Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is soveel gapende afgronde elke dag op ons pad van heiligmaking – wat ons nie eers raaksien nie! Ons blindheid veroorsaak dat ons luidkeels teen die Vaderhand wat ons daar wegruk, protesteer.
EK HET GESTERF!
HALLOWEEN
Hierdie naby-dood ervaring is in Afrikaans vertaal en neergeskryf deur
Anita Joubert
Toe ek voor Jesus staan, het Hy met ʼn hartseer stem vir my gevra: “Ek het my lewe aan ʼn kruis gegee sodat julle in my Naam die koninkryk van die duisternis kan oorwin, maar julle eer hulle deur saam met hulle fees te vier op Halloween! Besef julle nie dat julle met vuur speel nie?”
My naam is Elijah Vance. Ek is 45 jaar oud en ek bly in New Orleans, Louisiana. Dit is ʼn stad wat bekend is vir geskiedenis, argitektuur en sy Kreoolse kultuurerfenis. Die skeidslyn tussen kultuur en die okkulte in ons stad, is baie dun, en ek het nooit gedink dat my professionele lewe as ʼn argitektuur-historikus ʼn geestelike oorlogsveld sou word nie. Ek was nog altyd flink van denke, sinies en hoog aangeprys deur my werkskollegas. My werk het hoofsaaklik gedraai om die verborge geestelike argitektuur van die Vieux Carré (Ou Plein). Dit is die historiese deel van New Orleans wat gevestig is in 1718, en bekend is vir sy ryk kultuurgeskiedenis.
Ek het alles ondersoek, vanaf die voodoo simboliek tot die Vrymesselaarstempels se geheime kodes. Op die oog af, het ek alles gehad – ʼn lieflike woonplek, bekendheid in my werkskringe en ʼn paar goeie boeke op die mark deur my geskryf.
Innerlik het ek egter gepyn. Ek was nie ʼn ateïs nie, maar het ook nie na aan God geleef nie. Ek het in ʼn Christenhuis grootgeword, maar soos wat ek ouer geword het, het ek my geloof vir navorsing verruil. Gebed het ʼn taal geword waarvan ek vergeet het en ek het die leemte in my binneste gevul met gemak en ʼn harde, siniese lewensuitkyk.
Ek het baie van die mistieke atmosfeer van New Orleans gehou, veral in Oktobermaand, en ook van Halloween. Die baie partytjies, die donker geskiedenis en die geleentheid om die oningeligte mense daarvan te leer, was vir my heerlik. Ek het myself nooit afgevra wie ek nou eintlik vereer daardeur nie.
Iets het egter altyd in my oor gefluister dat daar tog meer in die lewe moet wees as net dit. Ek kan tog seker meer wees as net ʼn versamelaar van dooie kennis. Soms het ek na die antieke plafonne van die geboue gestaar en gewonder wat gebeur met ʼn mens wanneer hy sterf. Ek sou nooit kon dink dat ek my antwoord sou kry op dié manier waarop dit toe wel na my gekom het nie.
Halloween het een van my geliefkoosde tye van die jaar geword. Nie omdat dit so ʼn donker, mistieke tyd is nie, maar omdat ek dit gesien het as ʼn tyd waarin ek ander kon leer. Dit was ook ʼn geleentheid om te lag vir die donker skadu’s wat ek bestudeer het. Ek het my eie woonplek versier met allerlei historiese temas en ons het vir mekaar gesê: “Dit is net skadelose pret en vermaak.” Noudat ek daaraan terugdink, weet ek dat dit alles behalwe skadeloos was.
Daardie spesifieke jaar het ek vir my ʼn kostuum van ʼn spesifieke vampier gekies wat ʼn belangrike posisie in hulle rangorde beklee het. Ek het gevoel dat ek daarmee die mistieke, kulturele atmosfeer van die ou stad kon vasvang.
Ons het na ʼn kostuumdans in die oudste deel van die stad gegaan op Halloween-aand. Die musiek was hard, die drank sterk, en almal het gelag onder die geflikker van oranje en pers neonligte, asof hulle absoluut geen sorge in die lewe het nie. Ek het ʼn rilling oor my liggaam gevoel, nie van koue nie. Dit was eerder ʼn geestelike ervaring en ek het dit as moegheid afgemaak.
