Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Enigiemand wat meer oor die lewe te wete wil kom kan maar net die Bybel bestudeer; dit is 'n Boek oor die lewe: oor konings, boere, huisvroue, siekes, soldate, diensknegte, elke mens is in die Bybel; ook jou en my lewe word direk daarin weerspieël. Maar as jy nooit jou Bybel bestudeer nie kan jy nie verwag om lewenskennis te hê nie.
APOKRIEWE BOEKE (2)
Jeanette Koekemoer
Lees reeks by Apokriewe Boeke
DIE WAARDE VAN 1 MAKKABEËRS
Die skrywer van hierdie boek is onbekend maar heel moontlik is dit 'n Jood uit Jerusalem. Hierdie is een van die apokriewe boeke waarvan die geskiedkundige inligting redelik betroubaar is. Dit begin met die verhaal van die magtige Alexander die Grote wat die grootste gedeelte van die destydse bekende wêreld verower het. Na sy dood is sy ryk verdeel waarvan twee van sy Masedonies-Griekse generaals die gebied van Egipte tot bo in Klein-Asië tesame met die volke in daardie gebied, gekry en probeer vergrieks het. Die vertelling handel oor die stryd van die Jode om hulle tempel, godsdiens en land te behou, maar veral oor een spesifieke familie, die Makkabeërs, Jode wie suksesvol weerstand teen die Griekse leiers wat hulle kultuur en godsdiens op die Jode wou afdwing, gebied het. Dit handel ook oor die politieke ooreenkomste en oorloë wat daar plaasgevind het, een daarvan die opwindende hoogtepunt van die rebellie wat plaasgevind het toe die tempel weer aan die Here toegewy kon word nadat die Grieke uit Jerusalem gejaag is. Vir hierdie hoogtepunt was 'n man met die naam Judas, seun van Mattatias met die bynaam Makkabeus, grootliks verantwoordelik. U sal dalk die Joodse feesnaam Hanukkah ken soos dit vandag nog gevier word om hierdie gebeure te herdenk.
1 Makkabeërs is 'n uitstekende bron van Joodse geskiedenis tussen die Ou en die Nuwe Testament. Ons leer ook om Daniël beter te verstaan aangesien 1 Makkabeërs juis handel oor dieselfde mense en tydperk.
Ons leer sommer ook waarom Suid-Afrika vandag so ontheilig word...
Vir hierdie apokriewe boek maak ek gebruik van die vertaling in Afrikaans deur Jan van der Watt en Francois Tolmie:
1 MAKKABEËRS HOOFSTUK EEN
ALEXANDER DIE GROTE
Alexander, die Masedoniër, die seun van Filippus, was eers koning oor Griekeland. Nadat hy uit Griekeland weg is het hy teen Darius, die koning van die Perse en Mede, oorlog gemaak en gewen. Alexander het in sy plek koning geword.
Hy het baie geveg, sterk stede oorrompel en ander konings doodgemaak. Tot by die uiteindes van die aarde het hy nasies links en regs geplunder. Ja, die aarde het stil geword as hy aankom. Dit het hom natuurlik hoogmoedig en arrogant gemaak. Sy weermag het tot iets geweldigs rondom hom gegroei. Daarmee het hy lande, nasies en konings voor hom platgevee. Hulle moes hom dan dien en belasting betaal.
Hy het siek geword en besef dat sy dood om die draai is. Hy roep toe sy twee top-offisiere wat saam met hom grootgeword het en verdeel sy ryk tussen hulle. Kort daarna is hy dood. Hy was twaalf jaar lank koning.
ALEXANDER SE OFFISIERE VOLG HOM OP
Die offisiere het hulleself toe elkeen as koning oor hulle deel van die ryk gekroon. Hulle en hulle nageslag het baie jare lank daar regeer maar met verloop van tyd het dit al hoe slegter en boser begin gaan.
ANTIOGUS IV EPIFANES NEEM BEHEER OOR
'n Bose loot het toe tussen hulle opgeskiet: Antiogus IV Epifanes, seun van koning Antiogus. Hy was eens op 'n tyd 'n gyselaar in Rome. Toe hy die mag oorgeneem het, was die Grieke al 137 jaar lank in daardie gebiede baas.
