Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geen voorspoed – hetsy ons eie, hetsy dié van ander – moet ons laat verbygaan sonder om met lof- en dankbetuiging te getuig dat ons God se Hand daarin erken nie.
GELOFTEDAG 2025
Ds A.E. van den Berg
“Ons staan in die gees by ons eie Ebenhaeser stil – Bloedrivier. Baie volksgenote het dit vergeet. Ander het dit tot ’n knievallige versoeningsdag afgegradeer. Ons volk is soos oud-Israel aan heidense magte onderworpe. Baie van ons volksgenote lek soos tjankende honde die hande van hul kastyders. Wat het met ons volk gebeur dat ons so verval het?”
“Toe het Samuel ’n klip geneem en dit opgerig tussen Mispa en Sen en dit Ebenhaeser genoem en gesê: Tot hiertoe het die Here ons gehelp” (1 Sam.7:12).
Mense leer uit hul foute; ook volke. Wie nie daaruit leer nie, misluk. Want wat is 'n mislukking anders as 'n fout wat begaan maar nie reggestel is nie? Israel het so ’n fout gemaak maar dit eers 20 jaar later na talle ontberings tydens ’n keerpunt in hul volkslewe reggestel. 1 Sam.17 is die verhaal van dié keerpunt. Nadat die Filistyne die ark van die verbond tydens ’n oorlog van Israel afgeneem het, was Israel gebroke: “...die hele huis van Israel het agter die Here aan geweeklaag” (:2).
Israel was egter self vir hierdie situasie verantwoordelik omdat hulle die ark van die verbond in die oorlog teen die Filistyne saam met hulle slagveld toe geneem het. Hulle het geen opdrag van God ontvang om dit te doen nie, waarna 34,000 in die geveg gesneuwel het; een van die grootste nederlae in Israel se ganse geskiedenis.
Die ergste was dat die ark gebuit is. Hierdie kis van akasia-hout en goudbeslag was die versinnebeelding van God se heilige teenwoordigheid in Israel se midde. Nou was dit weg. God was nie meer in hul midde nie en Israel verlore! Daarom het hulle lank oor hierdie verlies getreur.
Waarom het dit gebeur? Omdat Israel van God afvallig geword het en Hy die vyand as ’n tugroede in sy hand teen hulle gebruik het. Die heidene het dit wat vir Israel heilig was, aangetas om te wys wie is baas. Dit was vir Israel ’n bitter pil om te sluk.
God tug maar herstel ook weer. Die Psalmdigter skryf: “Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie” (Ps.103:9). So het God dan ook ’n einde aan die heerskappy van die Filistyne gemaak en Israel bevry. Dit het by 'n volksvergadering begin toe Samuel die volk by Mispa byeen laat roep het om sonde-belydenis te doen. Dit het Israel 20 jaar geneem om tot by hierdie punt te kom. As hulle dit eerder gedoen het, sou hulle baie verdriet gepaar gewees het.
Dis ongelukkig nie altyd so maklik om sonde te bely nie. Dis nie in die mens se sondige aard om die knie voor die almagtige God te buig en te erken dat hy oortree het nie. Daarvoor moet die mens eers deur die wedergeboorte verander word.
Die Bybel praat van twee soorte berou: “Want die droefheid volgens die wil van God werk ’n berouvolle bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood” (2 Kor.7:10). Daar is dus 'n goddelike sowel as ’n wêreldse berou. Israel het vir 20 jaar lank wêreldse berou getoon en hulself bejammer in plaas daarvan om hartseer en jammer oor dit wat hulle God aangedoen het te wees.
Tydens die volksvergadering by Mispa het Samuel sekere dinge vir sy volk gesê wat ook vir ons eie volk waar is :“…As julle met jul hele hart julle tot die Here bekeer…” (:3) Israel moes bewustelik na God terugkeer. In Luk.15:18 sê die verlore seun: “Ek sal opstaan en na my vader gaan….” Hy het besef dat hy op die verkeerde pad was, omgedraai en die regte ding gedoen. Israel moes erken dat hulle op die verkeerde pad was en bewustelik omdraai.
Wat het Israel op die verkeerde pad laat beland? Afgode! Israel moes eers van die afgode wegdraai voordat hulle na God kon draai. Dis moeilik te glo dat ten spyte van alles wat met Israel gebeur het hulle na 20 jaar nog steeds Baäl en Astarte en ander Kanaänitiese afgode gedien het. Toe Elia die Baäl-priesters by Karmel uitgedaag het, kon Baäl nie eens vuur uit die hemel laat daal nie, terwyl God selfs die klippe van die altaar met vuur laat verteer het!
