Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Terminale siekte laat ons opnuut besef dat ons tyd min geraak het. Tyd is nie ons reg nie; dis ‘n voorreg. Ons besit dit nooit. Dis aan ons geleen, ja, ‘n kosbare stukkie leengoed uit die hemel. Die sekerheid van ‘n ewige lewe laat ons egter berus dat ons veilig in God se hand is. Niks wat die moeite werd is, gebeur sonder opoffering nie.
DIE LEWE IS TE KORT ... (3)
... OM WAKKER TE BLY WANNEER JY SLAAP NODIG HET
Margaret Foth
Lees reeks by Die lewe is te kort...
'n Verpleegster het eenkeer vir 'n groep verwagtende moeders gesê: "'n Nuwe baba sal jul eet- en slaappatrone omvergooi, maar julle sal gou aanpas..." Terwyl ek na haar geluister het, het my gedagtes teruggegaan na die moeilike aanpassings wat ek ná my eerste baba se geboorte moes maak.
Daarna het ek nog drie babas grootgemaak sodat tien jaar van my lewe daardeur in beslag geneem is. Maar my ervaring met my eerste baba het my geleer dat alles wat ek moes doen – of dit nou motorbestuur was of die hantering van finansies, of kniebuig of wat ookal – daarvan afgehang het of ek genoeg geëet en geslaap het.
As ek toe geweet het van die navorsing wat daar gedoen is oor slaap en die uitwerking van te min slaap op op die mens, het ek nie so skuldig gevoel as ek ook 'n uiltjie wou knip wanneer die kinders uiteindelik in die bed was nie.
'n Bekende radiopersoonlikheid het 'n klompie jare gelede besluit om in 'n geldinsamelingspoging vir liefdadighed tweehonderd-uur aanmekaar wakker te bly. Hy is gehuisves in 'n glashokkie op 'n besige plein. In 'n gebou oorkant die straat is 'n toetssentrum opgestel met bekende sielkundiges, psigiaters en mediese spesialiste.
Van die eerste nag af moes die man stry teen die oorweldigende behoefte aan slaap. Ná twee dae het hy hom dinge begin verbeel. Hy het spinnerakke in sy skoene begin sien. Vlekke op die tafel het vir hom soos goggas gelyk. Ná vier dae – halfpad deur sy marathon – kon hy nie meer as twee van die daaglikse sielkundige toetste hanteer nie. Teen die sesde dag was die toetse vir hom 'n absolute marteling. Selfs die alfabet het hom verwar. Die laaste twee dae was hy heeltemal gedisoriënteer sodat hy nie geweet het wie en waar hy was nie – en tog het hy hom elke dag op die een of ander manier reggeruk vir sy gereelde uitsaaibeurt tussen vyf en agt.
Die behoefte aanslaap
Die uitwerking van slaaploosheid op die omroeper se geestelike en liggaamlike funksies is 'n dramatiese bewys van die noodsaaklikheid van slaap. Min mense sal ooit probeer om agt dae lank sonder slaap klaar te kom maar miljoene mense se lewe word wel geraak deur die gevolge van te min slaap. Skofwerkers, ouers met klein babas, studente en soldate op die grens het dikwels persoonlikheidsveranderings getoon as gevolg van te min slaap. Hierdie veranderings kan wissel van geïrriteerdheid en verwarde denke tot by ernstige sielkundige probleme en siektetoestande. Ouers weet maar te goed wat die gehuil van 'n kindjie aan hul nagrus doen. As dit weke en maande lank voortduur affekteer dit die hele gesin.
Daar was 'n tyd toe daar gereken is die mens het regtig nie so baie slaap nodig nie. Die behoefte daaraan is as 'n swakheid beskou wat oorwin kan word.
Maar die probleem is dat ons nie werklik die ware aard van slaap begryp nie. Sistematiese navorsing daaroor het nie so lank gelede begin nie. Een skrywer stel dit so: "Ons het maar nog net begin om sommige van die onsigbare magte op te spoor wat die ritme van ons lewe beheer... die ritme waarvolgens ons waak of droom."
Stadiums van slaap
Navorsing het duidelik die verskillende stadiums van slaap vasgestel. Elke nag herhaal ons die stadiums vier of vyf keer. Die eerste is 'n ligte slaap wanneer ons begin indut. Die tweede stadium is dieper, meer ontspanne. Ons kan met 'n ruk wakker skrik of deur 'n geluid gewek word – en dan hoog en laag sweer dat ons nie aan die slaap was nie.
As daar nie steurnisse is nie volg die derde stadium. Ons is nou baie ontspanne en die asemhaling stadig en egalig. Die liggaamstemperatuur en bloeddruk daal namate die hartklop stadiger word – en ons kan dwardeur 'n donderstorm slaap.
