Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Kyk rondom jou: God openbaar Homself en sy Grootheid en Almag aan ons in die natuur wat ons elke dag met ons eie oë kan aanskou. Kan jy hoegenaamd twyfel?!
DIE KAREEBOOM BY DE WILDT
LAND VAN ONS VADERS
(Lees reeks by Land van Ons Vaders)
Dolf van Niekerk
"Dit was 'n tweeledige toespraak. Die eerste gedeelte het gehandel oor Suid-Afrika Eerste, en die tweede gedeelte oor Wit Suid-Afrika. Hier het generaal Hertzog sy segregasiebeleid kort en skerp weergegee."
Mens en land. Mens en bodem. Dit groei aanhoudend – alles loop deur die tyd aaneen. Diaz se stormvaart, en sy kruis op die klipperige kus; Retief se traktaat in 'n bladsak by Dingaan se stat; die Vrystaatse vlaktes; goudgrawery onder die aarde; Yskor se roesrookskynsel teen lae wolke. Al dié dinge is saamgebind in dié land. En nog meer – vele wat op die uitdraaipaaie lê.
Dié dinge gaan ons soek – die saamspan van mensegees en land se reën en natuur en hart – soos die geskiedenis gemaak word.
Daar is 'n plek wat 'n mens met Pretoria as wegspringplek maklik kan bereik.
Wanneer jy deur Pretoria-Noord reis, kies jy Gerrit Maritzstraat en hou koers in westelike rigting op pad Brits toe. Ry en ry maar... tot by 'n vurk in die pad. Daar beduie 'n bordjie aan die motoris: Regs – na Hebron. Links – na De Wildt. Vandag draai ons dáár links. Daar is ook ander paaie wat De Wildt toe lei. Kerkstraat-Wes uit Pretoria – oor Saartjiesnek en Silkaatsnek, tot jy regs uitdraai. Of oor Hornsnek – al dié paaie lei na De Wildt. Ook 'n treinspoor lei tot daar – tot by die De Wildt-stasie. By die stasietjie bekyk 'n mens die vier windstreke... en jy soek suid.
Ons soek 'n boom. Bly suid kyk – ons soek 'n kareeboom... 'n enkele kareeboom tussen ander kareebome en doringbome. Hy staan ongeveer honderd tree suid van die stasie af. Dit lyk of daar 'n kraaltjie om die boom gebou is. Dis dié boom. Binne die omheining is daar 'n gedenkplaat, en die woorde wat jy lees, is 'n vonk wat jou gedagtes vlam gee. Dié boom het eenmaal byna gevrek. Maar toe breek die oomblik aan waarop oom Harm Oost kon uitroep: "Die ou kareeboom het herlewe! Dit was 'n stomp – nou is dit weer 'n bloeiende boom."
Hierlangs begin die Bosveld eintlik: doringbome, opslag, kareebome. En dié kareeboom wat herlewe het. Ons ken nie sy jeug nie – ons weet maar dat hy in 1912 reeds 'n aansienlike kareeboom was. En nou is dié boom 'n monument – oor wat in 1912 onder sy takke gebeur het. 'n Gebeurtenis wat wyle mnr NC Havenga in dramatiese taal beskrywe het: "En toe – skielik – moes soos 'n elektriese skok deur die land gaan, daardie De Wildt-toespraak van 'n "Suid-Afrika Eerste".
7 Desember 1912. Hulle sê dié datum verteenwoordig 'n keerpunt in die verloop van ons land se geskiedenis. Die mense het van oral af gekom dié dag. Met kar en perde, te perd, met fietse. Toe gaan staan hulle onder die bome en wag in die son. Van die stasietjie se kant af het 'n man aangekom; naderhand was hy onder die kareeboom, en hy het met die mense gepraat.
En nou staan ons onder die boom waar die man Hertzog gestaan het. Generaal – tien jaar na Vereeniging se vrede.
"Daar het hy sy tweestroombeleid teenoor die eenstroombeleid gestel wat hierop neerkom: in Suid-Afrika bestaan daar twee volke met elk 'n eie agtergrond, taal en tradisie. Hulle behoort soos twee kultuurstrome parallel langs mekaar te vloei, elk met behoud van sy eie identiteit en erfenis – totdat die tyd eendag ryp sal wees dat beide op die grondslag van nasionale onafhanklikheid en 'n beleid van Suid-Afrika Eerste, ineen sal vloei.
"Hy het in die moeiliker jare net na 1902 daarin geslaag om die neergevelde Afrikaner weer eiewaarde te gee en aan hulle nasionale selfrespek geleer. Sý optrede het grootliks daartoe gelei dat hulle weer as volksgroep saamgesnoer is en op grondslag van 'n herleefde nasionalisme, toekomsdrome kon droom."
So het die ou kareeboom algaande betekenis gekry. Maar wat is 'n boom nou eintlik – 'n boom, iewers, waar 'n man 'n oomblik in die tyd met mense in die Bosveld gestaan en praat het? Só eenvoudig is dit nie, sê Harm Oost: "Dit was 'n tweeledige toespraak. Die eerste gedeelte het gehandel oor Suid-Afrika Eerste, en die tweede gedeelte oor Wit Suid-Afrika. Hier het generaal Hertzog sy segregasiebeleid kort en skerp weergegee."
