Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die tong is 'n magtige wapen en slegs met die krag van die Heilige Gees kan hierdie wapen tot eer van God aangewend word. As ons nie elke dag bid vir dié genade nie sal ons meer oorlog as vrede ervaar.
BROKKIES UIT DIE BOEK – MAX (1)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Darius Maxim, oftewel, Max, soos almal hom ken, sit op die harde, halfverweerde parkbankie reg oorkant die Pretoriase stadsaal, naby die standbeeld van Andries Pretorius en sy perd.
Dis ‘n laat wintersdag, met die Augustuswinde wat vroeg vanjaar opgesteek het. Hy het ‘n ou, lang weermagjas wat uit sy neef se dienspligdae dateer aan, een wat by die ou soldate bekend was as ‘n “aapjas”, met die wollerige voering aan die binnekant en ‘n kappie aan die bokant, amper soos die nuwerwetse “hoodies” wat deesdae mode is, veral onder die jeug.
Max het die afgelope tyd van al sy vooropgestelde idees van ‘n reënboognasie ontslae geraak, grootliks as gevolg van sy ervarings saam met Bella Vos, wat hy uit die berge in die Wes-Kaap gaan haal het, nadat sy haar voet gebreek en amper verkluim het as gevolg daarvan.
Die land het die afgelope tyd al meer in chaos verval en daar is selfs gedeeltes in Johannesburg en Durban waar die veiligheidsmagte uitgeban is. Dis asof die land asem ophou, met sommige stadsbewoners wat reeds padgegee het na die platteland toe, ander wat onverbiddelik vashou aan bekende omgewings en die grootste hoeveelheid wat bloot verward is.
Pretoria verval ook sporadies in tydelike anargie wanneer die mense hulle woede strate toe neem. Voorheen was hierdie onluste amper op die ingewing van die oomblik en spontaan, maar dis duidelik dat dit deesdae georganiseer en doelbewus plaasvind, om nie net die bestaande regering te ondermyn nie, maar ook om vrees te skep en aan die organiseerders ‘n magshouvas op die gepeupel te gee.
Ver af in die straat is dit duidelik dat ‘n klein groepie die straat binnemarsjeer en soos dit vorder, word hulle al meer. Nicodemus het vir Max vertel hoe dit in sy dienspligtyd gebeur het, met die onluste aan die Oos-Rand, dat sommige onluste duidelik georganiseer was, met aanhitsers en opruiers, hier en daar versprei onder die gepeupel, maar dat dit ander kere half spontaan ontstaan het.
Max weet hierdie een is georganiseer en dit is juis waarom hy hier is. Waar hy sit, kan hy ongemerk die klein Zeiss verkykertjie uit die aapjas se groot buitesak haal en as hy die fokus effens verstel, sien hy die figuur van ‘n medium-lengte, maar sterk geboude man met ‘n kaal kop en swart, ruie baard, wat selfs teen sy donker gelaatstrekke uitstaan, nie reg in die middel van die voorste ry nie, maar so ‘n derde van die linkerkant.
Hy trek die aapjas se kappie oor sy kop, sodat sy gelaatstrekke verberg is en sodra die eerste polisie-Nyalas en Casspirs opdaag, weet hy wat volgende gaan gebeur.
Die onlustegangers het nou aangegroei tot ‘n paar honderd en Max merk op dat die man wat hy dophou, Jubal Kennedy, wat hy volgens inligtingsbronne weet nie ‘n Suid-Afrikaanse burger is nie, maar ‘n Amerikaner van Nigeriese oorsprong, nou na reg in die middel van die groep verskuif het.
Waar regerings tot ‘n val gebring word en ‘n nuwe een geskep word, is die CIA onverbiddelik teenwoordig. Hierdie een wat hulle in 1994 tot stand gebring het, is ‘n volslae mislukking en hulle moet nou een kry wat meer na hulle pype dans. Die afgelope jare het die ANC immers gewys waar hulle lojaliteite lê: by die Palestyne, Russe, Iranese en Chinese en nie by Amerika, wat hulle aan bewind gebring het nie.
Max se mense – sommige sou dit ‘n organisasie wou noem – bestaan uit manne en vroue wat besef dat die tyd voor ‘n volskaalse ineenstorting van stelsels baie min is, maar steeds probeer om die aankomende skade sover as moontlik te beperk, en weet dat Kennedy se marionettemeesters superwelgestelde en invloedryke mense is, met ‘n agenda wat ver wyer strek as die plaaslike politiek, waar daar ‘n magstoutrekkery tussen die grootste politieke partye, die ANC, die IVP, DA, VF+, EFF en MKP is. Hulle is almal maar stukke op die internasionale skaakbord, wat, as die tyd aangebreek het, summier van die bord afgevee sal word.
