Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
By geleentheid het ’n predikant met ’n myner oor verlossing in Jesus gepraat. Die man kon nie glo dat ’n sondaar hom net tot Jesus kan draai en sy sondes is vergewe nie. “Dis te goedkoop!” het hy teengestribbel. Daarop het die dominee hom gevra hoe hy elke dag uit die myn kom? “Met die hysbak” het hy geantwoord. “Hoeveel betaal jy om daarmee na bo te kom?” vra die dominee. “Niks nie” antwoord die myner. “Is jy nie bang om met die hysbak op te kom aangesien dit te goedkoop is nie? “ het die dominee gevra. “Nee,” antwoord die man, “dit was goedkoop vir my, maar nie vir die maatskappy wat miljoene betaal het om daardie skag te sink nie!”
ONDERRIG ONS KINDERS!
Johan Hack
Ware woorde van Ds JD Kestell, gister en vandag
Ds J D Kestell het geskryf in ‘MET DIE BOEREKOMMANDO’S'. “God het die Afrikanervolk in hierdie groot stryd gevorm en gelouter. Hy is nie uitgedelg nie; sy taal is nie vernietig nie. Die mag van die vyand het hom oorweldig; hom soos n magtige golf oorspoel; maar die Afrikanerwil en –gees bestaan steeds. Geen swaard kan daardie wil buig nie; geen geweld kan daardie gees onderdruk nie. Die Afrikanervolk bly n onuitwisbare element van die Britse ryk.” Bevind ons onsself nie tans in ‘n situasie wat dieselfde is nie?
Ds Kestell het geskryf oor die leiding, deursettingsvermoë en geloof van die Afrikanervolk en hoe hard daar gestry is om onafhanklikheid te behou.
Ds Kestell sou heel moontlik sy kop in skaamte laat sak het as hy ons benarde posisie as Afrikaners moes aanskou in vandag se tyd, veral na wat die volk moes deurmaak tydens die Tweede Vryheidsoorlog.
DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (26)
Frank Peretti
Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu
In die donker kamer onder die groot huis, is Kaseph en sy volgelinge steeds besig om te mediteer. Agter hulle staan die Sterkman met sy wagte en assistente langs hom. Sy afskuwelike gesig is vertrek in ’n wrede grynslag en sy slagtande glim in die kerslig.
“Een vir een word ons struikelblokke uit die weg geruim,” sê hy. “Ja julle offerande sal vir julle groot voorspoed bring. Bring haar.”
In die boonste kamer sit Susan magteloos tussen die twee wagte, haar hande agter haar rug vasgemaak. In haar desperaatheid bid sy tot die een ware God wat sy nog nie werklik ken nie, maar in Wie se bestaan sy wel glo. Hy alleen kan haar nou help.
* * *
Tal bereik die berge en styg op en op tot bo. Dan begin hy sweef, geruisloos en onsigbaar. Hy merk dadelik dat die demoniese wolk steeds digter word soos meer en meer demone by die ander aansluit. Hy kan maar net vertrou dat die gebedsdekking voldoende is, sodat hierdie bose magte hom nie sal raaksien nie.
Guilo hou die lugruim afwagtend dop. Met dankbaarheid bemerk hy die Kaptein wat soos ’n valk na hulle toe neerdaal.
Toe Tal langs Guilo tot stilstand kom, kyk Guilo die kryger langs hom dringend aan.
“Ons het die dekking,” fluister Tal.
DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (25)
Frank Peretti
Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu
By die Sterkman se skuilplek, is alles in rep en roer. Vir Guilo en sy vier en twintig hemelse krygers wat die situasie dophou, is dit duidelik dat een of ander uittog aan die kom is. Die skare swart demone fladder en krioel soos 'n swerm bye.
“Hulle maak gereed vir iets,” sê een kryger ernstig.
“Ja,” stem Guilo saam. “Maar nogtans is alles nie lekker nie. lets is iewers fout en ek dink dit hou verband met haar.”
