Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ook tot in julle ouderdom is Ek die HERE, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red – Jesaja 46:4
BROKKIES UIT DIE BOEK – ROBYN (6)
Sodra mag aan verkeerde mense oorgedra word, sal hulle die regte van burgers stukkie vir stukkie wegkalwe, dit vervang met onbillike wette, wat selfs aanvanklik aanvaar sal word as iets wat skynbaar goed is vir almal. Heel demokraties en selfs goedguns vanaf die heersers, sou sommige glo. Wanneer dit egter sy negatiewe uitwerking begin wys, is dit gewoonlik te laat om dit te herroep. Die owerhede maak dan maklik nuwe wette om die eerstes te verskans en selfs meer legitiem te laat voorkom. Die moderne burger is makliker verleibaar as dié in die verlede, grootliks omdat hy lui geword het om te dink. Selfs kinders en jongmense het opgehou om speletjies uit te dink, om fisies deel te neem, en sal eerder hulleself laat oorneem deur rekenaarspeletjies en elektroniese sosiale media. ‘n Gebrek aan spasie, gevaar om buitentoe te gaan en blote paranoia speel ook aanleidende rollle. Dit bring ‘n “dumbing-down”-effek mee.
In ‘n tydvak waar daar meer mense op aarde is as ooit vantevore, is dit nie vreemd nie dat meer en meer mense van die samelewing begin onttrek, nie noodwendig na ‘n allenige bestaan in ‘n afgeleë plek soos die pioniers van twee honderd jaar gelede nie, maar in ‘n kluisenaarsbestaan binne die sentrum van die stad of dorp.
‘n Werksgeleenheid, waar hy noodgedwonge aan die samelewing blootgestel word, is vir so ‘n mens bloot ‘n inkomste om sy alleenheid te finansier. Elektronika is ‘n wonderlike ding. Dit kan van ‘n onaansienlike, oorgewig of ondergewig tiener ‘n superheld maak as hy sy virtuele kostuum aantrek en ‘n held word in ‘n fantasieverhaal wat in ‘n ewe virtuele milieu afspeel.
Niemand vra hoe hy of sy werklik lyk nie, wat sy sosiale vaardighede en intelligensie is nie, maar sy waarde word bloot gemeet aan die behendigheid waarmee hy ‘n elektronies-geïnduseerde vyand van die gras kan afmaak.
Indien daar nog tyd in die dag oor is, sal die persoon hom of haarself laat wegvoer in die fantasieë van die televisie, waar fiktiewe vermaak en die nuus nie wesenlik van mekaar verskil nie. Hier – in die speletjies - geld normale wette nie en kan geweld en doodmaak tot die uiterste toe gevoer word, sonder dat dit onwettig is. Sielkundiges maan dan juis oor ‘n toekoms waar fantasie en realiteit nie meer van mekaar sal verskil nie. Dis juis ook een van die aanleidende beweegredes van massaskietery onder jeugdiges, veral in die VSA.
Wanneer die elektriese voerkrag egter onderbreek word, sal ouer mense smag na ‘n koppie warm koffie, ‘n ete, stort of bad, lig en selfs hitte. Iemand wat sy toevlug neem tot ‘n virtuele werklikheid sal tydelik van sy identiteit ontneem word, totdat die selfoon of rekenaar se battery gelaai is, die Wi-Fi weer herstel en die ontvlugbare kwasi-werklikheid weer herstel is.
Die owerhede sal hierdie nuwe manier van lewe maklik manipuleer om die intelligensie-verontneemdes geleidelik, maar onverpoos te bombardeer met ‘n nuwe werklikheid, nuwe standaarde en ‘n nuwe etos, waar niks meer bevraagteken word of gemeet word aan ouer norme nie. So word die ankers van die verlede, soos Godsdiens, die familie, gesin, kerk uit die mens se bestaan weggeneem en word vervang met ‘n meta-realiteit.
Wanneer die virtuele realiteit egter ineenstort, soos dit noodwendig sal gebeur wanneer die elektrisiteitsverskaffer sy kaarte uiteindelik van die tafel af stoot, word die ontvlugteling, net soos die riële mens, met die werklikheid gekonfronteer. In hierdie realiteit kan jy nie ontvlug deur ‘n rukkie te pouseer en ‘n toebroodjie of koeldrankie te gaan neem nie, terwyl jy die “reset” op die program in werking gestel het.
Jy kan nie die “level” of vlak oordoen totdat jy dit uiteindelik bemeester en na die volgende een aanskuif of gepromoveer word, waar jy met meer lewens en beter wapens toegerus word nie. Om te verloor is finaal en onherhaalbaar. Dis dan wanneer die water ophou vloei in die krane, die nag donker word en die kos nie vanself aangery word deur vragmotors nie. Die toilette sal ophou spoel en die stank in die lug hang.
Wannneer dit plaasvind is die pes wat in die donker loop werklik en hy gaan jou lewe finaal neem. Dan skakel jou rekenaar onkeerbaar totaal af, soos Stephen Hawking oor die dood gepraat het. Jy word ontneem van jou elektroniese lyfpantser, jou helm en jou nagvisie en nag bly donker, met onsigbare vyande wat net buite jou sig wag.
