Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Abraham Lincoln het gesê: ’n Mens is so gelukkig as wat hy besluit om te wees. Jy kan ook op net soveel geluk aanspraak maak as wat jy bereid is om te gee; nie meer nie!
BROKKIES UIT DIE BOEK – ROBYN (9)
Calvyn en Cas Blake het nie ver gery daardie eerste dag nie. Selfs die lang bladvere van die Nissan-onderstel en die groot bande kon die gestamp nie heeltemal demp nie. ‘n Gesonde en onbeseerde mens kom dikwels nie die op-en-af beweeg van ‘n voertuig so intens agter nie en onbewustelik absorbeer ‘n mens se liggaam dit ook, maar ‘n beseerde mens, veral een wat soveel fisiese trauma soos die twee manne deurloop het, voel elke stampie, hobbeltjie in die pad of oppervlak met pyn. Nie dat hulle juis op ‘n werklike pad ry nie. Hulle hou by tersiêre en so af en toe sekondêre paaie, met sinkplaatoppervlak, slaggate, selfs vlak slote en klippe, wat hulle gang versteur.
“Dink jy nie ons kan vir ‘n rukkie aftrek en rus nie?”
“Ek is sò bly jy praat. Ek is seer tot in my siel. Selfs my seer is seer.”
Natuurlik is daar nie oral goeie rusplek nie en hulle ry stadig aan tot hulle ‘n half-afgebreekte gebou aan hulle regterkant sien. Hulle moet van die pad afdraai daarheen, maar sodra hulle naby kom, peul daar ‘n groep mense oral uit; by die deure en openinge, ‘n paar jonger manne spring selfs deur die glaslose vensters uit en hardloop om hulle af te sny.
Nog ‘n ander groep hardloop agter hulle aan en dis duidelik dat hierdie mense dit al voorheen gedoen het. Calvyn trap die versneller dieper in en die kleinerige diesel tel stadig, maar gewillig spoed op.
Hy skakel twee ratte terug en dit gaan vinniger, al is die ewenaarverhoudings relatief laag, maar die groot bande hou hulle terug. Hy het die Colt reeds gereed gehou om die eerste paar manne te skiet, toe hulle net-net betyds by hulle verby is. Die manne hardloop ‘n ent in hulle stof agterna en ‘n klip tref die agterkant van die Land Rover se laaibak, maar dan is hulle verby en veilig – vir nou.
Albei het vir ‘n paar benoude sekondes van hulle seerplekke vergeet, maar die pyn kom nou terug en hulle soek na ‘n paar kilometer weer vir ‘n afdraai en rusplek.
*
Hy het die smal, vlak stoompie begin volg van onder die kranse af. Dit maak nie ‘n watervalletjie oor die rotse nie, soos wat ‘n mens byvoorbeeld by Lajuma kry aan die Westekant van die berg nie, waar die water vir meer as tagtig meter in ‘n smal stroompie val en die boer selfs ‘n mini-hidroliese aanleg gemaak het met ‘n waaier, ‘n spoel en ’n lorrie se alternator. Maar hier loop dit kronkelend waar dit die minste weerstand vind, soos die natuur se wette dit bepaal.
Hermaans loop versigtig, want al is dit nie direk by hom nie, maak die water die smal spruitjie se kante modderig en die klippe is hier en daar klam en glad. Spoed en afstand kan nie meeding teen veiligheid nie. Om hier ‘n been of enkel te beseer se gevolg is ‘n gewisse dood. Niemand weet hy is hier nie en niemand sal hom dus kom soek nie. Hy is ook te hoog in die berg dat mense hier verby sou kom – in elk geval, waarheen sou hulle wil gaan, hier is niks behalwe berge en nogmaals berg nie.
Daar is ‘n lae watervalletjie aan sy linkerkant, seker nie meer as sewe meter hoog nie en die water het ‘n vlak poeletjie uitgekalwe in die rots, waar dit al vir honderde jare val. Dit veroorsaak ‘n fyn sproei wat koel en verfrissend net bokant dit hang. Hy kan dink dat dit heerlik moet wees om hier te kom uitspan in die somer.
Hermaans oorweeg dit om hier te oornag, maar besluit om eerder nog aan te gaan; nòg hoër, nòg dieper die berg in, verder weg van die moontlikheid van mense af. Hy is ook nie teleurgesteld as hy vyftig minute later en dertig meter hoër, by ‘n klein, groen, grasperkie kom nie. Dis amper asof iemand dit aangeplant het en in stand hou, soos dit partymaal gebeur hier in die berg. Die fonteintjie spruit hier uit die middel van die gras, nie ‘n spuitfontein nie, maar dit borrel net ‘n paar sentimeter hoog uit die grond, kartel dan skuins van hom af, en verder teen die berg af.
Hermaans sit die twee gewere neer, ver genoeg van die fontein af, sodat hulle nie klam kan word en dalk roes nie, sak op sy knieë af in die klammigheid van die gras langs die fontein, hou sy mond oop, sodat die koel, vars, heerlike fonteinwater daarin vloei. Hy het lanklaas iets so lekker geproe as hierdie onbesoedelde, onbehandelde en chemikalieë-vrye water.