Rondom die geboue staan voertuie van alle soorte geparkeer. Almal is hoog gelaai met al die kantoorbenodigdhede, kabinette en selfs Kaseph se opgestopte trofeë en meubels. Die personeel is besig om die laaste persoonlike items aan te dra en die vertrekke op te ruim. ’n Atmosfeer van gespanne opwinding is voelbaar en die staf gesels gedemp met mekaar.
In die groot kliphuis, is Susan Jacobson in haar kamer besig om ’n hoop dokumente en papiere te sorteer. Sy probeer van alle oortollige materiaal ontslae raak, want sy het slegs een tas waarin haar goed gepak moet word. Met ’n dringende gebed in haar hart, begin sy die dokumente verdeel. Die helfte word netjies in die tas ingepak. Daar is ook foto’s, fotostate en onontwikkelde films.
DIE HEMEL IS WERKLIK (16)
Todd Burpo
Lees reeks by Die hemel is werklik
TWEE SUSSIES
Soos die groen somersdae plek gemaak het vir 'n pragtige herfs, het ons af en toe met Colton oor die hemel gepraat. Maar een gesprek het deurlopend plaasgevind: Toe Colton Jesus in die hemel gesien het, hoe het Hy gelyk? Die rede waarom die onderwerp so dikwels ter sprake gekom het, is omdat ek as leraar baie tyd in hospitale, Christenboekwinkels en ander kerke deurgebring het - almal plekke waar daar baie tekeninge en skilderye van Jesus is. Sonja en die kinders was baie keer saam met my; dus het dit 'n tipe speletjie geword. Wanneer ons op 'n prent van Jesus afgekom het, sou ons Colton vra: "Wat van die een? Lyk Jesus so?"
Colton sou sonder uitsondering 'n oomblik na die prent kyk en dan sy koppie skud. "Nee, die hare lyk nie reg nie," of "Nee, sy klere is nie reg nie."
DIE HEMEL IS WERKLIK (15)
Todd Burpo
Lees reeks by Die hemel is werklik
POP
Op 'n sonnige dag in Augustus het Colton, toe vier jaar oud, op die passasiersitplek van my rooi bakkie geklim en het ons Benkelman toe gery. Ek moes soontoe gaan om 'n kwotasie vir 'n installasie te gaan doen en het besluit om Colton saam te neem. Hy was nie juis geinteresseerd in die installasie van industriële garagedeure nie. Maar hy was mal daaroor om in my diesel-Chevy te ry omdat sy karstoeltjie hoër was as in die Expedition en hy alles kon sien.
Benkelman is 'n klein plaasdorpie ongeveer 60 kilometer suid van Imperial. Dit is in 1887 gestig, maar nou het dit begin verval soos so baie ander gemeenskappe in die platteland van Nebraska. Die aantal inwoners was besig om af te neem omdat tegnologie die werk op die plase begin verminder en mense na groter stede verhuis het vir werk. Ek het verby die bekende kunsmis- en aartappelaanlegte gery wat aan die oostekant van Imperial staan, toe het ek suid gedraai in die rigting van Enders-meer.
DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (24)
Frank Peretti
Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu
Die byeenkoms is weer in Juleen Langstrat se woning, in die half- donker woonkamer, met die een brandende kers. Soos altyd is Langstrat die leidende figuur wat instruksies gee. Shawn is daar, die ondersteuner en helper en die ander speler in die drama is Sandy. Hierdie byeenkomste het al ’n gereelde instelling geword en hulle is besig om die jong meisie te leer om die wêreld van psigiese magte en ondervindings te betree. En sy is aangegryp en oorweldig deur al die nuwe belewinge. Dis ’n stadige, ritmiese oefening — asemhaling . . . in . . . uit. . . in . . . uit . . . ontspan . . . ontspan . . . ontspan . . .
