Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Mens is soms verstom dat soveel mense se oë só gesluit vir die waarheid kan wees, veral die waarheid oor God en die waarheid oor ons volk en landstoestand. Maar Jesus het aan die sondige Skrifgeleerdes wat gedink het hulle weet alles, gesê: "Tot 'n oordeel het Ek in hierdie wêreld gekom sodat die wat nie sien nie, mag sien, en die wat sien, blind mag word." En toe hulle vra of hulle dan ook blind is, antwoord Hy: "As julle blind was sou julle geen sonde hê nie maar nou sê julle: Ons sien! Daarom bly julle in die sonde". Die Bybel sê dus dat diegene wie so geestelike oë so gesluit is dat hulle die waarheid nie sien nie maar dink dat hulle beter weet, bly in die sonde - onrusbarende getalle in Suid-Afrika!
SPOOKSTORIES: CJ LANGENHOVEN (1)
Reeks by Versamelde Werke van Langenhoven
DIE WANDELENDE GERAAMTE
Hierdie slag is 'n persoonlike voorwoordjie nodig.
Dis 'n kort verhaaltjie hierdie, en daarvoor sal die leser waarskynlik dankbaar wees. Met behulp van kunstige stoplappery kon hy gerek geword het — die verhaal bedoel ek — tot viermaal sy lengte. Maar die doel met hierdie reeks vertelsels is nie om kunstig te wees nie (al was dit ook binne die skrywer se vermoë) : Die doel wat ek hiermee het is om sonder opsmuk op droogsaaklike wyse uit my versameling van wat eintlik nie "spookstories" in die gewone sin genoem kan word nie, een en ander oor te vertel, sover as wat moontlik is soos ek hulle self gehoor het.
Maar aangesien dit nie my eie ondervindings is waarvan ek hier getuig nie — ekself het nog nooit ‘n ontliggaamde gees gewaar geword nie — ontvang die leser die getuienis as hoorsê, en daarom vind ek dit wenslik om die getuies, wat ek voor my gehad het en die leser nie, elke slag met 'n inleidende woordjie aan hom bekend te stel.
In hierdie geval — en dis daarom wat ek sê ek moet hier persoonlik wees — het dit baie min geskeel of die ou kêrel wat my die geskiedenis vertel het - ek sal hom maar "Oom Dirk" noem en sy van verswyg (maar die Kouveldse mense sal almal baie goed weet wie ek bedoel) — ek sê die ou was so byna-byna my skoonvader. Maar op die ou end het Carolina my afgesê, soveel as daar dan was om af te sê. En daarin (soos Vroutjie sal instem) het Carolina wyselik gehandel want sy is met 'n beter man getroud as ek. So een, sal my bure sê, sal ook nie te skaars gewees het om te kry nie.
Maar hierdie mislukking van my pogings het nie geskeel aan te min aanhou van my kant af nie. Ek onthou nog vandag baie goed die pad deur Seweweekspoort van Ladismith (Kaap) se kant af, en die pad van Laingsburg vandaan, Buffelsrivier af, Rooi nek oor, en dan al onder die Swartberg langs. Daardie streek word genoem die Kouveld, en wetlikwaar hy het nie sonder verdienste aan sy naam gekom nie. Meer as eenmaal, te perd of te kar op pad na die nooi toe, het die wind my daar gesny dat dat my murg hardevet was in my bene en my gesig blou sou 'n kaaiman s'n.
Oom Dirk se plaas was 'n klein plasie, vasgeknyp in 'n kloof, nie 'n bergkloof nie maar 'n kloof deur die koppe wat tussen die Swartberg en die Groot Karoo 'n soort van onderberg vorm. Skaars 'n agt of tien morge bougrond, maar so vet en vrugbaar as wat daar op die aarde te kry is. Jy moes die lemoene en naartjies daar gesien het, en die rooiwang perskes, en die hanepoot en moskadel. En die koringkorrels - ek had in daardie dae nog tande om handevol uit die sak te eet. Daar is nooit brood wat heerliker is nie. Om op die plaas te kom, moet mens wegdraai uit die grootpad wat van Laingsburg af deur die poort gaan, na Calitzdorp en Ladismith. En dan raak jy weg uit die wêreld uit, op daardie plasie daar tussen die koppe.
