Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Besef u dat Jesus se opstanding belangriker is as enige ander dag, selfs Kersfees? Enigiemand kan gebore word, en enigiemand kan sterf, maar niemand anders ooit het weer opgestaan en ons plek in die hemel gaan voorberei nie. Daarom behoort ons dit met groot blydskap te vier.
DIE GROOT KLEIN JAKKALSIE…
Ons hoor deesdae al meer hoe ons mooi taal verwronge en verniel word. Mens hoor bykans nooit meer een sin wat nie vol Engelse en verdraaide Afrikaanse woorde is nie – dit by oud en jonk, en almal Afrikaners! Maar hiervoor is daar 'n spesifieke rede en ons volksvyande sit vierkantig hieragter: verdeeldheid in 'n volk het dikwels in ons geskiedenis ook ons taal op meer as een manier skade aangedoen; daarby het ons volksvyande die insig om te weet as hulle ons taal van ons vervreem, vernietig hulle ons identiteit, so verloor ons ons trots, en só is ons 'n oorwonne volk met geen toekoms. Die teenoorgestelde ook waar: deur alle tye wanneer sterk nasionalisme sigbaar was het dit Afrikaans op meer as een manier bevoordeel. En tans toon ons allesbehalwe 'n sterk nasionalisme en trots op ons eie.
In ons geskiedenis is talle voorbeelde van tye van verdeeldheid onder volksgenote wat tot die verwaarlosing van Afrikaans gelei het. Een daarvan is "De goddelose inval van Duits-Zuidwest", soos genl CF Beyers dit op 29 Oktober 1914 genoem het toe die Louis Botha-regering met die Suidwes-veldtog begin het. Baie Afrikaners was net so omgekrap oor hierdie besluit wat die regering op 10 Augustus 1914 geneem het om die Britte ter wille te wees. Die ontevredenheid was verstaanbaar want dit was maar twaalf jaar ná die Vrede van Vereeniging. Die ellende wat die Britte aan Afrikaners op eie bodem kom aanrig het in die Tweede Vryheidsoorlog van 1899 tot 1902 was selfs in ander lande met groot afkeur bespreek, soos in Holland waar die Gereformeerde leier, Abraham Kuyper, se woorde soos volg was: "Met afschuw herinnerden zij zich wat Engeland de Afrikaner Boeren hadden aangedaan."
Logies dat daar opstand gekom en waaruit die Rebellie ontstaan het wat uiteindelik 'n jammerlike mislukking was as gevolg van onderdrukking daarvan deur genl Botha. Hy kon dus triomfantelik daarna met 43 000 Boere teen die ongeveer 9 000 Duitsers optrek waarop die Duitsers hulle op 9 Julie 1915 oorgegee het.
Die Rebellie het natuurlik verdere politieke verdeeldheid onder Afrikaners veroorsaak. Selfs in die kerk wat uitgesproke hieroor was, het groot verdeeldheid ontstaan maar ons moet onthou dat die ontaktvolle besluit om Afrikaners op te kommandeer om Suidwes te gaan verower hierdie ding aan die gang gesit het.
Opstandelinge het voortdurend na taalongelykheid verwys. J A B Joubert, wat in genl De Wet se voorlopige gehoor getuig het, hom nie wou laat omhaal om nie te rebelleer nie en uiteindelik aangehou is, het uit aanhouding vir sy vrou 'n brief in Engels geskryf. So sterk is daaroor gevoel dat genl De Wet vir hom gesê het: "Jij is 'n Afrikaner en jij skrijwe in die taal van die helle onder wie ons lij!"
Genl De Wet was 'n sterk taalbewuste Afrikaner wat hom dikwels uitgelaat het oor die taalkwessie. In sy pleidooi op 'n kongres te Brandfort reeds op 1 en 2 Desember 1904 het hy hom beywer vir eie skole ter wille van die eie taal: "Al moeten wij onszelf en onze familien van benodigdheden afknijpen om onze taal te behouden, zullen wij het doen tot den dag dat het God sal behagen het hart van die Regering te weken alvorens ons volk uitgewist is." Hierdie hartstogtelike pleidooi was vir fondse vir die C.N.O. – skole (Christelike Nasionale Onderwys) waar die Boerevolk hulle eie taal kon huldig. (Vandag het ons die C.V.O – skole tot ons redding).
Selfs De Volkstem het in sy kommentaar op die opstand en rebellie verwys na die verwaarlosing van Afrikanerbelange waarvan die opvallendste die taalregte was.
Die Rebellie het egter op die lange duur Afrikaans onregstreeks bevorder omdat die opstand Afrikanernasionalisme begin versterk het. Uit hierdie groeiproses het 'n Bloemfonteinse koerantjie Het Westen (later Het Volksblad) getuig aangesien dit minstens ses maande ná die Rebellie "byna die enigste koerant in Suid-Afrika is wat nog vir die regte van die Afrikaner pleit", het die redakteur self geskryf.
