Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Liefde word gemeet aan lojaliteit, geduld, verdraagsaamheid – liefde gaan nie oor jouself nie!
EK HET GESTERF ! (14)
Hierdie naby-dood ervaring is in Afrikaans vertaal en neergeskryf
deur Anita Joubert
Toe Jesus voor my staan, het Hy gesê: “Kom, Ek wil vir jou die geestelike oorlog gaan wys wat julle mense nie kan sien nie, maar wat voortdurend rondom julle plaasvind.”
My naam is Sam Carter. Op die ouderdom van 38 jaar het ek op 12 April 2024 vir 6 minute lank ʼn hartstilstand gehad na ʼn motorongeluk. Ek was op pad huis toe na ʼn Bybelstudie by ons kerk.
Wat ek daardie aand gesien het, het my hele lewe, alles wat ek voorheen geglo het, my familie en my siening van die geesteswêreld, vir altyd verander.
In daardie oomblikke tussen lewe en dood, het Jesus vir my gewys wat in ʼn geestelike geveg gebeur en dat die meeste Christene die geveg verloor omdat hulle nie eers besef dat hulle in ʼn oorlog betrokke is nie.
Ek was vir baie jare ʼn gelowige, lief vir die Here Jesus, maar het die bonatuurlike geïgnoreer. Ek was oortuig daarvan dat ek hemel toe sou gaan omdat Jesus vir my sonde gesterf het en my vergewe het, maar ek het gedink dat die storie oor geestelike oorlogvoering net ʼn manier was waarop sommige predikers hulle preke dramaties wou laat klink.
Ek het in ʼn klein dorpie in Texas grootgeword en my ouers was Christene. Ons het kerk toe gegaan, voor elke ete gebid, saans voordat ons gaan slaap het, en ons het elke Sondag moeite gedoen om die dag te respekteer.
Ek het Jesus aangeneem as my Verlosser toe ek nege jaar oud was en is ʼn maand later gedoop. Ek was daarvandaan nog altyd betrokke in bedieninge van die kerk.
Ek het ʼn pragtige vrou, Amanda en twee kinders vir wie ek baie lief is, en hulle vir my. Ek het nie vreeslik baie gebid nie, tensy dinge verkeerd geloop het. Ek het meer die Bybel op my foon rond ge-“scroll” as wat ek dit bestudeer het.
Ek het baie met angs, uitputting en frustrasie gesukkel, maar ek het vir myself vertel dat dit maar is hoe dit in ons moderne lewe gaan.
Daardie spesifieke aand het ek gedink aan ʼn nuwe Bybelstudiereeks waarmee ons by die kerk begin het oor die wapenrusting van God (Ef. 6). Terwyl ek huis toe bestuur het, het ek net vir ʼn sekonde na iets op my foon daaroor wou kyk, toe die ongeluk gebeur het.
Ek het die klank van metaal teen metaal, en brekende glas gehoor, en toe het alles stil geword.
Toe ek weer my oë oopmaak, was ek nie meer op die snelweg nie, ook nie in ʼn hospitaal nie, maar op ʼn slagveld waar daar ʼn oorlog aan die gang was. Jesus het daar vir my gewag.
Die lug was swaar; nie van rook nie, maar dik van iets wat ek in my gees kon voel. Oral het figure rondbeweeg. Sommige was helder soos lig, ander het soos donker rookwalms deur die lug beweeg. Daar was geen son nie. Elke ding was net verlig deur ʼn lig wat gelyk het asof dit vanuit die voorwerp self gekom het.
Ek het eers gedink dat ek droom, maar toe hoor ek my naam: “Samuel!” Ek het onmiddellik geweet wie dit was – die Here Jesus Christus. Daar is geen woorde wat die gevoel kan beskryf wanneer volmaakte liefde jou in die oë kyk nie. Hy was krag en vrede tegelyk en voordat ek kon dink, het ek op my knieë neergeval. Hy het sy hand uitgesteek en my opgetrek.
“Kom, Ek wil vir jou die geestelike oorlog gaan wys wat julle mense nie kan sien nie, maar wat voortdurend rondom julle plaasvind.”
