Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God het ons nie die lewe gegee om dit so ver as moontlik uit te rek nie. Hy het ons die lewe gegee as ʼn geleentheid om vir die ewigheid voor te berei.
BRIEWE AAN CHARLES (19)
Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
My groot “gatslag”
Beste Charles,
Jy het haar altyd aangespreek as “my dear”. Ek dink jy het probleme gehad om haar naam, Maryna, lekker uit te spreek. Ek wil hê jy moet ’n brief lees wat sy op my sewentigste verjaardag aan my geskryf het. 'n Bekende vrouetydskrif het dit gepubliseer. Uit die brief kan jy aflei van die groot “gatslag” wat my getref het. Dit is nie nodig dat ek soos ’n wafferse smartvraat verder oor die ding praat nie. Lees maar self. Jy sal ’n paar name in die brief teëkom wat jy nie ken nie. Jy onthou seker die program 50/50. Dit is ’n program oor die omgewing wat op TV vertoon word en waarvan ek vryskutaanbieder was. Dit is 'n program wat my altyd baie na aan die hart gelê het en die aanbieding daarvan is sekerlik die een ding wat ek naas rugby-uitsaai die meeste mis. Maar eers terug by die brief.
Jy en koning Elizabeth II van Brittanje is albei kinders van 1926. Jy, my man, word op 23 Mei 70 jaar oud. Maar jy lyk soveel beter as sy. Jou hare is nog gitswart met net so ’n titseltjie grys langs die slape. Ek het verwag dat jy ná die groot trauma in jou lewe grasgrys sou wees - maar net ek het grys geword. Niemand glo dit as ek trots vertel jy word sewentig nie. Almal skat jou so in die vyftig.
Dis November al ses jaar gelede dat jy jou stem verloor het. Al die herinneringe is nog so vars in my geheue.
Ons was Desember in die Kaap. Gerda en Johann, ek en jy. In Dirk de Villiers se huis op Gordonsbaai. Julle het opnames vir 50/50 gemaak. Jy het gedurig gekla van iets in jou keel wat jy nie kon afsluk nie. Nooit oor pyn nie. Ek wonder hoeveel suigtablette het ons gekoop.
Die wind het verskriklik gewaai om die hoeke van die huis. Ek het dit regte selfmoordweer gedoop. Ek was so bly toe ons kon terugkeer huis toe. As ek nou so terugdink, wonder ek soms of dit ’n soort voorteken was van wat vir ons in die daaropvolgende jaar voorgelê het.
Ons het jou 65ste verjaardag gevier. Ook die koms van Terteus, jou nuwe kleinseun, in die groot ou rietdakhuis op Broederstroom. Ons het vir onsself 'n videomasjien gekoop vir jou verjaardag. Ons het gestry oor hoe om die ingewikkelde gedoente ingestel te kry. So met die gesukkel saam het jy vir ons elkeen ’n whisky met flenterys geskink. "Flenterys” is die woord wat jy geskep het vir die Engelse woord “crushed ice”. Terwyl ek besig was met die instruksieboek vir die instel van die masjien het jy vir jou nog ’n tweede whisky geskink. Die ys in die glas was min en jy het sommer water bygegooi uit 'n bottel wat op die koffietafel voor jou gestaan het. Jy het gesluk, gelyktydig geproe en geruik dat dit nie water was nie. Daar was paraffien in die bottel, soortgelyk aan die waterbottel in die yskas. Getroue ou Sarah, ons huishulp, het dit daar neergesit om verwarring te voorkom. Dit was bedoel vir die paraffienlampie op die koffietafel, want die krag in Broederstroom het meer as dikwels die gees gegee.
Ek het jou met melk probeer dokter, maar die antibiotika wat die dokter voorgeskryf het, het die ding gedoen. Die res is geskiedenis. Die Donderdag daarna toe jy vir die soveelste keer ’n besoek aan die keelspesialis gebring het, het hy die kankergewas met sy blote oog gesien. Van jou stem toe jy my by die SAUK gebel het, het ek afgelei iets groots is verkeerd.
