Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die laaste vreugdes van die lewe is nie net stiller nie maar ook voller en dieper as dié van die jeug. Die aand van die lewe voorsien sy eie lamp; nie ‘n skerp elektriese lig nie, maar die sagte, warm kerslig van Godsvertroue en dankbaarheid.
BROKKIES UIT DIE BOEK – ROBYN (13)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Na ‘n vuurgeveg is daar twee verrassings wat op ‘n mens wag. Die eerste een is die besef van hoeveel skote jy getrek het, en dus baie ammunisie gebruik het, sonder dat jy dit geweet het. Die tweede is dat baie minder mense gesneuwel het as wat jy gedink het. Menige soldaat of leier is al geskok oor beide hierdie twee gebeure.
Daarby is dit soms vreemd oor hoeveel skote die menslike liggaam kan absorbeer sonder om te gaan lê, maar ook die feit dat ‘n skynbaar ligte skoot ‘n mens kan laat omkom. Wanneer genoeg skote afgevuur word in ‘n algemene rigting van iemand, bepaal die wet van gemiddeldes dat iemand getref kan word, soos die Bybel meld van koning Ahasia, waar iemand aan die einde van die geveg sommer ‘n pyl losweg geskiet het en dit die koning tussen sy pantserplate getref het terwyl hy op sy strydwa wegjaag.
So het ‘n skut vanuit die takelwerk van ‘n skip die Engelse Admriaal, Horatio Nelson, gedurende ‘n seegeveg geskiet; iets wat half ongehoord was. Generaal Rommily is op ‘n afstand van 900 meter geskiet in ‘n tyd wanneer die effektiewe aanwending van ‘n geweer geskat is op tagtig treë. Niemand, nie die taaiste, sterkste, dapperste en hoogste opgeleide soldaat kan seker wees of hy ‘n geveg gaan oorleef nie. ‘n Koeël vra nie jou naam nie en dikwels sê hy bloot “heil die leser.”
*
Robyn se asem kom in kort, vlak teue. Nie omdat sy onfiks is, of omdat sy ver moes hardloop nie, maar bloot omdat sy besef sy het ‘n groter kans om hier te sterf as om lewendig terug te keer huis toe.
Sy wil nie die haelgweer voor haar uitsteek nie, want daar is ‘n kans dat iemand net om die hoek kan wees, wat die ding aan die loop kan gryp en uit haar hande pluk. Net so wil sy dit op iemand gerig hê as hy voor haar sou wees. Sy weet hoe vinnig ‘n aksie kan plaasvind gedurende ‘n geveg; dikwels so vinnig dat die persoon nie die gebeure later kronologies kan beskryf nie.
*
Maande gelede sou Hermaans nie eens daaraan kon dink om teen die skuins helling van ‘n berg af te loop nie, laat staan nog hardloop. Inderdaad sou hy gedink het iemand is mal om dit selfs aan hom te kon voorstel, maar vandag beweeg hy vinnig nader aan die huise waarvandaan die vyand skiet. Hy sien die vlamme by die huise uitbars en skielik raak die geklap van die skote meer intens. Tagtig meter van die woonhuise af is ‘n stuk muur wat nie weggespoel het nie en hy vind die amper-ideale skans daaraan. Die Marlin is sekerlik in staat om op ‘n verder afstand doeltreffend te wees, maar van hier af is dit uiters geskik.
‘n Lyf geklee in ‘n kombinasie van siviele drag en kamoeleeruitrusting van die nuwe SANW, verskyn in die teleskoop en hy trek die skoot sonder om te aarsel. Die swaar 240 grein koeël teen amper 1800 voet per sekonde uit die langer loop van die geweer en sonder die gasse wat tussen die loop en rol van ‘n rewolwer sou ontsnap, tref die kort, dikkerige man laag op die borsbeen, slaan ‘n gat so groot soos die diameter van die projektiel aan die voorkant, maar omvorm soos ‘n blom wat oopgaan, tref sy rugstring en kom agter hom uit in ‘n krater so groot soos ‘n teekoppie se bokant.
