Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar word beweer dat die besnydenis wat die Jode in die Ou Testamentiese tyd op die seuntjies van 8 dae oud uitgevoer het, die afsterf van die vlees voorstel. Deur besny te word het die Jode verstaan dat hulle nou gesterf het aan die vlees en nuut lewe vir God. Dit is presies wat ons glo van die doop wat later in die plek van die besnydenis gekom het; dit is steeds 'n voorstelling van die afsterf van die vlees.
BROKKIES UIT DIE BOEK PANIEKLAND (11)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Die probleem met vrede is dat dit ‘n mens sus tot in ‘n gevaarlike gerustheid. Elke dag wat verbygaan sonder ‘n insident, dryf ‘n mens stelselmatig dieper daarin en elke leier wat nugterdenkend is, sal sy mense daarop wys. Hy moet ook ‘n voorbeeld stel van paraatheid en helderheid van denke.
‘n Mens se brein is sò ingestel dat dit trauma en skok absorbeer, dikwels sonder om dit te verwerk en iewers in jou agterkop veilig wegbêre. Dit gaan nie weg nie, maar word tydelik eenkant geskuif sodat jy normaal kan funksioneer terwyl dit nodig is. Later egter, wanneer die skanse gesak word, kruip hierdie nagmerries en spoke uit hulle skuilplek en stel hulleself weereens aan jou voor, dikwels met verwoestende gevolge.
Dit gebeur byvoorbeeld selde dat ‘n soldaat tydens geweld en gevaar hieraan blootgestel word, maar later, as die gevaar verby is en hy veilig by sy huis sit of slaap, hierdie beelde voor hom begin draai en hy post traumatiese stres-steurnis begin ervaar.
Dis een van die redes waarom oud-soldate mekaar jare na die tyd sal opsoek en praat oor hulle nagmerries en die goed wat in hulle onderbewuste hulle vrede steel. Dààr kan hulle hulle harte leegpraat – iets wat hulle nie kan doen by siwwies nie. Dis nie net ‘n ontlading nie, maar is ook nodig om te kan sien die demoon is nie so angswekkend is as wat hy drie-uur in die oggend nie.
Die ouman ken hierdie dinge, want hy was self daar. Daarom maak hy moeite om met elkeen in die groep te praat oor hulle onlangse skok en trauma. Tog weet hy dis net tydelik, en die seer sal later kom.
Hy weet ook dat die rustigheid wat hulle nou ervaar, blote skyn is en dat groot moeilikheid onvermydelik aan die kom is.
*
‘n Golf van verwoesting, aangevuur deur haat en frustrasie wat deur die jare opgelaai het, spoel oor Suid-Afrika. Die pot waarin die padda stadigaan gekook is, het omgeval, die padda het aan die warm kole geraak, seergekry en weggespring. Hier, eenkant, staan hy en kyk na die vlamme, verskroeide pot en die vermorsde water.
Die ANC het magteloos begin voel in hulle frustrasie. Aan die een kant is die skeuring van hulle eens magtige organisasie ‘n realiteit, aangevuur deur die geskorsde sekretaris-generaal wat ‘n oproep doen dat elke ontplooide kader wat hom of haarself skuldig gemaak het aan enige vorm van wanorde of misdaad, by hom moet aanmeld. Daarvoor het hy skaars ‘n week tyd gegee.
Linksdenkende mense klap hulle hande saam omdat hulle glo dat daar uiteindelik iets aan korrupsie gedoen sal word en dat die regering dit uiteindelik sal kan hokslaan. Die mense aan die teenpool sien dat die SG eerder soveel as moontlik mense saam met hom wil skaar sodat die howe en die regerende party kan sien dat haas elke ontplooide makker hulle hande in die geldlaai het en dat hulle nie elkeen kan vervolg sonder om die party ‘n doodskoot te gee nie.
Hy hoop die reaksie op sy gesteelde miljoene kan wegraak in die triljoene wat aangemeld word. Onder die tafel deur ontmoet hy vir Jacob Zuma wat die soveelste keer bloedneus in die hof gekry het en beveel is om 16 miljoen rand regskoste te betaal. Met hierdie bevel uitgereik, kom dit aan die lig dat hy ‘n verdere 25 miljoen aan regskostes skuld.
Dudu Myeni, een van sy politieke vertrouelinge en Swart Transformasie-aanstellings, word lewenslank verbied om weer as direkteur van enige instelling te dien. Die VBS-banksage het nog lank nie gaan lê nie en dosyne kaders begin besef dat hulle dalk net die buite-wereld nie meer deur die vensters van hulle luukse motors en ewe luukse wonings gaan bekyk nie, maar eerder deur die tralies van een of ander gevangenis.
Die howe se onpartydigheid, waardigheid en waarde binne die regstaat word nie net in twyfel getrek nie, maar onder dieselfde wegharloop-bus gegooi. Die hoofregter se godsdiensuitsprake word ‘n drekbal waarmee hulle hom besmeer en op verlof plaas. En die voorsitter van die Zondo-kommissie word gediskrediteer deur dieselfde Zuma wat hom aanvanklik aangestel het. Die meeste getuies wat by korrupsie betrek word en nou voor die kommissie moet getuig, ondergaan massa-geheueverlies.