‘n Mens wat lank genoeg op sy eie is en in die natuur beweeg en oorleef, ontwikkel amper iets soos ‘n sesde sintuig. Hy voel onrustig, amper asof iets of iemand vir hom kyk. Hy lig sy kop op en kyk vas in die geel, deurdingende oë van ‘n uitgegroeide mannetjies-luiperd. Hy weet nie of die dier nog die hele tyd hier was en of hy saggies nadergesluip het toe hy hom gewaar het nie. Hermaans weet dat die Soutpansberg daarvoor bekend is dat dit op plekke die grootste konsentrasie luiperds huisves, maar is nogtans geskok as hy die dier sien.
Hy besef instinktief die gevaar daaraan verbonde, want ‘n slegte byt of krap sal onafwendbaar sleg word en hy het niks om dit mee te behandel nie. Netso kan die dier hom maklik doodbyt en opvreet, maar hy dink nie eens daaraan nie. Net so seker as wat ‘n verstuite enkel of ‘n knie wat ontwrig is, sy lewe kan kos, so sal dit ook gebeur as hy ‘n sny, krap of bytplek kry.
Vir ‘n paar baie lang sekondes kyk hy en die luiperd mekaar in die oë en dan lig die mannetjie sy lippe om die skerp, gevaarlike tande te ontbloot. Sy neus verkreukel en diep uit sy binneste rys ‘n swaar en lae gegrom. Soos enige ander kat, piets sy stert heen en weer.
Die oomblik toe Hermaans agtertoe gaan sit op sy voete, maak die luiperd gereed om te spring. Hermaans weet hy kan onmoontlik een van die gewere betyds oplig en trek so vinnig hy kan die rewolwer uit die skede aan sy sy.
Hy het nog nooit vantevore ‘n skoot met die Ruger geskiet nie en is half onkant gevang as hy die erge terugskop in sy hand voel. Hy weet nie of hy getref het nie, want die volgende oomblik is die kat op hom, hy val agteroor en ruik die stank van die oop mond, sentimeters van sy gesig af. Instinktief bring hy sy linkerarm op om sy gesig en kop te beskerm, voel hoe die dier se tande in die dik baadjie inboor, die kat se voete met die skerp, lang kloue op en af teen sy baadjie vasskop om sy maag oop te skeur, maar die dik hooibelt keer dit effens, genoeg dat die baadjie skeur, maar nie sy velle nie.
In absolute paniek bring hy die rewolwer op, druk dit teen die kat se kop en trek die skoot. Bloed en stukkies been spat oor sy hand en gesig en die luiperd verslap op hom, genoeg dat hy hom onder die ding kan uitwikkel met krag wat uit angs en paniek gebore is. Eers as hy hygend opstaan, skiet hy nog drie skote in die borsgedeelte van die dier. Dis egter nie nodig nie – hy is dood.
Hermaans voel ‘n seer lamheid in sy linkerarm en koue skok trek weereens deur hom. Hy pluk die baadjie angstig uit trek sy hempsnou op sover as moontlik en verwag die ergste. Daar is duidelike bytmerke aan sy arm, wat sekerlik blou gaan word, maar dit het nie deur die vel gedring nie – die baadjie het gekeer. Hy voel sy bene lam word, maar gaan sit nie dadelik nie.
Hy strompel ‘n paar tree eenkant toe en val dan op sy boude neer. Met bewerige vingers swaai hy die rol van die wapen uit, druk die leë doppies uit en laai ses vars rondtes in.
*
Ten spyte van al die voorbereidings wat haar man gemaak het, maak Robyn ’n bestek-opname van alles wat geberg is, nie net in die huis se spens en die pakkamer nie, maar ook bo-in die hangkaste, onder die beddens en die pakplek onder die twee buffette. Daar is nog heelwat nie-bederfbare kos, medisyne en noodhulpvoorraad, bottels water, diesel vir die kragopwekker, genoeg (hoeveel is genoeg?) ammunisie vir die wapens en seep.
Daar is egter ‘n beperkte voorraad toiletpapier en tandepasta, miskien omdat die toiletpapier soveel plek opneem en om een of ander rede het Reiner gedink vyf buisies tandepasta is genoeg. Sy onthou nou ook hoe die mense inderhaas toiletpapier gaan soek het en die rakke leeg gekoop het met die vorige dreigende noodtoestand, nie net hier nie, maar veral ook in Australië.
Robyn het iewers gehoor wat ‘n mens kan doen om jou eie tandepasta en toiletpapier te maak, maar sy onthou nie die metode of die resep nie. Sy besluit om weer iewers in die nabye toekoms die huis te verlaat en vir papier, enige papier, te gaan soek.
Indien sy wel in die toekoms kan onthou hoe om die witgoud te maak, sal gewone papier sekerlik die vertrekpunt moet wees. Hoe het mense hulleself afgevee in die honderde eeue voor papier gebruik is, wonder sy. Sy kan ook nie by die bure gaan bedel nie, want hulle huis is nou tot oorlopens toe vol met die nuwe kuiergaste, wat wie-weet-hoe-lank daar gaan bly.
Sy oorweeg vir ‘n paar minute om van die mense te nooi om by haar te kom intrek, al is dit net tydelik en sy staan selfs reg om die deur oop te maak om daarheen te gaan, as sy haarself bedink. Iets hou haar teë, al kan sy nie ‘n vinger daarop lê nie. Sy skryf dit maar af as ‘n begeerte om haar privaatheid te beskerm, wat nie heeltemal verkeerd is nie. Sy het die afgelope maande geleer om alleen te bly, net vir haar en die diere te sorg en sy kan nie bekostig om soveel mense met haar beperkte voorraad te onderhou nie. Tog knaag ‘n stukkie selfverwyt ook aan haar.