Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
BROKKIES UIT DIE BOEK – ROBYN 11)
Hermaans staan die bek van die vlak grot en kyk buitentoe. Die reën maak ‘n ondeursigtige gordyn, wat sig beperk tot so vyftien meter. Die bedompige hitte wat die storm voorafgegaan het, het nou verander in ‘n koel, amper koue atmosfeer. Dis asof die wind effens gaan lê het, maar die reën neem in intensiteit toe.
Hy sidder as hy dink dat hy dalk daarin moes wees in plaas van hierdie plek waar dit droog is. Daar is natuurlik oorgenoeg water om te drink, maar die droë hout is al opgebruik en sy kos is klaar. Hy wens een of ander gedierte wil weer binnekom, of selfs net naby genoeg dat hy hom kan doodmaak en eet. Dis mos die wet van die natuur: eet, of word geëet.
*
Calvyn en Cas het ook gemerk dat die wind bedaar het, maar dat die reën al harder en vinniger val. Die paar dae in mekaar se geselskap en met die min ruimte het hulle geïrriteerd en knorrig gelaat. Die feit dat die meeste van hulle voedselvoorraad uit cowboy-boontjies bestaan help ook nie werklik nie. ‘n Paar harde woorde het al geval, maar gelukkig is albei te vol pynlike skete om mekaar te lyf te gaan. Uiteindelik het hulle ook ‘n verbale wapenstilstand uitgeroep en probeer vergeet van mekaar se slegte gewoontes.
Twee dae later besluit hulle om weer die pad te vat. Dis wind het immers bedaar en dis hulle grootste vyand. Met stukke byderhand-binddraad en tou probeer hulle die klein gapingtjies in die seiltent van die voertuig digter maak, trek elkeen hulle reëndigste klere bo-oor warmes aan en ry huiwerig uit hulle tydelike skuiling verder. Hulle is albei dankbaar vir die feit dat die kar groot bande het, hoog bokant die grond staan en ‘n semi-outydse dieselenjin, wat uiteraard sonder moderne elektronika werk en ook sonder ‘n outydse vonkverdeler met punte en kondensors en sulke dinge van ‘n petrolenjin wat kan staak as dit nat word. Hulle weet steeds nie presies waarheen hulle gaan nie, hoe ver dit is nie en hoop net die diesel hou. Die omgewing is verlate, want die massas wat aan die beweeg was voor die sikloon, het ook indertyd skuiling gaan soek.
Hulle ry stadig, maar bestendig aan en teen laatmiddag ry hulle met die nuwe pad verby Pietersburg, aan tot anderkant Matoks, maar as hulle by die Sandrivier kom, is die brug, soos in die vloede van 2000, weereens weggespoel. Daar is geen manier waarop hulle vandag daardeur kan kom nie.
Calvyn draai links, al langs die woedende water van die rivier af, totdat hulle agtien kilometer daarvandaan by ‘n smal, eenvoertuig bruggie kom. Dit is ‘n uitputtende tog, wat meer as drie ure neem. Die smal paadjie waarmee hulle ry, is plek-plek onbegaanbaar van bome wat omgewaai het, stukke rots wat daarop gespoel het en natuurlik die modder.
Die voertuig sak hier en daar tot meer as helfte die hoogte van die groot modderbande weg in die sagte goed. Net die lae ewenaarverhoudings, die laestrek van die oordrakas en baie bestuursvernuf bring hulle tot hier. Die water is nou nog te diep om deur te gaan en hulle aanvaar gelate dat hulle nog ‘n dag in die kajuit van die Land Rover moet deurbring. Miskien ‘n paar dae.
*
Die enigste bloedlose verandering van regeringsvorm die afgelope dekades het in Suid-Afrika gebeur, indien ‘n mens die voorafgaande politieke onluste, die Grensoorlog en die gevegte in die Natalse Middellande buite rekening laat. Gedurende die drie dekades na 1994 is die bloedprys egter oor en oor betaal deur Suid-Afrika as een van die gevaarlikste plekke op die lys van moordadige lande te plaas. Met meer as sestig moorde gemiddeld per dag, en met vier van die stede in die top tien van gevaarlikstes ter wêreld, is niemand meer veilig nie, selfs nie die politici wat omring is deur gewapende wagte, dag en nag nie. Waar geeneen van hulle dit selfs waag om kaffee toe te ry as ‘n konvooi bloulig-voertuie hulle nie vergesel nie.
Aan die begin van die derde dekade het politieke moorde dan ook weer gestyg en met felheid toegeneem so ‘n paar jaar vantevore. Die geld wat hierdie beskerming en ander byvoordele vir die swart elite inhou, kon inderdaad beter aangewend word om die SAPD en SANW beter te laat oplei, ‘n beter klas indiwidu in die magte te gebruik en om dus ‘n groot persentasie misdade te voorkom en te vervolg, indien nodig. Ongelukkig het diegene wat die ANC nog altyd volg ook gesien die skrif is aan die muur vir die party en wou hulle ten laaste ook ‘n plekkie kry om by die trog te vreet. Dis baie makliker om jou opponent te vermoor as om hom by die stembus te verslaan, veral as die stemtellers in daardie een se sak is.
