Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Vooruitgeloopte bekommernis is 'n dwase ding: dit verdubbel jou probleme want as ons vrese nie realiseer nie, het ons ons twee maal bekommer in plaas van een keer.
KERSFEES IN DIE VREEMDE
Dr JJ Snyman
Dis Kersfees, dis Kersfees
die Heer daal tot ons neer
Kersdag het sedert kleintyd vir my ‘n bekoring ingehou. Soos seker vir meeste mense. Dit is ‘n dag so gans anders as enige ander dag. En ‘n mens aanvaar later alles so vanselfsprekend!
Wat is dit dan wat hierdie dag so spesiaal maak? Wel, baie faktore speel ‘n rol. Die feit dat dit in die Desembervakansie val is natuurlik ook een van die redes. As dit nog boonop by die see is, soveel te meer. Die pragtige musiek van Kerstyd met klem op dié wat gevind word in die Christelike liedboeke. Die samesyn met geliefdes. Vriendskappe. Geskenke. Dit is ‘n besonderse, anderse meelewing tussen Christene. En dan die woorde wat mekaar toegewens word: “Geseënde Kersfees!”. Ja, selfs vir vreemdelinge wat jy raakloop hierdie dag.
Daar is ‘n gemoedelikheid en ‘n meelewendheid op hierdie dag wat nie op ander dae van die jaar ervaar word nie. Nie eers op ‘n verjaarsdag nie. Ek onthou nog hoe my pa op sy sterfbed op Kersdag heerlik saamgesing het aan Stille Nag, Heilige Nag. Hartroerend!
Kersfees het sy Christelike fondament want dit begin met die bywoon van ‘n erediens waar dié pragtige boodskap nogeens gehoor word. Hoe heerlik is dit nie om op Kersdag ‘n diens in ‘n Afrikaanse kerk by die woon nie. Sang bring hartseer te midde van die vreugde. Emosies oor wat was en wat is.
Jaar na jaar het mens vroegoggend eers na “Alle volke loof die Here” geluister. Fanie Smith het altyd die beste vir die 25e se uitsending gehou. En heerlik het mens saans gesing: “Die Heiland is gebore, in stille Behtelehem”. En selfs ‘n traan weggevee. Eintlik is dit juis die musiek, die lof aan die Here, wat Kersfees so spesiaal maak.
Die res van Kersfees bestaan natuurlik uit die groot eet en die groot gesels. Waatlemoen en spanspek, sjokolade en koeksisters, braaivleis en... dalk bietjie rooiwyn. Tussendeur word oproepe gemaak en boodskappe gestuur. Hoe heerlik om ‘n geliefde se stem juis op Kersdag te hoor, veral as daardie stem dalk nie weer gehoor word nie.
Kersfees in die Kaap langs die see is ‘n wonderlike belewenis. Die geluid van branders, die sonopkoms, die berge, die gesigseinder. Dit alles laat ‘n blywende indruk op 'n mens.
En dan kan mens Kersfees ook in die “vreemde” vier... ver weg van jou mense af. Afgesonder, alleen. Dit is dan dat die herinneringe sterker word. Die samesyn ontbreek. Jy dink aan wat was. Aan wat anders kon gewees het. Die gemis in sulke omstandighede is onbeskryflik. Kersfees in afsondering is so gans anders.
Dis dan, by nabetragting van die aardse Kersfees, dat mens jouself tot jou sinne moet ruk en vra: Is dit dan die omstandighede wat Kersfees dikteer? Tog nie! Omstandighede is tydelik. Verlossing is ewig! Verlossing?
...dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here is (Luk 2:11)
Ja, die Verlosser, die Een wat uit alle gevare, nood, sonde, straf en dood red, van alle rampe en ondergang bewaar en saligheid in sy volle omvang gee.
Daarom moet ons verheug wees, eerder as om te treur. Hartseer moet plek maak vir die wonder van die gebeurtenis. Ja, so uitsonderlik is die dag dat ‘n hemelse leërskare gejubel het (Luk 2:13).
Kersfees is in die eerste en die laaste plek die herdenking van die grootste geskenk aan die sondige mens. Die geboorte van Jesus, die Christus. Dit moet ook vrede in jóú hart bring. In jou verhouding met God, jouself, jou geliefdes, jou rampe en beproewings, en jou naaste.
Hoe méér Christus tot jou toegang kry, hoe méér sal vrede ‘n werklikheid in jou lewe word.
Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae. (Luk 2:14)
En vir dié wat die guns van God geniet, sal daar vrede wees.
Ek het êrens gelees hoe Sarel Cilliers (van die Gelofte) later saam met ‘n mede-burger te perd in ‘n Desember van die binneland na die suide in die Kaap onderweg was. Op Geloftedag in die eensame Karoo het hulle eers stil geword voor die Here en toe die reis verder aangepak. So dan ook met Kersfees, ongeag die omstandighede.
Die saak van Kersfees oortref alles. Jou eie klein wêreldjie kan nooit die grootheid van hierdie dag verdring nie. Jou geloof moet jou dra en jou oortuig van die prioriteite op die spel. Jubel dan met ‘n traan in die oog. Laat blydskap seëvier:
Want daar is die Heiland gebore dié nag, die Hoop van die wêreld deur eeue verwag!