Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Waarom dink u het God opdrag gegee dat sy volk in Efés 5 onder mekaar met psalms en lofsange moet spreek, in dankbaarheid moet juig? Hy het geweet dat as ons 'n lofprysende lewensingesteldheid het ons nooit depressief en moedeloos sal word nie; solank ons dankbaar is al is dit oor net een dingetjie, sal ons altyd moed hê om op te staan en die wêreld met mening aan te pak! Daarom is die lofprysinge aan Hom gerig: dit is net Hy wat ons die goeie gawes gee.
AS 'N ENGEL VERVEER (1)
Ds AE van den Berg
Lees reeks by As 'n engel verveer
SAUL WORD GEWAARSKU
"Hier is 'n besoeker wat u dringend wil spreek, my heer" sê Jaben senuweeagtig.
Hy weet nie aldag waar hy met sy koning staan nie. Hy is die afgelope tyd baie buierig en sy optredes onvoorspelbaar. Die een oomblik is hy vriendelik en die volgende is hy op die oorlogspad. Dan moet almal wat hul lewe liefhet, seker maak dat hulle uit sy pad bly!
"Ek is baie besig, wie wil my tyd kom mors?" vra Saul bars en neem 'n lang teug wyn uit sy silwer wynbeker.
"Dis Samuel, die profeet, my heer" sê Jaben en tree kop omlaag terug.
Saul verstik aan die wyn en gaan kwaai aan die hoes. Jaben wil help, maar is te bang hy kry 'n oorveeg of selfs iets erger. Saul se optrede laat sy hart in sy keel klop. Daar is alweer onweer in die lug!
Jaben verstaan nie waarom Saul so negatief teenoor Samuel geraak het nie. Eers kon hy nie wag dat die ou profeet hom besoek nie en dikwels by hom gepleit dat hy langer moes bly. Nou haat hy elke besoek van hom! Na die ou man se laaste besoek, was Saul buite homself van woede en moes ‘n paar van die paleisamptenare dit ontgeld!
Jaben kan nie glo dat sy heer wat altyd so vriendelik en bedagsaam teenoor die paleisamptenare was, so handomkeer teenoor hulle verander het nie. In al die jare wat hy hom dien, was Saul nog nooit so opvliëend nie. Dis asof hy 'n persoonlikheidsverandering ondergaan het. ‘n Paar maande gelede het Saul Jaben byna met sy spies deurboor toe hy genoodsaak was om ‘n slegte tyding oor te dra. Gelukkig het die wond gou genees. Wat hom seerder gemaak het, was dat Saul nie eens verskoning gevra het nie.
"Wat soek die ou bitterbek?" vra Saul nadat hy sy hoesbui bedaar en hy sy asem teruggekry het.
Jaben loer vinnig rond. Saul se spies is gelukkig buite onmiddellike bereik.
"Ek weet regtig nie, my heer. Hy het net gesê dat dit baie dringend is. Sal ek hom laat inkom?" vra Jaben.
"Ja, laat die ou woestyngevreet tog maar in" sê Saul oneerbiedig en sug diep.
Samuel se besoeke laat Saul die afgelope tyd baie ongemaklik voel. Hy kan amper nie glo dat daar ‘n tyd was dat hy werklik na die ouman se besoeke uitgesien het nie. Dit was asof die Here saam met die profeet vir hom kom kuier het.
Wanneer Samuel die troonsaal binnekom, staan Saul uit eerbied vir sy salwer op. Samuel is die enigste onderdaan vir wie hy opstaan. Al het hy ook 'n hekel aan die ouman se ontydige besoeke, het hy nogtans eerbied vir hom. Hy is immers die geestelike leier van Israel.
"Ek groet u in die Naam van die Here" sê die profeet en buig eerbiedig.
Saul knik met 'n ligte buiging en beduie hom om op die stoel voor hom te gaan sit. Samuel kyk Saul stip in die oë. Sy verrimpelde, benerige gesig en verslete profetegewaad laat hom soos die doodsengel lyk. Is Saul dalk sy volgende kliënt?