Onmiddellik het die visoen voor my verander en ek kon die aarde onder ons sien. Daar was huise, kerke, werksplekke – om en oor elke persoon het daar onsigbare gevegte plaasgevind. Donker geeste fluister aanhoudend in mense se ore. Hulle fluister woorde van vrees, trots, hopeloosheid en probeer om hulle aandag weg te trek na sinnelose en sondige tydverdryf.
Engele veg om hulle te beskerm, maar só baie gelowiges staan daar, ongewapen. Hulle swaarde kan hulle nie gebruik nie, want hulle ken nie die Bybel nie. (“Sit die verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die Woord van God.” (Ef. 6:17)
Ek sien hoedat mense op hulle fone rondspeel terwyl demone vir hulle fluister om allerlei vuil webtuistes te besoek. Ek sien hoedat woede in families ontstaan terwyl onsigbare magte die argumente aanhits. Ek sien hoedat Christene halfhartig bid terwyl die engele vir hulle wag om die Woord van God in geloof uit te spreek.
“Dit is hoe geestelike oorlogvoering werklik lyk,” het Jesus gesê. “Die bedoeling was nooit dat julle alleen moet veg nie, die engele staan gereed om julle te help. Die meeste van julle het egter sommer heeltemal opgehou om te veg.”
Jesus het sy hand gelig en in ʼn sekonde het alles rondom my verander. Die grond onder my voete het verdwyn en ek het in ʼn wye, eindelose groot slagveld gestaan. Daar was nie oorlogstenks nie, geen geweerskote nie en ook geen soldate met uniforms aan nie. Ek het siele gesien, miljoene van hulle. Sommige het geblink soos sterre (Dan. 12:3), ander se liggies was flou en sterwend.
Bokant hulle het die magte van die duisternis voortdurend beweeg, gestoei, hulle met onsigbare krag getref. Elke flits van ʼn lig was ʼn gebed. Elke uitbarsting van duisternis was nog ʼn leuen wat geglo word. Die hele toneel het energie uitgestraal wat ek meer kon voel as sien. Daar was skoonheid en verskrikking inmekaar geweef.
Toe ek na Jesus toe terugdraai, was sy oë gefokus op die oorlog voor ons. “Dit is wat die meeste van my mense nie weet nie en nie besef nie,” het Hy hartseer gesê. “Die werklike oorlogsveld word nie op straat of op kansels geveg nie. Dit vind plaas in die gedagtes en harte van my mense. Dit gebeur in hulle woonkamers en in die stil tye wanneer niemand kyk nie.”
Terwyl Jesus nog gepraat het, het ek individue op hierdie oorlogsveld gesien. Hulle was gelowiges van verskillende rasse en ouderdomme. Ek het ʼn jong ma met ʼn huilende baba in die middel van die nag gesien. Sy was desperaat en het ʼn gebed gefluister vir krag en hulp van Jesus af. Die oomblik toe sy bid, het ʼn donker skadu wat oor haar gehang het, gevlug.
Ek het ʼn tiener gesien wat met sy foon sit en sy lewe met dié van ander op sosiale media vergelyk. Met elke jaloerse gedagte het drade van swart mistigheid al hoe stywer om hom gedraai. Hy het later so ongelukkig gevoel, dat hy fluisterend gebid het: “Here, help my asseblief!” Die mistige swart drade het eensklaps verdwyn.
Die besef het my hard getref. Elke gedagte was ʼn wapen. Elke keuse het golwe deur die geesteswêreld gestuur.
Jesus het sy hand op my skouer gesit en gesê: ‘Sam, my mense sing liede van oorwinning, maar hulle leef soos gevangenes.” Sy stem was vol outoriteit, maar ook hartseer. “Hulle praat van geestelike oorlogvoering, maar hulle doen dit nie. Die vyand hoef nie eers teen hulle te veg as hy hulle net kan oortuig dat daar nie regtig ʼn geveg is nie. Hy neem dan sommer net oor.”
Ek het weer gekyk en gesien hoedat die engele, met swaarde van lig, die biddende gelowiges verdedig. Ander engele staan stil en wag, hulpeloos, want die mense wat hulle moet beskerm het opgehou bid, opgehou om te glo, opgehou om om te gee.
Hoe verder die gelowige persoon afgedwaal het, hoe swakker het die engel geword. Nie omdat hy nie die krag het nie, maar hy kry geen toestemming nie.