Juis toe was daar 'n groep slegte Israeliete wat sommer baie mense bedrieg het: " Kom ons gaan maak vriende met die heidene hier rondom ons. Vandat ons nie meer met hulle saamwerk nie, het ons nog net moeilikheid gehad," het hulle gesê. Die mense het hiervoor geval. Party was so opgewonde hieroor dat hulle reguit na die Griekse koning toe is. Die koning het hulle toestemming gegee om allerhande gebruike van die heidene by hulle in te voer. Hulle het 'n gimnasium in Jerusalem gebou, presies soos die heidene dit sou doen. ('n Gimnasium was die sentrum van intellektuele en fisieke oefening onder die Grieke, en 'n simbool en instrument van Griekse propaganda. Hier het die Joodse jongmense toe geleer hoe om oorlog maak en ook hoe om goeie burgers te wees. Dit het veroorsaak dat baie van die Joodse jongmense die Griekse kultuur aangeneem het.)
Die mans het hulle besnydenis probeer wegsteek en hulle nie meer gesteur aan die heilige ooreenkomste wat Israel met God gemaak het nie. Hulle het agter die heidene aangeloop en so hulle siele aan boosheid verkoop.
ANTIOGUS NEEM EGIPTE OOR
Toe Antiogus hom goed as koning gevestig het, het hy ander planne begin maak. Hy het sy oog op Egipte gehad. As hy Egipte in die hande kon kry, sou hy koning oor twee koninkryke wees. Hy val Egipte toe binne met 'n magtige leer – hy het strydwaens, olifante, perderuiters en 'n groot vloot gehad.
Ptolemeus VI, die koning van Egipte, het so groot geskrik dat hy sommer weggehardloop het. Antiogus het al die vestings in Egipte ingeneem, die land geplunder en baie Egiptenare doodgemaak. Dit alles het in 143 (169 vC) gebeur.
ANTIOGUS MENG MET DIE JODE SE GODSDIENS IN
Hierna besluit hy toe om met sy groot leër Israel en Jerusalem in te val. Hy het dit toe gedoen. Windmakerig en sonder enige skaamte het hy die heiligdom van die Jode ingestap. Hy het die goue altaar en die groot lampstaander met alles wat daarby pas, gevat. Dit was nie al nie. Hy het ook die tafel vir die spesiale brood gevat, die bekers en die bakke, die goue lepels, die gordyn wat voor die heiligste deel gehang het, asook die krone en die goue ornamente wat voor die tempel gestaan het. Dit alles het hy gevat. Ook die silwer en die goud het hy nie gelos nie. Hy het dit gevat saam met die kosbare bakke en die kosbaarhede wat hy nog daar kon uitsnuffel. Dit alles het hy saam met hom teruggevat. Hy het baie bloed laat vloei en daar was geen eiende aan sy arrogante grootpratery nie.
Die hele Israel, van hoek tot kant, was bitter, bitter hartseer. Die leiers het getreur; die jongmense was pap en lus vir niks; mooi vrouens het sommer oornag oud geword. Bruidegomme het gesit en huil. Bruide wat reg was om te trou het nou gesit en rou. Die hele land was geskud oor alles wat gebeur het. Jakob se mense was in skande gedompel.
ANTIOGUS NEEM JERUSALEM IN
Twee jaar later stuur koning Antiogus sy hoofbelastinggaarder na die stede van Juda toe. Hy het in Jerusalem opgedaag met 'n sterk gewapende mag. Daar het hy mooi met die inwoners oor vrede gepraat maar nie 'n woord bedoel wat hy gesê het nie. Net toe hy hulle vertroue gewen het, val hy die stad skielik aan. Hy het die Israeliete links en regs vermoor – hy het diep wonde geslaan. Hy het alles in die stad gevat wat hy wou hê en dit toe aan die brand gesteek. Daarna het hy die huise en die stadsmuur tot op die grond laat afbreek, die vrouens en kinders gevang en die beeste gevat.
Hulle bou toe die stad van Dawid weer op met 'n groot sterk muur en torings om. So het dit hulle vesting geword. (Hierdie vesting is nie op die berg Sion gebou waar die tempel gestaan het nie. Dit is op die heuwel oorkant die tempel gebou. Vir 26 jaar is hierdie vesting, die Akra, deur Siro-Griekse soldate saam met afvallige Jode bewoon wat die Jode by die tempel onveilig laat voel het.)