Daar is nog genoeg energie en momentum aan die koeël dat dit sy makker skuins agter hom teen die skouerknop tref en hom ook buite aksie stel. Hermaans werk die hefboom van die wapen so vinnig en geoefend, dat die een skoot na die ander so kort op mekaar volg, as wat hy nie sou kon droom om te doen met ‘n slot-aksie geweer nie. Die vyand het hierdie skote duidelik nie verwag nie en hulle trek terug agter die heiningmure van die huise waar hulle veiliger is.
*
Sonder dat hulle dit kon beplan, bevind Cas en Calvyn hulle in die volmaakte driehoek waar hulle vuurkrag kan verleen, met Robyn, Jaap en die seuns aan die een kant, Hermaans aan die skuins-teenoorgestelde hoek en hulle natuurlik aan die derde. Dit vorm ‘n driehoekige kruisvuur wat dodelik is en hulle haal agt van die vyand uit, voordat ‘n paniekerige bevel hulle terugbring na veiligheid.
Dit veroorsaak ‘n tydelike skaakmat-situasie, waar niemand nader kan beweeg sonder om raakgeskiet te kan word nie en waar die vyand ook nie kan uitbeweeg nie. Dis ‘n half-omgekeerde beleg soos Robyn die afgelope maande ervaar het.
Later sou sy besef hoe astrant haar volgende optrede sou wees. Sonder om die gevolge behoorlik te deurdink, hardloop sy na die voorkant van die huis waar ‘n skuinsmuur langs die voordeur loop, spring daarop en loop daarmee totdat sy naby die dak is. Sy gooi die haelgeweer tot bo net die onderkant die geut, gryp die geut met haar uitgestrekte hande vas en trek haarself op tot bo-op die dak van die huis. Sy tel die haelgeweer op en gebukkend loop sy totdat sy, soos ‘n paar maande gelede ook, bo-op die nok van die dak is.
Sy staan regop, wydsbeen, met haar linkerkant oorkant die nok en die regterbeen agter, en begin skiet op die manne wat nou vasgekeer is in die binneruim wat gevorm word deur die huis, die heining en die motorhuis. Dis soos om paddavisse in ‘n plaasdam te skiet. Op hierdie kort afstand is die skade wat die SSG-rondtes doen, vernietigend.
Miskien sou sommige van die manne wou oorgee – sy sou nooit weet nie. Met die agt skote is die haelgeweer leeg en sy gooi dit neer waar dit afgly tot halfpad oor die dak, tot teen die stinkpyp van die toilet. Sy pluk die rewolwer uit haar gordel en skiet daarmee totdat ook daardie ses rondtes klaar is. Sy soek ses nuwes en besef as sy in haar sakke voel, dat dit die laastes was.
Angstig probeer sy om die veiligheid van die dak se nok op te soek maar haar voet gly en sy besef sy is getref – waar en hoe hard of dodelik weet sy nie, maar sy weet instinktief dis raak. Dan onthou sy van die soliede slug-rondte wat Jaap gemaak het uit ‘n koeël-laer en lood wat in ‘n 20mm soksleutel gegiet is en in haar hempsak lê. Met die uithaal daarvan, gly haar voet verder, die rondte rol af, tot in die geut en sy word weer getref.
Paniek dreig om van haar besit te neem as die bloed die dak nog meer glibberig maak en sy gly tot langs die pyp van die toilet, wat sy met albei arms vasgryp. Sy laat gaan met haar regterhand, gryp na die haelgeweer en tot haar verligting, vat sy dit vas. Sy laat gaan ook met haar linker, gly verder teen die dak af, tot sy by die geut is, met haar hakke vasgekap in die geut, waar sy in vroetel, totdat sy die rondte in die hande kry.
