Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God het geen behae in die dood van die goddelose nie maar dat hy hom moet bekeer. Wat doen ons om mekaar te waarsku teen verkeerde dinge? Sluit ons liewe vredesonthalwe ons oë toe vir ons kinders en geliefdes se sondige lewens? God sê dat daardie verlore siel se bloed dan aan ons hande sal wees. As ons die persoon wel waarsku en hy gaan voort om in goddeloosheid te leef, sê God dat ons daardeur ons eie siel gered het (Eség 33).
BROKKIES UIT DIE BOEK – ROBYN (10)
Die wind fluit onophoudelik, met stukke boom, los asblikdeksels, selfs sinkplate van die ander huise wat teen die kante van die huis vasslaan, en doof alle ander geluide uit. Selfs die honde, wat vir die geringste geluidjie in die nag sou opspring, hoor net die geweld van die storm.
Die eerste gewaarwording wat Robyn het, as sy skielik uit diep slaap wakker word, is die silhoeët van Bossman Gumede as hy afgeëts deur ‘n weerligstraal teen die venster, voor haar staan. Sy gryp instinktief na die haelgeweer op haar skoot, maar hy is vinniger, pluk die wapen weg en gooi dit eenkant, waar dit op die vloer val. Hy skop vir Bella en haar maat weg, en as sy weer op hom afstorm, slaan hy haar met die graaf, wat hy steeds in sy regterhand vashou.
“Come to me, my love, I’ve been waiting for you for so long!”
In sy fantasie-waan het Bossman homself voorgestel dat die vrou maar te gewillig sou wees om sy plesiere te deel. Hy pluk die kombers van haar af, gooi dit op die haelgeweer en tree nog nader.
Robyn sien die man effens teen die venster, ruik sy stink asem en nat, ongewaste lyf, en ervaar die skok van sy woorde. Die eerste gedagte wat by haar opkom is hoe het hy ingekom? Sy was so seker dat sy alles gesluit het. Hoe het die honde nie wakker geword nie?
Bossman Gumede sien die skielike flits voor hom, hoor ‘n knal wat harder is as die weerlig en donderweer, wind se geraas en die val en klap van voorwerpe teen die huis. Vir ‘n oomblik weet hy nie wat gebeur het nie, maar sy liggaam is tot stilstand geskok.
Robyn haal die groot .44 Magnum weer oor, die een wat onder die kombers op haar skoot gelê het en skiet weer. Bella kom grommend en woedend aangestorm, gryp na die man se hand, maar dis nie nodig nie.
Robyn neem die klein tweerigting-radiotjie en roep:
“Jaap, kom help, as jy kan!”
Binne twee minute is ‘n haastig-aangetrekte Jaap en sy twee seuns by haar. In die lig van sy helder flits sien Jaap die bebloede, nat en uiters dooie man voor Robyn op die vloer lê.
“Ai, Robyn, as jy iemand skiet, vat jy nie kanse nie, nê?”
Robyn antwoord nie, maar druk die twee leë doppies uit die rewolwer en vervang hulle met vars rondtes. Sy tel die haelgeweer op, vee ‘n paar druppels bloed van die kolf af en sit dit op haar stoel. Haar hande bewe net effens.
*
Geld kan nie liefde koop nie, ook nie geloof, genade en helaas, ook nie smaak nie. Aan die noord-oostelike deel van die dorp, aan die suidelike hang van die berg, is die helling die afgelope twintig jaar in terrasse gelykgemaak en ‘n nuwe skuldbult het verrys, waar daar vantevore net plantasie, inheemse bome en struike was. Spottenderwys word na hierdie woonbuurt, wat uitsluitlik deur swartmense bewoon word verwys as “Corruption Heights”, omdat die meeste, indien nie al nie, die huise gebou is met tendergeld.
Dit kos ‘n klein fortuintjie om die grond gelyk genoeg te maak om op te kan bou en ‘n baie groter fortuin om die huise op te rig. Die meeste hiervan is op kleinerige erwe gebou en die huise self beslaan die meeste daarvan, sodat daar tussen die geboue maar ‘n paar meter spasie is en dit al meer begin lyk na stegies (met kunsgras langs die mure).
