Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
U kan dit maar gaan toets: soos dit in die gesinne gaan, so gaan dit in die volkslewe en so gaan dit in die hele wêreld waarin ons leef. Maar u as ouers het die vermoë van God ontvang om hieraan 'n hele wêreldse verskil te maak!
BROKKIES UIT DIE BOEK - GEBROKE LAND (5)
083 444 7672)
Twee van die uniformdraers, Job Mabue en Chris Martins het van die geleentheid gebruik gemaak om ‘n flankbeweging uit te voer. Hulle het deur aangrensende erwe gehardloop, oor die vérkante van die heinings gespring en agterom gehardloop, en uiteindelik by Karel se verlate huis aangekom. Hier wag hulle ‘n halfminuut om asem terug te kry, voordat hulle verder beweeg.
Beide die manne is vroeg-middeljarig, albei van hulle het opleiding ondergaan in die ou SAW, onder bevel van majoor Slabber. Hulle wapens is skoon, nagegaan en in goeie toestand. Behalwe vir die R4-gewere wat hulle dra, het hulle elkeen ook ‘n Z88 nege millimeter handwapen. Eintlik behoort hulle nie deel te wees van die ander manne wat in hierdie aanval is nie. Dis bloot maar toevallig dat hulle paaie gekruis het, en hulle doen mee, totdat iets beter oor hulle pad kom.
Geluidloos en rats spring hulle oor die heining, loop verby die vreemde voertuig wat die manne vir die kinders gebou het, en langs die twee Jeeps hurk hulle ‘n oomblik om die terrein behoorlik te verken.
“Civvies!” Fluister die korter man en gee vir sy makker ‘n gemaak-simpatieke grinnik. Dan sluip hulle na die huis toe, gewere gereed. Die groot stoep wat reg rondom die ou huis loop se vloere is rooi en tot ‘n rukkie gelede gereeld gepolitoer. Hulle wip oor die lae muurtjie wat al langs die stoep loop en hurk aan die binnekant daarvan. Dan gebeur die onvoorsiene. ‘n M26 handgranaat val uit een se gevegsbaadjie en rol oor die stoep, waar dit langs die huis se buitemuur tot stilstand kom.
Na die aanvanklike skrik, sien hulle dat die pennetjie nie getrek is nie en Job tel dit vinnig op en sit die granaat terug in sy sak. Hy maak asof hy sweet afvee met sy regter wysvinger en dan sweepslag hy dit asof hy die nattigheid kamma afskud. Chris kyk hom kwaai aan en wys met twee vingers na sy eie oë in ‘n teken dat Job sy oë moet oopmaak en versigtig wees.
Versigtig loop hulle na die hoek van die huis, na waar die inwoners in ‘n verbete geveg met die res van die uniform-magte gewikkel is. Die naby knal van slotaksie-gewere, handwapens en af en toe die haelgeweer is in strak kontras met die vennynige knetter van outomatiese aanvalsgewere, ‘n bietjie verder weg.
“Jessica, luister!”
Fanie en Jessica is verbied om deel te neem aan die geveg, en hulle sit weerskante van ‘n groot sementpot met varings in die plante groei sterk en die takke hang so ver van die rand af, dat dit amper die twee kinders versteek.
Nadat Fanie gepraat het, draai die twee om en kyk na waar die geluid van die vallende handgranaat gekom het. Hulle hoor ook nou, bokant die geraas en knal van die vuurwapens, die “tjie-tjie” van rubberstewel-sole op die blinkgladde vloer.
Job staan regop teen die kant van die huismuur, met sy wapen vertikaal, die veiligheidsknip afgehaal, en sy vinger op die sneller. Dit is ‘n beweging wat hulle goed ken, en baie geoefen het. Chris beweeg by hom verby en gelyktydig kom Job langs hom, wapens gerig op die vyand. Hulle het egter begroot vir die figure van volwassenes, met hulle aandag na die voorkant van die huis, vanwaar die aanval kom.