Jesus het iets gesê wat ek nooit sal vergeet nie: “Die hemele kom in beweging wanneer geloof praat. Die hel gaan vooruit wanneer geloof stilbly.”
Vir die eerste keer in my lewe het ek besef dat die oorlog nie êrens op ʼn ander plek is nie, dit is binne in my – elke dag, deur elke gedagte, elke keuse en elke woord. Net soos die meeste ander Christene, het ek ook oor die oorlogsgebied gestap sonder om te besef dat ek alreeds in die visier van die vyand se vuurpeleton is.
Jesus het weer na my toe teruggekyk en met hartseer outoriteit gesê: “Jy het nou gesien hoe die vyand werk. Nou gaan Ek vir jou wys hoe my koninkryk veg.”
Die beeld voor ons het weer verander en die hele oorlogsgebied het begin gloei. Op ʼn afstand kon ek die ligpyle sien wat van die grond af die hemel in geskiet het, dwarsdeur die wolke.
“Dit is gebede,” het Jesus saggies gesê. “Elke opregte gebed is nie ʼn fluistering in die lug nie – dit is ʼn wapen wat deur geloof sy krag kry. Dit versprei outoriteit in die geesteswêreld.” Jesus het sy hand uitgesteek en skielik staan ons langs ʼn ou dame wat alleen in haar ou skemer kamertjie bid. Haar Bybel lê oop in haar bewende hande en haar knieë druk hard op die ou, verweerde mat. Sy bid nie hardop nie, maar haar woorde donder soos kanonskote. Elke teksvers wat sy fluister, vorm pyle van lig wat in die duisternis inskiet en die demone wat hulle rondom haar kleinkinders wil tuismaak, uitmekaar laat spat.
Jesus het vir my nog ʼn ander toneel gewys van ʼn man wat net uit gewoonte bid. Hy herhaal die woorde sonder om te dink wat hy sê en sonder enige emosie. Sy lippe beweeg, maar daar kom geen lig daaruit te voorskyn nie. Sy gebede val op die grond soos as.
“Gebed sonder geloof is soos klank sonder krag. Dit laat lippe beweeg, maar nie die hemel nie,” het Jesus vir my gesê.
Toe die toneel weer verander, hoor ek honderde stemme vanuit verskillende plekke oor die wêreld. Almal aanbid God in opregtheid met liede wat soos goue drade hul huise, dorpe en stede oordek.
“Aanbidding is nie net musiek nie. Dit is ʼn verklaring van getrouheid aan My en die vyand kan dit nie verdra nie. Dit is ʼn klank van eenheid.”
Terwyl Hy nog gepraat het, het ek verhoë gesien waar “gospel”-sangers sing, maar die goue drade breek af en die lig om hulle word al hoe dowwer. Die vyand is glad nie bang vir hulle nie, want waar daar nie nederigheid is nie, daar is geen eenheid nie.
Nog ʼn keer het Jesus sy hand uitgehou na ʼn oorlogsveld waar die engele langs die gelowiges staan en wag. Sommige engele het skitterende swaarde in hulle hande, maar ander het niks. “Waar is hulle wapens?” het ek gevra.
Jesus se oë het soos vuur gegloei toe Hy my antwoord: “Die Woord van God is hulle swaard (Ef. 6:17), maar baie het dit onder stof en ander afleiding, vergete laat lê. Terwyl Jesus nog praat, het ek demone gesien wat Skrifgedeeltes in mense se gedagtes verdraai, halwe waarhede in hulle ore fluister om hulle sonde vir hulle te regverdig. Hulle gebruik vrees en kompromieë om dit reg te kry.
Ek het ook gelowiges gesien wat die Woord met oortuiging uitspreek – elke vers word ʼn verblindende lig wat deur die weermag van die duisternis sny soos ʼn vuurwarm lem.
“Wanneer my mense my Woord gebruik, dan herinner hulle die koninkryk van die duisternis aan sy ondergang. Wanneer hulle stilbly, dan leef hulle asof my kruis nooit plaasgevind het nie.”
Ek het só skuldig gevoel, my hart het eintlik gebewe. Op daardie oomblik het ek besef dat die Here vir ons alles gegee het wat nodig is om die geveg te wen. Die meeste van ons het net doodeenvoudig opgehou om te veg. Die grootste rede daarvoor is dat predikers dit nie vir hulle lidmate leer nie.
