Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer dit moeilik raak om iemand anders onvoorwaardelik lief te hê, bid opreg vir hulle. Voor jy jou kom kry sal jy met God se oë na hulle kan kyk en sy liefde sal jou hart in oorvloed vul.
WEGRAPING
Die wegraping is ʼn dwaalleer wat twee wederkomste leer. Met die eerste een sit Christus nie voet op aarde nie, maar hang in die lug terwyl Hy sekere gelowiges op pluk om tot en met die laaste oordeel by Hom in die hemel te vertoef. Daarna kom Hy vir ʼn tweede keer aarde toe vir die finale oordeel.
Mense glo sekere dinge wat glad nie in die Bybel staan nie. Die wegraping is een van die gewildste.
Boeke wat oor die wegraping handel, verkoop by die miljoene. Dis ʼn gewilde onderwerp by Amerikaanse dwaalleraar-skrywers soos Hal Lindsay (The Late GreatPlanetEarth) en Tim La Haye (LeftBehind). Die wegraping het sy oorsprong by John Nelson Darby, ʼn 19de eeuse prediker gehad wat geglo het dat dit die kerk se plig is om die koninkryk van God te laat verwerklik. God laat dit nie kom nie, maar wel die kerk. Darby het geglo dat dit ʼn nuwe waarheid was wat God aan hom openbaar het om aan mense van die laaste dae te verkondig.
Die Bybel sowel as die kerkgeskiedenis weet hoegenaamd niks van ʼn wegraping nie. Dit as sulks laat alreeds die gevaarligte brand, “...terwyl julle veral dit moet weet, dat geen profesie van die Skrif ʼn saak van eie uitlegging is nie” (II Pet. 1:20). Die wegraping is ʼn sprekende voorbeeld van eie uitleg. As dit Skriftuurlik was, sou dit baie duidelik en sonder ʼn omhaal van woorde in die Bybel gestaan het, veral in Mt.24 en vroeë Belydenisskrifte.
Darby maak ʼn onderskeid tussen die dag van Christus en dag van die Here. Eersgenoemde verwys glo na die wegraping en laasgenoemde na die wederkoms. Dis nie korrek nie. Beide verwys na die wederkoms van Christus: “Kyk, daar kom ʼn dag vir die HERE ... En die HERE sal uittrek en stryd voer teen die nasies ... En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg ...” (Sag. 14:1-4).
Voorstanders van die wegraping verwys selfs na Hand.8 waar Filippus die Evangelie aan ʼn buitelander verkondig en daarna deur die Gees na Asdod weggevoer is. Hy is allermins hemel toe!
Al vyf die tekste wat voorstanders vir die leer van die wegraping aanvoer, het baie duidelik met die wederkoms van Jesus te doen. I Thess. 4:16,17 is hul gunsteling teks: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ʼn aartsengel en met die geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in die wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees”.
Die Engels vir wegraping is rapture. Dit kom van die Latyn rapere en beteken om op te pluk of weg te voer. Dis nie die betekenis van I Thess. 4:16,17 nie. Die Griekse taal het sterk en swak werkwoorde. Wegvoer is ʼn sterk werkwoord harpagesometha. Dit beteken nie ontvoer of om op te pluk nie, maar kombineer die gedagte van mag en skielikheid. Christus het al die mag om gelowiges in ʼn oogwink saam met Hom hemel toe te neem.
Paulus gebruik hierdie sterk werkwoord met goeie rede. Die gelowiges in Thessalonika het ʼn probleem gehad toe sommige van die gemeentelede wat pas tot bekering gekom het, skielik oorlede is. Die vraag het ontstaan of hulle ʼn agterstand teenoor diegene wat langer gelowig was, gehad het? Paulus skryf: “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie” (I Thess. 4:13). Wat ʼn troos – hulle het geen agterstand gehad nie! “Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring” (I Thess. 4:14).
Om I Thess. 4:16, 17 as ʼn bewys vir die wegraping aan te voer, is ʼn mistasting. Dit bots ook met vers 15 en 18: “Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde”. Hierdie Skrifgedeelte vra gelowiges om mekaar te bemoedig omdat hulle hul ontslape geliefdes met die wederkoms van Jesus weer sal sien.