Vrydag moes jy ’n laringoskopie kry. Die dokter was daardie dag vreemd afsydig. Slegte nuus het op sy voorkop gestaan. Ek onthou die trane het oor my wange gestroom toe hy vir ons die ding by sy naam noem. Vir my het die woord “kanker” net een ding beteken - die dood. Jy was so onnatuurlik kalm toe jy my trane afvee.
Die groot stryd het begin. Ek onthou goed hoe ons snags wakker gelê het. Elkeen met sy eie gedagtes. Geworstel met al die hoekoms en waaroms. Waarom jy? Hoekom keelkanker? Waarom het jy nie ’n ander vorm van kanker gekry nie? Sou dit nie meer aanvaarbaar gewees het nie? Ek het vir jou Jan van Arkel se Hou U my hand gekoop. Dit net so baie soos jy gelees. Ons het mekaar desperaat probeer troos. Ons het so hard gebid dat die bestraling sou help. Jou stem het al heser en heser geword maar jy het aangegaan met jou aanbieding van 50/50. Ook met jou rol in Sonkring. Ons het bedags normaal probeer voortgaan, maar snags het die groot vrees die oorhand gekry. Jy het geweier om die operasie te ondergaan. Jy wou eerder met ’n hees stem lewe as met geen stem nie.
Ons het selfs na ’n ander dokter gegaan vir ’n tweede mening. Sy uitspraak, dat hy jou nie ’n dood van versmoring gun nie, het ons geen ander keuse gelaat nie.
Die Saterdagoggend van jou operasie het aangebreek. Jy het my altyd “ou seun” genoem. Oom Mike kon dit nooit verstaan nie. Hy het altyd gesê ek is so vroulik, hoekom sê jy vir my “ou seun"? Dit was maar jou troetelwoord vir my. Halfsewe die oggend het hulle jou uitgestoot op 'n waentjie. Jou laaste woorde, “goodbye, ou seun”, kan ek nou nog duidelik hoor. My laaste weerstand het verkrummel en ek het hardop gehuil.
Die lang wag het begin. Elke paar minute het ek op my horlosie gekyk. Jou dogter Elizabeth het by my kom sit. Sy het gesit en boeke nasien. Ek het geweet in haar hart het sy met dieselfde vrese as ek gesit. Halftwee het die narkotiseur my in jou kamer kom haal. Hy het gewaarsku jy iyk sleg. Maar hoe lyk sleg - wat moes ek verwag?
Ek wou flou word toe ek jou sien. Jou gesig was vierkantig geswel. Die suster het geduldig probeer verduidelik van al die buise en masjiene waaraan jy gekoppel was. Sy het my die sny gewys wat van jou linkeroor tot by jou regteroor gestrek het.
In jou oë was ’n wildheid wat my bang gemaak het. Ek wou met geweld uit die waaksaal vlug. Die geluide van al die masjiene het so onheilspeilend geklink.
Leana Laubscher het 'n boekie gebring waarin jy jou eerste woorde geskryf het. Ek bêre dit soos ’n kleinood: “Waar is my vrou?”
Jy was so verskriklik maer in jou blou hospitaalpajamas. Jy het net sestig kilogram geweeg. Elke keer as jy regop gestaan het, het die blou broek sommer op die vloer geval. Maar reeds in daardie dae na die operasie het ek geweet jou gees is nie gedemp nie.
Jan Geldenhuys was die eerste mens wat jou kom besoek het. Toe hulle jou in die gang afstoot van die waaksaal na jou kamer het hy van die teenoorgestelde rigting aangestap gekom. Jy het hom met jou tipiese gasvryheid ’n whisky aangebied.
Al die Janne het gekom om te kyk hoe dit gaan. Jan Geldenhuys, Jan Scholtz, Jan Snyman. Al die vriende. Die matrone en die personeel van die hospitaal was so behulpsaam.
