Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gebed verander sake. Maar dan moet ons dit nie net in tye van nood wil gebruik nie. Mense wat net in hul nood wil bid en verwag dat dit onmiddellik moet verdwyn, dryf eintlik met God die spot. Gebed is nie ‘n towerformule wat opgesê word en siedaar dinge verander nie!
BROKKIES UIT DIE BOEK HELDELAND (4)
083 444 7672)
Jona skrik wakker. Hy ruik hulle nog voordat hulle by hom is, en hy kry genoeg tyd om die geweer oor te haal voordat die eerste een by hom is. Instinktief skiet hy in die man se rigting en die koeël tref die ou aan die linkerkant van sy bors. Die projektiel mis die man se hart, maar perforeer sy long. Die man is egter nog teen die impak bestand; adenalien en die liggaam se natuurlike weerstand daarteen maak dat hy net ‘n klap teen die bors voel. Die gevolge sal eers oor ‘n paar minute kom. Hy pluk die geweer uit Jona se hand en skop na hom.
Oubaas het opgevlieg en byt na ‘n ander paar bene. Hy kry egter ‘n skop wat sy wind uit hom uitslaan en hy bly vir die oomblik lê. Hy is nog ver van uitgegroei af en hy het seer. Hy tjank-tjank en gaan staan so ver as moontlik van die manne en sodra hy sy wind terugkry blaf hy sonder ophou.
‘n Ander een gryp vir Bella en ruk haar uit haar bed uit. Jona het losgeruk en met die beweging agteroor geval. Hy kry die mes in die hande en sny verwoed in alle rigtings. Een van die manne kry ‘n diep sny aan die bo-been en ‘n ander ‘n minder ernstige een aan die voorarm. Na ‘n vinnige en hewige gestoei, het hulle hom vas en alhoewel Bella byt en skreeu, het hulle binne minute die twee vasgemaak en hulle monde toegebind. Hulle dra die twee krieweldende lyfies die berg af en laai hulle in die wagtende Volkswagen Mikrobus.
*
In die vroeë oggend hoor Basjan Jones die sagte, maar onmiskenbare voetstappe van etlike mense. Hy het, soos gewoonlik, twintig meter van sy Jeep en vuurmaakplek gaan slaap. Die kole van die vuur is lankal geblus, maar die effense brandreuk van die vuur in die nat van die oggenddou kan ver geruik word.
Dis op hierdie reuk waar die vyftien manne nou afloop. Hulle loop versigtig, maar Basjan was nie verniet ‘n spesmagte soldaat nie en hy het hulle gehoor. Hy kom versigtig uit die slaapsak, met die pistool klaar gespan en die veiligheidsknip af. Die manne is nou seker dat hulle by hom is en storm na waar enige ander mens sou lê en slaap.
Onder ander omstandighede sou Basjan maar net in die donker verdwyn het, maar wanneer hulle in die Jeep begin krap, is sy geduld op. Sonder waarskuwing skiet hy na die man by die Jeep en dan ‘n tweede en derde een. Hy beweeg na sy regterkant toe, feitlik geluidloos, sonder haas, maar doelgerig en seker van sy treë.
Die manne trek los met hulle eie wapens na waar hy was en hulle skote is ongemik, maar soekend na waar hy kon wees. Oombliklik skiet hy weer en weer, herhaal die prosedure wat hy in die ou S.A.W. geleer het en wat eindeloos by hom ingedril is. Hy herlaai en sit die leë magasyn in sy bruindragbroek se bobeen-sak. ‘n Nuwe figuur staan afgeëts teen die effense skynsel van die nuwe dag en hy skiet weer twee skote daarheen. ‘n Gekreun dui aan dat dit raak was. En dan kraak die takke soos die oorblywende paar maak dat hulle wegkom.
Basjan wag vir tien minute en as hy seker is niemand wag hom in nie, loop hy versigtig nader. Hy kyk nie vir dooies of gewondes nie, maar pak sy slaapsak en die paar goed wat rondstaan vinnig, maar nie oorhaastig nie, in die Jeep, span die seil oor die agterkant en vertrek. Onder in die pad, nadat hy links gedraai het, sit hy die hoofligte aan en op die grondpad verby Fundudzi kan hy vinniger ry.
Die pad verby die heilige woud, die waterval en die lang plantasie glip gou verby en, net sodra die son agter die berg opkom, is hy by die T-aansluiting Sibasa of Wyliespoort toe. Net voor hy die teerpad wil oorsteek om regs te draai, kom ‘n wit Volkswagen bussie van sy regterkant aangejaag, hoofligte flitsend. Hy stop betyds, maar die voertuig swaai uit en dan weer reguit, in die rigting van Sibasa.
Hy los ‘n paar knope en ry dan aan. By die Witvlagpad draai hy links en dan oor die kruin van die eerste hang van die berg, verby die Sterkstroom afdraai en reguit na die N1. Hy weet nog nie waar hy ‘n nuwe kamp sal maak nie, maar dink dat hy dit verkieslik teen die Westekant van die grootpad moet maak.
Die lig is nou al so sterk dat hy die hoofligte kan afskakel. Die volgende oomblik is daar iemand voor hom in die pad. Hy wil eers aan die regterkant van die mense verbygaan, maar dan sien hy hulle hou ‘n jong hondjie voor hulle uit. Hy rem instinktief. Hy is nou nie juis erg oor mense nie, maar diere het hom nog nooit kwaad aangedoen nie. Met tru-rat geskakel, ry hy agteruit tot by hulle, die MP5 in sy hande. Van die vroue gil en hou hulle koppe vas, maar die man met die hond in sy hande staan regop en beduie dat hy nie gewapen is nie.