Dit is die tyd wanneer die onafwendbare natuurwette die onrealistiese regeringswette vervang. Skielik word jy aan die naakte onsimpatiekheid van realiteit blootgestel en jy moet oorleef.
Selfs vir mense wat met albei voete in die werklikheid vasstaan, is dit ‘n bestaanskok wat neig om jou hoop in wanhoop, hooploosheid en uiteindelik in desperaatheid verander. Die mate waarmee dit die ontvlugteling gryp, is soveel erger. In hierdie desperaatheid sal mense enigiets doen en hoop om selfs die skyn daarvan te herstel.
Die samelewingsnorme wat intussen plek gemaak het vir fantasievlugte, waar die speler sonder konsekwentuele reaksie ‘n nuwe waardesisteem geskep het, ontneem die gemeenskap van orde, meegevoel en reg. Desperaatheid word tot nuwe hoogtes gedryf, vergesel met ongebreidelde geweld.
*
“Stadig, vriend, ek kom in vrede,” sê Cas Blake.
“Lig maar in elk geval jou hande,” kom die antwoord van Calvyn af, waar hy agter die Colt lê.
“Haal daardie skietyster van jou lyf af en sit dit saggies op die grond neer,” gaan hy aan.
Cas haal die Beretta van sy borsharnas af en sit dit op die sementvloer neer.
“Jy lyk nie te lekker nie, ou maat. Ek sal ook bly wees as ek kan inkom, ek voel nie veel beter as wat jy lyk nie.”
Calvyn laat sak die swaar pistool, maar hou dit steeds naby sy bors. Hoe kon hy binne so ‘n klein tydsbestek so swak word?
“Nou kom sit. Kry vir jou ‘n slukkie water, of nog beter, kry vir ons ‘n paar bottels daar uit my Cruiser. Kry sommer ook iets om te eet, maar loop so dat ek jou heeltyd kan sien. Ek ken jou nie en ek vertrou jou ook nie.”
Wanneer Cas met die water en eetgoed – beskuitjies, sjokolade en biltong terugkom, is dit sonder om in die wapen vas te kyk. Hy gaan sit op die vloer langs Calvyn, gee die eetgoed aan en wag dat hy iets aangebied word.
“Kom nou. Ek is nie jou kelner nie. Vat en eet.”
Vir ‘n volle tien minute sê niemand iets nie. Hulle is te besig om die beskuitjies en biltong met lou water af te sluk.
“Cas Blake,” sê hy en hou sy regterhand uit. Onwillekeurig vat Calvyn dit.
“Calvyn,” antwoord hy. “Bly te kenne.”
“Hoe lank lê jy al hier?”
“Ek weet nie. Tyd het verbygegaan.”
Daar is weer ‘n paar minute stilte, terwyl hulle die sjokolade geniet.
“So, Cas Blake, wat bring jou hier na my nederige tuiste?”
“Tuiste, sê jy? Lyk maar nie asof jy goed is met binnenshuise versiering nie. Ek was op pad met my fiets, toe iemand ‘n kabel oor die pad gespan het. As ek laer gesit het, was my kop af, ek sweer!”
“Seergekry?”
As antwoord trek Cas sy baadjie, trui en hemp uit. ‘n Bloederige streep lê dwarsoor sy bors. Weerskante van die streep is dit blou en pers. Hy vat versigtig aan die seerplek en trek ‘n skewe bek van die pyn.
“Smeer ‘n bietjie van die anteseptiese salf aan en drink ‘n pynpil. Stadig net, ons het nie baie nie.”
“Ons?”
“Ja, wel. Jy is nou hier, jy het my kos opgeëet – nou moet ek jou seker maar verdra, of hoe?”
*
Robyn het uiteindelik die formule gekry. Dis nie ingewikkeld nie en behels grootliks dat sy die polistireen in die petrol oplos, totdat dit ‘n baie dik pasta maak. Stef het nog twee maal teruggegaan na die kitskoswinkel en al die orige polistireen-bakkies gaan haal. Hy help ook om ‘n baie vlak, smal slootjie, nie net om Robyn se huis te grawe nie, maar sodat dit ook hulle s’n insluit. Hulle rol die pasta uit in lang worse, wat hulle in plastiek en aluminium foelie toedraai. Onseker oor die betroubaarheid van die goed, hoe lank dit sou vat vir die petrol om uit die mengsel te verdamp en hoe vining dit gaan brand, rol hulle hierdie worse op en bêre hulle dit in lugdigte plastiekhouers, waar Robyn se man vantevore kos in geberg het. Sy is seker dat as die gevaar te groot word en hulle dit moet gebruik, kan sy dit redelik vining in die slootjie lê.
“Stef, vat jy helfte en as dit nodig word, dan sit jy dit uit van julle kant af.”
“Dink Tannie dit gaan werk?”
“Ek hoop so. En hou op om vir my ‘Tannie’ te sê.”
“Ja, Tannie.”