Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
...en Ek sal onder hulle stuur die swaard, die hongersnood en die pes, totdat hulle omgekom het uit die land wat Ek aan hulle en hulle vaders gegee het – Jeremia 24:10
SIMSON (3)
Die unieke metodes wat die Rigter Simson aangewend het om Israel van Filistynse oorheersing te bevry.
Dr JP Botha
Lees reeks by SIMSON
BY DIE SKEUR IN DIE ROTS
Die Filistyne was nou desperaat om wraak te neem en het in Juda gaan kamp opslaan. Hulle het Legi geplunder en daar uitgesprei.
Die mense van Juda wou toe weet: “Waarom kom maak julle oorlog teen ons?” Hulle antwoord: “Ons wil Simson vang. Ons wil hom terugbetaal vir wat hy met ons gemaak het.”
Uit Juda is daar toe 3 000 man na die rotskloof by Etam. Hulle sê vir hom: “Onthou jy dan nie dat die Filistyne oor ons heers nie? Wat het jy ons nou aangedoen?”
Hy sê: “Ek doen maar net aan die Filistyne wat hulle aan my gedoen het.”
Die mense van Juda sê toe vir hom: “Ons het jou kom vang om jou aan die Filistyne uit te lewer.
“Goed,” sê Simson, “belowe my net dat julle my nie sal doodmaak nie.”
“Doodmaak sal ons jou stellig nie. Ons gaan jou net boei en jou aan die Filistyne uitlewer.”
Daarop bind hulle hom vas met twee nuwe toue en neem hom weg van die rots af.
‘N DONKIE SE KAKEBEEN
Toe hy by Legi aankom, het die Filistyne gejuig en op hom afgestorm. Die Gees van die Here het Simson egter sterk gemaak. Hy het die toue gebreek asof dit garingdraadjies was. Dié waarmee hy geboei was, het van sy hande afgeval. Voor hom het daar ‘n vars kakebeen van ‘n donkie gelê. Hy het dit opgeraap en onder hulle ingespring en begin slaan, net so vinnig as wat hulle op hom afgestorm het. Toe hulle retireer, lê daar 1 000 rondom Simson versprei, terwyl die res vreesbevange weghol om te verhoed dat Simson hulle ook ‘n kakebeendood laat sterf.
Simson kyk die vlugtendes agterna en betrag die gesneuweldes op die slagveld rondom hom en bekyk met trots die eselskakebeen in sy hand. “Ja,” sê hy. “hierdie ou donkie se kakebeen is meer as 1 000 van hulle werd.” Toe slinger hy hierdie wapen van hom in die gras weg en noem die plek “Kakebeenshoogte.”
Die buitengewone kragsinspanning om so 'n groot getal van die gehate vyand uit die weg te ruim, het Simson moeg gemaak. Toe kry hy meteens verskriklik dors daarby, want dit was ook nog ‘n baie warm dag. Hy sink net daar neer en sê vir die Here baie dankie dat Hy hom in staat gestel het om so ‘n groot getal van sy vyand te oorrompel. Maar nou moet die Here asseblief tog nie toelaat dat hy van dors doodgaan en so in die hande van die heidene val nie.
Toe kloof die Here daardie holte by Legi en daar stroom heerlike koel water uit, sodat hy sy buitengewone dors kon les en die lewe weer sterk in hom terugvloei. Omdat hy die Here so dringend om hulp aangeroep het, het hy die waterfontein wat daar vir hm oopgegaan het, Roepersfontein genoem.
DIE PROSTITUUT
Simson het deur sy stryd teen die Filistyne, waarin die Here hom voortdurend bygestaan het, onteenseglik die leier van Israel geword gedurende die volgende 22 jaar, waarin sy stryd teen die Filistynse vyand voortgeduur het tot met sy dood. Dit het sy liefde vir Filistynse vroue ingesluit.
Op ‘n goeie dag het hy na Gasa gegaan en daar ‘n prostituut raakgeloop, by wie hy begin slaap het. Die Filistyne van Gasa het dit agtergekom en die hele nag vir hom gesit en wag. Toe staan hy middernag op en ruk die deure van die stadspoort met kosyne en al uit en dra dit op sy skouers tot bo-op die kruin van die berg teenoor Hermon.
DELILA
‘n Ruk later het Simson op ‘n vrou in die Sorekvallei verlief geraak. Haar naam was Delila. Filistynse snuffelaars het dit natuurlik gou agtergekom, want hulle het hul geswore vyand voortdurend dopgehou. Die leiers het toe met haar gaan onderhandel. Hulle sê vir haar: “Pols hom dat jy kan uitvind hoekom hy so sterk is. Vind uit hoe ons hom kan oorweldig en vasbind. Elkeen van ons sal jou dan 13 kilogram silwer gee.
By geleentheid het Delila toe vir Simson gevra: “Vertel my bietjie waar jou groot krag vandaan kom. Hoe kan ‘n mens jou oorweldig?”
Simson antwoord: “As hulle my vasbind met sewe vars boogsnare wat nog nie uitgedroog is nie, sal ek so swak wees soos enige ander mens.”
Die leiers van die Filistyne het vir Delila sewe vars boogsnare gebring, wat nog klam was. Sy het Simson in sy slaap daarmee vasgebind. Daar het mans in een van die kamers van haar huis weggekruip. Sy sê toe vir hom: “Simson, die Filistyne het jou kom vang!” Hy het die boogsnare gebreek soos toue wat aan die brand is. Hulle het nie geweet waar sy krag vandaan kom nie.
Daarna het die teleurgestelde Delila vir Simson gesê: “Jy speel met my. Jy het gelieg. Sê tog nou vir my waarmee ‘n mens jou kan vasbind.”
Hy het vir haar gesê: “Ek sal so swak wees soos enige ander mens as ek stewig vasgebind word met nuwe toue wat nog vir niks anders gebruik is nie.”
Delila het toe nuwe toue in die hande gekry en hom daarmee vasgebind. Sy sê toe vir hom: “Die Filistyne het jou kom vang, Simson!”
Daar het weer mans in een van haar kamers weggekruip. Simson het die toue wat om sy arms was, gebreek asof dit garingdrade was. Toe vra sy vir Simson: “Wanneer gaan jy ophou om met my te mors? Jy lieg nog al die tyd vir my. Sê nou regtig vir my waarmee jy bedwing kan word. “
Hy sê toe vir haar: “As jy sewe van my haarlokke in die materiaal op jou weefstoel inweef en met die dwarspen vassteek, sal ek so swak wees soos enige ander mens.”
Sy het gewag tot hy slaap en toe so gemaak. Sy roep toe na hom en sê vir hom: “Die Filistyne het jou kom vang, Simson!”
Hy het wakker geskrik en die materiaal met dwarspen en al uit die weefstoel uitgeruk.
Delila vra toe vir hom: “Hoe kan jy sê jy’s lief vir my, maar jy vertrou my gladnie? Jy het my nou al drie keer vir die gek gehou, want jy wil nie vir my sê waarin jou krag is nie.”
Vervolg...