Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In die gelykenis van die Talente keer die baas na ‘n lang tyd terug om rekenskap van sy gawes te eis. So sal ook God van elkeen se lewe doen. Mag ons maar met ons lewe doen wat ons wil? Nee, dit sal net so dwaas wees soos die dienskneg wat sy talent begrawe het. Die groot vraag voor die wit troon sal wees: “Wat het jy met jou lewe gedoen?” Ons sal eerlik moet antwoord want ons staan voor Een wat dwarsdeur ons sien.
LAAT JOU BEKER OORLOOP
Ds A.E. van den Berg
“Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê;....hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin” (Joh.16:33).
Toe Konstantinus, pa van keiser Konstantyn die Grote, in Rome die staatkundige mag ontvang het, was daar baie Christene aan sy hof. Hy vaardig toe 'n bevel uit dat alle Christene hul geloof moes afsweer om hul werk te behou. Baie het dit toe afgesweer waarna hy almal van hulle afgedank het en diegene wat dit nie gedoen het nie hul werk laat behou het. Dit was sy toets vir lojaliteit. “As julle aan Christus nie getrou is nie, hoe sal julle aan my getrou kan wees”, het hy gesê.
Lojaliteit is een van die allermooiste deugde. As ons nie aan ons hemelse Koning lojaal kan wees nie, hoe dan aan aardse heersers? Geestelike lojaliteit verg egter geestelike moed. Daniël se drie vriende in Babel is 'n treffende voorbeeld hiervan. Die koning het 'n reuse beeld van homself laat oprig en mense beveel om dit te aanbid. Daniël se vriende het geweier, is in die vuuroond gegooi en het ongeskonde daaruit gekom omdat hulle aan hul hemelse Koning meer lojaal was. Nie lank daarna nie het Daniël oor sy geloof in 'n leeukuil beland en ook ongeskonde uitgekom.
Wat laat mense met die dood in die gesig so optree? Die vrede van Jesus waarvan die teksvers praat. Sy vrede gee aan gelowiges ongekende moed. Daarsonder is 'n gelowige soos 'n motor sonder 'n masjien.
Na Keiser Severus se oorwinning oor die Parthiërs het hy al sy soldate met lourierkranse om die nek voor hom laat verby mars. Een het dit in sy hand gehou en is voor die regbank gedaag. Toe hy gevra is waarom hy dit gedoen het, het hy geantwoord: “Omdat ek 'n Christen is” Hy is nie vervolg nie en daarna terug na sy regiment toe.
Die grafskrif van die Skotse hervormer, John Knox, lui: “Hier lê die stoflike oorskot van iemand wat nooit die gesig van 'n mens gevrees het nie”. Dis wat geloofsmoed doen; dit maak jou onbevrees vir die waarheid. Dink maar aan Johannes die Doper wat nie gehuiwer het om die koning oor sy sedeloosheid aan te spreek nie al het dit sy dood gekos.
Ons gelese gedeelte handel oor Jesus se laaste onderwys aan sy dissipels. Hy praat van twee tye – die een op hande sowel as die een net voor sy wederkoms. Hy waarsku dat Christenskap nie goedkoop is nie. Ons weet wat na die kruisiging met baie gelowiges gebeur het. Hulle is soos Stefanus, Petrus, Paulus en vele meer, doodgemaak. Ja, wie Een wil volg wat deur die wêreld gekruisig is, moet self verwag om gekruisig te word!
Hoe het die dissipels na die kruisiging van Jesus die toekoms tegemoet gegaan? Met die vrede van Jesus in hulle harte wat gesê het: “Ek het die wêreld oorwin”. Hy is sterker as enige ander mag en gee gelowiges die moed om in die slegste omstandighede sterk in die geloof te staan.
Hy was selfs saam met Daniël se drie vriende in die brandende oond. Nebukadnesar het dit self aanskou: “Toe het koning Nebukadnesar verskrik geword en haastig opgestaan; hy het sy raadsmanne toegespreek en gesê: Het ons nie drie manne geboeid binne-in die vuur gegooi nie? Hulle antwoord en sê aan die koning: Sekerlik, o koning! Hy antwoord en sê: Kyk, ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel sonder dat daar 'n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde lyk soos dié van 'n godeseun” (Dan3).