ʼn Vriend het later vir my ʼn drankie aangebied, en nadat ek ʼn slukkie geneem het, het ek dof begin voel – nie dronk nie, maar op ʼn afstand, so asof ek tussen twee wêrelde wegglip. Ek het ongemaklik gevoel en die kostuum wat my vroeër so geamuseer het, het meteens so potsierlik gevoel. Die ander mense met hulle gesigte soos geraamtes en hulle demoniese horings, het nie meer soos deelnemers van vrolike pret gelyk nie. Dit het gelyk asof hulle werklik die karakters was wat hulle voorgestel het met die kostuums.
Al die joligheid het meteens vir my so misvorm gevoel, asof ek ʼn wêreld betree het waar daar geen lig is nie. Al die partytjiegangers het opgetree asof hulle besete was – hulle het soos monsters gelag.
Ek het besluit om vroeër as beplan, huistoe te gaan. Daar was ʼn polsende dreungeluid in my ore wat al hoe erger geword het en ek was baie duiselig. My asemhaling het vlak gevoel en toe ek kar toe stap deur die mistigheid van die reëndruppels, het dit gevoel asof ek ʼn donker skadu agter my aansleep. Die sypaadjies van die nou stegie waardeur ek geloop het, was vuil en nat, en toe ek vinnig by ʼn kruising wou oorgaan, was my skoene glad en ek het gegly.
Daar was helder kopligte van ʼn aankomende motor, ʼn geskreeu en remme – toe was dit stil. Die een oomblik het ek nog geloop, die volgende oomblik het ek bokant my liggaam gesweef. Ek het geen pyn gevoel nie, net ʼn ontsaglike verligting. Ek het my duur leerjas met ʼn skeur in, gesien aan my liggaam wat opgekrul op die nat sypaadjie lê. Mense het geskree, ʼn noodnommer gebel, maar ek was onbetrokke. Die chaos onder my het soos ʼn droom gevoel.
Toe ek opkyk, het ek dit gesien – ʼn sluier, dun en blink, polsend soos ʼn lewendige hartklop. Dit het gevoel asof ek daarheen getrek word en die oomblik toe ek deur die sluier gaan, het die wêreld agter my verdwyn. Ek het die ewigheid ingegaan. Daar was stilte, geen gewig en geen asemhaling. Ek was baie bewus van wie ek was. Ek kon nog die paramedici sien met my liggaam werk, hulle monde beweeg, maar ek kon niks hoor nie. Ek het met ʼn buitengewone helderheid geweet: Ek is dood. Dood is egter nie die einde nie – dit is die begin van waarheid. Dit is moeilik om dit te beskryf, maar jy is skrikwekkend bewus van wie jy is.
Die stilte om my was soos ʼn vraag wat vir my gevra word: “Sien jy nou?” Ek het toe gesien met begrip en insig. (Paulus sê in 1 Korintiërs 13:12 dat ons dan ten volle sal ken soos wat God ons ten volle ken.)
Ek het ʼn realm van reinheid, heiligheid en lig gesien, maar ook skadu’s van geestelike duisternis wat oral op die aarde aan dinge vasklou. Ek het siele gesien wat onbewus is daarvan, wat vrolik lag in hulle onkunde. Dit was soos kinders wat heerlik met vuur speel terwyl die huis agter hulle besig is om af te brand.
Toe hoor ek die woorde: “Hulle weet nie waarmee hulle speel nie, maar hulle sal nog uitvind.” Ek het in trane uitgebars oor al die mense soos ek wat in die skadu’s geleef het en dit lig genoem het, gedink het dit is onskuldige pret.
Die lig het aangekom, amper soos ʼn sonsopkoms, maar eerder soos ʼn deur wat oopgemaak word vir iets waarna ek nog altyd gehunker het. Hy het daar gestaan, en ek het onmiddellik geweet wie Hy is – Jesus! Uit Hom het volheid, krag en ʼn heilige teenwoordigheid gestraal. Hy het my geken. Elke mislukking, elke geheim, elke siniese woord, en steeds het Hy my liefgehad. Liefde het uit Hom gestraal en Hom omring.
Ek het goed besef dat Hy nie die historiese Jesus is van wie ek wou vergeet nie. Hierdie was die lewende, almagtige, alwetende, heilige Here Jesus Christus, Koning van die heelal.
“Elijah,” het Hy my op my naam genoem. Sy stem was hartseer, maar vol liefde. “Ek het my lewe aan ʼn kruis gegee sodat julle die koninkryk van die duisternis in my Naam kan oorwin, maar julle eer hulle deur saam met hulle fees te vier op Halloween! Besef julle nie wat julle doen nie? Julle speel met vuur!” Ek het sy pyn en hartseer gesien omdat Hy ons so lief het.
