Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Om nie 'n afspraak na te kom nie is 'n daad van oneerlikheid en ontrouheid. Dit is vandag 6 April, die dag waarop ons voorsate die HERE belowe het dat ook ons nakomelinge hierdie dag vir altyd tot ‘n vasblywende dank- en biddag sal stel tot eer van God se weldade. Kom dan hierdie afspraak vandag met Hom na.
BROKKIES UIT DIE BOEK - MAX (5)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Ek het iets.”
“Nou laat ons hoor, Skeer.”
“Gedurende die sewentigerjare het die regering R75 miljoen aan ’n geheime inligtingsprogram spandeer. Die fondse was deur die kabinet, en met mnr. P.W. Botha se samewerking, in die begroting van Verdediging weggesteek – sonder Parlementêre goedkeuring. ’n Kabinetskomitee, onder voorsitterskap van John Vorster, het die projekte gemonitor en die finansiering met die Minister van Finansies, eers dr. Nic Diederichs en daarna dr. Owen Horwood deurgevoer. Nadat sekere geheime projekte aan die pers gelek is het die Suid-Afrikaanse politieke landskap onomkeerbaar verander. Die Minister van Inligting, dr. Connie Mulder, is uit sy amp ontslaan en hy is saam met dr. Eschel Rhoodie en genl. Hendrik van den Berg as die sogenaamde skuldiges in die koerante afgemaak. Die Engelse pers het die debakel Muldergate gedoop.
Nadat P.W. Botha oorgeneem het as staatshoof het hy mnr. Rudolph Erasmus aangestel om ondersoek te doen na die besteding van geheime fondse. Die Erasmus-kommissie het aangevoer dat die staat niks geweet het van die besteding van geheime fondse nie en dat drs. Connie Mulder en Eschel Rhoodie, wat onderskeidelik as Minister en Sekretaris van Inligting deur die staat opgedra is om die programme uit te voer, die enigste verantwoordelike persone was.
Die Erasmus-kommissie het in verskeie hofsake betrokke geraak maar nie een daarvan gewen nie. Ook dr. Eschel Rhoodie is deur die Appèlhof onskuldig bevind. Op 31 Januarie 1979 het Mulder as LV vir Randfontein bedank en op 6 April 1979 is hy uit die Nasionale Party geskors omdat hy geweier het om hom ongekwalifiseerd by die eerste twee verslae van die Erasmus-kommissie neer te lê.”
“En?”
“Nee, dit is dit.”
“Dit kan nie wees nie. Waarom sou Connie Mulder geskors wees, en so ‘n groot stink rondom Vorster en Rhoodie hang?”
“Ja, dit maak nie sin nie. Ons moet verder krap.”
“Wat gaan ons daarmee maak as ons die mishoop uitkrap?”
“Dieselfde wat ons gedoen het met die wapens, die Lady R, die kinderhandel, die Smit-moorde, die openbaarmaak van die geheime leër en al die klein tussen-in goed.”
“En wat kry ons daaruit?”
“Die satisfaksie – askies dit is ‘n anglisisme – die genoegdoening dat ons nie hierdie kriminele en uitverkopers van ons land net sito-sito laat gaan nie.”
“Dis goed genoeg vir my.”
*
Laatmiddag het die wolke, wat nog die heel dag die son wegsteek, swaarder en donkerder geword. ‘n Effense dreuning kom van ver af aangerol, gevolg deur nog een, nou nader en dringender. ‘n Weerligstraal skeur die atmosfeer en onmiddellik daarna knal die donderweer. Dis asof ‘n digte gordyn uit die hemel sak en swaar reën, wat later ligter sal word, gevolg deur wat die Duitsers “graupel” noem, oftewel iets amper soos sagte hael, wat op sy beurt weer sneeu voorafgaan.
“Kom, Cornelle. Dis nou of nooit!”
Max staan op, sorg dat Cornelle naby hom bly en beweeg dan vinnig af na die vallei, tussen die koue, nat en verwarde mense deur en voordat enigiemand hulle kan keer of na hulle sou roep, is die twee tussen die swerwers deur. Daar is inderdaad nie eens die begeerte om nou aandag aan die twee te gee nie. Twee honderd meter verder klim hulle deur ‘n doringdraadheining. Dis bitterlik koud.
“Ons moet aan die beweeg bly. Ons sal wel skuiling kry, maar as ons nou gaan sit, sal ons verkluim.”
Die reëndigte klere keer nie net die gietende reën nie, maar ook die snerpende wind, wat nou vanuit die hoogtes oor hulle neerstort, maar dis sekerlik naby of onder vriespunt.
Terwyl hulle loop, sak die sneeu uit en mettertyd bedek die spierwit daarvan die omgewing. Nie een van hulle twee is gewoond om in sneeu te loop nie; dis immers nie iets wat algemeen aan die soom van die Bosveld gebeur nie. Dit knars onder hulle stewels en los uiteraard spore, maar Max hoop die sneeu bedek dit lank genoeg sodat hulle agtervolgers hulle nie sal kry nie.
“Agtervolgers?” Ja. Die mense wat op hulle spoor is, sal hulle nie lank laat afskrik deur hulle tydelike verdwyning nie. Teen hierdie tyd het iemand al heel moontlik die Frontier opgespoor en sal hulle kan uitwerk in watter rigting hulle geloop het.
