Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Mense is gewoonlik só op aardse oorlewing ingestel. Dikwels kwel ons ons soveel dat ons sieleheil skade ly. Ons bou aan aardse skatte en koninkryke waar daar ingebreek en gesteel word. Baie van ons pogings is net 'n gejaag na wind, met geen ewigheidswaarde nie. Maak in hierdie nuwe jaar eerder vir jou hemelse skatte bymekaar; vertrou God en Hy sal vir jou die nodige dinge hier op aarde byvoeg.
DIE LEWE IS TE KORT ... (1)
... OM VERKEERD TE KIES
Margaret Foth
Lees reeks by Die lewe is te kort...
Om op een en veertigjarige ouderdom terug te gaan universiteit toe verg moed. Stel jou voor: 'n middeljarige, gesette huisvrou tussen die slanke jeugdiges met hul tanghare en blou klinknaelbroeke. Vyftien jaar lank was ek 'n huisvrou en moeder, en ek het maar alte goed besef: die afstand tussen my en die universiteit was nie in kilometers te meet nie. My "studies" het die afgelope jare dinge ingesluit soos: hoe om etes voor te berei terwyl honger en moeë kinders om my ore neul, hoe om 'n stukkende lampkap met gom reg te maak tien minute voor die gaste opdaag, waar om skoene te kry vir kinders met smal voete ... En nou terug kampus toe?
Maar ek wou 'n graad verwerf sodat ek Engels-onderwyseres kon word. Daar was dus geen ander genade nie: ek moes terug universiteit toe. My man en my kinders het my aangemoedig.
Toe ek die eerste oggend my opwagting daar maak, het my bene behoorlik gebewe. Maar ek het my vakke gekies en sonder te veel klereskeur as student ingeskryf. Ek het selfs parkeerplek gekry -'n prestasie.
My eerste klas is gelei deur'n professor uit Indië,'n geleerde man met 'n heerlike sin vir humor (hy het in elk geval baie gelag) en 'n uitspraak wat dit moeilik gemaak het om te verstaan wat hy sê. Ek het nie die helfte gevolg van wat in sy klasse aangaan nie. Ná die derde lesing kom hy met 'n aankondiging: ons gaan toets skryf. Dit het ek maar alte goed verstaan. Ore in die nek is ek terug huis toe om te begin voorberei - ek sal 'n A moet kry om nieaf te steek by my vriende nie en om vir myself te bewys dat ek nie te oud is vir die taak wat ek vir myself gestel het nie.
Die toets was vir my 'n krisis. Om te studeer het maar broekskeur gegaan. Van my kinders was boonop in die bed met griep en oorpyn en ek het voor my siel geweet ek kan maar van 'n A vergeet. Ek was skoon siek. Wat het my besiel om die wilde perd op te saal? Moet ek nie maar liewer nou die spul los eerder as om die vernedering van 'n mislukking in die gesig te moet kyk nie?
Die hele pad universiteit toe het hierdie gedagtes in my kop gemaal, soos 'n rot in 'n kou. Ek het my motor geparkeer en die bult na die universiteit begin uitstap - slepende voete. Maar toe bly ek staan. Dit was of 'n skêr skielik oor my malende gedagtes geflits het: "Dit is mos nie lewensnoodsaaklik dat ek 'n A móet kry nie!" Die blokke het van my voete afgeval.
Ek het die kursus voltooi - sonder om 'n A te kry - maar met 'n nuwe insig besef: ek is vry om te kies, om die keuse te maak wat goed is vir my in my situasie.
Ek kon nie my dosente verander nie. Ek kon niks daaraan verander dat ek 'n graad moet hê as ek in die onderwys wil ingaan nie. Maar ek kon wel iets aan my selfbeeld doen. Ek is vry om te kies om 'n gesonde balans te kry tussen persoonlike behoeftes en die behoeftes van ander. Om lesings by te woon is 'n noodsaaklike tree op die pad na onderwys, en onderwys sal deel word van my lewenstaak. My gesin is ook deel van my lewenstaak en ek sal voortgaan om vir hulle te sorg - of hulle nou griep het of gesond is. Hul kom eerste, maar in my lewe is daar plek vir 'n beroep, ook waar ek 'n bydrae tot die samelewing kan maak.
Ons kan kies
Wanneer 'n mens bang is vir die pad wat voor jou lê en voor moeilike toetse te staan kom, voel jy vasgekeer, sonder uitkomkans. Jy voel daar is vir jou geen ander keuse nie.
Eendag bel 'n vriendin my. Sy moet met my praat. En by my aangekom, bars die woorde in 'n stortvloed los: "My hart is tot niet - Jan het vanoggend sy goed gevat en geloop, wat moet ek doen? Ek kan nie op my eie regkom nie ... hoe kon hy my dit aangedoen het? Hy het my die vrou gemaak wat ek is en nou kom sê hy ek is oninteressant en ek kerm om sy ore, my lewe is verby. Ek kan geen besluite neem nie, Jan was altyd die een wat dit gedoen het."