Sandy is al redelik toegerus om na ander vlakke van bewussyn oor te gaan — die vlakke waarop die mens nie gewoonlik funksioneer nie. Iewers onder die gewone vlakke is die vlakke waar die psigiese magte en vermoëns funksioneer. Om hierdie vlakke te bereik, vereis meditasie, konsentrasie, en die absolute ontspanning van die liggaam. Al hierdie sake het Sandy al aangeleer onder die bekwame leiding en toesig van Langstrat.
IS DAAR NOG IETS BETROUBAAR?
Ds A.E. vd Berg
“Dit is ’n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word” (1Tim.4:9).
“Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Hebr.11:1).
Wat is vandag 100% betroubaar? Baie dinge wat al as betroubaar gereken is, was nie. Dink aan beleggingskemas wat op die ou einde onbetroubaar was. Onbetroubaarheid het ook kerk en politiek besmet.Mense is mislei om die leuen vir die waarheid en die waarheid vir die leuen aan te sien!
Heidene is egter die onsekerste van alle mense. Hulle het duisende jare gelede al geglo dat die son opkom en die maan ’n sekere siklus voltooi waarvolgens hulle geplant en geoes het. Hulle het dit egter as geheimsinnige kragte gesien wat deur gode beheer is. Daarom is daar aan hulle offers vir die vrugbaarheid van plant en dier gebring om hulle te paai om voorspoed te verseker.
Niks het sedertdien verander nie. Luister hoe praat mense oor die lewe; alles is ’n waagstuk. Dis bv. ’n dobbelspel om te boer. Jy sit saad en kunsmis in die grond en hoop dat daar reën en ’n oes gaan wees. So ook om te studeer. Dit kos baie en dan is jy nie eens seker of jy in hierdie onreg-bedeling werk gaan kry nie. Die hele lewe is ’n dobbelspel. Karl Barth het gesê: Om in God te glo, is ’n sprong in die donker; komende van ’n teoloog!
LEWENS- BESKOUING VAN 'n AFRIKANER
Deur Christina Vorster van die Afrikaner Nasionalistiese Beweging
Iemand het onlangs opgemerk dat Afrikaners haat verwar met patriotisme. Ons is glo só verward… Ja, inderdaad is daar verwarde Afrikaners, maar dit is ook so dat die meerderheid propaganda glo in stede van om by eenvoudige definisies van belangrike begrippe te hou.
Drie definisies is hier belangrik:
- Volk: die wat in dieselfde gesinsverband/familieverband/taalverband/kultuurverband en rasverband gebore is.
- Rassisme ('n term wat maar redelik onlangs uitgedink is): Haat teenoor 'n ander volk/land/kultuur/taal of ras.
- Nasionalisme/patriotisme (eeu-oue begrip): Liefde vir eie volk, land, kultuur, taal of ras.
DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (22)
Frank Peretti
Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu
Een Dinsdagmiddag toe toestande in die kantore van die Basuin weer rustiger is, neem Marshall ’n groot kartondoos en met die hulp van Carmen begin hy al die data wat hy en Bernice reeds versamel het, ordelik te rangskik. Hy stel ook ’n goeddeurdagte vraelys op sodat hy gereed is wanneer hy eindelik sy belangrike getuies gaan begin ondervra. Die eerste een is natuurlik Alf Brummel.
Die middag nadat Carmen weg is om ’n tandartsbestelling na te kom, skakel Marshall Alf Brummel se kantoor.
“Polisie Departement,” hoor hy Sara se stem.
“Hallo, Sara, dis Marshall Hogan. Mag ek asseblief met Alf praat?”
“Hy’s op die oomblik nie hier nie, Marshall,” sê sy en dan sug sy diep. “Jong, ek weet nie of jy besef nie maar hy wil nie met jou praat nie.”
DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (23)
Frank Peretti
Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu
"Die man gaan van sy verstand af. Ek moet gaan kyk." "Nee, klim terug in die bed, asseblief."
"Ek kan nie, Kate. Ek kan nie bekostig om hierdie kontak te verloor nie."
"Marshall, ek glo dit nie. Jy moet gek wees!"
