Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dis nutteloos om met mense wat voortdurend strydlustig is iets te doen te hê. Paulus het aan Titus gesê om hom van sulke mense te onttrek na een en nie meer as 'n tweede vermaning nie. Sulke mense verwek partyskap, twis en haat, en is op die verkeerde pad met hierdie sonde waarin hulle selfveroordelend staan. Ons moet met hulle niks te doen hê nie.
AS 'N ENGEL VERVEER (3)
Ds AE van den Berg
Lees reeks by As 'n engel verveer
SAUL DEUR 'N BOSE GEES GEPLA
Net na middernag skrik Detanan wakker van ‘n harde gepraat iewers uit die donker gang. Hy spits sy ore en luister aandagtig. Nee, dis nie ‘n gepraat nie, maar iemand wat onophoudelik vloek en swets. Detanan skud sy kop. Miskien het hy maar net gedroom? Nee, daar is dit weer! Dit kom vanuit Saul se kamer en klink asof Saul met iemand worstel. Detanan spring uit sy bed, gryp sy swaard en storm sonder om eers die nodige toestemming te vra, Saul se slaapkamer binne.
Saul lê op die vloer voor sy bed en kryl soos ‘n slang wat in vuur gegooi is. Skuim borrel by sy mond uit en hy brul onbedaard soos 'n ondier. Het hy ‘n toeval gehad of het iemand hom dalk probeer vergiftig? flits die gedagte deur sy kop. Hy het nog nooit so 'n iets gesien nie, nog minder so ‘n stemtoon gehoor. Dit het meer dierlik as menslik geklink!
"Naman! Sopar! Kom help my gou!" roep Detanan die twee lyfwagte aan diens. Wanneer hulle Saul op die bed terugkry, draai sy oë wild in sy oogkaste. Hy is buitengewoon sterk en dit verg al hulle liggaamskrag om hom in bedwang te bring. Saul se krag verslap na ‘n paar minute wat vir hulle na ‘n ewigheid voel. Hy kreun en vloek onophoudelik. Dit klink asof daar meer as een stem uit sy mond kom.
“Gaan haal dadelik vir Hakon, die geneesheer, al moet jy hom opklop!" beveel Sopar een van die jong wagte wat intussen opgedaag het. Die drie worstelaars kyk bekommerd na hul koning. Sy asem jaag en hy prewel onsamehangend. Saul weet al te duidelik nie waar hy is nie.
"Ek verstaan dit regtig nie" sê Hakon nadat hy Saul ondersoek het.
"Na my mening makeer ons heer niks nie. Miskien het hy 'n baie nare nagmerrie gehad waaruit hy nie kon kom nie" probeer Hakon na ‘n antwoord soek.
Na 'n paar minute is Saul by sy volle verstand en glimlag selfs flou vir die bekommerde wagte. Hy is baie pap en kan beswaarlik sy hand oplig.
"Ek voel beter, julle kan maar gaan" sê hy en sluit sy oë. Hy sug swaar.
"Ek hou nie van dit wat hier gebeur het nie" sê Naman toe hulle in die gang afstap.
"Iets is hier nie pluis nie. Ek wil nou nie 'n storm in 'n tent opjaag nie, maar ek is seker dat ons heer deur iets bonatuurliks geteister word" sê hy baie ernstig.
"Jy praat onsin! ‘n Bose gees kan mos nie die gesalfde van die Here pla nie! God sal dit nie toelaat nie!" sê Hakon en snork van verontwaardiging.
"Ek onthou as kind dat ons buurman een Sabbatmiddag skielik snaaks begin optree het; vreeslik begin vloek en sy vrou aangerand het. Dit het 'n paar sterk manne gekos om hom te bedwing. Dis toe dat my kleinboet die plaaslike priester gaan haal het om die bose gees uit hom te dryf. Hy het volkome herstel” sê Naman en kug.
"Ja, ek stem met jou saam dat 'n bose gees ons heer teister. By geleentheid het my oupa ook so uitgehak nadat hy in die geheim by 'n waarsegster was. Die priester het toe vir ons gesê dat 'n besoek aan so 'n Satansagent 'n bose gees oor jou kan bring" sê Sopar.
"Is jou oupa toe genees? vra Naman.
"Nee, na nog ‘n aanval het hy hom in ‘n vuur gegooi en doodgebrand voordat iemand hom kon red” antwoord Sopar weemoedig.
"Wat 'n vreeslike dood moes dit nie gewees het nie!" roep Naman ontsteld uit.
"Ek hoor wat julle sê, maar die vraag is nog steeds: Hoe kan 'n bose gees die gesalfde van God aanval? Satan het mos geen mag oor hulle wat aan God behoort nie!" maak die geneesheer beswaar.
