Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie – Prediker 9:10
BROKKIES UIT DIE BOEK - GEBROKE LAND (15)
Boesman kyk op as die eerste skote klap. Hy staan op om weg te kom van die gesoem van die gesels en kyk in die rigting vanwaar hy glo die knalle kom. Juda en Johan kom staan langs hom. Na ‘n tyd klap nog drie skote, nie vinnig na mekaar nie, maar relatief eweredig gespasieer. Nog drie en later in sarsies van vyf.
‘Wat kan dit wees?”
“Hang af van hoe ver, maar dit klink vir my soos ‘n redelike klein-kaliber geweer.”
“Wat maak hulle? Daar is net een geweer wat skiet, en niks wat terugskiet nie. Drie, dan weer drie, weer en dan vyf skote, weer vyf en so aan.”
“Dis iemand wat ‘n geweer instel, ek wed jou.”
“Met ander woorde?”
“Dis van ons mense.”
“Hoe ver dink jy is dit weg?”
“Soos die kraai vlieg? Miskien twee of drie kilometer. Die berge maak dat ‘n mens nie mooi kan hoor nie.”
“Ons moet maar versigtig wees. ‘n Mens weet nie wat of wie dit is nie.”
*
Percy geniet die rit. Sy spiere is nou soepel en hard, die fiets ‘n deel van sy lyf. Waar hy aan die begin bloot getrap het om iewers te kom, is hy, soos tipies kind, die heeltyd besig om te kyk wat hy met die ding kan doen.
Dis ‘n baie duur bergfiets, met ‘n ligte raam, puik ratstelsel, sterk wiele en goeie bande. Teen die afdraandes bereik hy ‘n redelike hoë spoed en sodra hy teen opdraandes ry, begin hy die wisseling van die ratte so vinnig en glad doen, dat die inspanning minder word.
Saans slaap hy so beskut as wat hy kan, met ‘n stuk tou aan sy enkel en vas aan die fiets sodat iemand dit nie steel in die nag nie. Hy het ook nou geleer om met die pistool in sy hand te slaap. Gisteroggend het hy die wapen laat val toe hy getrap het, maar dit dadelik agtergekom, teruggedraai en die ding gaan optel. Gelukkig het dit niks oorgekom nie, maar hy het ook ‘n dun toutjie aan die greep vasgemaak en aan sy belt. Dis lank genoeg dat hy daarmee kan skiet, maar kort genoeg om nie die grond te tref, sou dit weer val nie.
Teen middag sien hy iets blink tussen die plantegroei. Hy trek briek en klim van die fiets af. Stadig, met die wapen in sy een hand en die handvatsels in die ander, loop hy nader. Dis ‘n Toyota Hi-lux bakkie wat van die hoofpad af, in die veld ingery het. Die stukkende voorruit, duike op die enjinkap en kantspieëls wat stukkend is, vertel die verhaal van ‘n voertuig wat onder klipgooiery deurgeloop het. ‘n Groot klip of baksteen het die verkoeler getref, want water het in ‘n poel onder die bakkie gelê. Dit het nou droog geword, maar die sand is hier en daar klam. Daar is niemand in of naby die bakkie nie, en Percy hou dit twintig minute dop om te sien of niemand terugkom nie.
Daar is drie rye spore wat vanaf die bakkie die veld binneloop. Twee grootmensspore en een kind. Uiteindelik loop hy nader. Hy maak die fiets staan teen die voorste buffer en versigtig deursoek hy die bakkie. Aan die binnekant is niks nie, maar op die agterkant, binne die seil, is ‘n paar blikkies kos, ‘n bottel Cream Soda koeldrank, ‘n halwe klein pakkie bruismeel, ‘n halwe bottel kookolie, en ‘n paar sjokolades. Hy kyk vinnig of niemand terugkom nie en steek die goed in sy rugsak.
Twintig minute later en ‘n klompie haastige kilometer verder, oorweldig die lus vir die sjokolade hom. Terwyl hy trap, voel-voel hy in die sak en haal een van die plakke uit. Hy eet dit te vinnig en word naar van die ongewone hoeveelheid ryk melk en suiker. Hy moet sluk om die naarheid binne te hou en surigheid styg in sy slukpyp op. Hy kry trane in sy oë daarvan, maar byt op sy tande en hou dit binne.
Na ‘n paar minute egter, is dit te erg, hy hou stil, klim af en span jong osse in. As hy sy mond met die agterkant van sy hand afvee, kyk hy met groot spyt na die bruin hopie sjokolade op die grond. ‘n Ontsettende hartseer oorval hom amper.
Nog ‘n les geleer, op die harde manier.
*
Ongeveer een duisend twee honderd kilometer van waar Percy hom nou bevind, sit sy pa plat op sy boude in die middel van die pad. Sy bene is voor hom gekruis met sy regter knie net ‘n entjie agter die linker een. Vier manne kom aangeloop in die pad voor hom. Daar is twee in die blou uniforms van die polisie geklee en nog twee in weermag-kamoefleerdrag. Veertig meter van Jack af skreeu ‘n sersant op hom:
“Ja, seker weer lekker gesuie, jy, nê?”
