Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Here, sal U my asseblief my onvergewensgesindheid vergewe? U weet hoe ek sukkel om mense wat my te na kom van harte te vergewe – en selfs kry ek dit reg kan ek dit nie vergeet nie. Help my asseblief ook om vergifnis te aanvaar van die mense teenoor wie ék skuldig staan. Dankie dat U my baie meer as 70 maal sewe vergewe!
WEES IN ALLES DANKBAAR
Hannes Ollewagen
1 Thes. 5:12-28
“Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” (:18).
As gelowiges in Christus behoort ons primêre fokus te wees om die wil van God te doen. Maar hoe sal ons die wil van God ken? Hy openbaar dit aan ons deur sy Woord. Dit is vir ons duidelik uit Heb. 1:1&2 sowel as Joh. 1:1-3. “NADAT God dikwels en op verskeie wyses in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as Erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.” “IN die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.”
Ons leer op verskeie plekke dat dit belangrik is dat ons God se wil sal ken. Luister na die opdrag in Efés. 5:17. “Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is.” En in Romeine 12:2 word ons ook daartoe gemaan om daarna te streef om die wil van God te ontdek. “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Die woorde van Christus in Matt. 7:21 onderstreep dalk vir ons die verskriklike belangrikheid daarvan om nie net die wil van God te ken, maar dit ook te doen. “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.”
Wanneer ons God se Woord met erns en ootmoed bestudeer, leer ons Hom in waarheid ken. Hy openbaar Homself en sy wil aan ons deur sy Woord. En ons leer Hom nie ken om so nou-en-dan ’n Psalm of mooi stukkie uit sy Woord te lees nie. Ons leer Hom ken deur sy Woord met erns en opregte ootmoed op gereelde grondslag te bestudeer. Ons leer uit die gebeure in die Woord hoedat God in die verskillende omstandighede optree en daardeur leer ons soveel van Hom. En dan is daar gedeeltes in die Woord waarin Hy doodeenvoudig sy Wil onomwonde aan ons uitspel. Dit is veral in Paulus se brief aan die Thessalonicense te bespeur. Luister na 1 Thes. 4:3. “Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery;”. En dan lees ons ook in 1 Thes. 5:18. “Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” Dankbaarheid is derhalwe iets waarna ons gedurig moet streef omdat ons weet dat ’n lewe van dankbaarheid beslis een van die kosbare dinge is wat God behaag en dat ons sy wil doen wanneer ons dankbaar is.
Die Woord van God is ewe duidelik oor die afkeur wat God in ondankbaarheid het. 2 Tim. 3:2. “Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig,”. Ons lees in Lukas 6:35 waar Christus ook hierdie afkeur vanaf God te kenne gee. “Maar julle moet jul vyande liefhê en goed doen en leen sonder om iets terug te verwag, en julle loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste wees; want Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes.” En in Lukas 17 lees ons nie alleen van die wondergenesing wat Christus vir die tien melaatse manne bewerk het nie, maar ook van sy afkeur en verontwaardiging omdat daar by hierdie manne maar net een van die tien was wat aan God die eer deur sy dankbaarheid gebring het. “En een van hulle, toe hy sien dat hy gesond was, het omgedraai en God met 'n groot stem verheerlik. En hy het op sy aangesig neergeval by sy voete en Hom gedank. En hy was 'n Samaritaan. Toe antwoord Jesus en sê: Het tien nie rein geword nie? En waar is die nege? Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om God te verheerlik behalwe hierdie vreemdeling nie?” (Luk. 15-18).
Wanneer ons vir ’n oomblik oor dankbaarheid en ondankbaarheid dink, besef ons dat dankbaarheid eerbied aan God betuig terwyl ondankbaarheid Hom minag. Wanneer ons dankbaar teenoor God is, erken ons dat ons deel en erfenis gawes uit sy Hand is. “'Die Here is die deel van my erfenis en van my beker; Ú onderhou my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.” (Ps. 16:5&6). Ons bewys ook aan Hom eerbied deur tevrede te wees met sy besluit en oordeel oor dit wat vir ons afgemeet word en dit wat ons nie ontvang nie. Daarenteen handel ons minagtend teenoor Hom wanneer ons ondankbaar is aangesien ons optrede sy wyse en volmaakte wil en optrede in twyfel trek. Daarbenewens insinueer ’n optrede van ondankbaarheid dat daar by God onregverdigheid is en boonop dat Hy aan ons as mense iets verskuldig sou wees en dat die deel wat Hy aan ons afgemeet het, minderwaardig of nie genoegsaam is nie. Ons mag ons begeertes voor God lê, maar ons moet Hom vertrou en sy besluit eer t.o.v. dit wat Hy aan ons skenk en dit wat Hy van ons weerhou. “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.” (Fil. 4:6).