"En as die Here self die bose gees stuur?" vra Detanan.
"Waarom sal Hy dit wil doen?" vra Hakon onthuts.
"As Sy straf op ‘n sekere sonde" antwoord Naman kalm.
"Ja, ek stem nogal saam met Naman. Ons moenie vergeet dat alles aan God onderworpe is nie; selfs die bose magte. Hy kan hulle as ‘n roede in Sy hand gebruik” voeg Sopar by.
"Kom ons bid dat ons heer nie verder gepla word nie" versoek Hakon en groet.
"Ek wil tog met Ketan oor die voorval praat. Miskien het hy vir ons ‘n oplossing” sê Detanan.
"Dis 'n goeie plan. Priesters weet uit die aard van die saak meer oor bose werkinge as ons gewone mense" stem Sopar saam.
Naman knik instemmend. Die saak kan nie sondermeer gelaat word nie. Hulle sal iewers hulp moet kry. Hulle is dit immers aan hulle koning verskuldig.
Nadat Ketan vroeg die volgende oggend na die paleis ontbied is, het Detanan hom deeglik oor die vreemde gebeure van die vorige nag inlig.
"Laat my 'n paar dae in die paleis vertoef, dan kan ek self die situasie dophou" versoek die jong priester die bekommerdes.
"Ek sal met Kotamas reël om vir u 'n kamer reg te maak” sê Detanan beleefd.
"Moenie vir die koning sê wat die werklike doel van my verblyf hier is nie" versoek Ketan die lyfwagte.
"Wat moet ons dan vir hom sê indien hy vra?" vra Sopar.
"Sê maar dat ek met diepgaande studie besig is en die stilte van die paleis benodig" antwoord Ketan.
Twee dae later het Saul weer 'n toeval gekry. Dié keer helder oordag. Hy was besig om met gesante uit Fenisië te praat, toe hy skielik neerslaan soos iemand wat deur 'n onsigbare hand platgeslaan is. Saul se oë het wild in sy oogkaste gerol terwyl hy onbedaarlik gevloek het. Die gesante het die hasepad gekies.
Saul het soos 'n slang op die grond geseil en na almal gespuug wat naby hom was. Eers nadat Ketan die Here om verlossing gesmeek het, het Saul begin bedaar en kon die wagte hom uitgeput na sy kamer dra.
"Wat gaan met my aan?" vra Saul toe hy die jong priester voor sy bed sien staan.
"U word deur 'n bose gees gepla, my heer" antwoord Ketan reguit.
"Waarom gebeur dit met my?" vra Saul ontsteld.
"Ek weet regtig nie, my heer. Moenie u daaroor verder bekommer nie. Ek sal probeer uitvind" antwoord Ketan simpatiek.
“Ek is so bly jy is hier. Bly solank as wat jy wil" sê Saul en neem 'n sluk water.
“Het U werklik geen idee waarom dit met u gebeur nie? Het u nie in die oë van God swaar gesondig nie? “ probeer Ketan na ‘n oorsaak soek.
“Ek dink ek weet waarom" sê Saul na ‘n rukkie en kyk na die lyfwagte in die kamer.
"Wil u alleen met my daaroor praat?" vra Ketan simpatiek.
Saul knik en beduie vir die lyfwagte om die vertrek te verlaat.
Wanneer hulle alleen is, vertel Saul hom van Samuel se laaste besoek en God se oordeel oor sy koningskap. God het hom as koning van Israel verwerp en hierdie oordeel is onomkeerbaar.
Ketan kan sy ore nie glo nie. As die koning hom dit nie self vertel het nie, sou hy dit as 'n bose gerug afgemaak het.
"My vriend, ek kan niks daaraan doen nie. Geen mens kan God se oordeel ter syde stel nie. Hoe gaan ek ooit van hierdie bose gees ontslae raak" vra Saul mismoedig.
"Ek het gehoor dat siterspel 'n kalmerende invloed op 'n geplaagde het. Miskien moet ons dit probeer, my heer en ‘n goeie siterspeler vir u vind" doen Ketan aan die hand.
"Enigiets, solank dit net sal werk! Laat Kotamas, my sekretaris, dadelik hierheen kom" gebied Saul.
Kotamas voel effens ongemaklik wanneer hy Saul se kamer binnekom. Dis die enigste plek waar hy in al sy jare van paleisdiens nog nooit was nie. Die koning laat niemand in sy kamer toe nie.
"Kom in Kotamas" sê Saul en beduie vir hom om nader te kom.
"Ek is tot u diens, my heer, waarmee kan ek help?" vra Kotamas en buig eerbiedig.
"Kotamas, jy is al jare lank in my diens en lojaal teenoor my. Wees asseblief eerlik: Het ek die afgelope tyd baie verander?" vra Saul.