Alhoewel sy dit op daardie oomblik nie kon raaksien nie, was daar tog verskillende moontlikhede vir haar oop. Aan haar man en haar verlede kon sy niks verander nie, al wou sy ook hoe graag. Sy kon niks daaraan doen dat sy uit die huis moes trek waarvoor sy so lief was nie. Maar wat sy ook al doen, sou 'n keuse wees. Sy sal moet kies of sy in woede of bitterheid gaan bly tob en of sy gaan leer om te vergewe en haar eie vermoëns en tyd sinvol te gebruik.
Ek onthou van nog 'n keuse wat ek moes doen. Aandete in ons huis het met verloop van tyd in 'n tweestryd tussen ons en die kinders ontaard. En ons as ouers was besig om die stryd te verloor. Koskook was nog nooit my geliefkoosde werk nie - en vir geeneen van die kinders was tafeldek'n aangename onderbreking wanneer hulle hul eie dinge wou doen nie. Teen die tyd dat ons aan tafel gekom het, was ons dus almal geïrriteerd - en baie dikwels het dit op rusies uitgeloop. Eendag het ek besef ek begin etenstye vrees. "Wag 'n bietjie," het ek gedink, "daar moet tog 'n oplossing vir die probleem wees." Ek het besluit om ete in die eetkamer te bedien en nie sommer gerieflikheidshalwe in die kombuis nie. Soms sal ons selfs ons beste tafeldoek en eetgerei gebruik en by kerslig eet. Die meisies sal daarvan hou om die tafel "mooi" te laat lyk en ons maniere kan ook verander om by so 'n deftige geleentheid te pas.
En dit het gehelp. Ons gesindhede was anders en ons het positief op die aangenamer atmosfeer gereageer. Natuurlik het die nuwigheid daarvan later afgeskaaf maar tog is die ou gewoontes verbreek.
Soms kies ons sonder dat ons bewus is daarvan. Ons staan elke dag dieselfde tyd op, skakel TV op dieselfde tyd aan, koop ons kruideniersware by dieselfde winkel - sonder dat ons besef ons doen dit omdat ons so besluit het. 'n Mens kan nou nie lank oor elke besluit tob nie, maar jy kan darem so nou en dan 'n bietjie stilstaan om jouself of te vra waar jou keuses jou heen lei.
As ons daaroor begin nadink, moet ons besef dat die keuses wat ons vandag doen, eendag ons kinders en kleinkinders se lewe sal raak. Om 'n voorbeeld te noem: ek het eers na hartelus ligte aangeskakel en die warmwatersilinder so gestel soos ek wou. Noudat ek besef elektrisiteit word vervaardig deur die verbranding van onvervangbare bronne - elektrisiteitsrekening word al hoe hoër - besluit ek doelbus oor hoe ek krag meer ekonomies kan gebruik. Ek wil nie eendag 'n "uitgebrande" wêreld aan my agterkleinkinders nalaat nie.
En die belangrikste: die besluit wat ek vandag neem, vorm my en bepaal hoe ek gaan ontwikkel. Die boeke en koerante wat ek lees, of nie lees nie, beïnvloed my denke. Die hospitaalbesoeke wat ek by my vriende aflê, of nie aflê nie, bepaal my gesindheid. Die ontspanning wat ek gekies het, die gesindheid waarop ek vir die werk besluit het ... die kleinste, skynbaar onbenulligste besluit wat ek neem of keuse wat ek doen, of nie doen nie, is bepalend in en op my lewe. Ek word wat ek kies!
Riglyne
Deur die jare het ek vir my sekere riglyne opgestel wat moet help om 'n besluit te neem. Ek noem drie: 1. Wat voorsien in my behoefte?
2. Wat is tot nut vir diegene ek verantwoordelik is?
3. Wat bevorder die beginsels en waardes waaraan ek as Christen glo?
Miskien moet ek verduidelik waarom my eie behoeftes eerste genoem word. Ek besluit nie om selfsugtig te wees nie maar ek besef dit is belangrik dat daar 'n gesonde balans wees tussen my persoonlike welsyn en die eise wat ander aan my stel. Ek kan nie die verantwoordelikheid vir my welsyn op ander afskuif nie. Hier is een voorbeeld: As daar 'n ernstige voedseltekort is, help dit nie die ma ly honger ter wille van diekinders nie. As sy hulle regtig wil help, moet sy sorg dat sy so fiks en aktief moontlik bly. As sy dit nie doen nie, sal kinders beslis honger ly. Ek het ook al moeders gesien wat emosioneel of geestelik verhonger omdat hulle meen dat hulle alles vir hul gesinne moet opoffer. Hulle het maar min om op terug te val as hulle kinders hul die dag werklik nodig het.