Elke leuen wat ek ooit geglo het, elke stukkie verwaandheid en eie-ek, alles in my het uitmekaar gespat. Ek sien die littekens aan sy hande en sy voete, en ek krimp ineen. Ek val voor sy voete neer en ek huil. Alles in my het geruk. Hy het die verskriklikste dood denkbaar gesterf om aan ons oorwinning te gee, en ons speel met die demone asof hulle ons maatjies is.
My binneste het gevries. Ek het skielik terugflitse gesien: Siele wat lag met demoniese gesigte; volwassenes wat towerspreuke uitspreek oor ander en dink dit is ʼn grap; partytjies waarheen geeste genooi word. My geestesoë was nou oop en agter dit alles het ek die demone gesien wat alles bekyk, tevrede lag en op alles teer soos parasiete.
“Hierdie is nie ʼn grap nie. Hulle nooi dinge in wat hulle nie verstaan nie. Selfs my kinders wat my Naam bely, vier die vyand se fees. Het Ek julle nie in my Woord gewaarsku om weg te bly van die afgode nie?” (1 Joh. 5:21)
Ek sien kinders met kostuums aan wat demone voorstel. Ek sien hoedat miljoene mense aan die slaap gesus word deur hulle vermaak. Jesus het weer gepraat: “Elijah, hulle speel met vuur. Gaan vertel dit vir hulle. Sê vir hulle Ek kom gou, en so baie is nog nie gereed nie. Hulle moet wakker word en kies wie hulle wil dien. Jy moet teruggaan en hulle gaan waarsku.”
Sy woorde het iets in my laat breek. Ek wou nie teruggaan nie. Ek het so geliefd gevoel, so bekend, so tuis. Ek het gesmeek: “Laat my bly, asseblief.”
Jesus het sy hand na my toe uitgesteek. “Jy kan nie. Jy wou nie glo nie en het van My vergeet. Ek gee jou nog ʼn kans.Jy het nou die waarheid gesien en die verantwoordelikheid is joune. Jou getuienis sal kettings breek wat die demone om mense gebind het.”
Ek het toe gesigte gesien – mense wat soek na die waarheid;jongmense wat verdrink in geestelike verwarring; predikers wat weet maar te bang is om die waarheid te praat, want hulle lidmate sal kwaad word. “Gaan waarsku hulle, Elijah. Daar is nog tyd.”
Hy het toe teruggestaan en die lig het begin verdof. Ek het gevoel hoedat ek in tyd teruggetrek word en het in die hospitaalkamer wakker geword. Daar was helder ligte, dokters, pype, geweldige pyn. Hulle het gesê dit is ʼn wonderwerk, maar wanneer ek probeer vertel wat ek beleef het, het hulle net beleefd hulle koppe geknik. Dit is ʼn breinbesering, ʼn hallusinasie of ʼn manier van die brein om sin te maak van die ongeluk.
Selfs van my vriende het gesê: “Ons wil nou nie vir jou reguit sê dat jy bietjie mallerig is nie, Elijah. Jy was darem amper dood. Wees dankbaar dat jy leef.” Maar hoe kon ek stilbly? Ek het voor die Koning van die heelal gestaan, en Hy het my teruggestuur met ʼn opdrag.
Ek het klein aanlyn-groepies begin met wie ek my ondervinding gedeel het. Sommige het geluister, ander nie. Sommige het my bespot, ander is wakker geskud. Dit is ʼn baie eensame taak om ʼn boodskap oor te dra wat die wêreld nie wil hoor nie. Ek het egter aangehou en elke jaar wanneer Oktobermaand nadergekom het, het ek aan Jesus se woorde gedink: “Hulle speel met vuur en hulle besef dit nie.”
My lewe was nooit weer dieselfde nie, en ek is dankbaar daaroor. Daar was nie meer ʼn vlak gejaag na dinge nie. Ek leef nou met ʼn dringendheid in my, want ek weet hoe dun daardie sluier werklik is. Ek weet hoe baie mense slaap, geblinddoek deur die vermaak van hierdie wêreld. Hulle stap reguit na die ewige verwydering van God toe, en dit terwyl hulle dink dat hulle veilig is.
Ek het geweet hóé lief Jesus hulle het, want Hy het my teruggestuur om vir elkeen wat hierdie getuienis hoor of lees, te vra: “Wil jy die Lig volg, of jou aantrek vir die koninkryk van die duisternis? Jy sal self moet kies!”