Een namiddag terwyl ek en Carolina op 'n wandeling by 'n klompie graftes verbystap, sêsy: "Kerneels, ons moet laat Pa jou vanaand van sy ontmoeting vertel wat hy hier gehad het vanmelewe voor hy die plasie hier gekoop het, toe hy in die nag hierheen verdwaal het."
"Wat was dit dan, Carolina?"
"Nee, as ek jou stukkies daarvan vertel dan bederf ek die storie vir jou. Ek ken hom natuurlik goed, maar by my is dit maar oorvertel."
Die aand het ek dan die geskiedenis uit Oom Dirk se eie mond gehoor, naastenby soos dit hier volg.
Ek was nog jonk-getroud (begint Oom Dirk), en ek het juis hier na die Karoo toe gekom om 'n sitplekkie te soek. My oorlede vader se plaas in die Grasveld was genoeg gewees vir een maar glad te klein om onder ons klomp seuns te verdeel; ons sou mekaar doodgedruk het. Ons het dan maar die twee ouste broers die grond laat neem en ons ander uitbetaal. My deeltjie was skraal en ek het nie gereken om weer daarmee uit te voer as om 'n stuk grond te huur om mee te begint nie en 'n ietsie te hê om mee aan te gaan. En op die ou end was dit genoeg om hierdie plasie skoon te koop. Jy sal my skaars glo as ek jou sê, Neef Kerneels, dat hy my vyfhonderd riksdalers kos; nie 'n oulap meer nie. Maar ek moenie vooruithardloop nie.
Ek had dan die tante by haar ouers in die Grasveld gelaat en Oudtshoorn en Calitzdorp deurgery, en Ladismith tot waar nou Barrydale lê, en die streek onder Langberg aan die deeskant, en ek hoef nie verder op te noem nie. Daar was niks te doen nie. Dit was nog nie die dae van plase verhuur of voormanne aanhou nie; elke man het sy eie grond bewerk en almal sê maar vir my hulle het vir hulleself te min.
Eindelik kom ek dan met my kar Seweweekspoort deur. Ek wou Buffelsrivier opry. Hy was nog glad onbewerk. Dit was nog vroeg namiddag (maar die son gaan al in die lang dae vieruur onder daar oor die berge) toe ek die poort uitkora. Ek dog ek sal maar verder aanstoot. En hier bo in die veld tussen die een plaas en die ander, dit was toe sterk skemer, dwaal ek uit die grootpad uit (dit was ook geen danige grootpad daardie tyd nie, hy was in die helder daglig op plekke skaars rybaar), en ek vat 'n ou veepaadjie hierdie kloof af. Net toe ek meer en meer begint te besef ek is verkeerd, ek kan gerus omdraai, kom ek die wal deur daar bokant die wingerd, en klaps, daar lê ek, my kar se as af. Dit was toe al pikdonker sodat ek nie die gat kon gesien het nie. Ek het het maar uitgeklim en die perde uitgespan en hierheen gelei om op die gelykte te kom. Toe sien ek, vereers tot my blydskap, daar is 'n aanleg, heinings en lanings en vrugtebome. Maar nergens brand geen liggie of vuurtjie nie, en selfs in die donker kry ek die indruk van verwaarlosing en verlatenheid. Ek sien geen woning of gebou ook nie; selfs in die pikdonker moes ek tog dit kon erken het as daar een was. Maar miskien was die opstal verder in die kloof af, dog ek; of dit kon wees dat dit maar 'n buite-aanleggie hier was van een van die plase daar bo.
