Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons wat net ten dele ken, ons roem soms in onsself! Ons praat storterend, ons begryp en vertolk aweregs, ons redeneer onlogies soos kinders, ons sien in 'n spieël verwronge beelde; nie eens op ons insigte of vertolkings mag ons ooit roem nie – slegs in Christus!
ONS IS SLEGS HUURDERS
Ds A.E. van den Berg
“Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel ..... want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” (Mat.6:19-21).
Ons besit almal iets tasbaar – huise, motors, meubels ens. Maar eintlik besit ons dit nie. Die Bybel sê dat alles op die aarde 'n gawe van God is: “Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan” (Ps.24:1). Ons huur slegs ons besittings van Hom en besit dus niks wat ons nie van Hom ontvang het nie. God het as te ware 'n huurkontrak met ons gesluit wat met ons dood verstryk. Dan moet ons teruggee. Ons kan niks met ons na die hiernamaals saamvat nie.
Dit word vertel van 'n skatryk boer wat gelowig was. Hy bid en vra die Here of hy nie iets van sy rykdom eendag saam met hom hiernamaals toe kan vat nie. Die Here stem toe in – alles wat hy in 'n rugsak kon dra, kon hy vat.
Hy het dit vol goudstawe gepak. Toe hy sterf en by die poorte van die ewigheid kom, het Petrus hom voorgekeer: “Jy kan nie met bagasie ingaan nie!” sê hy. Die man vertel hom toe van die ooreenkoms met die Here waarna Petrus vir hom sê: “Goed dan, laat ek sien wat in die rugsak is” Toe hy dit oopmaak, sê Petrus : “Nou maar waarom het jy plaveistene saamgebring?”
Die Bybel sê dat die strate van die nuwe Jerusalem van goud is. Die kruks van dié verhaal is dat ons niks aards saam met ons die ewigheid kan invat nie. Daarom Jesus se opdrag in die teksverse – moenie aardse skatte versamel nie. Na jou dood gaan dit vir jou niks in die sak bring nie, nie eens goudstawe nie!
Rykdom is soos kraalmis – slegs van waarde as dit versprei word. Die vroeë gelowiges het dit gedoen. By geleentheid het dit so sleg met die gelowiges in Judea gegaan dat die gelowiges in Macedonië geld ingesamel en vir Paulus gegee het om vir hulle saam te neem. Dis hoe 'n mens vir die saak van die Here gee – uit dankbaarheid. Wie nie uit dankbaarheid gee nie, moet liefs niks gee nie; God pers niks van niemand af nie!
In 2 Kor.8:5 sê Paulus iets baie mooi van dié Macedoniese gelowiges – voordat hulle die insameling gehou het, het hulle leiding van die Here afgebid om hul oor die grootte van die gawe te lei. En so het die skadu van die kruis van Jesus as te ware oor hul stoflike vermoëns geval!
Nadat Jesus in Saggeus se lewe gekom het, beloof hy om die helfte van sy goed vir armes te gee en dit wat hy afgepers het, vierdubbel terug te gee (Luk.19:8). Wat 'n ommekeer het daar nie in die ryk man se lewe gekom nie! Dis egter nie sonde om welvarend te wees nie. Solank as wat rykdom eerbaar bekom en reg gebruik word, het die Bybel geen probleem daarmee nie. Abraham was 'n ryk man, Job selfs ryker en Salomo nog meer. En hulle was almal gelowiges.
In die Bergrede leer Jesus gelowiges om hul nie oor die toekoms te bekommer nie. Ongelowiges bekommer hul daaroor want hulle glo nie aan 'n versorgende God nie. Gelowiges is anders. By geleentheid bel 'n lidmaat my. Hy was besorg oor sy dogter wat die lotto speel. Wat moet hy vir haar sê? Op daardie oomblik gee die Here vir my 'n teks: “ Die Here is my Herder; niks sal my ontbreek nie” (Ps.23:1). God sien na sy skape om. Vandaar Jesus se opdrag: “ Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mt.6:33). Hy gee aan sy kinders alle ware noodsaaklike dinge – en gratis!
Waarom gee ons dankoffers? As 'n blyk van dankbaarheid vir redding van ons siele. God verwag van ons offervaardigheid. Churchill het gesê: “You make a living by what you get, you make a life by what you give”. Augustinus het weer gesê: “Ontvang dit wat God jou gee met vreugde. Gebruik daarvan wat jy benodig. Die res is syne”.
By geleentheid wou 'n arm egpaar vir mekaar 'n kersgeskenk gee. Die vrou het pragtige lang hare gehad. Die man besluit toe om sy sakhorlosie te verkoop om vir sy vrou 'n goeie borsel te koop. Sy het weer haar hare laat afsny en verkoop om vir hom 'n mooi ketting vir sy sakhorlosie te koop. Hulle wou mekaar net gelukkig sien en hul kosbaarste gegee. Wat gee ons vir God en ons naaste?
Salomo skryf: “Vereer die Here uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou inkomste; dan sal jou skure vol word van oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos” (Spr.3:9, 10). “Wie hom ontferm oor die arme, leen aan die Here; en Hy sal hom sy weldaad vergelde” (19:17). “Wie sy oor toestop vir die geskreeu van die arme, hy sal self ook roep en nie verhoor word nie” (21:13).
Die maatstaf van ʼn dankoffer is nie hoeveel ons gee nie, maar ons gesindheid. By geleentheid het Jesus regoor die skatkis in die tempel gaan sit en kyk hoeveel mense vir die onderhouding van die erediens ingegooi. Van die ryk mense het baie geld ingegooi, maar nie uit dankbaarheid nie. Toe gooi ʼn arm maar dankbare weduwee min in en Jesus sê: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkis ingegooi het. Want hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi, maar sy het uit haar gebrek ingegooi...” (Mark.12:43,44).
Waak teen geldgierigheid. Dis besig om ons volk te verteer. Dit het al miljoene mense se lewes verwoes en ook baie s’n voortydig geëis. Dis ʼn maalkolk wat jou maklik insuig en jou siel skaad: “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Hebr.13:5).
ʼn Mens hoor dikwels van mense wat geld vervals, maar het jy al gesien hoe geld mense vervals? By geleentheid kla ʼn Jood by sy Rabbi oor sy vriend wat skielik ryk geword en van gesindheid verander het. Waar hy eers volksgenote in nood raakgesien en gehelp het, sien hy net homself raak. “Rabbi, hoe gebeur dit?” vra die man. Die Rabbi laat hom deur ʼn venster kyk. “Wat sien jy?” vra hy. “Ek sien mense” antwoord hy. Daarna laat die Rabbi hom in ʼn spieël kyk: “Wat sien jy?” vra hy. “Ek sien net myself” antwoord hy waarop die Rabbi sê: “Die venster en die spieël is beide van glas. Die spieël is net met ʼn laag silwer bedek. Wanneer daar silwer bykom, sien baie mense ander nie meer raak nie; net hulself!”
Toe ʼn multi-miljoenêr by geleentheid sterf, vra ʼn begrafnisganger vir een van die familielede: “Hoeveel het hy nagelaat?” Waarop die man antwoord: “Alles!” Ons neem niks na ons dood saam nie, ons laat alles na!
“Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” (Mt.6:19-21).
Mag God ons as gelowiges leer om verantwoordelik met ons aardse besittings om te gaan want ons is slegs rentmeesters daarvan.