Sodra hulle by die volgende koppie kom, klim Max dit uit, met Cornelle op sy hakke. Hy is heimlik verras met haar uithouvermoë en selfs ‘n bietjie trots daarop. Bo-op die koppie draai hy om, haal die lang geweer van sy skouer af en bekyk dan die hele plek agter hulle vir enige agtervolgers. Die skielike koue het die lense opgewasem en hy haal ‘n spesiale stukkie sagte lap uit sy baadjie se bosak, haal dit uit die plastieksakkie en vee daarmee die lense skoon.
“Waarvoor soek jy?”
“Vir enigiemand wat op ons spoor kan wees.”
“Maar hoe? Ons het mos nie meer die kar nie, ons het ver geloop en die wolke en sneeu steek ons weg.”
“Cornelle, die mense wat jou wil stilmaak is nie paloekas nie. Hulle beskik oor ‘n wye reeks elektroniese en ander hulpmiddels. Hulle kan eenvoudig nie bekostig dat jy bly lewe nie.”
“Max?”
“Ja?”
“Sal jy my asseblief wys hoe werk die geweer wat jy in my rugsak gesit het?”
“Ek sal. Maar eerstens, dit is nie ‘n geweer nie, dis ‘n handwapen en by name ‘n pistool.”
Max haal die Beretta uit haar rugsak, maak seker dis nie gelaai nie en wys haar stap vir stap hoe dit werk. Sy is na alles ‘n ingenieur en kan die werking daarvan vinnig begryp. Hierdie pistole is relatief klein, lig (met ‘n allooi raam) en neem dertien rondtes ammunisie in die magasyn. Die enigste nadeel is dat dit moeilik oorhaal, teen ‘n baie stywe veer. Tevrede dat sy die basiese gebruikbeginsels van die pistool baasgeraak het, laat hy toe dat sy die wapen span, die veiligheidsknip opsit en dan haal hy die magasyn uit en sit ‘n los rondte daarin. Die pistool kan nou veertien rondtes vuur, sonder om herlaai te word. Hy gee vir haar ook ‘n volgelaaide tweede magasyn.
Weens ‘n gebrek aan ‘n skede, sit sy dit in haar groot baadjiesak.
Wanneer Max weer die omgewing bespied deur die teleskoop, sien hy ‘n spikkel teen die sneeu, ver agter hulle – miskien drie of vier kilometer. Dit sou enigiets kon wees, maar as hy merk hoe vinnig dit beweeg, en in ‘n duidelike rigting, is hy seker dit agtervolgers. Hoeveel, kan hy nie bepaal nie.
“Wat sien jy?”
“Ek sien ‘n groep mense op ons spoor.”
“Hoeveel?”
“Ek weet nie. Hulle is nog op ‘n bondel en dis al wat ek kan uitmaak.”
“Hoe weet jy dis mense wat ons soek?”
“Glo my, dit is. En as ons hulle kan sien, kan hulle ons ook sien.”
“Kan ons wegkom?”
“Nee. Hulle is fiks, sterk en vinnig.”
“So, wat doen ons?”
“Ons het een keuse, met twee opsies – ons kan vlug of veg en vlug kan nie vir lank werk nie. Dit beteken ons moet ‘n plek soek vanwaar ons op ‘n terrein wat ons self uitkies, kan veg.”
Die koppie waarop hulle nou sit is nie baie hoog nie, miskien sowat vyftien meter vanaf die basis daarvan af. Wanneer Max na die noord-ooste kyk, is daar ‘n ander een, meer as dubbeld hierdie een se hoogte, die eerste van die granietkoppies wat meer na Matoks se kant toe uitstulp, met regop, swaar en amper reghoekige rotse aan die bokant. Hier en daar is ‘n aalwyn, naboom en selfs ‘n paar rotsvye. Indien daar gras is, is dit nou, in die winter, heeltemal verdor en hy kan nie enige sien nie. Die koppie is sowat een en ‘n half na twee kilometer van hulle af en daar is min dooiegrond tussen-in.
Max kyk weer na die plek waar die agtervolgers laas was en hy is geskok om te sien hoe vinnig hulle nader gekom het. Daar is sewe manne in die groep.
“Cornelle, ek weet jy is moeg, maar as ons enigsins ‘n kans wil staan, moet ons by daardie koppie aan ons bokant kom. So nie, moet ons ons kanse hier vat.”
“Max, as jy daar kom, hoef jy nie ver om te kyk nie. Ek sal by jou wees.”
Sonder veel moeite strompel hulle die koppie waar hulle nou op is, af en begin hardloop, sodra hulle aan die onderkant kom. Na ‘n paar honderd meter is hulle albei uitasem en Max verstadig sy pas. Hulle loop vinnig nog net meer as twee rugbyvelde ver.
Skielik is daar ‘n klapgeluid oor hulle koppe en direk daarna hoor Max die knal van ‘n vinnige mediumkaliber geweer. Die koppie voor hulle is nog ver. ‘n Tweede skoot laat sneeu opslaan minder as twee meter na hulle regterkant.
Max hou op hardloop, sak af op sy een knie, met die Ruger .338 teen sy skouer.
“Hardloop, Cornelle. Ek kyk of ek hulle koppe kan laag hou.”
Die fris geweer knal hard en duidelik. Max is nie seker of hy iets getref het nie, maar die geskiet na hulle hou vir die oomblik op. Hy hardloop agter Cornelle aan. Skielik is daar ‘n sloot voor hulle, wat diagonaal met hulle vlug loop en sy spring daarin. Max volg haar.