“Daar is selfs predikers wat sê dat daar nie so iets soos die koninkryk van die duisternis bestaan nie.” Toe Jesus sy hand weer ʼn keer oplig, verdwyn die slagveld voor ons in duisternis. Toe begin daar, een vir een, kolle blou lig flikker op die horison. Miljoene daarvan. Dit lyk eers soos sterre, maar toe besef ek dit is elektroniese skerms. Die hele wêreld voor ons gloei in die koue lig van fone, tablette en monitors.
Die mense se gesigte word daardeur verlig, hulle is betower daardeur en het geen idee wat met hulle gebeur nie. Jesus se woorde het my geskud: “ Die vyand skuil nie meer agter afgode van klip nie. Hy kruip nou weg agter pixels van lig.” Onmiddellik sien ek beweging, skaduagtige figure wat deur die skerms kruip soos slangetjies. Hulle fluister deur al die kommentare, die beelde, die video’s.
Ek het gekyk hoe ʼn jong man laatnag op sy bed lê en staar na sy foon. Hy vertel vir homself dat hy net ontspan, maar die geeste van wellus hang om hom rond. Elke beeld vorm ʼn nuwe ketting om sy verstand.
ʼn Vrou het tot vervelens toe deur die sosiale media ge-“scroll.” Sy vergelyk haar lewe met dié van ander mense, hulle vakansies, hulle glimlagte, hulle perfekte families. Elke gedagte van jaloesie en afguns produseer ʼn swart draad wat om haar hart draai, en die lig om haar, word al hoe dowwer.
Jesus draai na my toe en sê: “Tegnologie is bedoel om die mens te dien, nie te verslaaf nie. Hoe meer verslaaf hulle daaraan raak, hoe minder hoor hulle my stem.”
Ek sien ook ander gelowiges wat dieselde tegnologie gebruik om te preek, gebedskettings daarmee te begin, aanbiddingsmusiek te luister terwyl hulle vir God en Jesus aanbid. Hierdie gelowiges se woorde en optrede word soos strale van goue vuur wat die skadu’s tref en vernietig soos as in die wind. Elke Bybelvers wat hulle in waarheid met mekaar oor sosiale media deel, word ʼn swaard en elke gebed ʼn trompet wat die duisternis skud.
Tegnologie op sigself is nie boos nie, maar die gees daaragter wat dit so graag gebruik, is boos. Elke persoon het ʼn keuse hoe hy dit wil gebruik. “Die metode van oorlogvoering het verander, Sam. Die vyand veg nou deur julle aandag van My af weg te trek. As hy nie julle harte kan verrot nie, dan gebruik hy julle tyd en aandag.”
Ek voel hoedat trane oor my wange stroom, want ek sien myself oor so baie jare. “Jy kan nie ʼn oorlog wen wat jy weier om raak te sien nie,” hoor ek Jesus se sagte woorde. “Gaan vertel vir die mense dat die oorlog nou binne in hulle huise, in hulle hande en in hulle gedagtes is. Elke oomblik wat hulle mors, is grondgebied wat aan die vyand oorhandig word.”
Toe die visioene dowwer word, staan ek in ʼn nuwe plek, donker, swaar en versmorend. Daar was duisende stemme hoorbaar wat fluister, beskuldig en spot, alles so deurmekaar dat dit een groot gedreun is. Dit laat my siek voel.
Jesus staan langs my, sy gesiguitdrukking baie ernstig. “Hierdie is die strategie van die vyand. Hy hoef nie meer te brul nie – hy kan nou net fluister.”
Toe ek my kop draai, kon ek die oorsprong van al die gefluister sien. Dit kom vanaf klein, donker, skaduagtige figuurtjies – amper met menslike vorm. Hulle sluip onopgemerk tussen mense rond en fluister in hulle ore: “Hulle gee nie regtig vir jou om nie.” Vir ander fluister hulle: “Jy is nie goed genoeg nie.” Vir ʼn prediker fluister hulle: “Jy is ʼn mislukking, niemand luister na jou nie.” Vir ʼn ander fluister hulle weer: “Jy is só goed, die mense is mal oor jou. Kyk net hoe bewonder hulle jou.” Vir ʼn jong gelowige fluister hulle: “Jou gebede maak nie saak nie. Dit help tog nie.”