Eeue gelede was 'n ongenaakbare athëis die burgemeester van Hamburg. Pastoor Oncken, 'n Baptiste-leraar, het ter wille van die waarheid onder boetes en tronkstraf gebuk gegaan. “Sien jy hierdie vinger? Solank as wat ek dit reguit kan hou, sal ek oor jou heers”, het die burgemeester vir hom gesê. Die pastoor antwoord hom toe: “Ja, ek sien jou vinger, maar ek sien ook 'n magtige arm wat jy nie kan sien nie. En solank as wat daardie arm uitgestrek is, kan jy my nie oorheers nie” God regeer!
Die gerusstelling dat alle mag aan God behoort en Hy sake kan verander, beklemtoon die twee groot waarhede van ons teksvers. “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê...” Sy vrede bring berusting en laat gelowiges met 'n ander oog na die wêreld en die toekoms kyk.
Die vrede van God loop egter hand aan hand met 'n deeglike kennis van God se Woord en vertroue op sy almag. Dis vir gelowiges 'n troos dat hulle die lewenspad nie alleen loop nie, maar dat Jesus dit saam met hulle stap. Sy laaste belofte voor sy hemelvaart bevestig dit: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Mat 28:20).
Die kennis van God se almag moet gelowiges egter nie kanse met Hom laat vat nie. Daniël het nie in die leeukuil op die leeu se stert gaan trap om te sien wat die dierasie gaan doen nie. Hy het God nie versoek nie en net eenkant stil op Hom gewag.
Benewens die vrede wat God sy kinders gee, gee Hy ook die nodige moed om reguit te praat wanneer die geleentheid daar is. Peter Carthwright was in die 19 de eeu 'n rondreisende Metodiste leraar, standvastig en onverbiddelik eerlik. Toe hy een Sondag gaan preek, het hy verneem dat president Andrew Jackson teenwoordig sou wees en is versoek om sy woorde maar te tel. Toe Carthwright op die kansel kom sê hy: “Ek verstaan dat Andrew Jackson teenwoordig is. Ek is gevra om versigtig met my aanmerkings te wees. Nou wil ek net vir Andrew Jackson sê dat hy hel toe sal gaan as hy hom nie bekeer nie!”
Na die diens het Jackson na hom toe gekom en gesê: “Dominee, as ek 'n regiment van jou kaliber gehad het, sou ek die wêreld kon oorwin!” Carthwright het die moed van sy oortuiging op die Bybel en God se geleenthede gegrond. Moed en oortuiging in die geloof lei tot berusting – jy kom in Jesus tot rus, iets wat by baie van ons volksgenote ontbreek.
Sommige volksgenote leef soos mense op pad na die doderyk wat maar net hoop dat die pyniging nie te erg gaan wees nie. Dit maak jou weerloos en laat jou 'n sinnelose lewe lei. Weerloosheid is niks anders as 'n geestelik lamsakkige bestaan nie. Gelowiges moet altyd met die vrede van Jesus en die moed van 'n vaste geloof leef. Dit verseker weerbaarheid. Jy het net een lewe om dit te doen!
Jesus praat in Joh.16 met sy dissipels oor die moeilike tyd wat vir hulle na sy hemelvaart voorlê. Sonder die vrede van Jesus in hul hart en die moed van geloof sou hulle dit nie maak nie. Paulus skryf kort voor sy teregstelling: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou” (2 Tim.4:7). Hy het die vrede van Jesus en die moed van die geloof gehad.
Kom ons steek die hand in eie boesem. Is jy weerbaar of weerloos? Weerbaar? Dank die Here daarvoor. Bid egter vir volksgenote wat weerloos en bekommerd oor die toekoms is, veral in jou eie geledere; familie en vriende. Bid God ook dat Hy jou al hoe meer weerbaar sal maak. Jy kry dit deur gebed en smeking. Dis nie altyd maklik nie. Moet net nie moed opgee nie.
Worstel soos 'n Jakob van ouds met die Here totdat Hy jou beker laat oorloop. Dawid getuig daarvan in Ps.23 as hy skryf: “U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor”. Mag jou beker tot die dag van jou dood altyd oorloop!