Ek sou verder soek; maar ek kon nie met die twee perde rondloop nie. Toe het ek hulle hier aan 'n heining vasgebind waar hulle effens beskut was teen die wind — Neef Kerneels, jy weet ook iets van die Kouveld se wind — en 'n paar gerwe voer vir hulle gaan haal by die kar; en toe stap ek verder die kloof af. En daar — dis net bokant waar my beeskraal nou daar is — het ek die woning in die gesig gekry. Maar dit was 'n bouval, byna 'n puinhoop. Drie van die mure het nog gestaan, en een skuinste van die rietdak was nog lap-lap op. Die vensters en deure was donker gate; een gewel was heeltemal uitgeval. Ek dog ek sou my kooigoed by die kar gaan haal en binne in die ou huis kom vuurmaak en daar slaap. Want ek was nou so koud dat ek kon sterwe. Daar skyn 'n dun sekeltjie van 'n maantjie wat oor 'n uur sou ondergaan. Die sterre blink soos hulle manier hier in die Karoo is, en hulle maak 'n tamelike lig.
Net soos ek wou omdraai om my goed by die kar te gaan haal, sien ek 'n ding wat my in my spore soos ek daar staan soos versteend hou. Uit die pikswart binneste van die huis, daar waar die gewel weg is, kom 'n spierwit geraamte, so helder dat ek elke beentjie kon tel, en hy stap nes 'n lewende mens. Eers draai hy half na my kant toe, maar hy draai weer weg en hy loop tussen die huis en 'n pereboor deur, en anderkant die boom om. Die boom se blare was dig tot op die grond, sodat die ding 'n oomblikkie wegraak. Maar aanstons kom hy anderkant uit. Hy stap maar aan, skuinsweg van my af, sy een arm voor hom uitgestrek asof hy iets wil gaan vat. En so het ek hom gestaan en kyk tot hy in die bosse verdwyn.
Wanneer 'n mens deur die nood op die proef gestel word, openbaar jy dikwels 'n krag - of liewer, moet ek sê, word jou 'n krag geskenk — wat vir jou agterna onmoontlik,wonderbaar is. Ek het na die kar toe gegaan en my komberse gaan haal en 'n stukkie kos om te eet, en hout bymekaar gesoek en vuur gemaak 'n entjie van my perde af waar hulle daar vasgemaak staan — wat 'n onuitspreeklike troos was hulle teenwoordigheid tog nie vir my nie! En daar het ek gaan lê, en voor ek wis was ek aan die slaap. Ek moet van skone skrik en ontsteltenis tot die uiterste toe uitgeput gewees het.
Ek word wakker dat die perde aan hulle rieme ruk en snork en rondspring. My vuurtjie se kole gloei nog. Ek kyk op, hier staan die geraamte oor my; gebukkend, soos een wat buk om 'n ander wakker te maak. Toe staan hy orent en hy draai weg.
Ek bly maar lê. Hy kyk om, en toe by sien dat ek nie roer nie, kom hy weer nader en hy wenk, en hy loop weer 'n entjie en hy kyk weer om - nes 'n hond maak as hy vir jou iets wil gaan wys. Dit sou niks help om my teë te sit nie. Toe ek aankom, wag hy, en daarvandaan stap ons langes mekaar nes twee lewendes op 'n wandeling. Sy koers was weg van die kloof af, reguit die veld in, en die hoë rug uit hier agter die huis met die rooi kranse op sy rant. Hy stap vinnig, en ek ook, maar ek was jonk en fris, ek kon klim. Toe ons onder die kranse kom, swaai by eenkant-toe en deur 'n opening tot bo. Hy loop 'n entjie op die rant van die krans langes en hy kyk oor en wenk vir my om ook oor te kyk. Dit was 'n goeie hoogte, regaf, 'n vyftien of twintig voet. Reg onder hom, halfpad af, swart in die grysdonker, is 'n klipskeur. Terwyl ek vooroor kyk, los die geraamte hier bo en hy rol die krans af en die klipskeur in, en hy verdwyn. Nou moes ek al eerder gesê het, al sy bewegings het doodstil gegaan asof hy 'n wit skaduwee was. Daar was geen geratel van bene of hoegenaamd 'n geluid nie. Nou met die afrol ook nie.