Jack antwoord nie. Die polisieman vererg hom en loop nou dreigend nader.
“Jy moet jouse bek vir my hou, hoor! As Die Man met jou praat dan antwoord jy ôrdentlik terug, boeta.”
Sonder haas, maar met ‘n gladde, geoefende beweging, haal Jack die .22 geweertjie agter sy rug uit, vat vinnig, maar sekuur korrel en trek die sneller. Die koeëltjie tref die sersant in sy mond, breek sy twee boonste tande en deur sy verhemelte sy harsings in.
Jack haal die geweer oor sonder om dit van sy skouer af weg te haal en die volgende koeëltjie tref ‘n weermaglid wat op hom korrel, maar in die skok van die oomblik nie die veiligheidsknip kan afkry nie, tussen die geweer en linker skouer, in die middel van sy keel. Hy laat val die geweer en gryp om die spuitende bloed te probeer inhou.
Die ander twee vlieg om en begin hardloop. Na ‘n paar meter kyk een om om te sien of Jack hulle agterna sit, en die koeëltjie tref hom laag op die voorkop. Die laaste man het sy R4 neergegooi en hardloop so hard as hy kan.
‘n Steekpyn in sy regterknie laat hom val en as hy afkyk, sien hy die bloed op sy broekspyp. Nog twee treë en die vergruisde knieskyf laat hom neerslaan. As hy opkyk, sien hy vir Jack bo-oor hom staan en kyk. Hy hou sy voorarms beskermend voor sy gesig en pleit.
Amper bejammerend en met teerheid vat Jack sy hand van sy gesig af weg en druk die .22 se tromp teen sy voorkop. Die reeds-gedempte geweertjie is nog stiller as die vel teen die loop die skoot verder demp.
*
Dis baie koud in die brigadier se kantoor. Die tweespoor verwarmertjie maak geen indruk daarop nie. Nogtans is die oorgewig majoor van die SAPD se voorkop vol pêreltjies sweet wanneer hy erg driftig sy saak stel.
“Myse manne sê hulle gaan nie terug nie, al gee jy vir hulle al die tee in China!”
Hy word beaam deur die weermag kolonel wat langs hom staan.
“Same here, sir. My men have refused to enter. Some have resigned, others have just deserted.”
“Have you tried to speak to the community leaders?”
“We have.”
“And?”
“Hulle sê ons moet uit,” val die majoor die kolonel en brigadier in die rede. “Hulle sê hulle sal agter vir hulleself kyk. Die gangs het met die community se leaders gaan praat en hulle sal tussen hulle klomp orde en vrede bring.”
“Is dit al?”
“Nee, Brig. Wat hulle vir ons gesê het is dat ons ‘n sekere seksuele daad met onse selwers moet gaan doen, as jy weet wat ek bedoel?”
Die twee weke van burgerlike onrus het ongekende geweld na die Kaapse Vlakte gebring. Die gemeenskap het hulle by Jack begin skaar, eers twee en drie, toe vinnig vyftig, vier honderd en later by die duisende.
Die bendes het na al die jare waarin hulle die gemeenskap oorheers het, met hulle in gesprek getree. Die Americans, die Twenty Eights, Sexy Boyz, die tronkbendes wat nou vrygelaat is, die dwelmsmokkelaars, die onwettige dranksmouse, die sigaretsmokkelaars – wat die afgelope tyd hulle omset vertiendubbel het gedurende die vebanning met die inperking – en al die honderde kleiner bendes.
Feitlik almal is gewapen, met wapens wat deur die jare deur dieselfde polisiemag aan hulle verkoop is. Wapens wat wetsgehoorsame burgers dwarsdeur die land ingegee het gedurende die sogenaamde “amnesties”, wapens wat aan polisie en weermaglede uitgereik is en “weggeraak” het.
‘n Paar maande gelede het die SAPD erken dat hulle die afgelope tyd meer as 9,5 miljoen rondtes ammunisie verloor het. Die amptelike weergawe aan die parlement is dat daar die afgelope jaar meer as vier en ‘n half duisend wapens “verlê” is. Indien dit moontlik sou wees, sou ‘n sensus kon bepaal dat daar sewe maal meer ongelisensieerde wapens in die Vlakte is, as wat die SAPD en die weermag saam het.
Die Magte het die afgelope weke negentien Casspirs, vier Ratels, elf Mambas en meer as veertig Nyala’s aan brand afgestaan.
“Wie is hierdie ‘Jack’ wat nou die kitaar slaan?”
“Dis die ouman wie se ma julle ge-manhandle en doodgemaak het ‘n tydjie terug. Ook sy se kind, wat nou gevlug het.”