Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gister is verby. More het nog nie gekom nie. Ons het net vandag. Laat ons begin.
DIE BYBEL (36)
Lees reeks by DIE BYBEL
Dr JP Botha
Genesis (6)
Die herstel van die skepping
Na die sondvloed moet daar ‘n nuwe begin gemaak word. God herhaal die opdrag om vrugbaar te wees en die aarde te bewoon, aan Noag en sy seuns. Alles is egter nie presies soos dit voor die vloed was nie omdat die diere, visse en voëls nou vir die mens bang sal wees.
Die mens word hier versoek om geen bloederige vleis te eet nie omdat bloed en lewe ten nouste gekoppel is. Hiermee saam word ook ‘n verbod op moord met betrekking tot mens en dier geplaas en dit dui aan hoe die verbod juis die vergieting van bloed wil keer.
Hierop volg die sluiting van ‘n verbond tussen God en Noag, sy nageslag en alle lewende wesens by hulle. Na aanleidIng van die verbond belowe God dat daar nie weer ‘n oorstroming sal wees nie.
Benewens die verbond en die belofte, word die reënboog as bevestigende teken daarvan gegee. Juis wanneer dit gereën het en die mens nog sou kon wonder of daar nog ‘n vloed op pad is, verskyn die reënboog om hulle aan die verbond te herinner.
Noag se dronkenskap en die vloek van Kanaän
Na die voorafgaande positiewe gebeure sou ‘n mens optimisties kon raak en vermoed dat die mensdom nou ‘n les geleer het en dat hulle nie weer dieselfde foute sal begaan nie. Hierdie vlaag optimisme is egter van korte duur.
Soos Kain het Noag die grond bewerk. Hy was die eerste mens wat ‘n wingerd geplant het Nadat Gam Noag in sy dronkenskap oneerbiedig behandel, vervloek Noag vir Kanaän, die seun van Gam, om slawediens vir sy broers te doen. In dieselfde asem seën God vir Sem en Jafet.
Hier het ons weer met ‘n redegewende verhaal te doen wat die latere posisie van die Kanaäniete probeer legitimeer. Die intog moes regverdig word en hierdie verhaal help juis daarmee.
Die lys van nasies
Pas na die gevaar van die sonvloed tot ‘n einde gekom het, word daar ‘n geslagsregister ingevoeg ten einde opnuut te bevestig dat die Here sy beloftes nakom en sy skepping instand hou.
Dit is opvallend dat die geslagsregister met Jafet begin wat die jongste seun van Noag was. Hierop volg Gam en dan eers die oudste seun Sem.
Die verspreiding van die volke oor die aarde heen, elkeen met sy eie taal, word as positief aanvaar. Aangesien die verspreiding van volke juis die opdrag om die aarde te bewoon en te bewerk tot uitvoer bring, kan ‘n mens verstaan dat dit positief geëvalueer word.
Die toring van Babel
Die slotverhaal van die Voorgeskiedenis is, soos Genesis 3, ‘n beskrywing van menslike opstand teen die bepalings van God.
Die opstand teen God behels in die verhaal die bou van ‘n hemelhoë toring en ‘n stad, ten einde te verhoed dat die mensdom nie oor die hele aarde versprei nie. Op ironiese wyse word beskryf hoe die Here moes afkom om na die toring te kom kyk. Wat die mens as ‘n hemelhoë toring beskou, was nie noodwendig so hoog vir God nie.
Toringbou in die antieke
Na alle waarskynlikheid veronderstel die verhaal ‘n toring soos die ziggoerats wat deur die Babiloniërs opgerig is. Sommige ziggoerats was meer as 100 meter hoog en het gedien as ontmoetingsplek vir gode en mense.
Die Here skep toe taalverwarring en daarmee is die trotse eenheid van die mens verbreek. Die mens word gedwing om te trek, aangesien hulle mekaar nie meer kon verstaan nie.
Die nageslag van Sem
Die Voorgeskiedenis sluit af met ‘n genealogie van tien geslagte vanaf Sem tot by Abraham. Twee persoonsname in die genealogie, Nahor en Haran, stem met plekname in Mesopotamië ooreen. Dit laat die vermoede sterker word dat die aartsvaders uit Mesopotamië gekom het.
In die slotgedeelte word daar besondere aandag aan Sarai, die vrou van Abraham gegee. Die Voorgeskiedens sluit op ‘n onsekere noot af omdat dit duidelik gestel word dat Sarai onvrugbaar is en nie kinders kan kry nie. Hoe sal die vervulling van die nageslagbelofte in hierdie omstandighede werklik kan plaasvind? Die antwoord lê in die hieropvolgende Abrahamsvertellings opgesluit.