Wanneer ons dankbaarheid nastreef, word die begeertes in ons hart minder terwyl ondankbaarheid ons hart daarenteen met allerhande begeerlikhede vervul. Ons lees in 2 Samuel 12 waar koning Dawid deur dankbaarheid die sonde van begeerlikheid sou kon afweer, maar ’n gebrek aan dankbaarheid op daardie stadium het tot gevolg dat hy sy hand na sy naaste se vrou uitsteek en in die proses God diep bedroef en vertoorn. “DAAROM het die Here Natan na Dawid gestuur. Toe hy by hom inkom, sê hy vir hom: Daar was twee manne in 'n sekere stad, die een was ryk en die ander arm. Die ryke het 'n groot menigte kleinvee en beeste gehad, maar die arme het glad niks gehad nie, behalwe een klein ooilammetjie wat hy gekoop en in die lewe gehou het, en wat by hom en saam met sy kinders groot geword het; dit het van sy stukkie brood geëet en uit sy beker gedrink en in sy skoot geslaap, en dit was vir hom soos 'n dogter. En toe daar besoek kom by die ryk man, het hy ontsien om van sy kleinvee of beeste te neem om vir die reisiger wat by hom gekom het, iets te berei; daarom het hy die ooilam van die arm man geneem en dit berei vir die man wat by hom gekom het. En Dawid het baie kwaad geword vir die man en aan Natan gesê: So waar as die Here leef, die man wat dit gedoen het, moet sterwe! En die ooilam moet hy viervoudig teruggee, omdat hy hierdie ding gedoen het en geen ontferming geken het nie.Toe sê Natan vir Dawid: U is die man! So sê die Here, die God van Israel: Ék het jou as koning gesalf oor Israel, en Ék het jou gered uit die hand van Saul; en Ek het die huis van jou heer aan jou gegee, en die vroue van jou heer in jou skoot, en Ek het die huis van Israel en Juda aan jou gegee; en as dit te min was, sou Ek aan jou nog meer sulke dinge daarby wil voeg.Waarom het jy die woord van die Here verag deur te doen wat verkeerd is in sy oë? Uría, die Hetiet, het jy met die swaard verslaan, en sy vrou het jy vir jou as vrou geneem, nadat jy hom deur die swaard van die kinders van Ammon vermoor het.” (2 Sam. 12:1-9). Hierdie gebeure uit die lewe van Dawid saam met die woorde uit Kol. 4:2 leer ons ook dat dankbaarheid ’n kragtige wapen is waarmee ons die sonde kan afweer. “VOLHARD in die gebed en waak daarin met danksegging;”. Ja, dankbaarheid is ’n skild teen begeerte na dit wat nie vir my afgemeet is nie. ’n Hart vol dankbaarheid is vrugbare grond vir vergenoegdheid – nog ’n deug wat vir God aanneemlik is terwyl ’n hart vol ondankbaarheid die teelaarde vir allerhande begeerlikheid is.
’n Hart vol dankbaarheid en vergenoegdheid is ’n hart vol vrede. Dit is ’n hart waarin God vir ons genoegsaam is en waarin daar nie allerhande ander begeerlikhede is asof ons rondom Hom, buite Hom of saam met Hom nog iets kort om bevredig te word nie of asof daar iets beters as Hy sou wees waarin daar vir ons bevrediging sou wees nie. Ons het derhalwe vir die gawe van geloof wat ons van God ontvang het sodat ons in Hom kan leef beslis rede tot groot en diepe dankbaarheid. Mag ons hierdie dankbaarheid koester en Hom op welbehaaglike wyse dien en eer.
“Daarom, omdat ons 'n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees.” (Heb. 12:28).