Vroeër is vroue geleer dat hulle ander mense die besluite moet laat neem. Talle jongmeisies het uit huise gekom waar Pa altyd die beste geweet het (hy het in elk geval al die besluite geneem). Hulle begewe hulle in 'n huwelik waar die man die rol van besluitnemer voortsit. In haar "kêrel en nooi"-dae moes sy leer om te wag - vir die telefoon om te lui, vir 'n huweliksaansoek, vir iemand om haar gelukkig te maak. Ek glo ons moet persoonlik verantwoordelikheid aanvaar om toe te sien dat ons ontwikkel in die mense wat ons kan wees. Om op grond van my behoeftes besluite te neem en keuses te doen is om te erken dat God 'n doel met my as individu het en wil hê dat sy beeld in my al hoe duideliker moet word.
Ek kies ook om die mense te versorg teenoor wie ek 'n bepaalde verantwoordelikheid het - my man, my kinders, my ouers. Dit is nie 'n maklike, eenvoudige keuse nie. My ouers kan op die oomblik nog altyd onafhanklik lewe, maar ek weet binne die volgende tien jaar sal ons voor moeilike besluite te staan kom. Hulle sal versorging nodig hê. Moet ons hulle nou in 'n tehuis vir bejaardes sit, of 'n verpleegster huur, of 'n voltydse huishulp sodat hulle by ons kan kom inwoon?
Toe ek 'n kind was, het my oupa'n paar jaar by ons ingewoon. Ek onthou nog goed: hy het daar in 'n leunstoel gesit van waar hy ons kon dophou as ons buite speel. My ouers moes dikwels regter speel om te besluit tussen hul kinders of hul pa se weergawe van wat gebeur het. Die tyd het later aangebreek dat Oupa na 'n tehuis vir bejaardes moes gaan. Die skeiding het seergemaak, maar dit was 'n besluit wat die balans probeer kry het tussen oupa se behoeftes en dié van die kinders.
Ons neem elke dag besluite wat die lewe vir ons huismense òf vryer òf meer gebonde maak. As ek besluit ek gaan my kinders in hul werk aanmoedig, ek gaan belangstel in hul doen en late, ek gaan luister as hulle met my praat, ek gaan vir hulle liefde gee en hulle vermaan as dit nodig is, skep ek vir hulle die moontlikheid om gesond te ontwikkel. As ek kies om oorbeskermend teenoor hulle op te tree of hulle op 'n liefdelose manier te dissiplineer, of nie bereid is om tyd aan hulle of te staan nie, skep ek die moontlikheid dat hulle windskeef sal groei.
Die derde riglyn, naamlik om die Christelike beginsels te kies, staan nie los van die ander nie, maar vorm eintlik die grondslag vir al ons keuses. Ek glo Jesus het ons geleer “God is liefde". Daarom word mense altyd hoër geag as dinge; dit is nie ons beroep, of voorkoms of rykdom of geleerdheid wat van ons beminlike, aangename mense maak nie; ons waarde lê veel eerder daarin dat ons die moontlikheid het om die beeld van God in ons sigbaar te laat word.
Ons is so geneig om etikette om mense se nekke te hand; dié persoon behoort aan dié of daardie ras of geslag of ouderdomsgroep. En daarmee meen ons het ons het hom opgesom. So word ons blind vir die eindelose verskeidenheid wat ons lewens so heerlik kan verryk. Elke keer as ek met mense in aanraking kom, word ek voor 'n keuse gestel: Sal ek die ou gryskop ignoreer wat in 'n vergadering nog steeds sy sê wil sê ("hy weet tog nie meer waarom dit gaan nie”)? Sal ek my kinders toelaat om met kinders van 'n ander speel? Sal ek aanbied om vir die man in die rystoel die oop te hou?
Soms is 'n keuse eintlik voor-die-hand-liggend. Die grens tussen goed en kwaad lê soms duidelik afgemerk. Maar meer dikwels is die prentjie nie so helder nie. Verder kom ons voor 'n baie gewigtige besluit te staan wat tyd nodig het. In die meeste gevalle lyk die besluite egter maar baie onbenullig. Ons moet leer besef dat al die keuses wat ons doen, al ons besluite, waardebepalings weerspieël. Maak dit enige verskil as ek besluit om dié winter vir my 'n nuwe jas te koop? As ek by die ouer-onderwyservereniging aansluit? As ek besluit om werk toe te stap, of per motor te gaan, of per trein te reis? Wat is die implikasies daarvan as ek besluit om vir iemand geld te leen wat dit dringend nodig het maar dit nie sal kan terugbetaal nie? Hoe sal my besluite my lewe raak, die lewe van my huismense, of van die groter huisgesin van God, die kerk? As ons voor 'n keuse te staan kom, sal ons moet leer om onsself of te vra: Hoe kan my besluite ‘n weerspieëling wees van wat ek werklik as belangrik beskou?
Jesus het gepraat van die beloning wat húlle sal ontvang wat die hongeriges gevoed het, gevangenes besoek het, vir siekes gesorg het of 'n koppie koue water gegee het vir iemand wat dors het (Matt 25:31-46). Ons dien God in die mate dat ons besluit om onsself en wat ons het, met ander te deel. Jesus het dit bale duidelik gestel dat ons besluite wel deurslaggewende gevolge kan hê. Maar dit is ons wat moet besluit!
Die lewe is te kort... (2)