Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die oorblyfsel waarmee God aan die suidpunt van Afrika werk, is soos ’n gedugte leër met geen plek vir lafaards nie.
KULTUUR KAN VOLK LAAT HERLEEF
Kultuur as grondslag vir herlewing van Afrikanernasionalisme
Deur JA Marais - 1994
Waarskynlik die belangrikste kenmerk van ons samelewing vandag, veral onder Afrikaners, is in die eerste plek die verslaentheid en in die tweede plek die verwardheid.
By al die dinge wat gebeur het en wat mense nog nie verwerk het nie, word ons oorspoel met krete van vrede en versoening en 'n oproep om verdraagsaamheid. Ons moet maar net verduur en hoop dat dinge sal verbeter, terwyl die werklikheid waarmee ons te doen het, is dat ons ons in 'n voortgesette oorlog teen die Afrikaners bevind. Die gewapende oorlog van die terroriste is nou binnelands, en dit is nou ook binne die Afrikanerdom wat die oorlog voortgesit moet word. Die Afrikanerdom het sy politieke mag verloor en hy het sy hele sosiale status verloor in Suid-Afrika, maar sy gees is nog nie gebreek nie, en dit is waarom die oorlog nog gaan.
U sal weet dat die stryd van die Afrikaner se politieke leiers was om ons te bewaar van oorheersing deur 'n buitelandse mag; om ons te bewaar van oorheersing deur Swart getalle en om ons te bewaar van oorheersing deur finansiële imperialiste. Al drie daardie dinge het nou 'n werkikheid geword in Suid-Afrika. Dít is waaraan ons nou onderwerp is; en waarmee ons nou te doen het, is dat die wil tot voortbestaan van ons volk en die sin vir ons nasionale bestemming, vir ons nasionale geroepenheid, dié moet ondermyn en vernietig word. En in die proses is waarskynlik die natuurlike ding vanuit die oogpunt van ons vyande, dat ons ín ons, 'n gevoel van isolasie, van vereensaming en van skuld moet omdra. Dit is die effektiefste manier om 'n volk te ontwapen teen sy vyande.
Daar het ons veral te doen met die ideologie van menseregte, en ek noem dit spesifiek 'n ideologie van menseregte; en 'n omvattende geloof dat die demokrasie nou die één heilsleer is – die demokrasie wat alle grense tussen rasse en volke en kulture moet platstoot om die "nuwe nasie" in Suid-Afrika tot stand te bring. En die eerste besluit wat ons moet neem (as dit nog nie geneem is nie) is: aanvaar ons die wanbeeld wat daar van ons volk geskep is? En daarnaas, aanvaar ons die nuwe bestel en gaan ons saamwerk en daarin opgaan? Dit is die keuse wat ons moet maak. As ons besluit om nie daarin op te gaan nie, dan is die keuse: ons weier om ons toekoms te soek in hierdie nuwe bestel. Ons bly buite en ons bied weerstand teen die aanslae op ons waardes, op ons beginsels, op ons instellings. Tussen daardie twee dinge is daar nie 'n middeweg nie: ons aanvaar die bestel en ons gaan daarin op, of ons bly buite en ons veg daarteen.
Die belangrikste ding is, as jy ingaan, dan geleidelik, net soos by Kodesa, word die weerstand afgebreek, en stap vir stap word jy betrek tot 'n toestand waar dit eintlik onverskillig is of jy nou nog verder weerstand bied. Sodra jy ingaan in daardie bestel, is die natuurlike neiging dat jy nie meer dink aan alternatiewe nie, want jy is verstrik in daardie bestel en jy moet jou beweging daarbinne soek.
En as ons besluit ons gaan nié daar in nie, dan moet ons besluit: wat wil ons wees? Wil ons "Nuwe Suid-Afrikaners" wees wat wil opgaan in 'n Swart samelewing en gaandeweg deur biologiese vermenging as 'n volk verdwyn; of, in die tweede plek, wil ons as 'n Blanke minderheid teen 'n Swart meederheid in die bestel ingaan en daar beding om weer daaruit te kom? Of wil ons in die derde plek 'n volk wees wat weier om te berus in die bestel wat deur bedrog en verraad aan ons opgedwing is?
Die Afrikaners is 'n mag in Suid-Afrika, dit weet ons vyande, en ons is alleen 'n mag solank nasionalisme sterk en lewend gehou word. Die vyande weet dit, en daarom wil hulle Afrikanernasionalisme uitskakel. Ons het daarom met 'n omvattende aanslag te doen: polities, kultureel, die demokrasie wat aan ons opgelê word, wat jou verhoed om as 'n kultuurgroep, as 'n volk, van buite die demokrasie jou reg te handhaaf; die Menseregte-akte wat as 'n soort godsdiens aan ons opgedring word waarteen jy tog moreel geen beswaar mag hê nie; die multikultuur wat ons moet handhaaf, dat jy tog nie jou kultuur alleen moet kan handhaaf nie, jy is deel van 'n multikultuur wat net soveel waarde vir jou moet hê as jou eie; die geskiedenis wat herskryf moet word dat dit tog nie aanstoot gee aan ander in die land nie; die taal wat die "taal van die onderdrukker" is, en waarvoor jy moet skaam wees; ons onderwysinstellings wat van ons vervreem moet word, sodat die Afrikanerkind in 'n geïnhibeerde toestand tussen Swartes moet wees, aan wie hy tog ook nie mag aanstoot gee nie, en veral dan om ons jeug te vervreem, sodat die volk nie meer 'n voortsetting kan hê deur sy kinders nie.
Ek noem die dinge, omdat 'n mens moet besef dat die uitdaging waarvoor ons staan,waarskynlik die grootste en ernstigste uitdaging is waarvoor ons volk ooit te staan gekom het, en miskien die grootste uitdaging is waarvoor baie volke in die wêreld nog ooit te staan gekom het.