Samuel se deurdringende oë laat Saul baie ongemaklik voel. Hy kyk tot binne in sy siel! Waarom is hy hier? Wat weet hy? Weet hy dalk van die Amalekiete se besittings wat nie alles met die banvloek getref is soos opdrag gegee is nie?
"Saul, my seun, wat ek vandag vir jou moet sê, is nie vir my maklik nie" sê Samuel met 'n vaderlike stemtoon.
"Jy weet dat ek jou soos 'n eie seun liefhet. Ek het jou vader Kis en oupa Abiël goed geken. Jy het as ‘n klein seuntjie graag op my skoot gesit. En ek het jou sien grootword. Jy was 'n gebore leier; 'n seun so na my hart - beter as my eie. Die dag toe ek jou as koning oor Israel gesalf het, was die gelukkigste dag van my lewe. Ek het geweet dat God die regte persoon aangewys het en met jou sou wees. Jy het oor al die talente beskik om die volk Israel tot groot hoogtes te lei. Maar nou is alles verby! Jy het God terleurgestel! Die mooiweer in jou lewe het nou onweer geword! " sê die ou profeet met trane in sy oë.
"Wat bedoel u, my vader?" vra Saul ontsteld.
"Jy het die pad van die Here willens en wetens verlaat, my seun! Waarom het jy so ‘n verkeerde ding gedoen? Ken jy die Here dan nie meer nie? Is Hy nie meer Koning in jou lewe nie?" berispe Samuel hom.
In die troonsaal heers ‘n ongemaklike stilte. Saul kyk die ou profeet oorbluf en sprakeloos aan. Hoe weet hy van die oorlogsbuit wat hy sorgvuldig laat wegsteek het? Wie het Samuel daarvan vertel? Of sien die Here deur die ouman?
"Dit bring my by die moeilikste opdrag van my lewe. Net so wonderlik soos wat dit vir my was om jou as koning te salf, net so moeilik is dit vir my om God se oordeel oor jou aan te kondig" sê Samuel baie bewoë.
"Praat reguit, my vader" versoek Saul die ouman bewend.
"Nou maar goed; ek sal! God is spyt dat Hy jou koning oor Israel gemaak het!" praat Samuel reguit.
Die profeet se woorde tref Saul soos 'n donderslag. Sy mond word droog. Wanneer hy die wynbeker na sy mond toe bring, bewe sy hande. Die beker kletter liggies teen sy tande. Saul sluk swaar.
"Wat het ek in die oë van die Here gedoen wat verkeerd is, my vader?" vra Saul ontsteld.
"Dis nie wat jy gedoen het nie, my seun, maar wat jy nagelaat het om te doen" antwoord Samuel.
"Praat asseblief reguit en duidelik, my vader!" smeek Saul ontroerd.
"Jy het reg opgetree deur op God se bevel teen Agag, die koning van Amalek, op te trek en oorlog te maak. Jy het egter versuim om die res van God se bevel uit te voer. Waarom het jy die heidenland nie met die banvloek getref soos Hy uitdruklik beveel het nie? Waarom het jy Agag se lewe gespaar en van die buit vir jouself geneem? Jy was ongehoorsaam!" sê Samuel ontsteld.
Die ou profeet se deurdringende oë brand soos twee vuurkole in Saul se siel. Saul voel so ongemaklik soos 'n misdadiger voor 'n regter.
"Glo my, my vader, ek het feitlik alles verwoes soos wat die Here wou hê. Al wat ek saamgebring het, was 'n paar beeste. My soldate wil dit as 'n dankoffer aan die Here offer. Kan dit ‘n sonde wees? " probeer Saul hom verontskuldig.
"Hou op! Hou op! Moenie verder vir my lieg nie!" verhef Samuel sy stem.
Dit voel vir Saul asof die aarde onder hom oopskeur. Hy is skaam en verleë oor die leuen wat hy vertel het. Hy het vir 'n oomblik vergeet dat die ou profeet, soos die Here, dwarsdeur hom sien.
