Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe ons dink, bepaal wie ons is. Ons lewe is wat ons gedagtes daarvan maak. Gedagtes regeer die wêreld. Jou denke speel ‘n baie groter rol in jou lewe as wat jy ooit sal besef. Daarom moet ons ophou om aan lelike dinge te dink. Om van bose gedagtes vry te wees, is groot genade! Sê vir jouself: “Wat ek nie kan wegdink nie, gaan ek regdink”.
BROKKIES UIT DIE BOEK - GEBROKE LAND (2)
083 444 7672)
“Terugskouend, Boesman, wat sou jy gedoen het, as jy die een was wat die besluit moes neem?”
“Hoe ver kan ons teruggaan?”
“Jy kan maar so ver gaan, as wat jy wil. Dan kan ons mos sien wat ons moes doen of nie,” antwoord Madel.
“Nou goed. Ek is bly ek het diensplig gedoen. Ek is bly dat ek my werk gekies het. Maar dis net ek. En ek moet nou bely: ek was gewoond aan bevele gehoorsaam en het my seniors gerespekteer. Ek sou nooit dink dat hulle ‘n ander agenda gehad het nie – dit sou nie eens by my opgekom het nie.”
“Waar gaan jy nou heen?”
“Luister klaar. Ek het geglo my senior offisiere was reg. Hulle het soveel goeie besluite geneem toe ons op die grens was, dat ek nie anders kon nie. Ek het hulle instinktief geglo. En ek het die Nasionale Party en sy leiers geglo toe hulle vir ons gesê het hulle het gekies dat ons oorlog verby is, en dat hulle ‘n vredespad betree.”
“Ek dink ek kan sien waarheen jy gaan.”
“Ja. Ek was een van die meer vurige ja-stemmers. So, as ek in tyd kon teruggaan, sou ek dalk anders gestem het, nie dat een ou stemmetjie die verskil kon maak nie.”
“Nou goed. Kom ons gaan daarby verby. Waar sou jy daarvandaan wou beweeg?”
“Maar dis juis die punt. Dis waar ons moeilikheid begin het. Daar was soveel ingeligte en opgeleide mense wat ons gewaarsku het, soos byvoorbeeld Generaal Stofstrepie, om maar net een te noem, maar ons het blindelings geglo alles sou regkom, en selfs nadat dinge begin het skeeflyk, het ek en ander dit steeds geglo. Maar die verval het reeds die land se rug gebreek. Ja, ons het miskien ‘n grasietydperk onder Mandela gehad. Ek is nie so seker daarvan nie, maar kom ons gestel dit was so. Selfs onder Mbeki het sekere sake nog relatief goed geloop. Maar toe kom Zuma. Ek en jy weet dat hulle nie net die ekonomie uitgehol het nie, maar die weermag, die polisie, die mediese dienste, die staatsdiens in sy geheel is tot op die punt van totale verval gebring.”
“En nou betaal ons daarvoor?”
“Ja, maar luister. Daar was dikwels plekke waar ons gekom het, waar ek gedink het ons loop nou oor die spruit na geweld toe. Soos toe Mandela dood is, toe die rand heeltemal begin waarde verloor, veral toe dit duidelik word dat Eskom besig is om inmekaar te stort. Weet jy wat die uiteinde daarvan sou wees ‘n jaar of vier gelede? En tog, as daar toe ‘n Rubicon was, en ek praat nie nou van PW of FW se toesprake nie. ‘n Rubicon soos in nege en veertig voor Christus, toe Juslius Ceasar sy spies oor die riviertjie in Noord-Italië gegooi het en uitgeroep het “Alea jacta est!”. Dan sou daar nog iets te redde gewees het. Miskien kon ons weermag dan, voordat dit totaal verval het in ‘n versameling oorgewig, onopgeleide, onfikse, maar veral ongedissiplineerde groep wat net daar is vir hulle eie menseregte en nie om die land se inwoners te beskerm nie, orde kon handhaaf. Indien ons ‘n skerp polisiemag gehad het wat nie deur ‘n wannabe sheriff gelei is nie. Indien ons ‘n gesondheidstelsel gehad het wat hospitale en klinieke in stand gehou het, sodat dit hierdie tsoenami siekes kon behandel. Indien ons die rugsteun gehad het van ‘n ekonomie wat die terugslag kon hanteer. Maar daar was niks in die staatskas nie, behalwe IOU’s. En China het deur sy eie krisis gegaan, so hulle kon nie help nie.”