Een van die vyandelikes, Paultjie Msepe, sien die vrou aankom met die skuinste van die dak, koes eers instinktief, maar besef dan dat sy nie meer skiet nie, gebruik die kans om sy pistool op haar te rig en ‘n skoot te trek. Hy weet dis raak, maar ook sy wapen is leeg en hy buk vooroor om een van sy gevalle makkers se AK op te tel. As hy opkyk is dit vas in die loop van die 12-boor Mossberg.
Robyn druk die rondte in die magasyn onder die loop, beweeg die aksie agtertoe en weer vorentoe, voel hoe die sluitstuk die swaar rondte optel, sien die man se kop in die visier, met die rooi liggie presies in die middel van sy krulletjies en trek die sneller. Haar voete gly van die geut af en sy tuimel tussen die vyand in. Alles word swart voor en om haar.
Dit voel vir Robyn asof sy deur dik stroop probeer om boontoe te swem, maar telkens as sy dink sy is bo, dan sink sy weer weg asof iemand haar aan haar bene aftrek na die bodem toe. Vaagweg hoor sy stemme, maar dan vervaag dit weer en sy sak in die warm donkerte terug. Uiteindelik spartel sy hard en met ‘n sug van verligting wat selfs vir die ander hoorbaar is, kom sy bo uit.
“Waar is ek?”
“Bedaar Robyn, jy is veilig.”
Sy hoor vreemde geluide: die van kinders wat iewers lag, van ‘n enjin wat loop, mense wat gesels en tot haar verbasing, sien sy bokant haar draai ‘n dakwaaier stadig in die rondte.
“Welkom terug my ding! Ons het ‘n paar keer gedink ons verloor jou.”
“Waar is ek?” vra sy weer.
“Jy is in ou eie huis, jou eie kamer, jou eie bed.”
“Hoe…?”
Robyn se kop is intens seer en as sy daaraan vat, kom sy agter haar lang, donker hare is baie kort, miskien nie meer as ‘n sentimeter of twee nie.
“Waar is my hare?”
“Ons moes dit afskeer om jou kop heel te maak, maar dit moet wag vir later. Vir nou eers moet jy rus. Ons sal al jou vrae antwoord, maar jy kan nou maar weet dat jy ons almal se held is.”
Robyn raak weer aan die slaap. Hierdie keer ‘n regte slaap en nie die diep koma van die afgelope tyd nie. Na ‘n paar ure is sy wakker en sien ‘n man met gewone klere aan maar ‘n stetoskoop om sy nek.
“Hallo. Ek hoor jou naam is Robyn? My naam is Victor, ek is ‘n dokter.”
“Wat het gebeur?”
“Jy is raakgeskiet mevrou, drie keer. Een maal in die been, in jou arm en hoog deur jou skouerspier Die groot skade was egter toe jy van die dak afgeval het en jou kop oopgekloof het”
“Ek onthou nie juis daarvan nie – ja, ek onthou dat iets my gestamp het en daar was bloed en toe skiet ek iemand in die kop…”
“Ja ek hoor so. Maar ek het vir Hermaans laat roep – hy sal jou beter kan vertel want hy was daar, maar ek het die storie al soveel maal gehoor ek kan dit amper in my verbeelding sien. Jy weet jy is almal se held nê?”
“Ek? Nee julle het dit verkeerd. Ek het geval…”
‘n Ouerige man met ‘n geweer oor sy skouer en ‘n rewolwer aan sy heup verskyn in die deur. Hy kyk na binne en klop saggies aan die oop deur.
“Kom binne Hermaans. Sy het net vir jou gewag,” sê Victor.
“Hoe gaan dit met die heldin?” vra Hermaans met egte bewondering in sy stem.
Robyn sit met ‘n neutrale uitdrukking op haar gesig; iets tussen vererg en verbaas.
“Ek weet jy ken my nie, maar ek is die man vir wie jy gewaai het op die berg en wat die eerste skoot geskiet het.”
“Dit was jy?”
“Dit was, maar jy is die vrou wat gehardloop, skiet, spring, gooi, op dakke loop en tekere gegaan het.”
