Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hemelse Heer, dankie dat ek kan hoop omdat ek in U glo. Dankie dat die vlam van hoop helder brand in my ongeag my uiterlike omstandighede omdat ek met groot sekerheid kan staatmaak op u liefde en elke belofte in u Woord. Dankie dat U self my hoop is.
DIE GELYKENISSE VAN JESUS (10)
U kan hierdie reeks geskryf deur ds Andrè van den Berg lees by Jesus se gelykenisse
Die ryk dwaas
Luk.12:13-21: Jak.4:13-16
As iemand in die Bybelse tyd gemeen het dat hy uit ʼn erfporsie verkul word, kon hy na ʼn Skrifgeleerde vir arbitrasie gaan. Die Joodse wet het hulle gemagtig om toe te sien dat ʼn erfenis regverdig verdeel word. Soos wat mense vandag vir sulke sake na prokureurs toe gaan, het mense destyds na dominees gegaan. Ongelukkig was hulle nie altyd baie betroubaar nie en het soms vir eie gewin verkeerde uitsprake gemaak. Jesus berispe hulle selfs daaroor: “ Wee julle, skrifgeleerde en Fariseërs, geveinsdes, want julle eet die huise van weduwees op...” (Mt.23:14).
By geleentheid het ʼn man wat oor sy erfporsie veronreg gevoel het met Jesus daaroor kom praat. Hy het heelwaarskynlik sy eie dominee nie daarmee vertrou nie! Hierdie voorval sê iets mooi van Jesus – dat selfs buitestaanders eerbied vir sy sin vir geregtigheid en onkreukbare karakter gehad het.
ʼn Reguit antwoord sou gedoen het. Jesus het voor ʼn versoeking te staan gekom. Hoe kon Hy aan die versoek toegee as die inhalige broer nie daar was nie? Was dit nie wat agter hierdie man se vraag gesit het nie? Hy kon nie sommer lukraak oordeel nie! Onthou die skrifgeleerde wat Jesus probeer versoek het met die vraag na die grootste gebod in die Wet!
Jesus het nie getwyfel nie en die versoeking teengestaan. Hy het egter nie die vraer gelos nie. Jesus het immers nie gekom om oor aarse besittings te oordeel nie, maar om siele te red. En hierdie man wat aan hebsug gely het, het juis redding nodig gehad. Indien ʼn mens nie van hebsug bevry word nie, gaan sy siel hel toe! Elkeen wat sy aardse besittings vermeerder net om geborgenheid in die lewe te probeer vind, is ʼn dwaas! En dis die les van hierdie gelykenis.
Om hierdie waarheid toe te lig, het Jesus ʼn verhaal vertel wat as ʼn gelykenis beskou word, maar eintlik nie een in die ware sin van die woord is nie. Ons het hier nie met ʼn aardse voorval te doen wat ʼn geestelike waarheid moet belig nie. Jesus het slegs ʼn geval geneem en na baie ander soortgelyke gevalle wat in die lewe voorkom, verwys.
Waarom het Jesus dit gedoen? Omdat die mense van sy tyd al geglo het dat stoflike besittings ʼn sorgvrye lewe waarborg. Hoe meer jy het, hoe sorgvryer die lewe. Jesus noem dit dwaasheid en waarsku mense daarteen. Verganklike dinge kan nooit onverganklike dinge waarborg nie. Deur die veronregte man as mens aan te spreek, het Jesus hom aan sy nietigheid en vermetelheid ter selfde tyd herinner.
Jesus vertel ʼn verhaal van ʼn welgestelde boer wat ʼn vrugbare plaas besit het. In plaas van die Here daarvoor te dank, het hy eerder vermetel opgetree. Al was hy skatryk, was sy lewe net so broos en verganklik soos enige ander mens. Hierdie boer was ten spyte van sy welstand net so onseker oor die lengte van sy lewe soos enige ander mens. Met geld kan ʼn mens alles behalwe tyd koop.
As die parkeermeter van jou lewe wys dat jou tyd verstreke is, kan jy niks daaraan doen nie. Niemand kan sy lewe verleng of dit uit die mag van die dood red nie. Die dood sny koppe af al dra hulle ook krone. Dis soos skaak. Na ʼn skaakspel word die pion en die koning in die selfde kassie gebêre.
Jesus vertel dat hierdie boer een jaar ʼn uitsonderlike goeie oes gehad het, maar nie genoeg opbergplek nie. Om sy oorskot aan armes af te staan, het nie eens in sy gedagtes opgekom nie. Sy gedagtes was uitsluitlik op selfvoorsiening gerig; hy wou alles vir homself hê! Gevolglik het besluit om geen koste te ontsien nie en die ou store te sloop en groteres te bou waarin sy hele oes geberg kon word.
Die groot rede vir hierdie onderneming was om sy eie ego te streel. Die oes het sy toekoms verseker. Ja, alles wat vir hom fisiese geluk kon bring, was binne sy bereik. Hy het, om die waarheid te sê, nie nodig gehad om ʼn steek verder te werk nie! Alles was daar. Hy was bevry van die sorge van die lewe en het presies geweet waar môre se brood op sy tafel vandaan gaan kom.