"Maar wat op aarde wil die ding van my hê?" dog ek. "Het hy my vir die gek hierheen gebring om nou maar weer hier om te draai?" En toe kry ek 'n ander gedagte en ek word lam. "Is dit sy plan dat ek agter hom moet aanrol daar in die klipskeur in?
Terwyl ek my asem ophou, kom hy weer te voorskyn. Hy klim die krans uit terug na boontoe tot hy weer by my staan. En toe draai hy weg en wenk vir my om saam te gaan. Saam-saam is ons weer die rug af soos ons gekom het, maar voor ons op die end van die veld kom, draai ons weg. Toe ek sien staan ons op 'n begraafplek, die wat daar bo tussen die ghwarries lê. Die geraamte loop tot by een van die graftes en hy wys daarin, en hy kyk na my toe, en dis of ek 'n skynsel sien in die swart oogkaste. En hy verdwyn in die graf in.
Die volgende oggend het ek nie later gewag nie as tot dagbreek, toe het ek 'n kombers oor een van my perde gegooi en tou-in-die-bek op my dwaalspoor teruggery en toe met die grootpad tot ek by die eerste plaas gekom het. Die eienaar was ene Piet Basson. Ek vertel hom waar ek die nag deurgebring het, en van die ongeluk wat ek gehad het, en dat ek kom hulp soek om my kar se as aangesit te
"Het jy altemit 'n lopende geraamte daar teëgekom?" vra hy.
"Ja, Oom, maar ek sal liewer nie vandag verder daarvan praat nie."
"Nee, jy is nie die eerste wat hom gesien het nie en jy sal nie die laaste wees. Daarom lê die plasie daar weggegooi. Hy is onbewoonbaar. Ek kry nie eens my wegbelasting en rekonie daaruit nie."
"Oom, maar wat is dit dan? Was daar 'n moorgeskiedenis? Ek het al van baie spoke gehoor maar nog nooit van 'n geraamte wat spook nie.
"Neef, wat die doel van die geraarnte is, sal seker geen mens ooit weet nie. Maar ek sal jou sê wat die geskiedenis van die plaas was. Daar het tweeling-broers gewoon en saam daar oud geword. Hulle moet mekaar liefgehad het soos nooit 'n man en vrou mekaar liefhet nie. Eendag het die een weggeraak in die veld; en die ander het gesoek, en naderhand by die bure kom hulp vra om te soek, en toe by die polisie; maar geen spoor van die verloorde is ooit gekry nie. Die nablywende een het hom doodgetreur en hy is daar begrawe; en van toe af loop die geraamte daar. Op die vendusie was ek die koper van die plaas, tot my verdriet."
En toe was die hele geheim natuurlik vir my duidelik. Die broer wat daar in die spelonk ingeval en verongeluk het, kon nie rus kry solank as sy gebeente nie by sy broer s'n lê nie.
"Oom," sê ek, "en wat vra Oom vir die nadelige plaas?"
"Neef, hy kos my tweeduisend riksdalers. Soos grondpryse vandag loop, sou hy sonder die spook tienduisend werd wees. Betaal my vyfhonderd riksdalers sewen-en-dertig pond tien — en vat die plaas."
"Top, Oom. Ek sal die geld nou vir jou hier op die tafel aftel en jy gee my 'n koopbriefie."
Maar dit het my darem gehinder dat ek vir hom wegsteek en hy het vir my niks weggesteek nie. Net toe hy wou teken, sê ek: "Wag, Oom. Ek gee jou die geleentheid om uit te skei. Ek sien kans om van die spook ontslae te raak."
"Raak ontslae, my neef, en ek gun jou die ongestoorde besit."
W aarskynlik het hy my nie geglo nie, maar dit was nou sy saak. Ek kon met 'n skoon gewete die koop afsluit.
Sodra ek besit geneem het, het ek met mense gegaan en my met rieme laat afhys in die klipskeur in. Ek wis ek sou die bene daar kry en ek het hulle daar gekry. Langes die ander broer s'n daar op die kerkhoffie het ek hulle begrawe, en van toe of het niemand ooit weer onraad hier op die plaas gemerk nie. Die rustelose was tot rus gekom; die tweeling was weer bymekaar.