beeld van Kruger het in Delagoabaai agtergebly, terwyl Kitchener die beelde van die brandwagte aanvanklik voor die militêre kolleges van Woolwich en Sandhurst laat aanbring het. Hy het in 1902 al voorgestel dat die vier beelde saam met vier bronsplate in basreliëf gebruik word in ʼn monument vir die 431 Royal Engineers wat in die Anglo-Boereoorlog gesterf het. Een van die bronsplate beeld die vredesamesprekings na die Slag van Majuba in 1881 uit en die voorstel is in kontroversie gehul en afgekeur. Die beelde is wel na die Royal School of Military Engineering in Chatham verskuif. In 1913 het Kitchener twee van die beelde aan die Royal Engineers geskenk en twee op sy landgoed, Broome Park naby Canterbury, laat oprig.
Na die oorlog en Kruger se dood, het die Stadsraad van Pretoria in 1905 besluit om die voetstuk, wat beoog was vir die beeldegroep, na Prinsepark by die fonteine, suid van die stad, te verskuif. Marks was bereid om die beeld van Kruger, waarvoor hy steeds die stoorgeld in Delagoabaai betaal het, aan die Stadsraad te oorhandig op voorwaarde dat die volledige beeldegroep opgerig word. Die oorspronklike gipsmodelle het nie meer bestaan om nuwe beelde van te giet nie en om vorms te maak van die gietsels in Engeland sou £1,760 kos – ʼn bedrag wat die Stadsraad nie kon bekostig nie. Uiteindelik sou Marks toestem dat die Krugerbeeld sonder sy brandwagte op die voetstuk in Prinsepark opgerig word. Die reusebeeld van die laaste president van die ZAR is vir die eerste keer in 1913 onthul, agtien jaar na Sammy Marks die voorstel gemaak het en geld daarvoor bewillig het.
Louis Botha (1862-1919) het reeds tydens die Rykskonferensie in Londen in 1909 die moontlike teruggawe van die beelde met Kitchener bespreek, iets wat laasgenoemde nog teen 1910 geweier het. Eers in 1921 is die brandwagbeelde amptelik aan die Unie van Suid-Afrika teruggegee en het uiteindelik 22 jaar nadat dit gegiet is, vir die eerste keer hul bedoelde bestemming, naamlik Pretoria, bereik. Baie Afrikaners het gehoop dat die beeldegroep nou hul regmatige plek op Kerkplein sou kon inneem, maar die Stadsraad van Pretoria het intussen besluit om ʼn monument vir Unietroepe, wat tydens die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) gesneuwel het, daar op te rig. Die twis wat gevolg het, is tekenend van die verdeeldheid wat daar in die eerste kwart van die twintigste eeu onder Afrikaners ingetree het. In ʼn diplomatiese oplossing het die Stadsraad ʼn oorlogsmonument voor die Uniegebou opgerig en die Krugerbeeld saam met sy brandwagbeelde by die Pretoria Stasie.
Die volledige beeldegroep is op die honderdste herdenking van Kruger se verjaardag op 10 Oktober 1925 onthul, ʼn geleentheid wat deur byna 25 000 mense bygewoon is. Die Boerevrou van November 1925 berig: “In die gewone drukke stadslewe het ek my al verbeel dat ons voorste Afrikaners net wil Engels word en ryk word, maar [op] Krugerdag was die lewendige Afrikaner volksgees onmiskenbaar. Elke woord wat gepraat was [sic] het duidelik op die landbouterrein en later by die stasieplein weerklink.” In ʼn optog het driehonderd meisies die kleure van die Vierkleur gevorm, baie mense het Vierkleur-strikkies en -knopies gedra en die ou Republikeinse Volkslied is gesing. Mense het moeite gedoen om die geleentheid by te woon, selfs van so ver as Rhodesië het hulle gekom. “… en al langs die pad staan ʼn dubbele ry motors; hul dra die letters van afgeleë dorpe in die Transvaal en Vrystaat.”
Aangevuur deur die opwelling van ʼn nasionale gevoel onder Afrikaners tydens die Simboliese Ossewatrek van 1938, het verskeie kultuurorganisasies hul beywer vir die verskuiwing van die Krugerbeeldegroep vanaf die Pretoria Stasie na Kerkplein. Met dien verstande dat dit geen onkoste vir die Stadsraad meebring nie, is die versoek in 1939 goedgekeur. Maar weereens sou ʼn oorlog die plan om die beeld op Kerkplein op te rig, in die wiele ry. Eers ná die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945), op 10 Oktober 1954, kon Sammy Marks se “rijke gift” op Kerkplein, die plek wat hyself daarvoor verkies het, onthul word.
Sedert 1994 is dié beeldegroep op Kerkplein al telkemale gevandaliseer. Dit wissel van bestokings met groen en rooi verf of petrolbomme, tot geverfde haat-uitsprake op die voetstuk. Die koperplate is lankal reeds afgesteel en verlede jaar is twee geweerkolwe, twee geweerlope en een geweerband van die brandwag-beelde afgesaag en gesteel. Minder as ʼn maand gelede is die een brandwag-beeld se voet afgesaag.
Die geskiedenis van die Kruger-standbeeld is ten nouste verweef met die Afrikaner se stryd om kulturele erkenning en dit is dus nie vreemd dat die volgende hoofstuk in die bestaan van hierdie standbeeldgroep en die herdenking van Paul Kruger se tweehonderdste geboortejaar gehul is in meningsverskille en omstrede waagstukke nie. Dis duidelik dat Mamelodi se stem heeltemal stil sou raak as iemand nie bereid was om nog ʼn kruistog daarvoor te onderneem nie.