Elke leuen is soos ʼn saad wat, wanneer dit land, uitspruit soos takke in die donker. Dit draai om die mense se harte; die families begin baklei en argumenteer; kerke skeur in twee; vriendskappe verbrokkel – alles as gevolg van klein gedagtetjies wat in die vrugbare grond van hulle denke geplant word.
Jesus beduie na ʼn groep gelowiges wat in ʼn kerkgebou sit. Op die oog af lyk hulle heilig met hulle hande in die lug, breë glimlagte. In die geesteswêreld sien ek egter die waarheid. Donker drade van jaloesie, trots en agterdog is soos spinnerakke tussen hulle gespin.
Jesus kyk na my: “Die vyand verdeel hulle nie van buite af nie, maar hy verwoes hulle van binne af. Verdeeldheid is sy doel en sy geliefkoosde wapen is misverstande.” Ek sien hoedat ʼn stadige kettingreaksie in beweging kom. Een onversigtig verkose woord veroorsaak ʼn hele heining tussen twee mense. Een woord wat veroordelend klink, laat griewe ontstaan. Baie vinnig laat dieselfde eenheid wat daar eens tussen mense was, hulle nou uitmekaar dryf.
Ek sien iets wat nog donkerder is. Jesus wys vir my ʼn groep Christene wat aanlyn baklei – elkeen oortuig daarvan dat hy of sy die waarheid verdedig. Die demone dans tussen hulle rond en voer hulle woede. Beledigings en trots word soos vuurvonke in die geveg.
“Hulle dink hulle veg vir my,” het Jesus met ʼn stem gesê wat bewe van hartseer, “maar hulle veg teen mekaar in my Naam. Die vyand se doel is om hulle te verrot, Sam. Hy wil hulle verdeel, want ʼn verdeelde kerk het geen outoriteit nie. ʼn Gelowige wie se aandag so verdeeld is, het geen krag nie en ʼn mismoedige persoon hou op bid.”
Die woorde het my hard getref. Ek het gedink aan hoeveel keer ek presies dieselfde gedoen het; sonder liefde opgetree het.
“Hierdie oorlog word nie gewen deur harder stemme nie, maar deur stiller harte. Die vyand vrees diegene wat vinniger kan vergewe as wat hulle kan beskuldig.” Ek het besef dat dit die koninkryk van die duisternis se strategie is om sonder sigbare wapens te veg. Hulle laat gelowiges mekaar vernietig met onsigbare wapens.
Die fluisterstemme het stil geword en Jesus het my aandag op die horison gevestig. Vir die eerste keer vandat ek in hierdie geestesrealm ingekom het, het ek lig gesien. In die verte het ligstrale oor die slagveld aangekom. Dit het eers soos vonke gelyk, maar toe het ek besef dat dit mense is, gelowiges wat kniel, huil, sonde bely, oorgee. Elke traan van hulle wat op die grond val, gloei.
“Hulle is my soldate,” het Jesus gesê. “Dit is nie diegene wat die hardste skree nie, maar hulle wat hulself eerste verneder.” Die gesig voor my het helder geword. Ek het stede, huise en kerke gesien; Christene wat ontwaak – besef dat hulle vas aan die slaap geleef het, te midde van ʼn lewensbelangrike oorlog. Mans wat in jare nooit gebid het nie, val op hulle knieë neer. Vrouens wat kwaad en gegrief rondgeloop het, begin om te vergewe. Families wat al jare lank nie meer met mekaar gepraat het nie, sit weer saam aan etenstafels en huil en bid vir mekaar. Terwyl hulle dit doen, gebeur daar bonatuurlike dinge.
Engele wat vir lank stilgestaan het, lig weer hulle swaarde op en begin veg. Hulle wapenrusting blink al hoe meer soos wat die lig begin skyn. Elke woord van vergifnis veroorsaak skokgolwe wat kettings in die geesteswêreld uitmekaar laat spat. Elke opregte aanbiddingslied, hoe vals ook al, word ʼn banier van lig wat deur die donker mure beweeg.
