Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoop is nie om te sê die wêreld is goed en reg soos hy is nie. Dis nie om maar tevrede te wees met dinge wat verkeerd is nie. Hoop is om te bly glo dat God iets beters vir ons bedoel het – en óns moet daaraan meewerk.
BROKKIES UIT DIE BOEK PANIEKLAND (4)
083 444 7672)
Nadat hy van die plaasmense af weg is, het hy minder angstig, maar met meer doelgerigtheid begin soek na die groep wreedaardige kaders. Wat is iets wat Afrikane nooit wegsteek nie? Wat is daar wat hulle spoor duideliker maak as spore self? Ontlasting!
Om die een of ander rede onthou hy iets wat hy toevallig in die Bybel gelees het, lank gelede. Deuternomium 23 vers 13, as hy reg onthou: “By jou toerusting (as jy oorlog gaan maak) moet ‘n stok wees waarmee jy jou ontlasting begrawe… want die Here kom nie in ‘n onrein kamp nie,” of so iets. Van die nuwer vertalings praat van ‘n graaf en nie ‘n stok nie. In die oop, helder lug van die berg is ontlasting se reuk baie skerp en Demas begin met die onaangename taak om langs die pad te loop en ruik.
Na ‘n paar ure stink iets inderdaad en hy loop, teen sy sin in, daarheen. Nie net is daar ‘n paar hopies van die goed wat sommerso gelaat is nie, maar daar is ook stompies, ‘n paar stukkies plastiek, ‘n gebreekte bierbottel en eenkant, naby die bome, ‘n vuurmaakplek. Die as is grootliks toegegooi met grond, maar hier en daar steek steeds ‘n paar verbrande kole en stukkies grys as uit.
Hiervandaan is dit makliker om die spore op te tel en na sewe ure se loop sien hy die groep in die verte. Dis duidelik dat hulle nie meer beweeg nie en hy aanvaar dat hulle in die laatmiddag slaapplek soek. Hy loop self nog meer as ‘n uur, totdat hy naby hulle kamp kom en klim dan die skuinste uit, op teen die lae kloof se kant, tot hy uiteindelik teen sononder diagonaal met hulle op die hoogte lê. Vanaand sal hy nie vuurmaak nie.
Met ‘n paar stukkies biltong en droë beskuit in sy lyf, afgesluk met aanmaak-koeldrank, maak hy homself so gemaklik as wat die terrein dit toelaat. Hy trek nie sy klere uit nie en maak sy stewels se veters net effens los. Die rugsak is laag genoeg dat hy dit kan gebruik as ‘n kussing en nadat hy die harde voorwerpe aan die binnekant ietwat verskuif het, is dit glad nie sleg nie. Hy onthou dat die Bybel sê Jakob selfs ‘n klip as kussing gebruik het. Uitputting maak ‘n voortreflike slaapmiddel en tog lê hy tot laataand wakker en dink. Sy gedagtes stu voort op die spoor waarop dit vroeër vandag begin loop het.
Waar het dit begin – 1994? Ja, die begin van die einde, maar dis maar die gevolg van iets wat ‘n dieper oorsaak het. Die onluste wat grootliks in 1976 begin het met die jeugopstande? Ja, maar dit is ook die gevolg van ‘n groot onrustigheid wat reeds met Sharpeville in 1961 kop uitgesteek het. En het die regering van die dag nie hierdie voorval holrug gery nie! Ja, dit was 69 mense wat geskiet was, maar sy pa se oom was daar naby en het vertel dat die skare juis dae vantevore ‘n hele klomp polisiemanne gruwelik uitgemoor het by ‘n naburige stasie, dat die polisie by Sharpeville bang was vir hulle lewens, dat ‘n jong, ongesoute man eerste begin skiet het nadat die skare besig was om die heining af te breek.
Selfs dan moet ‘n mens verder teruggaan en as jy op die spoor loop, kom jy uiteindelik by die moorde op die trekboere langs die Vis en Vetriviere uit. Was dit vrees dat die witmense hulle land sou oorneem? Historici sê dat die Nguni-volke eers nà die koms van Jan van Riebeeck vanaf die Noorde afgetrek het na die Kaap toe. Die blanke setlaars was voor die Zulu’s in Natal.