“Jy laat my soos ‘n beserker klink en dis glad nie wat ek is nie!” Robyn se stem is hees en sy begin hoes van die droogheid in haar keel. Sy vat ‘n slukkie van die water wat die vreemde vrou langs haar, haar aanbied.
“Dankie.”
“Wel dis nie net ek nie. Daar is baie ander soos Jaap, Wanda, die seuns en twee manne wat net betyds daar aangekom het Cas en Calvyn.”
“Met so ‘n ou, vodde Land Rover? Ek onthou so iets.”
“Calvyn sal nie hou van hoe jy sy kar beskryf nie, maar ja dis hulle. En ja, jy is nie ver verkeerd nie. Die ou ding lyk maar gehawend.”
Hermaans beskryf die dag se gebeure en op haar vrae en tussenwerpsels antwoord hy beleefd en geduldig. Na ‘n driekwartier val Victor hom in die rede.
“Dis nou genoeg vir eers. Ons kan later aangaan Hermaans.”
“Nee wag eers. Hoe is dit dat ek kinders hoor en enjins en die waaier werk?”
“Soos ek verstaan, het een van die manne wat julle aangeval het, sy uniform uitgetrek en in ‘n hondehok opgekrul tot donker. Toe het hy uitgekruip en gevlug, sy maatjies gaan vertel, wat ander vertel het en dit lyk asof almal nou te bang is om hier te kom moeilikheid maak.”
“Maar die ander geluide?”
“Hier is nou baie mense. Jy was vir amper twee maande bewusteloos en intussen het mense gehoor dis veilig hier en hier bymekaargekom. Ons het kragopwekkers en water en elektrisiteit en daar word sommer ook geboer hier agter in die veld.”
“Kom nou, Hermaans. Basta met jou gepratery. Die vrou moet rus.”
Nadat Hermaans uit is vra Victor:
“Het jy krag om iets te eet?”
“Ja ek is honger! Wat het julle?”
“Enigiets wat jou hart en maag begeer. Noem dit en ons kry dit”
“Sjokolade. En melk en biltong!”
Victor glimlag.
“Wat van ‘n bietjie sop? En later tjokkies en biltong?”
Robyn sien haar honde, die gewere en rewolwer wat op die spieëltafel lê.
“Wanneer kan ek opstaan?”
Victor kyk in die rigting waar haar oë dwaal.
“Wanneer ek so sê, maar soos dit vir my lyk, sommer môre oormôre.”
Die geskiedenis leer dat min mense op waarskuwings ag slaan. Dis makliker om dreigende gevaar en onrus weg te wens en weg te redeneer, as om daarop voor te berei, veral as daar soveel maal in die verlede wolf-wolf geskreeu is en die ergste het nie gebeur nie. Niemand wil verkleineer word nie en die optimiste met hulle onrealistiese geloof dat alles sal regkom, doen dit graag met die realistiese waarskuwers. Die voorbereiders doen hulle voorbereidings stilweg en praat of spog nie daaroor nie.
In die Ou Testament van die Bybel, een van die mees volledige antieke geskrifte, is dit duidelik dat die profete soos Jesaja, Jeremia en Esegiël die koningshuis, maar ook die volk, gewaarsku het dat, indien hulle hulle nie bekeer nie, hulle vyande hulle sal oorwin en mettertyd selfs in ballingskap wegvoer. Ironies genoeg, is een van enigste stede wat op die profeet se waarskuwings ag slaan, Ninevé, die hoofstad van Assirië.
Dis duidelik uit die geskiedenis dat een van die magtigste ryke wat ooit geheers het, naamlik die Britse Ryk, totaal onvoorbereid was vir die Tweede Wêreldoorlog en indien die VSA nie miljoene tonne wapenrusting aan Brittanje verskaf het en later self ingeklim het nie, sou die oorlog dalk heel anders geëindig het.