Verder bots die leer van die wegraping ook met die boodskap van Openbaring. Openbaring gee geen aanduiding dat God sommige gelowiges die groot verdrukking gaan spaar nie, maar dat Hy hulle eerder sal bystaan. Daar is nie ʼn ontsnaproete soos die Charismate leer nie. Om die waarheid te sê, trek die wegraping eintlik ʼn streep deur die vertroosting van Openbaring!
Gelowiges is in die pylvak van die wederkoms en moet ʼn verbete aanslag van Satan teen die Bybel verwag. Daar is net een kenbron vir die waarheid en dis die Bybel. Dit leer geen wegraping nie, maar wel ʼn wederkoms. Gelowiges wat ontslaap het, staan wel eerste op om Jesus in die lug tegemoet te gaan. Hierdie beeld is eie aan die Bybelse tyd. As ʼn koning ʼn stad binne gekom het, het die lojale onderdane hom eerste tegemoet gegaan en verwelkom. So sal dit ook aan einde van die tyd wees wanneer die Koning van die konings na die aarde terugkeer en deur gelowiges verwelkom word.
By geleentheid het die dissipels na Jesus gekom en Hom gevra wat hulle aan die einde van die tyd moes verwag (Mt. 24:3). Hy het sonder ʼn omhaal van woorde gesê dat die laaste gelowiges en die Antichris terselfdertyd op aarde gaan wees. Dit as sulks trek ʼn streep deur die leer van die wegraping. Dwaalleraars verkondig dat God sy uitverkorenes vóór die verskyning van die Antichris in die hemel sal op pluk. Dis hoegenaamd nie wat Jesus sê nie!
God sal wel by geleentheid al sy uitverkorenes op aarde bymekaarmaak: “En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan” (Mt. 24:31): dis juis hulle wat deur die groot verdrukking gegaan het. Die feit bly staan dat hulle terselfdertyd op die aarde as die Antichris sal wees en nie voor die tyd weggeneem word nie.
Wat ʼn ontnugtering wag daar nie op Charismate wat op ʼn wegraping hoop nie! Hulle glo wel dat daar ʼn groot verdrukking gaan wees, maar dat hulle dit nie sal beleef nie omdat God hulle voor die tyd in die hemel sal op pluk. Dit skep valse hoop en sus Charismate aan die slaap terwyl die donker onweerswolke van die laaste dae sterk opsteek. Charismate steur hulle nie veel daaraan nie omdat hulle glo dat hulle teen daardie tyd alreeds van die aarde af op gepluk sal wees. Wat ʼn ontnugtering wag daar nie op hulle nie! Jesus sê in Joh.16:33: ” … In die wêreld sal julle verdrukking hê ...” en in Mt. 24 dat die gelowiges van die laaste dae die heerskappy van die Antichris gaan beleef.
Dis hartseer dat soveel goedgelowige mense in die leeu se bek staar, maar nogtans dink dat hulle op ʼn verebed die hemel ingedra gaan word. As hulle maar net na die Skrif wou luister. In Mt. 24 sê Jesus vir gelowiges wat hulle oor die eindtyd moet weet. Almal sal deur die groot verdrukking gaan. Baie Charismate glo dit nie. Wat gaan hulle doen as die wegraping nie plaasvind nie? Die verwarring, teleurstelling en ontnugtering gaan waarskynlik so groot wees, dat hulle maar die merk van die dier gewillig gaan aanvaar.
Jesus waarsku gelowiges teen die valse profete: “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei” (Mt. 24:11). “En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat” (:10). Dit gaan gebeur wanneer mense tot hul skok gaan besef dat daar geen verebed hemel toe is nie!
Jesus gee in Mt. 24 die volgorde van die eindgebeure wat met oorloë en gerugte van oorloë begin. Daarna volg hongersnode, pessiektes en ʼn toename in aardbewings. Terselfdertyd sal Christene vervolg word waarna ontstellende natuurverskynsels sal plaasvind. Die son sal donker word en die maan rooi terwyl hemelliggame op die aarde sal val. Daarna sal die laaste basuin geblaas word en sal Jesus sigbaar op die wolke kom. Johannes herhaal dieselfde orde in Openb. 6. Daar sal geen wegraping wees nie, slegs ʼn aangrypende bymekaarmaak van alle gelowiges aan die einde van die tyd om vir ewig saam met Jesus in die Nuwe Jerusalem te woon.