Dan volg die vierde stadium, die diepste, rustigste slaapvlak. Een navorser noem dit "die slaap van die vermoeide". Volgens hom bestee die mens normaalweg die meeste van sy slaaptyd gedurende die voornag aan hierdie stadkum. Dit is die slaap wat ons nodig het om weer krag en energie vir die volgende dag op te bou.
Die meeste van ons geniet slaaptyd – behalwe as ons teen slapeloosheid moet veg. Dan lê jy daar en dink aan alles wat jy die volgende dag moet doen waarvoor jy uitgerus en helder moet wees. Of jy beleef weer al die frustrasies en probleme van die dag. Slapeloosheid is vir miljoene mense die een of ander tyd 'n vloek.
Slaap- en kalmeermiddels het dus al hoe meer in aanvraag gekom sodat miljoene rande jaarliks daaraan bestee word. Daar word selfs al van 'n kalmeerpil-epidemie gepraat. En tog is daar nog talle mense wat nie 'n goeie nagrus inkry nie.
Die regte dieet is noodsaaklik. Mense wat te veel eet, meer sout en suiker gebruik as nodig, en te veel kaffiën of alkohol drink, gooi hulle metalbolisme heeltemal uit rat uit. En dit eis sy tol in ons slaappatrone.
'n Redelike hoeveelheid oefening is ook nodig. 'n Flinke stap van so twee kilometer per dag behoort slaap te bevorder. Party mense vind dit ook nuttig as hulle die een of ander klein ritueel volg voor slapenstyd: 'n lekker bad, bietjie beplanning vir die volgende dag, wat om aan te trek, ens. Sommige mense vind dit ontspannend om met 'n boek bed toe te gaan.
Hoe ookal, die belangrike is dat jy 'n tydjie nodig het om af te skakel. Jy kan nie die hele dag en aand in topversnelling voortjaag en dan verwag om onmiddellik aan die slaap te raak as jy in die bed klim nie.
'n Nuwe lewensstyl
Baie mense kla vandag dat die eise wat die lewe aan hulle stel te hoog is. Daar word altyd meer en meer van 'n mens verwag. En die enorme hoeveelheid kalmeermiddels, spierontspanners, slaappille, koffie en alkohol wat gebruik word bevestig dat ons in 'n krisis van stres en oorstimulasie leef.
En tog word die mense wat teen 'n vinnige tempo leef en altyd meer hooi op hul vurk wil neem voorgehou as modelle. Die een groot ideaal wat aan almal voorgehou word is om 'bo' uit te kom. Prestasies- dit is 'n slagspreuk. En voor hierdie lewensinstelling nie verander nie sal daar geen verligting kom nie.
Ons probleem is daarin dat ons nie meer die lewensstyl van ons voorgeslagte kan aanvaar nie, naamlik dat die nag gemaak is vir slaap. Ons liggame het 'n natuurlik ritme.
Is jy 'n sogenaamde oggendmens? Dan is laataand-televisie nie vir jou bedoel nie. Is jy 'n naguil? Dan sal jy jou program so moet inrig dat jy deur die dag sewe tot nege uur slaap inkry – die hoeveelheid slaap wat die meeste van ons nodig het om geestelik en liggaamlik fiks te bly. Ons liggame het 'n vasgestelde daaglikse ritme wat moeilik verander kan word. Trouens, daar is kenner wat beweer dit kan nie verander word nie.
Navorsing toon dat ons liggame deur die dag deur verskillende energievlakke gaan wat volgens 'n vasgestelde ritme styg en daal. Hierdie ritme van energie is blybaar die funksie van ons sentrale senustelsel en word beheer deur die biochemiese sentra van die liggaam. Die 24-uur-ritme is gekoppel aan die ritme van dag en nag. En toetse het bewys dat hierdie ritme nie sommer maklik versteur kan word sonder dat dit ons geestes- en liggaamlike gesondheid beskadig nie. En tog wil ons dit graag doen, nie waar nie? Ons wil die dag uitrek tot diep in die nag en twee en sewentig uur in 'n naweek indruk.
Ons sal weer moet leer om ons biochemiese ritmes beter te verstaan. Ons moet leer om te werk as ons op is en om elke negentig minute eers te ontspan. Hierdie paar minute van algehele ontspanning is beter as 'n koppie koffie en sal ons weer nuwe energie en helderheid gee vir die volgende uur.
Dit is vir ons goed om 'n stadiger, meer ontspanne lewe te lei – ons moet leer om onsself te verstaan en duidelik te weet wat ons doelstellings is.
Ons kán 'n gesonder lewenspatroon ontwikkel wat ons sal help om natuurlike slaap te geniet – sonder die hulp van pille – helderder te dink en ons dagtaak te verrig as 'n dankoffer aan God. Dit is ons Christelike verantwoordelikheid, ook teenoor onsself en ons medemens.