In ons meer onlangse geskiedenis leer ons dat Rusland en die VSA die wil en durf van Afganistan se burgers heeltemal onderskat het. Die afgelope tyd het ons gesien hoe Rusland Oekraiëne se weerstand onderskat het. ‘n Oorlog wat ‘n Blitzkrieg moes wees van ‘n paar dae, rek tien keer langer uit.
In Suid-Afrika is al die tekens daar dat die regering sy houvas oor die volk en gebeure verloor. ‘n Innerlike stryd om mag het die regerende party reeds verdeel, korrupsie stoom voort, al is die trog leeg gevreet, die Staatsbeheerde Entiteite is feitlik deur die bank van binne af verrot en opgevreet, en die buitelandse staatskuld het gestyg na meer as 4,3 triljoen rand. Dis genoeg om vir elke inwoner van die land, man, vrou en kind, meer as 7,16 miljoen te gee.
Tog is dit duidelik dat hierdie geld aan ‘n klein persentasie swart-elite toegeken is, bloot omdat hulle op die een of ander manier aan die regerende party gekonnekteer is. Die gewone swart inwoner wat nie deel gekry het daarvan nie, sien met magteloosheid hoe die elite duur karre ry, luukse huise bou, oorsee gaan vakansie hou en pakke klere koop wat ‘n gemiddelde gesin vir ‘n jaar kan voed. Magteloosheid het ‘n manier om saam te vloei en in getalle kom magtigheid te voorskyn.
Daar gaan geen dag verby dat die massas nie êrens in die land hulle ontevredenheid wys deur middel van onrus en opstand nie. Die polisie en die weermag het in Julie van 2021 bewys dat hulle geen beheer hieroor het nie en nà die gebeure is vingers na almal gewys, behalwe die aandadiges.
Eskom is op sy laaste bene. Die tekenendste bewyse hiervoor is dat Solidariteit aan sy lede ‘n dokument gestuur het, waarin hulle ‘n lys van noodvoorraad vir twee weke aanbeveel, dat die gewese Hoof Uitvoerende Beampte van Eskom, André de Ruyter, toe verklaar het dat hulle freneties werk om ‘n totale netwerkineenstorting (black-out) te voorkom en dat daar baie werknemers is wat fokus net op diefstal en nie hulle werk nie.
Ted Blom en andere meen dis onafwendbaar dat Eskom sal afskakel. So ‘n “black-out” sal tot gevolg hê dat, indien die foute herstel is, dit ten minste ‘n week (sommige meen meer as twee weke) sal neem om die netwerk weer te kan aanskakel. Gedurende hierdie tyd sal daar nie water wees nie, geen riolering, geen bankdienste, vervoer van kos, internet, kommunikasie, en beheer oor die massas nie, wat sal inbeweeg en plunder om te oorleef. Hierdie geplundery sal met geweld en moord gepaard gaan en kan die uitwissing van die bleekgesigte beteken.
Al die ontkenners meen dat iemand ‘n plan het, maar die aaklige waarheid is dat niemand een het nie, behalwe groepe wat ruimte maak vir mense wat daarheen wil onttrek. Die probleem lê daarin dat ‘n mens nie voortydig daarheen kan gaan nie en as die chaos uitbreek, is daar geen manier om daar te kom nie, siende dat al die toegangspaaie in en uit dorpe versper sal wees deur massas honger mense. Diegene wat hardkoppig weier om die tekens te lees, sal uiteindelik omkom. Dis eenvoudig ‘n feit.
*
Daar is min dinge so mooi as die geluid van reën op ‘n sinkdak. Die lente het laat aangebreek vanjaar, met ‘n laaste kouefront wat vanaf die Kaapprovinsie opgebeur het na die noorde van Limpopo. Maar nou, vanaf laat gisternag, na ‘n week van skielike hitte – vanaf 1 September is dit warm in die Bosveld – het die donderweer opgesteek, die blitse het die berg verlig en die eerste groot druppels het begin val, met die emmersvol wat daarop gevolg het. Dis nie so erg as die sikloon van ‘n paar maande gelede nie, maar is welkom en bring ‘n lafenis oor mens, dier en plant. Baie van die reën word opgevang in seile wat as tregters gebruik word om die tenks te vul.