“So…?”
“Kyk: voor die Virus gekom het, is ons ekonomies stelsematig deur Moody’s, Standard&Poore en Fitch afgegradeer. Die regering moes dit al lankal as rooiligte gesien het en iewers die bus gestop het, maar hulle kon nie. Vir die ANC om in 1994 aan bewind te kon kom, moes hulle die steun van die SAKP en COSATU hê. Dit het beteken dat hulle deur kompromieë moes regeer. Daarom moes hulle die ekonomie in swart hande plaas, deur middel van BEE, Transformasie, Regstellende Aksie ensovoorts. Maar van die swart opkomende middelklas het begin sien hulle gaan hulle nuutgevonde rykdom verloor en het begin wegbeweeg van die ANC. Toe hulle begin sien dat hulle stemme verloor, reeds in die vroeë 2000’s, het die ANC begin stemme koop deur Staatstoelae. Dink ‘n bietjie mooi: as jy nie werk het nie, en iemand gee jou ‘n duisend-plus rand per maand, sal jy teen hom stem? So, aan die begin van laasjaar het die staat alle SASSA-toelae vir meer as agtien miljoen mense gegee. Dit teenoor ses miljoen mense wat ‘n vaste werk het. Hoor my nou, binnekort gaan dit dertig miljoen mense wees – die helfte van die landsbevolking. Neem dit, tesame met die voortdurende korrupsie en die oorbelade staatsdiens, teenoor die beskikbare geld uit die belastingbetalers, en jy het ‘n stelsel wat een of ander tyd moes padgee. Hierdie virus was net die stootjie wat dit moes kry.”
*
Inderdaad het die regering probeer ingryp. Die grendeltyd is verleng, en dit het gehelp dat die aangemelde gevalle stadiger gegroei het as in party ander lande. Ongelukkig het dit die verslae ekonomie net verder geknou.
Die groot probleem was dat die swartmense aanvanklik geglo het dat hierdie virus net blankes siek en dood maak. So, baie het hulle nie aan die inperking gesteur nie.
Voeg daarby dat die minister van vervoer soos die spreekwoordelike riet in die wind geswaai het, en uiteindelik was taxi’s maar vir alle praktiese doeleindes vrypas gegee om te maak soos hulle wil. Die Virus is dus versprei na die uithoeke van die land, soos mense na hulle geboorteplekke teruggekeer het.
Voeg hierby die feit dat baie miljoene mense in informele nedersettings, noem dit plakkerskampe as jy wil, ingehok was vir veertig dae. Met onvoldoende riool, te veel mense in te klein spasetjies vir te lank, te min kos, te min geld, en met rook en drinkgoed wat binne die eerste week op was, was dit onvermydelik dat anargie sou uitbreek.
Voor enige verkiesing moet die toesprake gehou word om stemme te werf. Om dit te kan regkry, moet die ANC die inperking verslap, selfs met gekookte statistieke. Die virus het daarna en tydens soos ‘n veldbrand versprei. Strenger inperkings kom te laat en desperate mense breek uit.
Dit het begin by die afbrand van skole, wat as gevolg van die inperking gesluit en dus verlate was. Daarna het drankwinkels deurgeloop. Van daar af was dit maar ‘n hanetreë na koswinkels, supermarkte en uiteindelik na die wit woonbuurtes waar mense kos opgegaar het.
*
Tans
“Ek wens ou Karel wou sy bye op hok hou!”
“Jy bedoel Karel wat hier skuins agter bly? Hy het al weke gelede na sy kinders toe getrek op Malmesbury. En vertel jy my hoe hou ‘n mens bye in elk geval op hok.”
Die bye is nie regtig ‘n groot probleem nie, dis net lastig. Die korwe is langs Karel se agterstoep, en hulle vlieg meestal na die bloekomplantasie langs die spruit. Dis net soms, soos nou, wat daar ‘n paar lastiges hier teen die sif van die agterdeur gaan sit. Anna is allergies vir bysteek en sy sorg maar dat sy buite hulle bereik bly.