Die dokter het 'n sielkundige na jou gestuur om te help om die trauma te verwerk. Ek onthou nog hoe sy jou oor alles uitgevra het. Hoe jy elke antwoord vir haar moes neerskryf. Hoe jy vir my geskryf het sy moet tog asseblief nie weer kom nie.
Na agtien dae is jy uit die hospitaal ontslaan. Ek was so bang om alleen saam met jou huis toe te gaan. Hoe sou ek al die take van die hospitaalpersoneel kon oorneem? Die huis was so groot. Elke keer moes ek van die een vertrek na die ander hardloop om jou boekie waarin jy alles vir my geskryf het, te gaan haal. Die telefoon het onophoudelik gelui.
Om kos in jou liggaam te kry was ’n uitmergelende proses. Die kanker het aan jou slukderm vasgegroei en om dit verwyder te kry, is jou slukderm erg vernou. Jy het met elke ete vir my sorgvuldig neergeskryf wat jy wou eet. Vrugtesap, joghurt, jellie en via, ’n melkdrankie. Alles wat ’n mens maar net kon sluk. Maar vir jou was dit nie so maklik nie. Ek moes jou neus toedruk en jou tegelykertyd voer. Alles het deur jou neus teruggestoot. Elke ete was vir ons albei 'n marteling. Elkeen het amper drie uur lank geduur. Ons was net klaar met die een maaltyd dan het ons al weer begin worstel met die volgende.
Baie dae was jy moeg en ongeduldig. Jy was honger, maar al ons pogings om iets in jou liggaam te kry was onsuksesvol. Ek het besluit om nooit my geduld met jou te verloor nie. Ek was party dae self so moeg. As dinge vir my te veel geword het, het ek maar net 'n draai gaan stap. Nooit iets lelik gesê nie. Ek het altyd gevoel dis nie jou skuld dat so iets met jou gebeur het nie.
Toe jy uit die hospitaal ontslaan is hier kort voor Kersfees, was al ons goeie vriende weg met vakansie.
Oujaarsaand van 1990 was net ons twee alleen by die huis. Jy het vroeg gaan slaap. Ek het dikwels aan jou geraak net om seker te maak jy haal nog asem. Jy slaap altyd met jou hand op my boud. Daardie aand het ek nogmaals dankie gesê dat jy nog lewe. Ek kon net sowel ’n weduwee gewees het.
Daardie aand nadat ek die kamerdeur agter ons toegemaak het, het die wete by my opgekom dat elke mens sy eie lewe moet lei. Ten spyte van goeie vriende en belangstellende vreemdelinge het ek beset ons moet ons eie heil uitwerk.
Ons was so opgewonde toe jy jou eerste woorde kon sê. Jy was by twee geleenthede by 'n spraakterapeut, maar net soos met die sielkundige het jy probeer om jouself te help. Jy het ure voor die spieel deurgebring. Soms het ek trane in jou oë bemerk soos jy geswoeg het om ’n klank voort te bring. “Pappot” was een van die eerste woorde wat jy weer kon sê. “Scotch” ’n ander. Ek het jou selfs vloekwoorde geleer sê, want die eksplosiewe klanke was van die eerstes wat jy bemeester het.
Baie mense het gedink jy het ook doof geword. Hulle het geneig om vir jou te skree. Ander het met handgebare vir jou iets probeer wysmaak. Nog ander het die pen uit jou hand geneem en jou skriftelike vrae skriftelik beantwoord. Ons kon maar net lag.
Jy was nog altyd ’n mens vir mense. Toe ek met jou getroud is, het dit vir my gevoel of ons elke dag mense onthaal. Sondag na Sondag het jy mense genooi vir ete. Ek het soms die gedagte gekry jy is bang om alleen te wees. Na jou operasie het ek gevoel ons moet nooit mense van jou af wegneem nie. Al kon jy nie goed kommunikeer nie, was dit vir my belangrik dat jou vriende steeds deel van jou lewe bly.