Marshall soen Kate op die voorkop en voordat sy mooi besef wat gaa de is, is hy weg. Vir 'n paar oomblikke sit sy op die bed, stomgeslaan. En dan val sy teen die kussings terug, vies en omge¬krap. Sy hoor hoe die motor aangeskakel word en teen 'n hoe spoed wegtrek .. .
Marshall ry noordwaarts deur die dorpie Windsor en dan nog 'n paar kilometer verder. Hy vind dit vreemd dat Harmel nog so naby aan Ashton woon. Die vorige keer toe hy hom ontmoet het, was dit seker twee honderd kilometers verder daar bo in die berge. Die arme man moet gek wees — beslis nie normaal nie.
ONS MOET GOED DOEN WANNEER ONS KAN
Hannes Ollewagen
Pred. 11:1-10
“WERP jou brood uit op die water, want ná verloop van baie dae sal jy dit vind.Gee ’n deel aan sewe, ja, ook aan agt; want jy weet nie watter onheil daar op die aarde sal wees nie.” (:1&2).
Ons samelewing raak toenemend individualisties en selfsugtig. Elke man vir homself. Ek is gelukkig solank dit met my goed gaan – my medemens se welstand is sy eie verantwoordelikheid. Hy kan mos so hard werk soos ek om iewers te kom. Hy is mos mooi groot en kan mos na homself kyk. Dinge is klaar moeilik soos dit is. Ek sukkel alreeds hard genoeg om net in my eie behoeftes te voorsien – hoe moet ek nog na ‘n ander ook omsien?
Die Woord van die Here leer ons in geen onduidelike taal dat God van gelowiges verwag om ook na ander uit te reik en goed te doen waar ons die geleentheid vind. In plaas daarvan om ons te beywer om ‘n oormatige hoeveelheid rykdom en skatte te vergader wat eindelik deur mot en roes verniel sal word, is ons veronderstel om daarna te streef om as rentmeesters van God dit wat Hy in ons hande plaas met verantwoordelikheid en tot sy eer te bestuur.
DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (21)
Frank Peretti
Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu
’n Klein paneelwa ry deur die agterstrate van ’n woonbuurt en hou voor een van die eenvoudige duplekswonings stil. Al die huisies is eenvormig behalwe vir die kleurskemas. Dit wissel van huis tot huis. Baie kinders speel in die omgewing rond. Die paneelwa behoort aan ’n droogskoonmakery en toe dit stilhou, klim ’n jong dame uit. Sy dra ’n blou oorpak en haar hare is met ’n rooi serp vasgebind.
Haastig stap sy na die sydeur en skuif dit oop. Sy haal ’n groot bondel wasgoed uit asook ’n paar rokke wat oor hangers hang. Weer kyk sy na die adres om seker te maak dat sy by die regte plek is. Dan stap sy na die voordeur van die betrokke huisie en lui die klokkie.
’n Gordyn voor een van die vensters word effens oopgeskuif. Voetstappe klink binne en dan word die voordeur oopgemaak.
“Ek het u droogskoonmaakgoed gebring,” begin sy.
DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (20)
Frank Peretti
Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu
Bernice is in die kantore van die Top of the Town eiendomsagentskap besig om hulle mikrofilm te bestudeer. Sy het die nuwe dametjie, Carla, vertel dat sy ’n geskiedenisstudent is wat besig is om die geskiedenis van Ashton op te stel en die jong meisie was dadelik tegemoetkomend en het haar selfs gewys hoe om die mikrofilm en kruisverwysingslêer te gebruik.
Bernice is in haar noppies. Die kruisverwysingslêer is net wat sy nodig het. Deur hierdie lêer kan ’n mens vasstel watter eiendomme aan ’n spesifieke persoon behoort, mits jy natuurlik die persoon se naam het. En sy het mos Kaseph se naam.