Hierdie huise is feitlik sonder uitsondering dubbel en selfs drie-verdieping huise, met pilare, kolomme, boogvormige koepels bokant elke buitedeur en portale wat ‘n kombinasie blyk te wees van Gotiese boustyl, Neo-Doriese, kwasi-klassieke, nagemaakte Barok en met die eienaar en bouer se oordadige gebruik van eenrigting glas vir die reuse vensters, vlekvryse staal rame en boë, vanaf spierwit, tot donker pers geverf en kan beskryf word as Afrika-Parnevu boustyl. Die huise begin op sowat vyf miljoen en hou nie op na dertig miljoen rand nie.
Lucky Mpembe het ‘n tender ingesit vir ‘n paar kilometer se pypleiding vanaf die dorpsdam na die pompstasie. Hy het ‘n berekening probeer maak van hoeveel dit sal kos, by ‘n duimsuig bedrag gekom (hy is eintlik ‘n pompjoggie en nie ‘n kontrakteur nie, maar ken iemand in die munisipaliteit), ter wille van veiligheid dit met ses gemaal en sy tender geplaas.
Sy tender was verreweg die hoogste, maar die ander tenderaars het om die een of ander tegniese rede nie voldoen aan die vereistes nie (soos byvoorbeeld dat hulle wel aan die BEE en BBB-E standaarde voldoen het, maar nie ge”connect” was nie). Die munisipale bestuurder (‘n verlangse neef van Lucky se vrou) het die twaalf miljoen rand weereens met twee vermenigvuldig, met die voorwaarde dat hy sy bakhandjie-vol kry, natuurlik gewas deur die boeke van ‘n plaaslike kerk, wat ook hulle deel gekry het – ‘n Mercedes C320 Cdi vir die pastoor – en die tender is goedgekeur deur die munisipale bestuurder, wat natuurlik sy geskenkie van ‘n halfmiljoen gekry het.
Lucky Mpembe het beweer hy het nie die kapitaal om mee te begin nie en is die volle bedrag vooruit betaal. Die feit dat hy tot en met die uitreiking van die tenderaansoek ook nie ‘n maatskappy besit het nie en ‘n oorhaastige een vinnig deur ‘n amptenaar by CPIC geregistreer gekry het, twee dae na die tenders gesluit is, was nie van belang nie. Ook nie dat hy behalwe ‘n ou beton-kruiwa, ‘n verweerde pik en twee grawe geen konstruksie-toerusting besit het nie, maak ook nie ‘n verskil nie.
Hy het sy ou Corolla Pietersburg toe bestuur, dit ingeruil vir ‘n Mercedes Gelandewagen 6.3 AMG en dadelik ‘n erf aangeskaf, wat goedgunstiglik deur die munisipaliteit geskenk is, heel bo-aan Corruption Heights. Die duur grondverskuiwingsmasjiene het die baie steil skuinste gelyk gemaak, groot genoeg vir ‘n ses honderd vierkante meter huis op die sewe honderd vierkante meter erf. Die agterkant van die erf is vertikaal en meer as tien meter hoog.
Nadat Lucky ‘n vyftig meter-lange sloot na die pompstasie gegrawe het, het hy eers besef hoeveel die staalpyp gaan kos, sy berekeninge oorgemaak en met die hulp van die Hoof Finansiële Beampte en die munisipale bestuurder nog vyf miljoen bygekry het, waarvan twee miljoen weereens hulle pad na die “begunstigdes” (entitleds) gekry het, het hy tot sy sinne gekom, beide projekte laat vaar, sy wettige vrou en ses kinders aan hulle eie lot oorgelaat, sy minnares saamgeneem en oornag uitgewyk na Dubai.
Die kaalgestroopte stuk erf, met net die slote van die fondasies klaar gegrawe en ‘n klompie duisend bakstene op die sypaadjie afgelaai, het so bly staan vir ses maande.