Demas sluimer effens in en skrik dan wakker. Hy spring op, gaan staan met sy rug teen ‘n dikkerige boom en wag. Niks. ‘n Halfuur gaan verby en na ‘n oomblik sien hy ‘n geritsel in ‘n boom ‘n ent weg. Instinktief weet hy dis wat hom wakker gemaak het – ‘n voël wat vere reggeskud het, ‘n eekhoring of so iets. Net om seker te wees, wag hy nog ‘n kwartier, verskuif sy bed ‘n ent verder en gaan lê weer. Hy is nou helder wakker en sy gedagtes knaag weer aan die probleem.
Miskien is die rede vir die chaos en anargie in die sielkunde van die volkere gebed en nie noodwendig in die politiek nie. Is die landsgebeure nie maar ‘n uiting van ‘n dieperliggende verskeurdheid en ingebore verskille nie? Hy weet dat in Amerika daar begin is met ‘n sogenaamde transformasie, wat maar hulle weergawe was van regstellende aksie. Daar het hulle Afrika-Amerikaanses aangestel in poste waarin hulle glad nie bekwaam was nie, en as hulle hulle onvermoë bewys het, is gesê dat die eksperiment nie geslaag het nie en dat dit nie weer moet gebeur nie.
Demas besef skielik dat dit ‘n geweldige onguns is om mense, wat reeds ‘n lae selfbeeld het en hulleself feitlik geen menswaardigheid gun nie, aan te stel in posisies waarvoor hulle nie opgewasse is nie. Die aanvanklike status wat saam met die pos gaan, die geld, karre en huise bedek vir ‘n tyd die gebrek aan selfbeeld, maar na ‘n tyd kom so ‘n mens agter dat hy of sy glad nie ‘n verhoogde status onder sy kollegas het nie, dat hy gefrustreerd is omdat hy nie die werk kan doen nie en in plaas daarvan dat sy menswaardigheid en selfbeeld herstel word, word dit eerder verder geknou.
Hy het dit self ervaar met kollegas wat eintlik in ‘n hoër posvlak as hy was, maar vir hom hulp kom vra het met meer elementêre dinge. Daarop volg jaloesie teen die mense wat hom minag, wat weet dat hy nie die pos waardig is nie en bitterheid stoot in hom op, wat later in haat oorgaan.
En sê nou maar hierdie kaders word ministers, wat sien dat die departemente onder hulle toesig uitmekaar val, omdat hulle nie ‘n snars weet wat aangaan of wat gedoen moet word nie? En as hulle daarna net weer weens onvermoë, maar met politieke verbintenisse, na ‘n ander portefeulje verskuif word, waar hulle ook nie die mas opkom nie?
Dan steel jy so vinnig jy kan soveel geld as moontlik, voordat alles uitmekaar tuimel en jy ook. In plaas van erkenning van jou onvermoë, raak die sleutelwoord “entitlement” en jy moet vas daaraan glo. Uiteindelik jy soek iemand om te blameer vir jou hopeloosheid en daardie iemand is die blankes.
Met hierdie ontnugterende gedagte raak hy aan die slaap.
*
Nie baie ver van waar Demas is nie, soos die kraai vlieg, miskien vyftien kilometer van hom af, is ‘n man besig om sy vierwieldryf bakkie uit te pak. Hy haal die swaar kratte met kruideniersware, kampgereedkap, diesel en hout en dra dit huis toe.
“Wat maak jy?”
“Ek het besluit ons bly.”
“Sonder om my te vra wat ek dink?”
“Ja, ek weet mos hoe jy voel. Ons is albei aan die verkeerde kant van sestig en ek is nie lus om vir maande in die oop veld of in die berg te bly, op die harde grond te slaap en op vuur kos te maak nie. Hier is ons huis, ons het die gennie, die sonkragstelsel, ons bed, ons kombuis en as dit nodig sou wees, ons braaiplek, die watertenks en al die gewere en handwapens. Die katte en honde gaan dan ook nie in die veld verdwaal nie.”
“En as die massas ons aanval?”
“Hulle gaan, daarvan kan jy maar seker wees. Soos dinge nou in die land aangaan, is daar geen moontlikheid dat ons dit gaan vryspring nie. Ek lees vanoggend die president gaan weereens die ekonomie ‘kickstart’, maar bloot deur werk te skep vir swart mense. Terselfdertyd sê die energiekenners dat Eskom nou soos ‘n kar is wat oorverhit en die drywer ry hom nieteenstaande. Dis net ‘n kwessie van tyd dan blaas hy ‘n ‘top-gasket’ en die hele kar se enjin is daarmee heen. Die regering is besig om die laaste geld wat geleen kan word te blaas op SASSA, staatsdienswerkers se salarisse, en om bankrot goed soos SAL, PRASA, Denel en die Poskantoor te probeer red. Sodra SASSA-uitbetalings gestaak word, sal die massas nie meer kos en lugtyd kan koop nie en hulle sal begin plunder en breek, moor en roof uit hongerte, maar ook uit haat en woede”.