Waarom het Israel aan afgode vasgeklou? Omdat dit met seksuele toespeling gepaard gegaan het. In die Kanaänitiese godsdiens was die bordeel en tempel basies dieselfde saak. Daarom is dit nie moeilik om te verstaan waarom Israel aan die afgode geheg was nie – die sondige vlees het hul lewens beheer.
God duld geen afgode nie en straf oortreders daarvan tot in die vierde geslag. Ons het ook met afgodery te kampe. Hoe lyk hulle? Ek praat nie van Boeddha-beeldjies of iets dergeliks nie, maar van moderne afgode Enigiets wat vir jou belangriker as God is. Dit wat jou van Hom af weghou, verhoed dat jy die Bybel bestudeer of kerk toe kom. Kortom: Die dinge wat jou van geestelike groei beroof.
Samuel sê vir sy volk : plaas God eerste! Om van die heidense regering oor hulle ontslae te raak, moes hulle eers van hul afgode ontslae raak. Afgode maak jou geestelik moeg. Israel het swaar aan hulle gedra. Die eerste ding wat Samuel vir Israel tydens die volksvergadering vra, is om na God toe terug te draai. Die verlore seun se pad was weg van die vaderhuis. Toe hy hom vasloop, keer hy daarheen terug. En dis wat Israel moes doen.
Die tweede ding wat Samuel vir Israel sê, was om hulle nie met God se genade te misreken nie. Hy straf maar vergeef ook. Toe die Filistyne van die byeenkoms in Mispa hoor, het hulle geweet hier kom ’n ding en in menigte op Israel afmarsjeer. Israel was bevrees vir die oormag en het Samuel gevra om vir hulle by God in te tree.
Ten spyte van hul afvalligheid van God het hulle geweet dat gebed sake verander.
Ongelukkig sien te veel mense gebed as die laaste uitweg in plaas van die eerste een. Ons probeer om op eie houtjie uit die penarie kom, maar niks help nie. Dan bid ons maar as ’n laaste opsie tot God. Dit wat eerste moes wees, word laaste.
Geen wonder dat God vir Israel op haar knieë moes dwing nie. Om op die knieë te wees, is die regte plek vir gelowiges om te wees. Gebed beweeg die Hand wat die heelal beweeg en geen afstand is so kort as dié tussen God en 'n gelowige bidder nie. Gebed styg vanuit die diepste put tot in die hoogste hemel op. Vers 9 lui: “…. en Samuel het die Here aangeroep vir Israel; en die Here het hom verhoor” .
Wat ’n gesig was dit nie toe die Filistyne in hul oormag aanstorm en God hulle in hul vier spore stuit nie. Ebenhaeser was die Bloedrivier van die OT; 'n beslissende oomblik in Israel se geskiedenis. God bepaal die toekoms: “Die perd word reggemaak vir die dag van die geveg, maar die oorwinning is deur die Here” (Spr.21:31).
Gelowiges moet God se ingrypende genade nooit vergeet nie. Daarom het Samuel ’n klip as gedenkteken opgerig om Israel aan God se genade te herinner en Ebenhaeser genoem om Israel aan sonde sowel as genade te herinner.
Ons staan in die gees by ons eie Ebenhaeser stil – Bloedrivier. Baie volksgenote het dit vergeet. Ander het dit tot ’n knievallige versoeningsdag afgegradeer. Ons volk is soos oud-Israel aan heidense magte onderworpe. Baie van ons volksgenote lek soos tjankende honde die hande van hul kastyders. Wat het met ons volk gebeur dat ons so verval het? Is ons deur kerke en politici mislei? Ja, ons is, maar ook net gedeeltelik waar. Ons het soos Israel, ’n menigte moderne afgode begin dien; dinge wat vir ons belangriker as God geword en meer van ons tyd en aandag ontvang.
Wat staan ons te doen? Om ons opnuut tot God te bekeer. Toe Israel hul hande in gebed en berou saamvou, het God syne vir hul oopgemaak. “En die Filistyne is verneder, sodat hulle verder nie meer die gebied van Israel binnegekom het nie en die hand van die Here was teen die Filistyne al die dae van Samuel” (:13).
Ons aanbid nie ’n ander God as oud-Israel nie. Wat Hy vir Israel gedoen het, wil Hy ook vir die Boerevolk doen om ons van die heidene te verlos. Kom ons vou die hande en buig die knieë voor God by Wie niks onmoontlik is nie!