Slegte mense het daarheen gestroom en bose mense het daar kom bly. In die vesting het hulle wapens en voorraad opgegaar saam met alles wat hulle uit Jerusalem wegggedra het. Die mense in hierdie vesting het al hoe gevaarliker begin word. Omdat hierdie vesting op die heuwel oorkant die heiligdom gebou was, het dit die heilgdom baie onveilig gemaak. Dit was of die vyand die hele tyd op die voorstoep van Israel gelê het. Hierdie mense het baie onskuldige bloed rondom die heiligdom laat vloei en die heiligdom so ontheilig.
Hieroor het die inwoners uit Jerusalem begin wegtrek en vreemde mense het begin intrek. Die stad was nie meer die stad van die mense wat daar gebore is nie – haar eie kinders het haar verlaat. Die heiligdom het soos 'n woestyn geword; op feeste is daar maar net gerou en 'n wolk van skande het oor hulle Sabbatdae gehang. Al die glorie en eer van die stad was daarmee heen. Net so groot as wat die glorie en eer van Jerusalem eers was, so groot is haar oneer en ellende nou. Haar heerlikheid het in rou verander.
ANTIOGUS WIL ALMAL GRIEKE MAAK – OOK DIE JODE
Antiogus beveel toe dat alle volke in sy koninkryk moet saamsmelt tot een volk. Dit het beteken dat die volke hulle eie gewoontes en tradisies moes los. Al die heidene het dit dadelik gedoen.
Daar was selfs baie Israeliete wat bereid was om by Antiogus se godsdiens in te val. Hulle het vir sy afgode geoffer en nie meer die Sabbat gehou nie. Antiogus het ook briewe na Jerusalem en die stede van Juda gestuur en hulle beveel om hierdie vreemde gewoontes te aanvaar. Hy het die verskillende Joodse offers in die tempel verbied, asook die hou van die Sabbat en die vier van godsdienstige geeste. Die heiligdom met sy werkers moes van hulle eer gestroop word, terwyl heidense altare, tempels en plekke om afgode te aanbid oral gebou moes word. Vir offers moes hulle varkvleis of die vleis van onrein diere gebruik. Hulle moes nie hulle kinders meer besny nie maar moes tevrede wees om in al die onreinhede en onheilighede weg te sak. So is daar gehoop dat hulle hul wet sal vergeet en die rug op hulle gebruike sal draai. Wie nie wou doen wat die koning gesê het nie, moes doodgemaak word.
So het hy aan almal in sy koninkryk geskryf en inspekteurs aangestel wat moes seker maak dat mense doen wat hy sê. In Juda het hy stad vir stad beveel om te offer soos hy wou hê. Baie mense wat hulle rug vir die wet gedraai het, het begin doen wat hy beveel het en allerhande booshede in die land begin aanvang. Hulle het dit so sleg gemaak dat die ware Israeliete moes gaan wegkruip waar hulle ook al 'n veilige plekkie kon vind.
Op 15 Kislev 145 (6 Desember 167 vC) het die koning die allerverskriklikste veragtelikheid op die altaar in die tempel gebou ('n beeld vir die god Zeus Olimpus). Hy het ook heidense altare in die stede van Juda in daardie omgewing laat bou. Wierook is by die huisdeure en in die strate gebrand en al die wetboeke wat hulle in die hande kon kry, is opgeskeur en verbrand.
Die koning het ook streng opdrag gegee dat almal doodgemaak moes word by wie 'n Joodse godsdienstige boek (Verbondsboek) gekry is of wat die wet probeer hou het. Maand na maand het hulle hul wil so met geweld op die dorpe van Israel afgedwing. Op die 25e van elke maand het hulle op die altaar gaan offer wat bo-oor die ou altaar van God in die tempel gebou is. Ma's wat hulle kinders laat besny het, is doodgemaak en hulle babas is om hulle nekke gehang. Hulle families asook die persoon wat die baba besny het, is doodgemaak.
Baie Israeliete het egter vas bly staan en wou glad nie iets onreins eet nie. Hulle sou eerder sterf as om onrein kos te eet of om hulle heilige ooreenkoms met God te breek. En hulle het gesterf, dit is verseker. Groot was die toorn wat op Israel neergesak het. (Lyk dit nie baie na Suid-Afrika in 2011 nie...)
Hoofstuk Twee vervolg.