“Moet ons dan nie maar eerder die bakkie en sleepwa gelaai en gereed hou vir ingeval nie?”
“Lief, ek weet daar is baie mense wat onttrek na ‘n veilige plek om daar te groepeer totdat hulle kan terugkom en ek respekteer hulle gevoel. Ek dink dis ‘n baie goeie plan en ek wens hulle alle sukses toe. My grootste probleem is dat ek te moeilik en bedonnerd is om na ‘n plek toe te gaan wat ek nie regtig ken nie, vir ‘n tydperk waaroor ek geen sê het nie en om myself onder die beheer en bevel van mense te plaas wat ek glad nie eens ken nie. Ek is te oud daarvoor.”
“Dink jy nie ons moet weer daaroor praat nie?”
“Natuurlik kan ons en as jy my kan oortuig dat dit die beste plan vir ons is – en ek herhaal vir òns – dan dra ek hierdie kratte terug bakkie toe. Wat my betref, is hierdie huis my Alamo.”
“Jou wat?”
“Hoe lank bly ons nou hier? Sewe jaar?”
“Dis reg.”
“Nou, dis die plek waar ons nog altyd oor gedroom het. Ons het nog altyd in ander mense se huise gebly en na hulle fluitspelery en soos hulle poppe gedans. Ek bly lekker hier. Ek weet in elk geval nie hoe lank ek nog oor het nie en ek gaan nie my gesondheid ‘n verdere knou gee deur in die veld te gaan swaarkry nie. En ek weet jy voel dieselfde.”
“Jy het nog nie vir my gesê wat jy by jou Alamo bedoel nie.”
“As ek reg onthou was dit ‘n sendingstasie naby Mexiko in Texas wat in ‘n fort omskep is. ‘n Mexikaanse generaal, Santa Anna, het met omtrent een duisend vyf honderd man die plek aangeval, waarin daar slegs sowat een honderd man was. Onder hulle was James Bowie, wat die mes ontwerp het wat na hom vernoem is, David Crockett, Jim Bridger en ‘n paar bekende pioniers. Hulle het gesê dis die laaste plek waarheen hulle gaan terugval en hulle gaan die Mexikaners daar keer, of doodgaan in die poging.”
“En het hulle dit gedoen?”
“Nee. Die hele lot van hulle is uitgemoor.”
“Nou wat was die sin daarin?”
“Die Mexikaners was so wreed in die doodmaak van die manne, dat dit die hele Texas se manne se verbeelding aangegryp het en toe gryp hulle sommer hulle wapens en ‘n maand en ‘n half later het hulle die Mexikaanse weermag verslaan.”
“En jy is nie bang vir die massas wat ons gaan aanval nie?”
“Natuurlik is ek. Geen mens met sy volle verstand sal nie bang wees nie.”
“Jy praat nou in sirkels. As jy bang is, moet ons mos na veiligheid toe vlug.”
“Jy sien, dis nou daardie woord wat ek nie van hou nie. Vlug. Ek en jy is te oud daarvoor, ons het nie tyd oor om terug te keer na wie-weet hoe lank nie, ons huis afgebrand te kry en ‘n klomp misdadige plakkers te kry wat hulle tuisgemaak het in die ruïne. En ek en jy is nie alleen nie. Die buurman en sy vrou voel ook so. Ook Neels in die straat af. En ek is seker ‘n hele klomp mense om ons voel ook so. Nee, ons sal hier bly. As ‘n mens eenmaal begin vlug vir jou vyande, hou jy nooit op hardloop nie.”
“Jy klink baie seker van jou saak.”
“Ja, ek het daaroor gebid en…”
Hy bly ‘n gelaaide minuut lank stil.
“En wat?”
“En ek het genoeg wapens en ammunisie om hulle vir ‘n lang tyd weg te hou. Ek weet Saul en Neels en sy seuns ook.”
Dit lyk asof sy ‘n lang tyd daaroor nadink.
“Beloof my net een ding.”
“En dit is?”
“As ons ammunisie klaar is en die mense kom in die erf in…”
“Ja?”
“Beloof my jy spaar die laaste twee patrone vir my en jou.”