In die breukdeel van ‘n sekonde wat dit vat vir die twee soldate om te besef dat die mense aan hulle voorkant nie volwassenes is, met hulle rug op hulle gekeer nie, maar twee kinders wat plat op die vloer sit, het Jessica twee skote na Job se kop geskiet met die pomp-aksie Remington en Fanie een skoot na Chris s’n. Die afstand is minder as sewe meter en hulle skiet nie mis nie. Selfs die klein kaliber .22 koeëltjies is dodelik op hierdie kort afstand. Die twee soldate sneuwel langs mekaar.
*
Die geveg duur nog ‘n kwartier lank. Geleidelik begin die eerstes retireer, aanvanklik geleidelik, en later met meer ywer. Die laaste man skiet nog met die R4 oor sy skouer terwyl hy weghardloop en dan is die pad en sypaadjies leeg, behalwe vir die dertien dooie en gewonde manne. ‘n Sleggewonde polisieman hou sy been vas, wat reguit voor hom lê en kerm van die pyn. Sy knieskyf is deur een van Linda se .270 snellopende rondtes getref en dit het uitmekaar gebars. Al die ligamente is af en slegs ‘n bietjie spier en vel hou die bo-been en kuit aanmekaar. Aanvanklik was dit nie seer nie, maar nou, na ‘n paar minute waarin die lewe na die skok terugkom, is die pyn amper onhoudbaar.
Veraf is die geknal van Johan Fourie se groot nege-drie nog hoorbaar as hy twee skote vuur. Daarna is dit stil
“Iemand seergekry?”
Behalwe natuurlik vir Madel en Bartel wat noodlottig gewond is, het nog ‘n paar mense ligte wonde opgedoen.
“Fanie, Jessica? Waar is julle?”
Die twee antwoord nie. Die skok van wat hulle gedoen het, is nog te groot. Boesman loop na waar hulle staan en woordeloos kyk na die kant van die stoep waar die twee soldate lê.
“Wat gaan aan? Is julle…”
Juda het nou ook nader gekom en hy en Boesman kyk na waar die twee manne lê. Dit vat net ‘n oomblik om te besef wat gebeur het.
“Fanie, Jessica, as dit nie vir julle was nie, dan was ons dalk nou almal dood”.
Jessica begin nou openlik snik. Sy gee die Remington vir Juda.
“Vat Oom! Ek wil nooit weer ‘n geweer naby my hê nie!”
Fanie lyk ook asof hy wil begin huil, maar dan, in plaas van om sy rewolwer vir een van die grootmense te gee, maak hy die laai-hekkie langs die kant van die rol oop. Met bewende vinger druk hy die doppies uit, laai vars rondtes uit sy sak, maak die hekkie weer toe en met vasberadenheid druk hy die rewolwer in sy gordel.
Juda loop na die twee dooie manne toe, deursoek hulle en sit wat bruikbaar is op een van die stoepbanke. Daar is die twee R4’s, die nege millimeter pistole en ‘n paar volgelaaide magasyne. Wat vreemd is, is die drie kort pistoolmagasyne en ‘n halwe pak .45ACP rondtes in Chris se gevegsbaadjie. Hy deursoek hulle en uiteindelik sien hy die bult onderaan sy been, by sy enkel. As hy die broekspyp opskuif, haal hy ‘n kleinerige pistool uit ‘n enkelholster. Dis ‘n Star PD. Ten spyte daarvan dat dit klein is, en maar sewe honderd gram weeg, is dit ‘n formidabele wapen. Met holpunt ammunisie en die swaar van die kaliber, is dit so doeltreffend as maar kan kom.
“Ek ken daardie goed”, sê Boesman. “Ek het eenmaal met een geskiet op ‘n skietbaan. Met dié dat dit klein en lig is, skop die ding soos ‘n muil. Nie onhanteerbaar nie, maar nie die tipe ding waarmee jy heeldag wil skiet nie.”
Johan het intussen bygekom. Hy het oor sy skouer ‘n R4 en in sy hand drie magasyne. Hy sien die Star by Juda.
“Wil enigiemand die pistool ruil vir ‘n bruikbare R4?”
“Jy moet vir Fanie en Jessica vra. Dis na regte hulle s’n.”
“Oom kan maar vat. Ek kom reg met hierdie rewolwer”.
Sodra Juda omdraai, trek Jessica aan sy mou. Sy vee die laaste traan met die agterkant van haar linkerhand af.
“Oom Juda? Gee asseblief my geweer terug.”