Net na middagete die volgende dag klink dit aanvanklik asof die bye weer om hulle kombuis zoem. Na ‘n paar minute is dit egter duidelik dat die geraas weer dié van honderde mense aan die anderkant van die dorp is. Madel, Boesman, Jan en Bessie vat hulle wapens en loop na die muur aan die voorkant van die erf.
“Hoeveel keer nog?”
“Jan, hulle sal aanhou totdat hulle weer kos kan kry. Kos en drank en sigarette.”
“Maar hulle behoort mos te weet dat ons nie het nie. En ons het die spul nou al vier keer verdryf. Wanneer gaan hulle agterkom dit help nie?”
“Hulle sal aanhou en aanhou. Hulle weet dat ons ammunisie die een of ander tyd klaar sal raak. Ek het skaars ‘n honderd oor. Julle?”
Madel hou haar enigste pak 12-boor rondtes in die lug.
“Dis my laastes.”
Nie een van hulle het veel oor nie en dit laat ‘n gevoel van verslaentheid tussen hulle.
“Miskien moet ons maar vannag oppak en padgee. Ek weet net nie waarheen nie. Dit klink my dit gaan maar oral in die land soos hier.”
Die groot groep mense het aan die vérkant van die straat begin toyi-toyi. Dis deels bravade, maar ook deels om moed bymekaar te maak. Selfs die mees nugter-denkende Afrikaan word mettertyd meegevoer deur die dreunsang en die aanhitsery van die vroue. Dis al vir eeue so en dit sal nie nou verander nie.
Daar is ‘n voelbare spanning onder die hopie verdedigers.
“Bye!”
“Wat bedoel jy Jan?”
Dis asof daar in Jan se songerypte gesig skielik ‘n lig aangegaan het.
“Hoe lank dink jy het ons voordat hulle naby is, Bartel?”
“Soos dit nou daar klink, so ‘n halfuur na ‘n uur kan ek raai. Wat dink jy?”
“Jy weet, dis asof my ou verstand mos dinge bêre en dan later bymekaarmaak. Ek kan dit nie regtig verduidelik nie. Maar dis asof dit die bye en daardie rooi tjoep agterop jou bakkie bymekaar sit, sonder dat ek regtig dit uitdink. Miskien as gevolg van al die jare se boer en planne maak, ek weet nie.”
“Dit sal help as jy vir ons ook vertel. Ons het nie vreeslik baie tyd nie.”
Karel praat sy praat en dit klink aanvanklik baie vergesog.
“Ek weet nie of dit sal werk nie…”
“Wat kan ons verloor?”
“As dit nie werk nie, verloor ons my bakkie. En miskien…”
Dit vat ‘n paar minute vir die groepie om aan die plan te kou.
“Soos jy sê, ons het nie veel om te verloor nie, behalwe jou bakkie.”
Bartel kan nie so ver kom as om te sê: “En ons lewens nie”.
Jan het self met bye geboer en hy weet hoe om met die minimum steke die korwe te gaan haal. Bartel en Bessie het intussen ‘n breë reep uit die binneband gesny en aan die twee vrag-lusse aan die agterkant van die bak, aan weerskante, vasgemaak.
“Oom Bartel, ek weet nie of dit ‘n goeie plan is nie. Dit lyk vir my maar baie effentjies.”
Bartel antwoord nie, maar trek die binneband so ver hy kan na die kajuit van die bakkie toe, waar hy die rubber met ‘n stuk dun tou aan die reling vasmaak.
Die dreuning aan die anderkant van die straat begin nou ‘n crescendo bereik en Bartel raak bleek van spanning, en al sal hy dit nie hardop sê nie, van vrees. Jan is terug met die korwe en hulle maak die een op die bakkie staan, net binne die “V” van die rek.
“Daar kom hulle!”
Bartel kyk op en sien vir Bessie haar boog span. Langs haar staan Madel met die groot haelgeweer en Leen Viviers met haar kruisboog, Marius met sy voorlaaier. Bessie byt so hard op haar tande dat haar wangbene wit uitstaan.
Jan het sy bakkie aan die gang gesit en wag vir Boesman, wat op die passasiersitplek van die Nissan plaasbakkie inklim. Hy skuif die agterste venster oop en met ‘n holgeslypte knipmes in sy hand, wag hy vir een van die seuns om die hek oop te maak. Dit vat lank, want die slotte moet eers oopgemaak word, en dan word die ketting uitgeryg. Met die plan wat nie nou omdraai ken nie, wil Bartel op hom skreeu om gou te maak. Uiteindelik stoot die seun eers die een en dan die ander swaar ysterhek oop.