Jy kon altyd sulke lekker grappe vertel. Baie van hulle tot vervelens toe. Ek het dikwels gewens jy kon net ophou om dieselfde grappe oor en oor te vertel. Vandag wens ek ek kan dit net weer eenmaal hoor. Jy kon Shakespeare voordra. Ons het altyd saam gesing: “With someone like you, a pal good and true” en “Red sails in the sunset”. Jou groot gunsteling is natuurlik “The green, green grass of home”. Jy sê mos ons moet dit eendag op jou begrafnis speel.
Net na jou operasie kon nie een van ons dit verdra om jou stem iewers op die radio of televisie te hoor nie. Ons wou glad nie daarna luister nie. Nou gaan dit al makliker. Daar is nog die een of ander radioflits wat gedurig gehoor word en dan en wan ’n snit uit ’n rugby-uitsending. Nou klink jou baie-praat stem vir my vreemd. Seker omdat ek gewoond geword het aan jou fluisterstem. Jy is so dikwels op my aangewese. Ek het jou amptelike tolk geword. Jy wil nog alles doen soos voorheen. Op ’n groot funksie is jy totaal en al verlore.
Pas na jou operasie was ons saam met vriende op Mabalingwe vir die naweek. Met sononder was die toneel buite skouspelagtig. Daar het mooi musiek op die radio gespeel. Ons het daar besef hoeveel rede tot dankbaarheid ons nog het. Jy kon sien, jy kon hoor, jy kon vrylik rondbeweeg. Jy kon nou wel nie praat nie - in daardie stadium het jy nog geskrywe. Maar jy leef. As 'n mens gekonfronteer word met die keuse: jou lewe of jou stem, is daar werklik geen keuse nie.
Vandag kyk ons met dankbaarheid terug. Baie van jou kollegas wat gebel het gedurende jou siekte is vandag nie meer daar nie. Die vonkel in jou oë is terug. Jy kan nou wel nie hard praat nie, maar jy is nog steeds die Gerrie van ouds. Jou humorsin is steeds daar. Ek wat jou binnekamer met jou deel, weet jy is ’n groot gelowige mens. Ek weet jy het vrede gernaak met die feit dat jy nie meer kan praat soos voorheen nie - hoewel ek dikwels weet as jy so voor die TV sit, wil jy darem baie graag die kommentaar van daardie spesifieke sportsoort behartig. Veral met die Wêreldbekerrugby het ek die verlange in jou oë opgemerk.
Jy het ’n vol lewe gehad. Jy het die wêreld vol gereis. Jy het oral vriende gemaak.
Vandag bring ek hulde aan jou. Die afgelope ses jaar het ek jou nog nooit een dag hoor kla nie. Jy bly die ewige optimis. Jou stem was jou alles. Jy het dit verloor, maar jy het nie jou vertroue in jou medemens en jou Skepper verloor nie.
Ek sou so graag vir jou vyftig weke per jaar in die Kruger-Wildtuin wou skenk. Jy is so lief vir daardie wêreld.
Ek wens ek kon jou help om makliker te sluk.
Jy was so bang dat ek jou sou verstoot. Bang ek sou gril as ek jou keel moes versorg. Nou is ons die 23ste al sestien jaar getroud. Jy spot altyd en sê dis sestien jaar te lank.
Dit was nog altyd lekker saam met jou. Nooit 'n vervelige dag nie. Die “iets” tussen ons is baie spesiaal. Hoe arm sou my lewe gewees het sonder jou.
Ou Charles, die laaste keer wat ons mekaar gesien het, was by jou geliefde Wanderersklub toe ons saam met Dana Niehaus deur SA Brouerye vereer en op hulle Ererol van Sportkommentators geplaas is. Dit was in 1991. Jy het toe al ’n ligte beroerte gehad en was baie maer. Ek kon nog nie praat nie. Ons drie was so bly om mekaar te sien. Daar is net oor ons gloriedae gedink en gepraat en nie oor siektes en terugslae nie. Daarom dat jy nou eers volledig van my “gatslag" hoor.
Groete,
Gerhard.