“Wat wil julle hê?”
“Meneer, ons soek hulp.”
“Moenie my tyd mors nie. Wat wil jy vir die hond hê?”
“Asseblief meneer. Dis nie ons nie. Dis oor twee wit kinders wat gevat is.”
“Jy mors my tyd. Moenie strooi praat nie, man! Jy maak nie sin nie. Watse wit kinders?”
“Meneer ek sweer voor die Here. Hulle het vir ons vleis gegee en ons het hulle gehelp. Hulle het nie geweet ons weet waar hulle bly nie, maar ons het baie gelag vir hulle. Die klein meisietjie was net anderdag siek en ons het haar gehelp. Ek sweer meneer.”
Daar is iets aan die mense se houding wat maak dat Basjan hulle glo.
“Okay. Sê nou ek glo jou. Wat kan ek doen? Dis nie my moeilikheid nie.”
“Meneer, ek sweer weer, meneer. Ons wil die kinders net help. Dis of hulle ons kinders geword het. Hulle het gebly hierbo in die grot. Die mannetjie, hy is seker so nine of ten, hy het altyd geskiet vir ons die vleis. Laat ek saam met meneer ry, ek sal jou gaan wys. Jy kan my hande maar vasmaak hier aan die roll-bar as jy my nie trust nie. As ek praat nie die waarheid, meneer kan my maar skiet.”
“Klim. Maar ek skiet jou wragtag as jy iets probeer.”
Met die man in die passasiersitplek en die ander wat agterna kom, ry hulle die berg op. Soos die kraai vlieg is dit nie baie ver nie, maar dit vat vir Basjan ‘n goeie twintig minute om by die grot te kom. Hy stop en kyk die man langs hom waarskuwend aan. Sy waaksaamheid verslap nie ‘n oomblik nie.
By die bek van die grot huiwer hy ‘n paar oomblikke om sy oë kans te gee om die half-donker gewoond te raak. Dan sien hy agter in die grot die trekker staan en die kinders se karige goedjies eenkant geskop. Hy draai skerp om as hy ‘n geluid skuins agter hom hoor. Hy rig die sub-masjiengeweer op daardie plek. ‘n Man lê en kreun op die grond. Wanneer hy asemhaal, kom daar bloederige skuim by sy mond uit.
“Help my, meneer.”
“Wat het gebeur?”
“Daardie klein seuntjie het my geskiet.”
Hy glimlag effentjies deur die pyn en geroggel.
“Hy is ‘n regte mannetjie daai.”
“Is jy van daardie mense wat onder in die pad was?”
“By die pad? Met die Vee Double U?”
“Waarvan praat jy, man!”
“Haai! Die man wat die kinders vat. Met die Vee Dub kombi.”
“Nee. Die mense met die hond”.
’n Verdwaasde trek kom oor die man se gesig, en dan vertrek dit van die pyn. Die adrenalien is afgewerk.
“Meneer, ek weet ek vrek. My mense het my net so gelos. Help my, dan vertel ek jou.”
“Hoe moet ek jou help?”
“Vat jou gun en sit enetjie net hier.”
Hy wys met ‘n bloederige, bewende vinger na die middel van sy voorkop.
“Goed, vertel. Ek weet nie wat nie, maar vertel.”
“Hulle vat daai mannetjie en sy witkop sussie na ‘n skip by Mosambiek. By Maputo. Hulle verkoop hulle by die Arabs.”
“Watter skip? Hoe weet jy?”
“Morvana. Ek dink dis die naam. Jy moet gou maak, soldaat. Ja, ek kan sien jy is ene. Ek het saam jou baklei lankal.”
Basjan kom regop. Hy het al baie mense geskiet en hy het ‘n eelt oor sy sensitiwiteit gekweek deur die jare. Tog huiwer hy nou. Daar is darem ‘n ding soos koelbloedigheid ook. Die man op die grond wink hom nader en wanneer hy weer neerkniel, vat die man die wapen se loop met ewe bewende vingers, druk die tromp teen sy voorkop en maak sy oë toe.
“Kom nou witman.” hyg hy tussen die bloed-skuim deur.
Basjan trek die sneller en ‘n koeëlronde gaatjie verskyn voor sy voorkop. Die grond spat bloederig agter sy kop uit. Geskok kom Basjan regop. Hy tel die paar stukkies klere op en ook die velletjies van die bosbok en die hase. Die man wat saam met hom gery het hou Jona se groot jagmes hef eerste uit na Basjan, die linkerhand wat sy regter pols vashou in ‘n tradisionele aangee manier.
“Jy het nog die hele tyd die mes by jou?”
“Ek het. Maar dis ons kinders daar onder. Gaan haal hulle, asseblief meneer.”
Basjan los ‘n paar ongure knope. Dit pas nou regtig nie in sy planne in nie.
“Wat is daarin vir my?”
“Dis jou eie mense, witman. As jy nie help nie, jy is net so sleg soos hulle wat die kenners gevat het”.
“Hoe praat jy so goeie Afrikaans”?
“Ek was ‘n onderwyser voor hierdie tyd.”
Die man help Basjan om die laaste diesel uit die trekker te tap. Twintig minute later is hy weer op die Witvlagpad, hierdie keer in die rigting vanwaar hy sopas gekom het. Die hondjie het hy met ‘n spaar leergordel aan die rolstaaf veilig gemaak.