Hierdie man het hom in sy eie selfverskansingplan teen die onaangename dinge van die lewe verlustig en homself ʼn klap op die skouer gegee. Alles het om die begeerlikheid van die vlees gegaan: “Want alles wat in die wêreld is – die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld” (1 Joh.2:16). Die fout wat hy gemaak het, was om geluk buite homself te probeer vind. Nee, geluk is iets wat binne-in jou gesoek moet word. Mense soek verkeerd!
Dit val ʼn mens op dat hierdie boer die woord siel gebruik as hy van homself praat. Dit dui op sy alles opofferende ywer vir lewensgenot. Sulke mense word hedoniste genoem. Dit kom van die Griekse woord hedon wat genot beteken.
Hierdie man het twee foute gemaak.
Hy was eerstens ʼn genotsoeker en het gevolglik nie met God in sy lewe rekening gehou nie. Dit het vir hom net om die bevrediging van sy fisiese behoeftes gegaan. Hy het geglo hoe groter sy skure, hoe groter sy geluk.
Tweedens was hy onder die wanindruk dat hy die besitter sowel as die beskikker was van alles wat hy gehad het, selfs oor sy sielegeluk. Hy sou sy twee foute eers by sy dood agtergekom - vergrote skure bring nie verhoogde geluk nie.
Hierdie boer het die noodsaaklike band tussen God in die hemel en die natuur nie ingesien nie. Hy het geglo dat vergrote skure verhoogde geluk sou bring. En dis nogal vreemd vir ʼn boer wat dit maar al te goed behoort te besef! Die Bybel sê dat God deur sy seën saad aan die saaier gee om te saai en brood aan die eter om te eet. “ ... Laat ons tog die Here onse God vrees wat reën gee, vroeë reëns en laat reëns op hulle tyd, wat vir ons die vasgestelde weke van die oes in stand hou” (Jer.5:24).
Die oorvloedige opbrengs van sy grond het hierdie boer net na homself laat kyk; nie boontoe na God of langs hom na sy medemens nie, net na homself en sy hoogste geluk in die selfsugtige, oordadige genot van sy eie rykdom geput.
Die tweede fout wat hy gemaak het, was ʼn baie groot fout. Hy het geglo dat sy oes aan sy eie inspanning te danke was.
Hy was soos die kinders sê chaff met homself. Hoor hoe spog hy met homself as hy van my oes, my skure, my goed, my siel praat. Die herhaling van hierdie woord ontmasker sy trots. En eintlik het hy niks gehad om op trots te wees nie want alles wat hy gehad het, was in bruikleen. Alles het uit die hand van God gekom en hy slegs ʼn rentmeester daarvan.
Die Bybel sê vir ons in Ps.24 tereg dat die aarde en alles wat daarop is, aan God behoort. Ons is slegs/hoogstens huurders. Daarom laat ons alles op die aarde agter as ons sterf. As iets ons eie was, sou ons dit kon saamneem.
Hierdie man was ryk maar ook dwaas. Al het hy nie so gesê nie, het hy geleef asof daar geen God in die hemel is nie. “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie...” (Ps.14:1). ʼn Dwaas is blind vir die werklikheid. Luister wat sê Christus aan Laodicea: “Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Openb.3:17).
Hierdie boer was ʼn dwaas; nie dat hy sonder verstand was nie maar juis omdat hy sy verstand nie reg gebruik het nie. Let op die teenstelling in die verhaal – die baie jare waarvoor hy voorsorg gemaak het en hierdie nag waarin hy die lewe sou laat. Sy gesprek met homself was dus growwe grootpratery!
Geen mens kan die lengte van sy eie lewe bepaal nie. Dis God se beskikking. Aardse besittings beteken eintlik niks nie, maar hemelse skatte wel. Die kosbaarste ding wat God aan die mens toevertrou, is sy siel. Daarvan moet hy verantwoording doen. En dit kan baie skielik gebeur soos met die boer in hierdie verhaal. Omdat hy alles vir homself wou hê, word hy op die ou einde met niks gelaat nie!
Met hierdie gelykenis wou Jesus nie die verstandige en verantwoordelike bestuur van aardse dinge geringskat nie. Hy wou ook nie die vreugde wat rykdom kan bring, verbied nie. Sy vermaning is teen hebsug. In die besit van rykdom is daar geen kwaad nie maar wel in gierigheid en stoflike begeertes.
Jesus sluit sy onderrig met ʼn waarskuwing af: “So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie” (:21). Let op die woord vir homself - egoïsme en gierigheid loop hand aan hand. Hierteenoor stel Jesus die ideaal om in God ryk te wees. Uit die teksverband blyk dit dat hierdie rykdom daarin bestaan om stoflike rykdom tot God se eer aan te wend.
Wie deur die genade van God van hebsug bevry is en die aardse besittings wat God hom geskenk het tot nut van sy medemens te bestee, het ʼn onverganklike skat in die hemel. En dis al rykdom wat werklik tel!