K.A.S.E.P.H. Bernice soek deur die selluloïede skyfies tot by die K’s. Dan plaas sy die skyfie in die projektor en begin dit te bestudeer. ’n Magdom letters en syfers dans voor haar oë. Met ’n hart wat vinnig klop, soek sy die regte kolom. Kw . . . Kh . . . Ke . . . Ka . . . Maar nee, daar is geen inskrywing onder Kaseph nie! “Kom jy reg?” vra Carla vanuit die voorste vertrek.
DIE HEMEL IS WERKLIK (14)
Todd Burpo
Lees reeks by Die hemel is werklik
BELYDENIS
Die eerste weke van Julie was besonder warm. Soos 'n massiewe kweekhuis het die hitte oor die mielielande gespeel. Die lug oor Imperial was amper elke dag kristalhelder, met muskiete wat bedags gegons het en krieke wat snags gesing het. Om en by middel-Julie het ek na Greeley, Colorado, gery vir die streeksraadsvergadering van die kerk. Omtrent 150 leraars, hulle vroue en afgevaardigdes van Nebraska en Colorado het bymekaargekom by die kerk wat deur Steve Wilson gelei is. Dit was dieselfde kerk wat ek in Maart besoek het toe Sonja by die Harrisse se huis agtergebly het om na Colton te kyk terwyl ons nog gedink het hy het 'n maagvirus.
Vir Rooms-Katolieke is belydenis 'n sakrament, om hulle sondes en tekortkomings aan die priester te openbaar. Protestante bieg ook, alhoewel nie so formeel nie, deur met God te praat sonder 'n tussenganger. Maar Colton se onlangse openbaring dat my woedende gebede reguit na die hemel opgestyg het - en 'n direkte antwoord gekry het - het my laat voel dat ek verder moes bely.
DIE HEMEL IS WERKLIK (13)
Todd Burpo
Lees reeks by Die hemel is werklik
OP HEMELSE TYD
Drie minute?
Terwyl Colton gereedgemaak het vir 'n epiese plastiekswaard-geveg met 'n onsigbare vyand, het ek my aan sy antwoord verwonder.
Hy het alreeds die egtheid van sy ervaring bewys deur my dinge te vertel wat hy nie kon geweet het nie. Nou moes ek sy antwoord - "drie minute" - by die res van die gegewens laat inpas. Ek het na my oop Bybel op die kombuistoonbank gestaar, en die moontlikhede stelselmatig oorweeg.
Drie minute. Dit was nie moontlik dat Colton alles wat hy so ver beskryf het in net drie minute kon sien en doen nie. Hy was natuurlik nog nie oud genoeg om tyd te kon lees nie; dus was sy waarneming van drie werklike minute nie noodwendig dieselfde as 'n volwassene s'n nie.
DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (19)
Frank Peretti
Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu
Die pad waarop Marshall voortry, is vol slaggate en klippe en hy begin naderhand onrustig voel oor sy skokbrekers. Die kilometers gaan ook so stadig verby. Dit voel vir hom of hy nooit by sy bestemming sal uitkom nie.
Eindelik om ’n draai in die pad, merk hy ’n geparkeerde voertuig, 'n ou Valiant. Hy voel die verligting wat hom oorspoel. Dit moet Harmel wees. Marshall hou agter die ander motor stil en klim uit. Die man in die voorste voertuig, klim ook uit. Hy is geklee in ’n denim, met ’n wolhemp, stewels en ’n verbleikte pet op sy kop. Harmel lyk uitgeput en staar Marshall beangs aan.
“Is ... is jy Hogan?” vra hy verbouereerd.
“Ja,” antwoord Marshall en steek sy hand uit om te groet. “Kom saam met my,” sê Harmel nadat hulle gegroet het. Hulle stap van die pad af met ’n paadjie langs, tussen hoë bome en digte plantegroei deur.
DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (18)
Frank Peretti
Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu
In die kantore van die Basuin is die roetine al byna herstel en dis grotendeels aan die nuwe sekretaresse Carmen, te danke. Sy het sommer van die staanspoor af die bul by die horings gepak en Edie se skoene baie goed volgestaan.
