Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gewoontes en gebruike kan goed of sleg aangewend word. Moenie dat jou gewoontes en tradisies vir ander 'n struikelblok wees nie maar eerder dien as aanmoediging tot eer van die HERE se heilige Naam.
SPOOKSTORIES: CJ LANGENHOVEN (4)
Reeks by Versamelde Werke van Langenhoven
DIE SKADUWEE
Altyd reikhals 'n mens na die onbereikbare. Dis die diep mense wat jy wil verstaan omdat dit juis hulle is wat onpeilbaar is. Maar ds. Paul Drieske, een van hulle, het eenmaal vir 'n maat van my ‘n hoekie gelig van die sluier waaragter sy innige siel verborge gebly het. Of laat ons sê, daar het 'n skaduwee oor sy lewe gelê en hy het my maat een kort kykie daaronderin gegee. Omdat dit my maat was en nie ek nie, kan ek nie die dominee as verhaler laat optree nie. Die res van die gebeurtenis waar hy mee te doen had, het ek van ander mense gekry wat daarmee bekend was, en van nog een wat betrokke was. Die slotsom is dat die leser maar hierdie slag die verhaal in my eie woorde moet ontvang.
Die eerste indruk wat 'n mens onder die dominee se preke gekry het, was dat hy te onmoontlik ernstig was vir hierdie wêreld — die soort dweper wat vir niemand geduld had nie as vir die volmaakte heiliges wat nêrgens te kry is nie.
Daar is sulke predikers - hulle verskrik en vervloek die sondaars wat met aanmoedigende liefde aangetrek kon geword, tot wanhoop en roekeloosheid weg. "Nou ja, wat help dit, daar is niks vir ons te doen nie, ons is eenmaal klaar en hopeloos verlore."
Vir Ds. Drieske sou jy by die eerste indrukke gerangskik het as een van hulle. Sy woorde was swaarde van vlammende vuur waaronder een vir een jou vyeblare van voorwendsels en aanstellings weggeskroei het tot jy nakend staan ook in jou eie oë. Maar dan het jy die vuur van liefde ontdek wat die prediker se besieling was. En dit was 'n liefde wat nie net in sy mond was nie. In die omgang was dit hy wat na die veragtes en gevallenes omgekyk het, hulle opgesoek het en opgehelp het. Hier op 'n Kerkraadsvergadering was dit hy wat gesê het: "Broeders, om ons by die tug wat ons gaan toepas, tot sagtheid van oordeel te neig, laat ons eers in Johannes 8, vers 3 tot 11 lees wat Jesus gedoen het op netso 'n kerkraadsvergadering soos hierdie en met netso 'n doel, al had Hy die reg van kwytskelding wat ons nie het nie." En dan weer was dit hy wat in die huis waar die skoonheid van eerbaarheid deur die een onvergeeflike klad bevlek was, met die harde vader gaan mooipraat het: "Broeder, sy is joue, jou kind soos jy Gods kind is. Te meer nou dat die hele wêreld haar verstoot, het sy die liefde van haar vader nodig. Vergeef ons . . . gelyk ook wy vergeven . . .. durf jy aanhou om dit te bid? — Jy vra God dan om sy kind so te behandel soos jy joue."
Nou daardie maat van my — ek sal nie sy naam noem nie, had in 'n oomblik van wat niks anders kon gewees het nie as 'n vlaag van kranksinnigheid, homselwe vergeet en 'n onuitwisbare klad gebring oor sy vorige skoon lewe. So min kon hy homself vergewe dat Gods vergiffenis ook vir hom onmoontlik gelyk het. Ds. Drieske kon hom maar nie uit sy vertwyfling tot vertroue terug beweeg nie. En kom die dominee by hom sit en hy druk met sy hand op sy skouer. "My vriend, dit sal jou tot hulp strek om te verneem dat jy nie 'n enigste uitsondering is nie. Soos jy geval het, so het ek geval, al was dit nie met die daad nie dan met my volle vasbeslote wil. As sy, die swakkere, om wie se ontwil die versoeking my aangeval en verslaan het, nie sterker as ek was nie, dan was hierdie leraarsamp waartoe ek geroepe is met besieling vir altyd vir my gesluit. Luister; ek sal jou vertel." Maar soos ek sê, dis nie die domininee se eie woorde wat hier volg nie.
Voordat die Buffelrivier, ten gevolge van ‘n spul roekelose brande en ander metodes van vernieling van natuurlike plantegroei oopgespoel en vol sand geloop het van wal tot wal, gelyk soos 'n vloer, vaal soos die Karooveld waar hy deurloop, was hy 'n lusakker, ‘n kronkelende rivier deur die vlaktes en heuwels van woestyn, hier 'n vlei, daar 'n seekoegat.
So 'n seekoegat, donker-swart van diepte, 'n inkspieël vir dorings en wilgers, riete en ruigte, en wit kelke van arumlelies, het daar van die bolyn van die plaas Goedgesind 'n halfmyl ver uitgestrek en om 'n draai weggeraak om nog 'n myl aan te hou. Outydse reisigers deur die veld kon hom ure ver vandaan sien blink van die dorre klipkoppies of waar die pad oorgaan, oor een na die ander tot die verveligheid van die oneindigheid toe.
