Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Meer mense sterf sonder Christus as met Hom; mense wat nie met Hom reggemaak het toe hulle die tyd gehad het nie. Tyd; dis ‘n belangrike woord. Jy moet dit hê om te kan regmaak. Wie dit nie het nie, kan nie regmaak nie. Daarom word sondaars in Jes.55:6 dringend opgeroep: “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is”.
EENMAAL GERED, ALTYD GERED
Johannes. 6:37 Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.
Johannes. 6:39 En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag.
Dr. Gideon Grobler
Waarop is die volharding van die heiliges of dan die feit dat God se kinders nie verlore kan gaan nie, of nóg anders gesê: een maal ‘n kind van die Here, altyd ‘n kind van die Here, gegrond? Die Calvinistiese leer sê: Almal wat deur God die Vader gekies is, regverdig gemaak is deur die Seun, wedergeboorte gegee is deur die Heilige Gees, vir ewigheid salig bewaar word ook deur die werk van die Heilige Gees.
Die Arminiaanse leer, leer dat hulle wat glo en waarlik gered is, kan hulle redding verloor as hulle(sélf) nie die geloof behou nie! Kom ons gaan eers bietjie praktyk toe dan kom ons terug na die leerstellinge. Waarskynlik ken ons almal mense of minstens wéét ons almal van mense wat ‘n gelowige lewe gelei en hul geloof openbaar verklaar het, of dit nou in die kerk of op Facebook was, maak nie saak nie, hulle het dit teenoor mense buitentoe verklaar. Later in hul lewens sien of hoor jy weer van hulle en dan is dit duidelik dat hul die pad verlaat het. Hoe dan nou, dit lyk tog of hierdie mense tóg verlore gegaan het?
Miskien is dit jou kind. Jy het hom of haar die weg van die waarheid geleer, maar dit is nie duidelik wat jy op daardie oomblik in jou kind se lewe sien nie. Hύlle dink nie daar is fout nie, maar jy sien dat dit eintlik net ‘n geloof van woorde is wat oorgebly het. Daar is nie toewyding nie, daar word nie moeite gedoen om die Here tot diens te wees nie. Heimlik hoop jy jy is verkeerd, maar jy sien niks wat jou seer hart gerusstel nie.
Ongelukkig is daar nie ‘n swart en wit antwoord nie. Die Bybel leer ons net die beginsels van die saak en hierdie beginsels is baie selde gekoppel aan enkelstaande geleenthede. Gewoonlik neem dit tyd, en soms is hierdie tyd járe, voor dit duidelik word waar die mens, of dalk jou kind staan. Om sekerheid te kry wat jy sien, vrugte van die vlees, of vrugte van die Gees, is nie noodwendig swart en wit sake nie. Iemand wat in die vrugte van die Gees leef, struikel ook en dan lyk dit dalk of hul in vrugte van die vléés lewe. Dus moet ons versigtig wees in ons beoordeling van die saak.
In die Dordtse Leerreëls Hoofstuk: 5 Paragraaf: 11. Lees ons: “… die Skrif (getuig)dat die gelowiges in hierdie lewe teen verskillende sondige vertwyfelings stry en, as hulle in ernstige versoekings kom, nie altyd hierdie volle geloofsvertroue en hierdie sekerheid van die volharding ondervind nie. Maar God, die Vader van alle vertroosting, laat nie toe dat hulle bo hul kragte versoek word nie, maar gee saam met die versoeking ook die uitkoms(1Kor.10:13), en deur die Heilige Gees maak Hy steeds weer die sekerheid van die volharding in hulle wakker (2Kor. 1:3,4)”.
Twee beginsels waartussen ons ‘n beoordeling moet maak:
1. Die uitverkore kinders van God kan nie verlore gaan nie! Behalwe die teksverse, lees en luister weer na Johannes 10: 27 & 29: My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. 28 En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.
2. Toe iemand sy/haar geloof uitgespreek het, toe hulle dit bely het, was dit omdat God hulle getrek het (Joh.6:44) of omdat hulle gehoor het van ‘n hemel en ‘n hel! Hoe wonderlik dit in die hemel is en hoe ellendig dit in die hel is en oor selfsugtige redes het hulle besluit, t.w.v. hulsélf, dat hul nou gelowig is. Hulle het dit uit vrees vir die hel, selfsugtig self besluit! Toe om gelowig te wees darem te veel begin vra of toe wat die wêreld aanbied darem te mooi is, toe kies hulle weer vir die wêreld. (dink aan die gelykenis van die Saaier).
U hoor die verskil. Die een se basis, sy fondament, is die Woord en en die ander die wêreld – God se kinders kan nie verlore gaan nie! Die een is die onveranderlike raadsplan van God en die ander een se basis, is sy eie besluite. U sien, hierdie goed staan nie op die voorkop van mense geskryf nie. Ons kan nie in die harte sien soos God nie. Tog gee God die opdrag om sout van die aarde te wees. Ons moet bewaar. Ons moet help waar hulp nodig is, maar jy weet nie wat die persoon, of selfs jou eie kind se basis is nie. Dus probeer ons almal help. Die Woord sê: as ek ‘n kind van God is omdat Hy my een gemaak het, kan ek nie verlore gaan nie, ek kan struikel, ek kan val, maar nie verlore raak nie. Soms is hierdie val vir lang tye in my lewe; God sal egter nie toelaat dat ek uit sy genade uitval nie. Een of ander tyd sal daar weer, ware bekering wees en sal daar terugkom wees, voor ek te sterwe kom. Dank die Here vir sy onsêbare genade!!!
As dit só is dat ‘n kind van die Here nie kan verlore gaan nie, beteken dit mos dat ek as uitverkorene kan maak wat ek wil, ek sal hemel toe gaan, vra baie. Wie ook al só redeneer, staan duidelik, minstens op daardie stádium van die lewe buite Christus. Hoekom? Vir wie is hierdie mens wat sy lewe wil geniet, lief? Christus of homself? Duidelik hyself! Dié mens het duidelik nie ‘n wedergeboorte ondergaan nie (waaruit jy waarlik lief word vir God) en, sê die Skrif: sonder die wedergeboorte sal niemand die Koninkryk van God sien nie! Die antwoord is dus duidelik uit die Skrif: God se kinders wat Hy vir homself gekies, tot geloof en wedergeboorte gebring het, kan nie verlore gaan nie! Dit kan op stadiums lyk of die mens verlore gaan, maar God sal hom/haar in tyd weer tot ware bekering bring!