Chloé Reynolds was ʼn joernalis in Amerika wat vir ʼn baie bekende aanlyn-koerant gewerk het. Sy het die opdrag ontvang om alle geestelike ervarings van mense en alle nabydood-ervarings waarvan sy gehoor het, na te vors en te “ontmasker” as leuens, want volgens die hoofredakteur, is dit alles ʼn klomp bog.
Chloé het saamgewerk en sy het dit baie geniet want haar wêreld is, volgens haar, gebou op bewyse, logika en wetenskap.
Sy het gehoor van Elijah Vance, die historikus wat skielik, nadat hy ʼn ongeluk gehad het, ʼn straatprofeet geword het. Sy het gehoor dat sy getuienis, dat Jesus hom teruggestuur het met die waarskuwing dat daar met die duisternis en vuur gespeel word tydens Halloween, soos ʼn veldbrand versprei het. Dit was presies die soort storie wat sy gesoek het en sy het New Orleans toe gevlieg om ʼn onderhoud met hom te gaan voer.
Hier volg haar weergawe van die gebeure:
Ek het vir Elijah Vance nie in ʼn kerk gekry nie, maar op ʼn seepkissie in ʼn klein, stil parkie in Vieu Carré. Sy oë het ʼn diepte bevat wat my gefassineer het, maar ook ongemaklik laat voel het. Ek het ʼn man gesien wat alles verloor het: Sy beroep, sy geloofwaardigheid, sy intellektuele wapenrusting, maar hy het iets in die plek daarvan gekry. Hy het ʼn onverbiddelike oortuiging gehad. Hy het nie ʼn self-help boek probeer verkoop nie. Hy het versekering teen die ewige vuur verkoop. Hy was daar om te bewys dat die vuur ʼn werklikheid is.
Ek het myself voorgestel en ʼn vriendelike, sagte maar hartseer glimlag gekry. Hy het nie probeer om my te bekeer nie, maar net gesê: “Jy vra die verkeerde vrae, Chloé. Jy vra of ek dit gesien het. Ja, ek het, maar jy moet vra waarom is ek teruggestuur.”
Ek het hom gevolg en dopgehou – weke lank. Ek het hom hoor praat oor die leegheid van vermaak, oor ʼn geslag wat aan die slaap is in die duisternis en dan noem hulle dit die lig. Hy was reguit, gefokus. Hy het homself ernstig uitgespreek oor die gevaar daarvan om met die okkulte rond te speel en te dink dat dit onskuldig is. Teen towerspreuke en die viering van Halloween, het hy baie ernstig gewaarsku.
Hy het gesê: “Ek was ʼn deskundige op die gebied van die duisternis en ek was verkeerd. Dit is nie ʼn speletjie nie. Julle speel met vuur en dit sal julle brand. Ons vyand hou baie van ʼn vrywillige uitnodiging.”
Ek het probeer om my artikel in my kop te begin skryf, maar ek kon nie. Alles wat Elijah gesê het, het van waarheid getuig. Deel van my opdrag was om te soek na ander mense wat soortgelyke getuienisse gehad het. So het ek toe op ʼn ouer geval afgekom. Dit was ʼn vrou, Sarah Ellington. Sy was ʼn verpleegster in Savannah, Georgia, en haar sterfgeval het ʼn jaar voor Elijah s’n plaasgevind. Die weergawe daarvan wat sy gegee het, was feitlik identies aan dié van Elijah. Sy het ook die geestelike doodsheid ervaar, die ongeluk op Halloween gehad, die ontmoeting met ʼn persoon van lig, en presies dieselfde ernstige waarskuwing – julle speel met vuur. Sy het die persoon van lig, Jesus Christus genoem.
Ek was verstom. Sarah se storie was weggesteek in ʼn klein gemeentetjie se kerkblad. Elijah s’n het groot aandag getrek. Hulle het nog nooit ontmoet of van mekaar geweet nie. Hulle agtergronde het hemelsbreed verskil: Sy is ʼn pedriatiese verpleegster en hy ʼn argitektuur-historikus. Tog was die boodskap feitlik woord vir woord dieselfde.
Ek het vir Sarah gekontak. Sy was gaaf, stil, en tog het sy met dieselfde onverskrokkenheid en dringendheid as Elijah haar storie vertel en mense gewaarsku. Haar eenvoud was amper meer aangrypend as Elijah se vurigheid – so asof sy ʼn weerberig gelees het wat ek geweier het om te glo. Ek het haar oor die Lig uitgevra, sy het geantwoord: “Hy het vir my twee dinge gewys, Chloé: Sy liefde en sy hartseer. Hy het die mensdom ontsettend lief, maar ons dink ons is baie slim. Ons hou aan om presies dieselfde deure wat Hy toegemaak het met sy kruisiging, weer oop te maak.”
