Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons het ander mense in ons lewe nodig om hulle liefde te kan gee en om liefde te kan ontvang, mekaar te bemoedig in ons lewensstryd, en om te ontdek dat ons aanvaarbaar is. Meer belangrik nog, ons het ook hier op aarde iemand nodig om mee te kommunikeer. Daaroor het God ons as groepsgebonde mense geskape.
BROKKIES UIT DIE BOEK – ROBYN (7)
“Ek is sò moeg!” prewel Hermaans en gee homself oor aan selfbejammering. Sy kos is feitlik klaar, die water wat hy gedrink het smaak na modder en hy is moeg, so moeg soos wat hy nog nooit vantevore was nie. Dit voel vir hom asof sy binneste aan die ruk gaan van uitputting.
Hy het sleg geslaap, met die ongemak van die buitelug en die koue wat tot in sy been en murg ingedring het. Vanoggend het hy van die vuil water warm gemaak op ‘n vuurtjie en gedrink, net om iets warm in sy lyf te kry. Die trane wel op in sy oë en hy vee dit sommer met sy mou af. Dit kos hom amper sy lewe.
Die vier makkers wat vroegdag sy effense vuurtjie geruik het, het dadelik daarheen begin beweeg. Dis nie baie ver om te loop nie, maar dis gebroke terrein, besaai met klippe van alle grootte. Die skuinstes bestaan uit klip op klip en selfs vir ‘n mens is dit moeilik om te loop. Hier en daar moet hulle hande-viervoet uitklim om net later op hulle boude aan die ander kant af te seil. Tussen die laaste helling en Hermaans self is ‘n paar digte struikbosse en as dit nie daarvoor was nie, sou hulle mekaar vroeër in die oë kyk.
Met oë wat nog half swem in die selfbejammeringstrane, kyk Hermaans na sy regterkant toe en sien ‘n paar klippe afrol tot nie meer as tien meter van hom af nie. Hy staan op, pluk die Heym se slot agtertoe en druk ‘n rondte in die loop sodra die eerste man opstaan van sy boude af.
Sonder om te huiwer trek hy die skoot en die swaar rondte tref die ou op die krop van sy maag, dring deur en tref die een agter hom in die heup. Die volgende man is by hom, asof hy nie eens die skoot gehoor en die skade gesien het nie. Terwyl Hermaans spook om weer oor te haal, gryp hy die voorkant van die loop vas en stoei om die geweer af te vat.
In plaas van in die teenoorgestelde kant te trek, stamp Hermaans die geweer vorentoe en dit tref die makker op sy bo-lip, skeur die vel van sy lip oop en breek ‘n voorstand. Die bloed loop vryelik uit sy mond en verskrik los hy die geweer. Hy val agteroor op die grond, met sy hande agter hom en kry ‘n vuis-grootte klip in die hande.
Sy maer, seningrige lyf wip op en hy bring die klip agter sy rug om te gooi. Hermaans skop na die man en tref hom tussen die bene. Hy vou onwillekeurig dubbeld, trek sy knieë op en brul van die pyn, terwyl hy met albei hande gryp na waar dit seer is. Hermaans het dit nie so beplan nie, maar is beïndruk met die resultaat. Die vierde man sien dat sy makkers se stryd gewonne is en hardloop weg.
“Staan, of ek skiet!” bulder Hermaans agterna, maar die man luister nie. Indien enigsins moontlik, hardloop hy vinniger. Hermaans besluit om ‘n skoot langs die ou te skiet, om hom nòg vinniger en verder weg te kry, maar in sy haas rol ‘n klip onder sy skoen uit en hy slaan neer, presies daar waar Hermaans die skoot plaas. Dit tref hom agter, waar sy nek en skouers bymekaar kom, trek deur sy lyf se lengte en kom op sy lae abdomen uit.
Hermaans gee die een op die grond ‘n vennynige skop onder die sitvlak.
“Kom, ou vieslik. Maak dat jy wegkom. Ek is nie meer lus vir julle aanjagery nie. Eers neuk julle die land op en dan pla julle my vir brood. Ek is sommer lus en skiet jou net hier!”
Hy vat sy geweer, druk vars rondtes by die magasyn in, haal oor en korrel na die man, wat nie meer as drie tree van hom af lê nie.
“Nee, askies Oubaas! Jammer Oubaas, ek sallie weer nie. Ek sweer, jy sal my nie eers weer sien nie, ek sweer.”
“Nou ja, gaan sweer daar anderkant die berg. Voetsek!”
“Ek voetsek, Oubaas!” skreeu die man benoud, terwyl hy sy hoedjie van die grond af raap en wegskarrel.
Hermaans besef sy aanvallers is weg of plat, gryp sy karige besittings en spaander self so vining hy kan, die berg in. Nog hoër en nog verder. Na vyf minute se hardloop en klim is hy uitasem en gaan staan stil. Terwyl hy rus teen ‘n groterige klip, besef hy dat hy nie meer huil nie.
‘n Uur later sien hy die rook. Teen sononder kan hy oor die plaas kyk. Die drie huise en al die buitegeboue is almal aan die brand. Een opstal is duidelik baie oud, en die ander twee, een na die westekant en een suid, is baie nuwer.
Selfs van hier af kan hy die lyke deur die teleskoop sien. Dis van vier vroue en een man. Die man herken hy as ‘n bekende jagter van die omgewing – ‘n frisgeboude man in sy middeljare. Sy hare is gekoek met bloed en stukkies skedelbeen.