Sikloon Hermas het ver bokant Limpopo verbybeweeg, maar as ‘n volsterkte kategorie vyf sikloon, het selfs die periferiese winde verwoed gewaai oor die dorp, het bome ontwortel, dakke weggevee, huise platgeslaan en miljoene tonne water oor die berg uitgestort.
Die leë erf waar Lucky se huis moes kom, is ontbos, maar nie gerehabiliteer nie. Die stortende reën het oor die naaste kruin van die berg gevloei, saam met dié wat direk daarop val en het die vertikale, skoongemaakte wal van vyftien meter deurdrenk, in ‘n modderhoop verander en dit het begin beweeg. Dit gebeur eers stadig, amper te stadig vir die oog om dit te volg, maar ’n diep grom uit die papnat helling moes gewaarsku het.
Sewentig ton kleigrond het begin verskuif. Dit lyk soos ‘n massiewe, donkerbruin, modderige wors wat aan die onderkant van die wal uitstulp, en uiteindelik op homself inval. Iemand wat die skouspel sou dophou, sou miskien verlig wees oor die vierkantige hope bakstene langs die pad en sou hoop dit stuit die beweging, maar dit word bloot saamgesleur.
Die modderstorting kry momentum, loop oor die teerpad en hoop op teen die naaste ander huis se baksteenmuur (dis vreemd hoe hoog die noveu riche hulle heiningmure bou) en stoot dit na ‘n halfuur om. Die eerste domino het geval en die modder, nou aangehelp die die steeds-stromende reën, loop eers half om die swakgeboude, maar imposante drieverdieping nabootsing van die paleis van Verseilles, maar vind dan ‘n swakplek, vergroot dit eers vanaf ‘n kraak tot ‘n skeur, uiteindelik na ‘n gaping en stoot die buitemuur om.
Die dak hang vir ‘n oomblik skeef, die té vlak fondasie gee mee en die hele gebou plof in, asof ‘n demolisiekontrakteur dit platskiet. Die bourommel word nou deel van die storting, loop die huis onder hom plat en brei dan uit kante toe.
Die momentum is nou geweldig en een na die ander huis en heiningmuur word deel van die brander, wat die hele buurt verswelg. Dit loop oor die teerstraat en oor helfte van die gelykte op die park aan die onderkant.
Onder normale omstandighede sou honderde mense in die puin vasgeval wees. Daar sou ook onmiddellik deur die rampbeheerspanne begin word om oorlewendes te soek, maar daar is nie meer iets soos rampbeheer nie en gelukkig is die meeste van die huise leeg, soos die inwoners reeds lank voor die storm padgegee het na ‘n meer verwelkomende Afrika, noord van die Limpopo.
Wanneer Robyn die volgende oggend die huis se gordyne oopmaak, groet ‘n vreemde gesig haar na die noorde toe: waar die nuwe skuldbult was, is ‘n halfmaanvormige gat teen die berg, asof ‘n reuse TLB dit met een skep weggehap het.
Die reën het nog geensins bedaar nie, inderwaarheid voel dit vir haar dit kom harder af as ooit vantevore, so al asof die natuur die aaklige skending daarvan probeer wegwas. Die modder kom to so naby as dertig of veertig meter van haar huis af. Dit is meer as drie honderd meter wyd, amper soveel diep na die berg se kant toe en op plekke seker baie hoog.
Hier en daar steek ‘n paar stukke beton, boomstamme, glas en selfs ‘n kar se dak uit. Verder is dit glad, asof iemand dit so gesmeer het teen die plek waar die huise gestaan het.
Dit is nie vir haar ‘n skok nie. Niks kan haar meer skok nie. Sy wonder onwillekeurig hoe lank dit gaan neem vir die natuur om hieruit en bo-op bome, struike, gras en ander plante te groei.
Sy sien die bure staan ook die skouspel en dophou, maar dit reën nog te hard vir hulle om mekaar te kan hoor.