En daar, op 'n plekkie skoon grasrant aan die swart water, was Susanna se geliefkoosde wykplaas vir stille rus en afsondering, Saterdae, en Sondagnamiddae, en met vakansiedae. Daar het sy gesit en lees of skryf of teken of brei of droom. Sy had 'n kunstenaarsiel met die kunstenaar se gevoeligheid vir indrukke en ontsag vir skoonheid, met die kunstenaar se drif na afgetrokke eensaamheid omdat sy geesverwante so skaars is. Hier op Goedgesind was sy onderwyseres, en tuis by die eienaar, Oom Willem Skalk, en sy vrou, Tant Mieta. Twee goeie ou mense, sy kon gelukkig gewees het by hulle sover as wat dit weg van haar eie tuiste moontlik was. Maar daar was 'n volwasse man-seun in die huis, Karel Skalk; en hy, al het sy dit nie aan haarself beken nie, was 'n by-oorsaak dat sy so lief was om afsondering te soek. Half onbewustelik was sy bang Karel sou haar wilskrag oormeester. Hy was moedswillig, eiesinnig, selfsugtig; 'n man van yster wat nooit terugstaan waar hy vasgetrap het of laat los waar hy gegryp het nie; 'n man wat nooit sou droom om 'n gebod van God of mens te ontsien as dit in die pad staan van 'n doel waar sy begeerte op gemik was nie.
Karel wou Susanna hê en sy nie vir hom nie. Nie dat sy rede had om hom nie te kon veel nie, of dat hy afstotend was nie; inteendeel, hy had 'n magnetiese persoonlikheid, en hy was 'n man van 'n man sy had die respek van ontsag vir hom. Maar dit was 'n ontsag van vrees want sy had hom nie liefnie en sy wis sy sou hom nooit liefhê nie.
So het sy een namiddag daar gesit, ver heen peinsende, haar boek opsy gelê. Diep ingedagte pluk sy ‘n takkie by haar af en gooi dit in die middel van die gat water. Byna onmerkbaar stadig, want daar is geen stroom nie, dryf die takkie weg. "0 takkie," sug sy, "jy kan nie bly waar jy is nie, jy kan nie stroom-op vaar nie, jy kan nie terugkom na jou tuiste aan die stam waar ek jou met gevoellose geweld losgeruk het nie. Daar is maar een koers vir jou, en hy is onverbiddelik. En ek? Sal ek my kan teësit? Dryf ek nie maar soos jy nie? Sal die uiteinde nie maar wees dat ek met Karel sal trou nie?"
Behalwe na die water se kant toe waar sy uitsig het oor 'n ry arums, is dit ruig rondom die skoon grasplekkie waar sy sit. Skielik skrik sy haar yskoud.
"0 hemel, dis 'n Swarte, en -'n mal Swarte, want hy praat alleen. Dit gaan of hy iets opsê. Al skree ekhier ook hoe hard, niemand kan my ooit van die huis af hoor nie."
Tussen die ruie bosgasie deur, maar kort,naby vandaan, kom die stem wat klink asof hy resiteer. 'n Mens onderskei nie 'n vreemde taal se aparte klanke nie, anders sou Susanna onder ander soiets gehoor het:
All' erei tis, Poos egeirontai hoi nekroi? poiooi de soomati erchontai?
Susanna sit doodstil, bang om byna asem te haal. Die stem gaan neuriënd voort tot by eindig met -
Pou sou, thanate, to kentron? you sou, hadee, to nikos?
Daar volg 'n rukkie stilte. Toe hoor sy 'n geruis van blare, 'n takkie breek, voor haar staan 'n man in die volle blos van jeugdige volwassenheid. Maar daar is diepte en krag in die skoonheid; reeds is 'n paar eerste rimpellyne aangevoor op die verhewe voorhoof, in sy oog smoor die vuur van die geesdrywer en idealis.
"Ag, vergewe my tog, Juffrou. Regtig, in hierdie wildernis had ek niemand verwag nie. Ek sien u het eensaamheid kom soek; ek is baie jammer as ek u gedagtes verstoor het."
Susanna lag. "As ek jou woorde kon verstaan het, wie weet tot watter wendings my gedagtes kon afgelei geword het. Maar ek verbeel my, al is jou geheim hoe gevaarlik, jy kan hom in daardie taal wat jy gebruik het, veilig van die bergtoppe of uitbasuin: niemand sal hom agterkom nie."
"Geheim, Juffrou? Ek is een van die wat geroepe is in ons onwaardigheid om daardie woorde voort te verkondig. Had ek tog 'n basuin om daarmee nie net die mense se ore nie maar hulle harte binne te dring!"
Susanna kyk in sy gesig op. Sy sien sy oë vlam "Kom sit hier by my op die gras," sê sy. "Ons het voorlopig voldoende kennis gemaak. Dis 'n verfrissende uitsondering vir my om skromelose geesdrif te sien. Ek het gedog dis iets waar 'n mens moet voor skaam wees en dit wegsteek, soos ek myne.”
Hy gaan by haar sit. "Dankie, Juffrou. My naam is Drieske, Paul Drieske. Ek kuier vir my vakansie daar onder by my oom."
Vervolg...