"Ek wens regtig ek kon vir u eerlik sê dat u nie verander het nie, my heer" sê Kotamas ongemaklik.
"Dankie, jy het my reeds geantwoord. Jy is ten minste eerlik” sê Saul en plaas sy hand op Kotemas se skouer.
Kotemas was meer as net 'n paleissekretaris - hy was Saul sy vriend en vertroueling. By geleentheid het hy as’t ware Saul se lewe gered toe hy van ‘n beplande aanslag op sy lewe te hore gekom en Saul betyds gewaarsku het. Opstandelinge wou die koningshuis omverwerp en hul eie koning op die troon plaas. Hulle is spoedig in ‘n hinderlaag vasgetrek en in die openbaar terreggestel.
"Kyk, ek gaan nie jakkalsvelle omdraai nie, ek word deur 'n bose gees gepla" praat Saul reguit.
"Is u baie seker daarvan?" vra Kotamas uit die veld geslaan.
"Ja, ek is. Die priester het dit ook bevestig" sê Saul en sug.
"Hoe kan ek u help? Ek sal enigiets doen om te help!" sê Kotamas ontsteld.
"Die priester sê dat siterspel my sal kalmeer wanneer ek 'n toeval kry. Bose geeste hou skynbaar nie van siterklank nie. Daarom moet jy so gou as moontlik vir my ‘n goeie siterspeler vind” beveel Saul.
"Ek weet toevallig van ‘n jong man wat uitstekend speel. Ek het hom self gehoor" antwoord Kotamas.
"Dis wonderlik!” roep Saul uit. “Vertel my gerus meer van hom!”
"Hy kom van Betlehem en het myns insiens geen gelyke nie” sê Kotamas bly.
"Laat hom dadelik haal!" beveel Saul opgewonde.
o0o
"Hier is die siterspeler wat u laat haal het, my heer" sê Kotamas en stoot Dawid na vore.
Saul betrag die jong man wat eerbiedig buig. Hy het sterk gelaatstrekke en besonder mooi oë.
"Wat is jou naam?" vra Saul.
"Dawid, my heer" antwoord die jongman en buig weer.
Saul hou onmiddellik van die jongman.
"My sekretaris vertel my dat jy 'n bedrewe siterspeler is” sê-vra Saul.
"Ek speel die siter vandat ek ses jaar oud is, my heer" antwoord Dawid selfversekerd.
"En hoe oud is jy nou?" vra Saul nuuskierig.
"Ek het onlangs agtien jaar oud geword, my heer" antwoord die jongman trots.
"Ek sal graag wil hoor hoe jy speel" sê Saul en knipoog vir Kotamas.
"Bring vir ons 'n nuwe siter" beveel Kotamas een van die paleisdienaars.
"Sal u omgee indien ek op my eie siter speel, my heer?" vra Dawid.
"Sal 'n nuwe een nie baie beter wees nie?" vra Saul verbaas.
"Ek is vertroud met myne, my heer” sê Dawid.
"Maak soos jy goeddink” gee Saul toe.
Wanneer Dawid op sy siter speel, erken Saul dat hy nog nooit sulke musiek gehoor het nie. Dis hemels!
Ander siterspelers speel met hul vingers. Dawid speel met sy hart. Saul knik goedkeurend. Kotamas het hom nie terleurgestel nie.
"Jongman, jy het 'n baie besondere gawe van God ontvang. Ek sal jou graag in diens wil neem" sê Saul ingenome met sy fonds.
Dawid knik tevrede, dankbaar vir die eer wat hom te beurt val om sy koning te mag dien.
"Jy kry 'n kamer in die paleis, kos van my tafel en die salaris van 'n lyfwag. Jy moet egter te alle tye beskikbaar wees, selfs in die middel van die nag. Kan jy onmiddellik begin?" vra Saul.
"Ek kan, my heer” antwoord Dawid opgewonde. “Ek sal u nie tereurstel nie!".
Wanneer Dawid na sy kamer geneem word, kan hy sy geluk nie glo nie. Sy hart klop vinnig. Gister was hy nog 'n eenvoudige skaapwagter in Betlehem; vandag is hy 'n paleisamptenaar met 'n salaris, goeie blyplek en selfs aansien. Is dit blote toeval?
Met sy positiewe lewensuitkyk, sprankelende persoonlikheid en musikale vaardigheid het Dawid gou al die paleisamptenare se guns gewen. Telkens wanneer die bose gees Saul gepla het, het Dawid se siterspel hom laat bedaar. Hakon het later ruiterlik erken dat nie een van sy geneesmiddels so goed soos Dawid se siterspel gewerk het nie.
Vervolg...