Toe Jesus sy hand lig, hoor ek die klank van gebede in die lug opstyg. Dit is die gebede van elke nasie, elke taal en elke geslag. Dit was nie georganiseerd nie, maar dit was ʼn eenheid. Ek kon die krag daarin hoor. Elke amen was soos ʼn donderslag in die atmosfeer.
“Die herlewing het begin,” het Jesus gesê, sy stem gevul met vreugde, maar ook met hartseer. Daar is egter so min wat verstaan dat hierdie oorlog nog nooit oor grondgebied gegaan het nie, maar oor waarheid. Elke keer wanneer my mense kies om lief te hê, eerder as om liggeraak te wees, elke keer wanneer hulle kies om My te aanbid, eerder as om bekommerd te wees, dan gaan my koninkryk vooruit.”
Hy het ook vir my kerke gewys wat eens op ʼn tyd so verdeeld was oor leerstellinge, en wat nou weer in sondebelydenis bymekaar kom. Pastore het hulle trots laat vaar en vir mekaar begin bid. Jongmense lei aanbiddingsessies sonder mikrofone en luidsprekers, net met hulle stemme; in trane. Elke gebaar van liefde en eenheid stuur golwe deur die onsienbare wêreld wat die duisternis al hoe verder wegstoot.
Toe Jesus na my toe terugdraai, het sy oë ʼn ernstige opdrag bevat: “Samuel, gaan vertel vir my mense dat die tyd van passiewe geloof verby is. My mense is nie net toeskouers nie. Hulle is soldate. Hulle word in hierdie oorlog gebore, maar Ek het alreeds vir hulle die oorwinning gegee. Dit is tyd om wakker te word en op te staan.”
Terwyl Hy gepraat het, het die slagveld wat so grys was, begin verander. Blomme het deur die as begin groei en geblom, strome van lewende water het begin loop. Engele het hulle swaarde hemelwaarts gelig en van die swaardlemme af het lig geskyn wat oor die aarde versprei het.
Vir ʼn oomblik het ek die kerk van die Here Jesus gesien soos wat die hemel haar sien. Sy is nie swak en verdeeld nie, maar stralend, vreesloos, lewendig. Jesus het vir my gefluister: “Dit is wat gebeur wanneer my soldate onthou wie hulle is. Die hele oorlogsveld was nou goudkleurig. Die lug was polsend.
Ek het in verwondering gestaan en kon glad nie beweeg nie; ook nie praat nie. Elke klank was aanbidding en elke kleur was waarheid. In die middel van alles was Jesus, onbeskryflik stralend. Sy gesig was helderder as die son, tog so sag soos die oggendlig.
Die ewigheid was in Jesus se oë toe Hy vir my sê: “Sam, jy het iets gesien wat baie min mense op aarde nog ooit gesien het. Jy het die onsigbare oorlog gesien wat gevoer word vir elke mens se siel.”
Ek kon skaars fluister: “Here Jesus, wat kan ek doen?” Hy het my borskas met sy hand aangeraak en krag het deur my gevloei. Elke leuen wat ek geglo het en elke vrees wat ek gehad het, het weggesmelt.
“Jy moet teruggaan en gaan vertel wat jy gesien het – nie om die mense bang te maak, nie, maar om hulle wakker te maak. Gaan vertel vir hulle dat Ek die Oorwinnaar is. Al wat hulle moet doen, is om te kies of hulle My wil volg en dan te staan in my oorwinning.”
Terwyl Hy gepraat het, het nuwe tonele voor my begin afspeel. Daar was gelowiges, vas aan die slaap in kerkbanke; gesinne wat gefokus was op die eindelose geraas om hulle; pastore wat moeg en uitgeput was en aan hulle roeping getwyfel het.
Toe het daar ligflitse verskyn van jong mense wat bid, ouers wat huil en smeek vir hulle kinders se redding, gemeentes wat met suiwer harte aanbid. Elke geloofsvonk steek die volgende een aan en dit versprei soos ʼn wilde vuur.
“Tyd vir stilbly is verby. My mense is so weggesink in hulle gemak terwyl die vyand in hulle gedagtes oorlog voer. Sam, sê hulle moenie moedeloos voel nie. Elke keer as hulle my Woord hardop uitspreek, wanneer hulle vergewe, wanneer hulle heiligheid kies as lewenswyse, dan breek die lig deur. Die oorwinning is myne, maar hulle moet die geveg voltooi en volhard tot die einde toe.” (Matt. 24:13).