Robyn het wakker geword van die swaar weer, opgestaan, al is dit met wankelende bene, die gordyne en die skuifdeur oopgestoot en die vogtige, koel lug ingeasem. Sy lig haar ken op en maak haar mond effens oop om die lafenis amper in te drink. Sy wonder of sy nie weer ‘n stukkie seep moet vat, uit loop en op die graspek staan en stort in die reën nie. Uiteindelik word sy moeg en loop terug bed toe, waar sy op die skoon lakens lê en luister na die druppels.
Soos enige normale mens het sy nagmerries gekry, wat sy in die laatnag moes ry, soms sommer bloots. Die gesigte van die dooie manne sal sommer skielik voor haar opkom, met bloederige wonde. Sommige het donker leemtes waar hulle oë moet wees en ander het beskuldigende kyke wat hulle na haar toe gooi. Sy weet sy het soms in die nag gehuil, gepraat of geskreeu, soos dit die geval is met menige soldaat, vanaf vroegste tye. Wat sy nie besef nie is dat sy met hierdie spoke gaan worstel vir baie jare, miskien vir die res van haar lewe.
Die afgelope paar weke, vandat sy bygekom het, se dae is gevul met mense wat kom kyk het of sy okay is, mense wat klein geskenkies gebring het, van opgegaarde lekkernye, tuisgebakte koekies, stukkies sjokolade, ‘n blikkie kondensmelk, biltong waarvan sy te bang is om die oorsprong te vra, tot ‘n klein seuntjie wat met ‘n bossie blomme in die hand en ‘n verloofring, gevleg uit koperdraad, kom vra het of sy met hom sal trou.
Die jongmense, seuns en meisies, het absolute bewondering in hulle oë as hulle met haar praat en hier en daar sal een van hulle waag om ‘n vraag of twee te vra oor die besondere dag se gebeure. Aanvanklik het sy geweier, maar later agtergekom dat dit terapeuties is om daaroor te praat, alhoewel daar hier en daar van die meer grusame detail is wat sy terughou.
Drie dae nadat Robyn bygekom het, sit sy al vir ure buitekant in die son. Sodra dit te warm word, kan sy weer binnegaan, waar sy weer in haar gemakstoel kan gaan sit, met haar diere by haar. Hierdie keer kan sy die gordyne bedags oopmaak en saans die ligte aansit. Sy eet gesond. Na ‘n week gaan haal sy haar vuurwapens, maak dit sorgvuldig skoon en laai elkeen. Haar ammunisie is aangevul. Stadigaan begin sy oefen, langer ente loop, spiere terugbou en haar hare groei weer, al is dit nou nog redelik kort.
Cas en Calvyn is onmiddellik in die groot groep opgeneem en ook hulle wedervaringe sorg vir interessante vertellings.
Net Hermaans bly stil.
*
Die grootste deel van die modder in die park is verwyder. Die gras het na die eerste reën weer groen en welig uitgekom. Tente, karavane en selfs netjiese houthuise verskyn daarop. Die paadjies tussen die rye woonplekke word uitgeplavei met klippe en tweedehandse bakstene. ‘n Skool, kerk en gemeenskapsaal is opgerig. Die diesel en petrolkragopwekkers word aanvanklik aangevul deur sonpanele en omskakelaars wat in die ruïnes van die dorp herwin is. ‘n Eenvoudige, maar effektewe kragsentrale word gebou wat aanvanklik hout en later steenkool verbruik. Water word weer uit die dam na die reservoirs gepomp.
Iemand het lank gelede geskryf: “There is no holding a good man down who knows where he is going, and just keeps on going.” Hy kon net sowel van die onblusbare oorlewingsgees van die Boere-Afrikaner geskryf het.