My wetenskaplike fondament het begin kraak. Is dit toevallig? Ek het anders na die wêreld begin kyk; opgehou om Halloween net as ʼn onskuldige partytjie te sien, en ek het die skadu’s wat Elijah beskryf het, begin raaksien. Ek het nie regte spoke gesien nie, maar geestelike bindings, swaar en eg.
My draaipunt het gekom gedurende New Orleans se massiewe, jaarlikse Halloween-parade. Ek was daar om agterna kommentaar te lewer, maar ek het eintlik vir Elijah dopgehou. Hy het nie gepreek nie, maar gebid en stilletjies gehuil soos wat die vlotte verby gegaan het. Die kostuums was meer potsierlik as ooit vantevore. Daar was demone, geraamtes, voorstellings van kultuurvoorwerpe, afgode en die donker toordery en heksery. Die musiek was swaar en die lug het drukkend gevoel – asof ek wou versmoor.
Ek het besef dat my joernalistieke nuuskierigheid ook ʼn vorm van speel met die duisternis is, maar ek het nooit die gevaartekens raakgesien soos daardie aand nie. ʼn Vlot het verby gegaan met ʼn klomp reusagtige demoniese figure daarop. Die skare het gejuig en gelag en op daardie oomblik het ek die sluier gesien waarvan Elijah gepraat het – net vir ʼn paar sekondes. Die lugruim bokant die optog het geblink en toe oopgegaan. Dit was nie my verbeelding nie – dit was ʼn werklikheid.
Deur die opening het ek hulle gesien – ʼn donker bose klomp skadu’s wat teer op die vrolike onkunde in die strate. My professionele masker het geskeur en ek het die waarheid erken. Die duisternis waarteen Elijah gewaarsku het, was nie mitologie nie. Dit was werklikheid.
Elijah het my raakgesien. Hy het na my gekyk met oë vol hartseer en oortuiging. Dit was dieselfde kyk van Jesus wat Sarah in haar naby-dood ervaring beskryf het. “Sien jy dit nou, Chloé” het Elijah sag gevra. “Hulle dra nie net maskers nie, hulle nooi die duisternis in.”
Ek het besef dat, al het ek nie ʼn naby-dood ervaring gehad nie, al het ek nie vir Jesus gesien nie, ek het die donker skadu’s van die duisternis gesien. Dit was heeltemal genoeg om my siniese, wetenskaplike lewensuitkyk te laat verkrummel. Ek het probeer om die ontmaskerende artikel te skryf, maar ek kon nie. Hoe kan ek ʼn waarheid ontmasker wat my hele werklikheid uitmekaar geruk het.
Ek moes kies. Ek sou òf ʼn leuen moes publiseer, òf die waarheid en my hele loopbaan prysgee. Ek het die waarheid gekies en is afgedank. My kollegas het gesê dat ek ʼn psigotiese ineenstorting gehad het. My vriende het hulle van my gedistansieer en ek het soos Elijah gemaak – my reputasie vir my verantwoordelikheid verruil.
Ek het besef dat die boodskap nie net oor Halloween gegaan het nie, maar oor verantwoordbaarheid. Ons moes kies – tussen lig of ʼn kultuur-desperate viering van duisternis. Ek skryf nou nie meer artikels nie, ek vertel ʼn storie. Ek reis dikwels saam met Elijah en soms ook saam met Sarah. Ons versprei die waarheid en soms vra mense vir ons: “Is julle mal? Was dit nou die moeite werd om soveel prys te gee?” Al wat ek dan kan antwoord is: “Ja, ek het nou wel nie gesterf soos Elijah en Sarah nie, maar mens hoef net een maal deur die glinsterende sluier te kyk om te weet dat dit die waarheid is.”
En jy wat hier lees, het ook nou die waarskuwing gehoor. Dit het gekom van ʼn verpleegster in Savannah, ʼn historikus in New Orleans en ʼn joernalis wat gestuur is om albei te gaan stilmaak. Hierdie is ʼn boodskap vir almal.
Onthou, Hy het jou baie lief, maar jy het ʼn verantwoordelikheid. Watter deur maak jy oop? Die deur van jou lewe, of, nog erger, jou kind se lewe, vir die koninkryk van die duisternis? Moenie met vuur speel nie!
“Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak” (Ef. 5:10-11).