"Saul, seun van Kis, hoor die woord van God! Ek het jou as koning van Israel verwerp omdat jy aanhoudend teen My sondig en My opdragte minag" kondig Samuel die oordeel ontsteld aan.
Saul kan sy trane nie verder bedwing nie en bedek sy gesig met sy hande. Ten spyte van die bloedige somershitte is dit ysig koud in sy gemoed. God se oordeel lê soos die diep sneeu van die Hermonsgebergte swaar op sy hart.
"Ek het gruwelik oortree, my vader! Ek het die weë van God verlaat. Gaan asseblief saam met my na die dal van Elan dat ek my daar voor Hom kan afsonder en help my om vergifnis te ontvang " pleit Saul soos ‘n kind by sy vader.
"Watter nut het dit dat ek saamgaan?" vra Samuel vies.
"God sal beslis na u luister as u ook vir my intree!" smeek Saul.
"Nee, ek sal nie saam met jou gaan nie. Daarbenewens is dit ook te laat vir berou. Jy het die Here getart en Hy het jou verwerp. Sy beslissing is onomkeerbaar. Ek kan niks verder daaraan doen nie” sê Samuel en draai om.
"Nee, moet asseblief nie gaan nie, my vader, asseblief!" pleit Saul bewend.
Wanneer Samuel die vertrek verlaat, gryp Saul na Samuel se mantel in 'n poging om hom te keer. 'n Stuk daarvan skeur af. Saul is verleë wanneer hy met die stuk voos materiaal in sy hand staan.
"Soos wat jy 'n stuk van my mantel afgeskeur het, sal God die koningskap van Israel van jou afgeskeur en dit aan iemand waardig gee" sê Samuel onthuts.
"Is daar werklik geen kans om God se oordeel oor my af te wend nie, my vader? Ek sal enigiets doen. Sê net wat ek moet doen en ek doen dit dadelik!" pleit Saul ernstig.
"Nee, daar is niks wat jy kan doen nie. Soos ek reeds gesê het, is God se oordeel onomkeerbaar. Jy kan wel begin om die verkeerde dinge reg te maak sodat jy nie verdere oordele oor jouself bring nie" doen die ou profeet aan die hand.
Saul se gesig verhelder vir 'n oomblik. Die ouman is reg! Miskien sien God hom tog oor as hy van nou af reg begin leef en eerbaar optree.
"Waar is Agag, die koning van die Amalekiete?" vra Samuel bars.
"Hier in die paleis" antwoord Saul ewe onskuldig.
"Hoe durf jy die vyand in jou paleis laat bly? Weet jy nie dat as jy voor die vyand buig, jy jou agterstewe vir jou volk wys nie?" berispe Samuel hom.
Saul wil probeer verduidelik, maar Samuel maak hom met 'n handgebaar stil.
"Dis genoeg! Bring die heiden onmiddellik hier!" eis hy.
Saul gee aan Detanan,die hoofpaleiswag, opdrag om Agag te gaan haal. Daar heers 'n ongemaklike stilte.
Niemand praat nie. Saul is baie verleë.
Wanneer die heidenkoning die troonsaal binnekom, glimlag hy breed. Hy kan sy eie geluk nie glo dat hy nog lewe en, om alles te bekroon, as gas in die paleis onthaal word nie. Indien hy die oorlog gewen het, sou hy beslis nie Saul se lewe gespaar het nie. Wanneer hy die ou profeet sien, verdwyn sy glimlag. Die manier waarop Samuel na hom kyk, gee hom koue rillings.
Samuel neem Saul se swaard en gaan reg voor die heiden staan.
"Jou swaard het duisende kindertjies vaderloos gelaat terwyl hul moeders deur jou soldate verkrag is. Vandag is dit jou beurt, heiden!" sê Samuel en onthoof Agag met ‘n behendige swaai van die swaard.
Agag se kop rol oor die vloer tot voor Saul.
"Dis wat jy met die hele Amalek moes gedoen het. Jy sal my gesig nooit weer sien nie!" sê Samuel en draai om sonder om te groet.
Vervolg...