Vyftig jaar gelede onder 'n kareeboom – en dit ruk ons terug in die hede, tot vandag en die opdrag wat ons nie kan ontkom nie. En dan dink 'n mens aan die woorde van minister De Wet Nel:
"Generaal Hertzog kan met reg beskou word as die eerste Suid-Afrikaanse staatsman wat vorm, beslag en inhoud gegee het aan 'n eie Suid-Afrikaanse lewenshouding in die skepping van 'n geheelbeeld van ons kleurvraagstukke. Hy is inderdaad die argtitek van ons kleurpatroon. Hoewel ons kleurbeleid stelselmatig uit ervaring en ons volkswording gegroei het, en dus meer as driehonderd jaar in die historiese proses van Suid-Afrika gewortel is, het dit altyd 'n fragmentariese karakter gehad.
Dit was generaal Hertzog wat die kleurvraagstuk die eerste keer as 'n geheel benader het. Dit was hy wat daadwerklike stappe gedoen het om die nuwe benadering in 'n gekonsolideerde segregasiebeleid gestalte te gee."
Só kan 'n boom 'n mens laat dink. Afskeiding, het die generaal dit genoem. Ons ken dit as eiesoortige ontwikkeling. Eenmaal het NP van Wyk Louw geskrywe van die groot helderheid waarmee die generaal dié saak gesien het: "Dat Suid-Afrika nie kan voortgaan om in terme van oorheersing van die witman te dink nie. En ook nie kan dink in terme van een groot Suid-Afrikaanse bevolking nie – asof daar geen verskille is nie, asof die verskille wat daar bestaan, bloot toeval en onbelangrik is... En hoe vreemd dit ook vir meer as een mag klink – ook hier is generaal Hertzog gelei deur sy groot begrip van gelykheid, van billikheid.
"Om hierdie taak van voorbereiding van ons toekoms ten minste oor die eerste paar stappe heen te help, was die bekroning van sy politieke loopbaan. En weer sien ons hier die begrippe van billikheid en gelykberegtiging vir almal in Suid-Afrika – van die twee blanke groepe en van alle volke. Hier lê miskien Suid-Afrika se grootste toekomsbydrae. Nie slegs tot die oplossing van ons eie vraagstukke nie, maar tot dié van wêreldprobleme naamlik die vind van 'n manier van saambestaan van sulke verskillende groepe in een gebied, sonder dat 'n enkele groep 'n ander hoef te onderdruk."
As 'n kareeboom kon dink... Maar 'n boom gee skaduwee teen die son sodat die mens kan vertoef, en miskien sy grootste oomblik van insig en wete ervaar. So 'n oomblik het in De Wildt se Bosveld aangebreek dié dag. Want soos professor AN Pelzer dit stel:
"In 1912 het generaal Hertzog nog feitlik aan die begin van sy politieke loopbaan gestaan, en tog het hy op De Wildt 'n beleid uitgestippel, só volledig, só korrek dat hy in sy latere jare nie nodig gehad het om daarop terug te kom of aangrypende wysigings daarin aan te bring nie. Dit is dan ook om hierdie rede dat De Wildt 'n hoogtepunt in die generaal se lewe gevorm het. Baie van die gedagtes wat hy hier uitgespreek het, het ons reeds in die een of ander van sy vorige toesprake gehoor, maar by De Wildt word die eerste keer tegelyk en in verband met mekaar 'n aanduiding gegee van die drie hoekstene waarop sy hele latere politieke loopbaan sou berus."
Moontlik is u teen die laatmiddag nog by die boom, en sien u hoe die son watertrek oor die doringboomkruine... en die Bosveld se vinnige skemer. 'n Tarentaal roep fyn tussen die gras – laat miskien stemme tussen die bome losraak. En die padgee van mense – hopie-hopie staan en praat oor die woorde wat hulle gehoor het. Sonder om te weet dat dié woorde na vyftig jaar nog sal kring soos waterringe op 'n dam se vlak lank ná die klip ingegooi is. Dan kom daar beelde – van 1902 se vrede wat hy nooit kon aanvaar nie, 1910 se Unie wat hy ook nie as eindpunt gesien het nie... En die skimme wat met hulle perde en karre en fietse van die boom af wegry – baie wat toe sy boodskap nie verstaan het nie. Vandag word dit as vanselfsprekend aanvaar. Veral deur die jongeres, vir wie 1914, Westminister en depressie eintlik net name en datums is.
Kareebome word oud – die mens se dae gaan vinniger verby. En in die geskiedenis van 'n volk is een mens se lewe maar 'n asemstoot. Maar wat het hy nie nagelaat nie? Niks wat iewers in die verlede begrawe lê en waaraan 'n mens maar om sentimentele redes by geleentheid dink nie. Daar is nêrens eers 'n monument vir hom nie – net die kareeboom... En die kareeboom het nuwe lote uitgestoot – jong lote. Hoog, met nuwe en blink blare – tot oor vandag se jong geslag. Want alles bly jonk. En as ons by die kareeboom van De Wildt was en dit nie vergeet nie, kan ons ook dié vraag stel: "Wat is sy nalatenskap aan die jongeres? Waarom het ons nou juis weggedraai De Wildt toe? Ons vind die antwoord by ons grootste digter, NP van Wyk Louw:
"In die eis dat ons al ons probleme gelyktydig, saam as 'n eenheid moet sien, en dat ons hulle dan ook aanpak, sal ons nooit sê: 'dit is reg maar te groot vir ons'... of, 'dit is reg maar nie prakties uitvoerbaar nie' – in hierdie gees van: 'dit is billik en daarom gáán ek dit doen', hierin lê vir my die taak wat ons van generaal Hertzog geêrf het. Want dít moet ons van ons erfenis weet:
hy het geen skat vir die sweetdoek aan ons nagelaat om te geniet nie, en nie ons probleme vir ons opgelos nie.
Hy het vir ons gelaat 'n gees en 'n taak."