Skielik kon ek voel hoedat iets my wegtrek, terug deur die tyd. Ek het my liggaam leweloos op die hospitaalbed sien lê, omring deur dokters en masjiene. “Here,” het ek deur my trane gesê, “ek wil nie van U af weggaan nie.”
Hy het geglimlag. “Jy gaan nie van My af weg nie. Jy neem My saam met jou.” Jesus het sy hand op my kop gesit en vir my woorde gefluister wat ek nooit sal vergeet nie: “Vertel vir hulle dat Ek ook deur hulle veg. Hulle gebede skud die hemele. Sê vir hulle dat hulle aanbidding die hel rasend maak van vrees. Vertel vir hulle dat Ek binnekort kom en dat Ek nie ʼn slapende weermag wil kry nie.” Sy laaste woorde het geklink asof dit déur die skepping eggo: “Maak my soldate wakker, Sam. Die oorlog is nog nie verby nie.”
Toe ek my oë oopmaak, was ek in die hospitaalbed, snakkend na asem. ʼn Verpleegster skree vir die dokter. My vrou se gesig is bokant my sigbaar, haar oë vol trane. Ek was lewendig, maar ek het geweet dat ek ʼn ander mens was.
Ek was weg vir 6 minute – so sê hulle. Vir my het dit soos ʼn ewigheid gevoel. Die dokters sê ek is ʼn mediese wonder, maar ek wéét dat dit nie medisyne is wat my teruggebring het nie. Dit was genade. Jesus het my teruggestuur met ʼn opdrag.
In die daaropvolgende tyd kon ek nie slaap nie. Elke keer wanneer ek my oë toegemaak het, het ek dit weer gesien: Die slagveld, die engele, die fluisterende skadu’s, die geskree en die ontwaking. Dit was asof die beelde in my gedagtes ingeprent was.
Ek het geweet dat as ek sou stilbly, dan sou dit die res van my lewe by my spook. Ek het vir almal begin vertel wat wou luister – my pastoor, my vriende, my familie. Sommige het my geglo, ander het gelag, ander het gesê dit is net ʼn droom. Ek het egter geweet wat die waarheid is en wat ek gesien het.
Jesus het my nie teruggestuur om vrees by mense te kweek nie, maar ʼn bewustheid. Ek moes sy kerk wakker skud; gelowiges daaraan herinner dat hierdie lewe nie ʼn speelgrond is nie, maar ʼn oorlogsveld. Elke dag wat ons so ongeërg lewe, kry die vyand ʼn voorsprong.
Ek het begin om klankopnames te maak van dit wat ek gesien het, want hierdie boodskap brand in my soos vuur. Die oorlog is ernstig, en om stil te bly, is om oor te gee. Ek praat ook in kerke, klein groepe, oral waarheen ek genooi word. My boodskap is soos volg: Elke gelowige is ʼn soldaat; elke gebed ʼn wapen; elke keuse ʼn strategie. Sommige mense huil, sommige bely. Sommige luister in stilte.
Mense vra soms vir my waarom die Here my daarvoor gekies het – so ʼn gewone persoon. My antwoord is dít wat Jesus vir my gesê het. Die slapende weermag sal nie wakker word tensy iemand, net soos hulle, terugkom en vir hulle vertel wat hy gesien het nie.
Dit is nou al ʼn hele klomp maande sedert daardie aand wat ek teruggekom het. In werklikheid voel dit nie vir my asof ek dieselfde mens is wat terug is nie. Ek lewe nie meer vir my gemak nie, maar vir gebed.
My vrou sê my oë lyk anders – en dit is seker moontlik, want ek het gesien wat op die spel is. Elke siel, elke woord, elke keuse wat ons maak, is van belang in die ewigheid. Ek jaag nou gehoorsaamheid na en nie meer aardse sekuriteit nie.
As die fluistering vir my lieg en ek moedeloos raak, dan onthou ek Jesus se belofte dat ek Hom saam met my dra. Daarom sal ek tot my einde toe stry om gelowiges wakker te skud.
“Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug” (Ef. 6:12).