Die ironie is dat die vrugtebome hierdie jaar goed gedra het en ten spyte van die Covid-regulasies en die dreigende oorlog in Europa, weet hy hulle het ‘n goeie oes gehad. Die twee uitgebrande lorries, perde met sleepwaens en kalfies, se seile het afgebrand en die kratte vrugte verbrand saam.
Die hoë stapels bloekom en dennestompe staan onaangeraak.
*
“Ons kan nie hier bly nie. Een of ander tyd gaan meer mense as wat ons kan hanteer, hierdie plek ontdek en dan is dit verby met ons.”
“Ek het jou nie gevra om hier te kom intrek nie. Niks keer jou om jou skoeter te vat en te ry nie.”
“Dis waar. Dit lyk net vir my asof jy moed opgegee het. Jy sal eerder hier lê en vrek van ellende en selfbejammering, as om op jou tande te byt en te ry.”
“Gestel jy is reg. Kom ons neem so aan. Waarheen gaan ons? Ons kan nie terug stad toe nie, die see is te ver en hoe meer ons noord ry, hoe meer mense gaan ons kry. Ek kan jou ‘n papiertjie gee dat honderde duisende mense besig is om land-uit te vlug. Lesotho kan net sòveel mense hanteer, so ook Swaziland en Botswana. Namibië is uit die pad uit en die enigste werkbare roete is deur Zimbabwe, so ver as wat ‘n mens kan gaan vir tien duisend kilometer. En moenie dink ons swartmense is so dom dat hulle dink hierdie bakleiery gaan goed vir hulle eindig nie. Hulle sal altyd bang wees vir die blankes.”
“Dink jy so? Hulle is vyftig miljoen teen vier. Selfs al veg ons tot die laaste koeël, sal hulle ons steeds met getalle toegooi. Ja, ek weet nie waarheen om te gaan nie, maar soos die kraai vlieg is ons nie meer as vyf en twintig kilometer van die N1 af nie. Ons kan nie hier bly nie – dis nie ‘n opsie nie.”
“Wag nou eers. Jy sê getalle? Ja, daar is baie. Maar van die vyftig miljoen waarvan jy praat, is ten minste dertig miljoen vroue. Dit los ons met twintig miljoen. Daarvan is sekerlik tien miljoen kinders. Kyk net hoe het hulle die afgelope jare aangeteel. Ek weet ek skat wild en wakker, maar ek dink nie ek is ver uit nie. Nou ja, kinders kan ook doodmaak en vroue natuurlik ook, maar ek weet dis by hulle die uitsondering. Ons is wel, soos jy sê net vier miljoen en daarvan is ‘n beduidende aantal liberale en lafaards. Selfs al het ons, deur die land versprei, net een miljoen mense wat kan baklei, sal ons steeds aan die wenkant wees.”
“Wat maak jou so seker? Ons jongmanne het slap geword. Die ou manne, dié wat nog soldate was, is oud en oor die muur. En moenie met daardie storie kom van die ou manne wat in die Boere-oorlog baklei het saam met die tieners nie. Daardie ou manne was gehard, van die veld, jagters en plaasboere. Hulle het van kleins af leer skiet en het die veld geken. Dis nie meer so nie.”
“So, wat stel jy voor – dat ons maar net oorgee? En ek verskil van jou. Ja, baie van ons het in die stad grootgeword en ons ken nie meer die veld so goed nie. En dit sal natuurlik moeilik wees om aan te pas, maar het ek en jy nie dit reeds gedoen nie? En jy vergeet van ons vroue. Daar is baie van hulle wat net so goed soos enige man kan skiet, wat intelligent is, dapperder as baie manne en nooit sal opgee nie. Om die waarheid te sê, ek dink vroue sal harder veg as manne, want hulle sal soveel meer verrinneweer word as hulle in die hande van die barbare val.”
“Miskien, maar ek waarborg jou dat daar al baie van jou vier miljoen doodgemaak is en dat min van hulle ingegrawe is op ‘n plek waar hulle kan terugveg. En hoeveel wapens is oor? Weet jy hoe baie is ingegee die afgelope tyd, waarvan die lisensies verval het of bloot net nooit gelisensieer was nie? En dié ouens wat wapens het, mag net twee honderd rondtes per lisensie hê. Twee honderd! Weet jy hoe vining skiet ‘n mens dit uit? Nee, ons moet nie ‘n plek kry waar ons kan terugveg nie, maar eerder gaan wegkruip.”
“Weet jy wat Cas? Ek is spyt dat jy hier aangekom het. Kamstig groot meneer, met jou BMW en Beretta en houding. Ek is baie ouer as jy, maar kom die tyd, sal ek bly staan, as julle sawwe outjies lankal gehensop het. Gee pad, dat ek kan opstaan!”
“En dan?”
“Dan ry ek totdat ek iemand kry wat saam met my kan baklei!”
“Ek dog jy is te siek en seer om te ry. Jy het ‘n halfuur terug nog so gesê.”
Calvyn kyk vir Cas ongelowig aan.
“Jou blikskottel! Dis net ‘n plan gewees om my te laat opstaan!”
“En verder te ry.”
“Nou laai die kar dan maar as jy so op en wakker is. Of wag jy dat ek dit ook moet doen?”
‘n Halfuur later vertrek die twee voertuie by die gehuggie uit.