Die werklose massas word steeds gepaai met SASSA-uitbetalings en die Covid-19 bonusse van R350, wat selfs na die opheffing van die inperkings van krag bly. Die regering spandeer R1 miljard per dag om die rente op buitelandse lenings te dien, terwyl die president in Abu Dhabi kuier om vir nog geld te gaan bedel.
Die belastingpoel is egter by die dag besig om te krimp, soos mense werkloos word (die werkloosheidsyfer volgens Statistiek Suid-Afrika is op rekordhoogte), besighede hulle deure toemaak, en selfs groot vervoermaatskappye soos Massyn, die handoek ingooi. Met die spoornetwerk onbegaanbaar gesteel, die padnetwerk wat op plekke meer slaggate as teeroppervlak het, word die vervoer van alledaagse benodigdhede en veral kos, baie dun getrek. Dis onrealisties, uiteindelik onmoontlik, om die land van die rantjie van die afgrond terug te bring.
*
Robyn maak voorraadopname en besef dat sy reeds ‘n groot duik in haar voorraad gemaak het, al werk sy so spaarsamig as moontlik, slaan soms maaltye oor (net sy, maar sorg dat die diere gevoer bly) en probeer aanvul waar sy kan, met kruie en groente uit die lappie wat sy aangeplant het. Sy wens sò sy het vroeër daarmee begin. Sy moet ook gedurigdeur daarteen waak dat die blou-ape nie al haar groente en vrugte opvreet nie. Nadat sy hulle op allerlei maniere probeer verdryf het, het sy ‘n paar haelpatrone oopgemaak en die lood met growwe sout vervang. Dit blyk te werk, al is dit net op die korttermyn. Sy gebruik spaarsamig aan haar toiletpapier, met die wete dat die alternatiewe net te drasties sal wees om maklik te implementeer.
Ten spyte van die vriendelikheid en aanbod van hulp deur die bure, vang die eensaamheid haar. Sy begin haarself uitvang dat sy meer en meer gereeld met die honde praat, en soms amper verwag dat hulle moet begin terugpraat. Die huis is silwerskoon, die gewere word elke dag skoongemaak en uiteindelik besluit sy om Jaap te vra om haar te leer skiet met die sewe millimeter Mauser. Dit was, ten spyte van haar bedenklikhede, baie makliker as wat sy gedink het en die teiken wat op die nuwe modderoppervlak gesit is, kan sy na ‘n paar skote elke keer raakskiet. Met net meer as ‘n honderd rondtes vir die geweer oor, besluit sy om dit te spaar en nie meer te oefen nie. Tog spandeer sy ure deur droë skote (met ‘n doppie in die kamer, sodat die slagpen nie beskadig word nie) te trek. Sy balanseer ‘n ou tweerand muntstuk horisontaal op die loop, net agter die voorvisier en oefen om die teiken op te lyn deur die teleskoop en die sneller te trek sonder dat die munt afval. Die meeste mense wat nooit leer om akkuraat te skiet nie, maak die fout om die sneller te pluk of te ruk en nie hulle hand bloot op die handgreep toe te maak nie.
*
Die reën het uiteindelik bedaar en Hermaans vat sy karige besittings, niks meer nie as sy wapens, die paar stukkies klere – nou skoon en droog – kookgoed en mes, loop uit die grot en begin suid-oos aanstap. Die rus het hom goed gedoen en hy vorder fluks. Vanoggend moes hy sy gordel nog stywer intrek en hy wonder hoeveel oortollige gewig hy al van ontslae geraak het. Hy is inniglik spyt dat hy nie al vantevore sy gewig dopgehou het nie; dit sou die hele krisis soveel draagliker gemaak het as hy dit nie moes saamsleep nie. Hy neem homself voor dat, as hy deur hierdie tyd kom, hy nooit weer sal toelaat dat hy meer as sy LMI (liggaamsmassa-indeks) sal groei nie.
Hy het nog nie gewoond geraak aan die lewe in die berg nie, en sal seker nooit nie, maar hy het geleer om te oorleef en dit nou al vir ‘n hele aantal maande. ‘n Paar jaar gelede sou hy niemand geglo het as hulle sou vertel hy gaan dit moet doen nie en hy sou dit selfs nie kon indink nie. Intussen het hy so baie geleer, nie net van die berg en oorlewing nie, van die gewoontes van die wildlewe en hoe om daarby aan te pas nie, maar ook van homself – waartoe hy in staat is, wat sy swakpunte is maar ook sy sterkpunte. Hy het geleer hy moet saam met die natuur leef en nie daartéén nie. Hy onthou dat hy voorheen ook van so iets gelees het, maar hy weet nie waar nie. Hy besef ook dat die beskawing soos hy dit geken en gewoond geraak het, niks anders is as mense wat die natuur van hulle af probeer weghou met huise, teerpaaie en heinings nie.
Hy neem homself voor dat, as hy hierdie hele besigheid oorleef, hy homself nooit weer gaan laat inperk met ‘n heining van geen aard nie. Uiteindelik hou heinings nie skelms en wreedaards uit nie, dit hou bloot die huisbewoner binne. Die natuur is ook nie wreed nie, dit is net. Dis neutraal, onpartydig. Dis wreed teenoor onkundigheid en swakheid, maar is ‘n vriendelike, vergewende en verwelkomende entiteit wat die sterkes en dapperes intrek en tuishou. Hy weet instinktief dat hy nooit weer ten volle gemaklik sal wees in die “beskawing” nie.