Die groep mense stroom soos miere uit ‘n oopgeskopte nes die onderpunt van die straat binne. Hulle weet dat geeneen van die huise aan weerskante van die straat iets het om te buit nie, net die een wat uitdagend aan die onderkant staan.
Dis ‘n mensgelmoes van kleure – eens-wit T-hemde, blou oorpak-baadjies, hier en daar iets geel en rooi. Die doelwit is egter dieselfde: om wat ookal eet en drinkbaar is by die vyand te gaan vat. Niemand hardloop nie, maar die voorste manne sal so af en toe omdraai en op die mense skreeu.
Kieries, klippe, bakstene, messe en dik stokke swaai op en af, vorentoe an agtertoe. Skielik, as hulle so twee honderd meter van die huis is, begin hulle vinniger beweeg. Dis opmerklik dat die opstokers nie meer aan die voorkant is nie, maar dieper agtertoe, agter die gewillige gepeupel.
Dan is die hek oop.
Jan ry tot so ‘n honderd meter van die skare af, maak ‘n honderd en tagtig grade draai in die breë straat en ry so vinnig hy kan in trurat op die skare af.
Bartel kyk berekenend na Jan, wat op die bestuur konsentreer.
“Ek hoop vir my en jou – en jou bakkie – dat jou plan werk.”
Die skare maak effens oop as die bakkie nader kom. Hulle het geen idee wat aan die gang is nie, maar ‘n mens gee maar instinktief pad vir ‘n naderende voertuig, al is dit ook dat hy in tru-rat op hulle afkom. Miskien is dit juis die oorsaak dat hulle effens huiwer en vir die bakkie pad maak.
Jan hang effens by die venster uit terwyl hy bestuur, maar as hy by die klomp is, trek hy sy kop terug, binne in die voertuig.
“Nou, Bartel, nou!”
Bartel saag vir ‘n sekonde aan die taai nylon tou en skielik gee dit pad. Die byekorf word deur die stuk binneband van die bakkie se oop agterkant af geskiet, soos ‘n seun met ‘n kettie sou maak.
Die bye, wat reeds verwoed is, vlieg al by die korf uit, voordat dit ‘n kort, maar sterkgeboude man op die bors tref. Dit bars oop en ‘n swerm van duisende verwoede bye vlieg tussen die skare in. ‘n Stuk heuningkoek het op die teer geval, en vir eers is die meeste bye daar rondom, maar dan is dit asof alle woede in hulle losgelaat word.
Jan het intussen begin vorentoe beweeg, en ‘n paar mense het begin om om die bakkie te beweeg, soos ‘n rivier om ‘n rots, en met die wegtrek stamp hy ‘n paar uit die pad.
Hierdie mense is aanvanklik nie bewus van die bye nie en soek klippe om na die bakkie te gooi. Maar die volgende oomblik begin die bye steek. Op sommige mense is daar tien, miskien twintig of dertig bye en sodra die eerste een steek, is dit asof daar ‘n chemiese reaksie onder die swerm is.
Oombliklik begin die geskreeu, brul en gil onder die skare. Dis anders as ‘n paar minute gelede se opswepende Afrika-oorlogskreet – dis nou gille van pyn en vrees.
Iewers roep ‘n vrou na haar ma, van die manne brul diep uit hulle mae, mense swaai en klap, en dit maak die bye net meer kwaad. Skielik begin die eerste een terughardloop na sy plakkershut toe. Die bye styg op en maal ‘n oomblik, en asof ingeoefen, duik hulle soos bomwerpers uit die Tweede Wêreldoorlog en val al wat beweeg en vleis het, aan.
Party van die vroue trek hulle koppe toe met hulle truie, baadjies en selfs rokkke. Binne ‘n minuut en ‘n half is die pad leeg, behalwe vir een of twee mense wat in ‘n bondel op die straat gaan sit het. Uiteindelik staan ook hulle styf, verdwaas, seer en kruppel op.
Vir dae daarna is daar min beweging in die kamp, waar ‘n stroompie mense weg van die dorp af begin beweeg, op soek na ‘n veiliger plek.