Daar is soorgelyke voorbeelde van nasionale oplewing soos in die jare voor en tydens die Eerste Vryheidsoorlog toe Die Afrikaanse Patriot al hoe meer lesers bygekry het weens sy sterk pro-Transvaalse standpunt. 'n Nasionale oplewing van Afrikaners as gevolg van die anneksasie van
Transvaal en die Vryheidsoorlog het 'n soort parallel in 1915 gekry: 'n groter nasionale oplewing vanweë die Rebellie en sy nasleep – die groei van Het Volksblad (en later De Burger vanaf 1915) – die groei van die Nasionale Party.
Daar was meermale gerugte van opstande wat kon uitbreek en die volk se nederlaag het hulle telkens van selfrespek en eiewaarde ontneem. Die leiding van hierdie nasionaalgesinde koerante saam met die regte politieke en ander leiers het grootliks bygedra om die Afrikaners hul selfrespek te laat herwin.
'n Politieke gevolg van die Rebellie en oplewing van Afrikanernasionalisme was die versterking van die Nasionale Party. Die Rebellie het nog meer Afrikaners se antipatie teen die regering van Louis Botha laat opbou, soos ook die teregstelling van Jopie Fourie wat die gemoedere gaande gemaak het teen genl Smuts.
Die Nasionale Party se oorwinning het Afrikaans baie bevoordeel. Terwyl die Botha- en Smuts-regerings al meer moes staatmaak op Engelse steun, onder andere op mense soos die Unioniste en sir Percy Fitzpatrick wat 'n kabaal opgeskop het oor die toepassing van die tweetaligheidsbeginsel, het Afrikaners op alle vlakke nader na mekaar gekom in die Nasionale Party en het Afrikaans begin gedy.
Laat in die sewentigerjare het die Afrikaner se volksvyande egter nog 'n grootse poging aangewend om ons volk te probeer vernietig, en soos ons die geykte ou deuntjie reeds goed ken, het die Engelse pers weer 'n volskaalse aanslag op Afrikaanse instellings geloods met die 'apartheid'- storie. Dit was nie lank nie toe selfs eens nasionaalgesinde Afrikaanse koerante begin saamsing en moedertaalskole as 'n vorm van "blanke apartheid" veroordeel het. Wat hulle almal doelbewus verswyg het is dat afsonderlike skole en organisasies binne ander taalgroepe net so algemeen is. Politici en koerante wat eers teenstanders van tweetaligheid op ander terreine was het hulle ewe skielik as voorstanders daarvan voorgedoen in die stryd teen moedertaalskole.
Onderwys het nog altyd 'n betekenisvolle rol gespeel om die kind sy moedertaal te laat behou of 'n ander taal oor te neem. Wanneer 'n kind se moedertaal vir hom vreemd word is daar natuurlik nie meer trots en waardering daarvoor nie en gaan sy selfwaarde, sy oorsprong en ankers verlore. As 'n Afrikanertjie nie meer sy taal ken nie (en daarby sy geskiedenis wat van hom weggeneem is in die skole onder die ANC) kan daar lateraan van 'n volk geen sprake wees nie. Dit weet ons volksvyande nog deur alle eeue. Daarom is daar deur die kommunistiese ANC ná oorname in 1994 groot veranderinge op alle vlakke van onderwys aangebring.
NP van Wyk Louw het in die eerste reël van sy gedig 'Nuusberigte: 1956' gevra:
"Het my land 'n ander geword as wat ek ken?"
Hy kon vandag gevra het: "Het my volk en sy taal dan 'n ander geword?"
Die verdeeldheid op politieke terrein is die gevolg van die verwarring wat ons volksvyande doelbewus gesaai het sodat hulle ons as volk kan vernietig want onthou wat pres Kruger aan hulle gesê het: "...Dis my land wat julle wil hê!", en so is dit vandag nog.
Die vyandskap onder volksgenote is groter as ooit in ons geskiedenis. Onder verdrukking van die huidige godlose regime vergroot hierdie afstand tussen Afrikaners by die minuut. Dwaalleërs vind met groot spoed hulle weg in die harte van eens vasgelowige Afrikaners. Hulle veg met mekaar oor die onbenulligste en maak daarvan die allerbelangrikste. En in die proses besef hulle nie dat hulle vinnig oppad is om geen volk te wees nie.
Ons vyande het drie wyses om van ons ontslae te raak:
1. Ons word uitgemoor;
2. Ons word opgeneem in ander volke;
3. En vir diegene wat nie hiervoor kans sien nie wag die vlug na die buiteland wat op dieselfde as 2. neerkom.
Daar is nie vandag 'n kitsoplossing vir hierdie probleme behalwe om op ons knieë by ons Hemelvader te pleit nie, want om voort te gaan op die argelose wyse waarop ons ons taal verkrag sal dit grootliks bydra tot die vernietiging van ons arme volkie. Ons leer tog dat die klein jakkalsies uiteindelik die wingerde verniel. Kan ons nie maar besef wat die krag van hierdie 'klein jakkalsie' is en daadwerklik iets daaraan doen om ons ondergang te vertraag nie? Net dalk wen ons 'n minuut wat ons volkslewe spaar!