Aan die groot toedrag van sake kan Max en sy mense nie veel doen nie, maar plaaslik kan hulle die skade soveel as moontlik beperk, met die tyd wat vinnig besig is om uit te loop.
Dit beteken dat hulle die prominente politieke rolspelers sover as moontlik met rus laat, maar die ondergrondse opstokers, aanhitsers en moeiliheidmakers is, soos die Engelse sê: “Fair Game.” As jy nie omgee vir ander se lewens nie en dit in gevaar stel ter wille van jou meesters se agenda, stel jy jouself ook aan gewelddadige optrede bloot. Later mag hulle aksie boontoe loop na meer senior mense.
Natuurlik sny die dolk weerskante toe en Max besef dat hy ook die gevaar loop om sy lewe of ten minste sy vryheid, in die proses te verloor.
Met al die aandag wat op die protesteerders gevestig is, wat ookal hulle klagte kan wees, wag Max vir die eerste sirenes om die geraas te verdoof, voordat hy opstaan. Die geboue weerskante van die pad is verwaarsloos, met die hoofkwartier van die vloot wat nou verlate is en die ou sinodale gebou wat uit kantoorspasie bestaan. Die mense daarbinne klap die vensters, waar hulle uitgeloer het, toe en verskuil hulleself aan die binnekant, sover as moontlik van die buitemure af. Ook hulle weet wat kom.
Met sy byna wegsmeltende jas, dit wil sê ‘n verbleikte bruin-groen een, en die kappie oor sy kop, is hy maar net nog iemand in die omgewing, iemand wat die ander nie juis sal onthou nie. Hy is nie lank nie, ook nie kort nie, maar net so 1,85 meter, maar die oplettendes sou merk dat sy skouers baie breed is vir sy lengte.
Die eerste Nyalas hou ‘n ent voor die skare stil, met Max tussen die aankomelinge en die polisie. Feitlik onmiddellik vlieg traangasgranate (cannisters) met ‘n boog en die meeste land voor die onlusmakers. Dit word gevolg deur rookgranate; grys, geel en groen. Hier en daar knal ‘n skokgranaat, maar dis duidelik die polisie het nie meer veel daarvan oor nie.
Met die eerste walms wat hom ontvou, plaas Max ‘n gasmasker oor sy gesig en loop dan die rook binne. Sodra hy agterkom dat hy naby die skare is, haal hy ‘n Walther P38 9mm Parabellum uit sy binnesak, skuif ‘n knaldemper oor die loop en druk die veiligheidsknip vorentoe en op. Die wapen is gelaai met 127 grein koeëlpunte en skiet dus effens stadiger as die normale 115 grein ammunisie – net onder die snelheid van klank.
Alhoewel sy oë effens traan van die eerste asems traanrook en hy die geneigdheid om te hoes onderdruk, kan hy genoeg sien om Jubal Kennedy te eien. Hy loop tot binne twee meter van die man af, met die mense wat verward begin hoes en skreeu van woede. Hy lig die wapen en trek drie skote. Die eerste twee tref Kennedy in die borsgedeelte en die derde een in die voorkop.
Max beweeg na die kant van die skare, terwyl hy die wapen se knaldemper verwyder en die twee voorwerpe in die jas se binnesakke bêre. Hy is oor die lae ketting wat die plein afsper en sodra hy anderkant die plein is, trek hy die jas uit, versigtig dat die inhoud van die sakke nie uitval nie. Hy loop vinnig, maar nie haastig nie, na die parkeergarage naby die stasie, waar hy sy daklose Isuzu Frontier 320 V6 kry. In die bakgedeelte is ‘n ou weermagtrommel vasgebout, sterk gesluit met ‘n draaislot.
Hy plaas die aapjas daarbinne, met die Walther en knaldemper steeds in die binnesak, en haal sy ander wapens uit. Hy sit die CZ aan sy sy en die spaar magasyne in die konsolekassie. Agter die siplek is sy lang geweer, die Ruger Hawkeye in .338 Winchester Magnum.
Net na elfuur die aand en ‘n hele tenkvol petrol verder, daag hy by sy bestemming op.