Hierdie groep wat hulleself aan die verkeerde kant van die gereg bevind – al het dit jare geduur – begin saam groepeer en sien hulleself as martelare, wat bloot teruggevat het wat die blanke regime vir soveel dekades hulle ontsê het en nou nie kan verstaan wat hulle verkeerd gedoen het nie.
Was dit nie immers hulle manier om uitvoering te gee aan Radikale Ekonomiese Transformasie nie? Die regering, en veral die president, word witgesmeer met Wit Monopolie Kapitaal en gebrandmerk as deel van die vyand. Met hierdie selfgeregtigheid in die agterkop moet planne gesmee word om die deure van die tronke toe te hou, met hulle aan die buitekant.
Dit sal net ‘n kwessie van tyd wees dat hulle die voordeel van miljoene verontregte mede-rasgenote sal raaksien en besef dat ‘n landswye opstand en rebellie miskien nét kan help om hulle uit die penarie te pluk. Wie sal tyd kry om ‘n ou wat ‘n paar honderd miljoen gesteel het te vervolg as die land brand?
Aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog het die VSSR ongewapende manne ingestuur om met kaal hande te gaan veg, bloot omdat daar nie genoeg gewere beskikbaar was nie.
Die rasionaal was dat so ‘n ongewapende die geweer van ‘n gevalle kameraad kon optel en verder veg. Dié wat omgedraai het om te vlug, is deur hulle eie offisiere doodgeskiet. Die SG (wat in elk geval ‘n klap van kommunisme weg het en daarom bewondering vir die Rooies het), sien dit as aanvaarde optrede. Miljoene mense in plakkerskampe en uit haglike geboue in die metro’s se middestede word in die voorste linie van hierdie oorlog ingepan. Kanonvoer is slegs dit: kanonvoer.
Wat die onderduimse kaders gemeen het ‘n mak akkedis sou wees, het ontaard in ‘n woedende krokodil; onbeheerbaar en ontembaar. Soos ‘n man wat ‘n gaatjie in ‘n damwal maak om water te drink, die wal laat inmekaarstort en hy in die vloedwater verdrink, so het die woedende massas uiteindelik teen die swart elite gedraai. Hulle sou leer dat as jy ‘n kussing in ‘n stormwind uitskud, jy nie die vere weer kan vang nie.
*
Demas het weer die spoor gekry. Daar is nie veel van die oorspronklike bende oor nie en hy voel aan die een kant opgewonde om sy missie klaar te maak, maar aan die ander kant amper jammer dat sy bergavontuur feitlik verby is, al sou hy dit nie so beskryf nie.
Hy volg die spore maklik en vinnig en is later redelik seker hy kom nader aan die klompie. Een van hulle het half langs die voetpaadjie op ‘n plantjie getrap en as hy daar verbykom, is die stammetjie besig om stadig regop te kom. ‘n Uur miskien?
Hy voel sy hartklop word effens vinniger by die gedagte van ‘n finale konfrontasie en wag ‘n minuut agter ‘n paar bome om te bedaar en sy toerusting na te gaan – sy mes agter sy rug, die rewolwer, skoon, geolie en gelaai, die geweer ook skoon, ook geolie en die magasyne vol. Hy trek die spangreep ‘n entjie agteruit om seker te maak daar is ‘n rondte in die kamer. Hy loop nou effens stadiger, met ore gespits en oë gefokus op elke sigbare detail.
Teen tienuur die oggend hoor hy stemme, ongedemp en opgewonde. Dadelik begin hy skuilplek en hoogte soek. Effens vorentoe, sowat veertig meter van hom af, is die voet van ‘n digbegroeide bult.
Die voetpaadjie loop aan die onderkant deur, met ‘n effens groter hoogte aan die ander kant. Hy beweeg eers na sy regterkant, weg van die stemme en spore en klim dan stadig, maar so versigtig as moontlik, die dertig meter hoë hoogtetjie uit.
Baie versigtig, voetjie vir voetjie, versigtig om glad nie op ‘n droë tak of blare te trap nie, loop hy en die laaste tien treë, plat op sy maag, luiperdkruip hy totdat hy skielik tussen die plantegroei deur op die spulletjie kan afkyk. Onwillekeurig haal hy diep asem van skok as hy op die vlaktetjie afkyk. Waar hy ‘n paar mense verwag het, sien hy nou seker meer as seshonderd onder hom.
Sommige het die oorblyfsels van polisie of weermaguniforms, ander blou oorpakke, of dele daarvan, T-hemde, hier en daar ‘n oopgeknoopde onderbaadjie of hemp, die hooftooisels wat wissel van ou weermag berette, slaprandhoede, party gekamoefleer en ander khaki of verbleikte wit; manne en ‘n hele aantal vroue onder hulle. Dis duidelik dat hierdie nie maar ‘n aantal mense uit ‘n plakkerskamp of gehuggie is nie, maar te oordeel aan die aantal gewere, ‘n soort jong weermag.
Terwyl hy kyk, loop ‘n groot Mosambieker die leier van die groot groep tegemoet, omhels hom en slaan hom ‘n paar gemoedelike houe op die blad. ‘n Halftreë agter hom staan die vrou wat hy daardie aand skrik op die lyf gejaag het.