Dis nog maar Woensdag en tog is Vrydag se uitgawe al ver gevorder. Toe Marshall by haar lessenaar verbystap, lig sy hom in oor die artikel wat oor die brandweer geskrywe is. Sy verduidelik dat sy dit in drie dele ingedeel het, sodat dit in drie uitgawes kan verskyn.
“Dis gaaf,” sê Marshall ingenome. “Ek is bly jy kan Tom se handskrif lees.”
Ja, Carmen doen haar werk goed. Sy het reeds al die proefleeswerk gedoen; die rekeninge is nagegaan en gebalanseer en die negatiewe vir ’n artikel oor die Sportklub is ook reeds gereed. Marshall kan maar net sy kop skud.
“Sjoe, ek is bly jy’s nou by ons,” sê hy en sy glimlag.
DIE HEMEL IS WERKLIK (12)
Todd Burpo
Lees reeks by Die hemel is werklik
LIGTE EN VLERKE
Sonja het die Saterdagaand teruggekeer uit Colorado Springs. Terwyl ons saam in die sitkamer gesit en koeldrank drink het, het ek haar verder ingelig oor wat Colton alles gesê het.
"Wat het ons heeltyd gemis?" het ek hardop gewonder.
"Ek weet nie," het sy gesê. "Dis asof hy net skielik met nuwe inligting vorendag kom."
"Ek wil meer weet, maar ek weet nie wat om hom te vra nie." Ons was albei onderwysers, Sonja in die formele sin van die woord en ek op pastorale vlak. Ons het ingestem dat die beste pad vorentoe sou wees om aan te hou oop vrae vra wanneer die geleentheid hom voordoen.
DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (17)
Frank Peretti
Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu
Die Sondagoggenddiens begin met entoesiastiese lofsange en Hank voel die blydskap wat deur sy wese bruis. Alhoewel die stryd wat voorlê, hard en moeilik gaan wees, weet hy nogtans dat God in sy alwysheid ’n wonderlike plan uitgewerk het om weer sy eer in Ashton te bevestig. Baie dinge het die afgelope dae gebeur en dit bemoedig hom, want dis die hand van God wat aan die werk is.
Sy hele gemeente het ’n gedaanteverwisseling ondergaan. Baie van sy ou lidmate het padgegee; diegene wat nie van hom hou nie.
Maar ander het bygekom; almal persone wat heelhartiglik saamwerk. Dis asof die atmosfeer in die kerk heeltemal verander het. Die kritiese gesindheid, die veroordeling ... dis alles weg. Eensgesindheid en onderlinge liefde bind die gemeentelede saam.
DIE HEMEL IS WERKLIK (11)
Todd Burpo
Lees reeks by Die hemel is werklik
OOGGETUIE VAN DIE HEMEL
Eers vier maande na Colton se operasie, tydens ons reis die naweek van die vierde Julie om ons nuwe nefie te gaan ontmoet, het ek en Sonja uiteindelik begin besef dat iets buitengewoons met ons seun gebeur het. Natuurlik was daar die string snaakse dingetjies wat Colton na sy verblyf in die hospitaal gesê en doen het. Soos byvoorbeeld toe Colton daarop aangedring het dat ons dr. O'Holleran moet betaal omdat Jesus hom gebruik het om Colton te help gesond maak. Ook sy verklaring dat Jesus aan hom gesê het hy moet mooi wees met ander. En sy heftige begrafnisoptrede. Maar hierdie dinge het as vlugtige tonele in 'n besige gesinslewe verbygevlieg en almal het dit maar net as oulik afgemaak. Behalwe nou vir die begrafnisaffêre, wat regtig net vreemd was.
Maar nie vreemd op 'n bonatuurlike manier nie. Dit was nie, tot ons deur North Platte gery het op pad na Suid-Dakota toe, dat die ligte aangegaan het nie. Jy sal onthou ek het Colton 'n bietjie geterg terwyl ons deur die dorp gery het.