Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Pyn en lyding het al menige mens se ore vir die stem van God geopen. Dis die megafoon waarmee God ‘n dowe wêreld wakker wil maak.
BROKKIES UIT DIE BOEK - MAX (10)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Max besef skielik hulle is omring deur mense wat blyk hulle nie goedgesind te wees nie. Hy weet nie of dit almal huurmoordenaars is, soos die spul wat op hulle spoor was nie, en of dit bloot mense is wat toevallig daar is. Dit maak nie saak nie – daar is geen uitkomkans vorentoe of agtertoe, links of regs nie.
‘n Ligte reënbui sak uit en dit gee Max kans om die omgewing goed deur te kyk. Hy besluit op ‘n vlak, smal, kort skeur onderkant ‘n groterige rots. Met die gekamoefleerde seil oor die sloot getrek en aan die onderkant van die rots ingewig, laat hy vir Cornelle onder die seil inkruip en, seker dat niemand hom sien nie, klim hy ook in, sodat hy langs en teenaan haar lê. Die beperkte ruimte na die kante toe laat hom geen opsie nie. Hy probeer vir haar wys om stil te bly, maar dit is te donker daarvoor en hy druk sy wysvinger sag oor haar lippe. Teen haar oor sê hy sag genoeg dat net sy kan hoor.
“Sjjj. Moenie roer nie!”
Ten spyte van die reën wat nog uitsak, soms sag en later meer dringend, met die gedruis op die seil bokant hulle koppe, wat natuurlik harder klink, omdat die klank onvermydelik versterk is in die holte waar hulle lê, hulle asemhalings wat onnatuurlik hard klink in die klein ruimte, kan hulle die versigtige bewegings van etlike mense naby hulle ervaar.
Max beweeg sy hand stadig en kalm en haal die Walther P38 onder sy linkerarm uit. Met stadige, dog besliste bewegings, haal hy die lang buis van die klankdemper uit en skroef dit ewe versigtig in die donker aan die tromp van die loop. Met sy linkerhand oor die meganisme om die effense klikgeluid te demp, haal hy die haan oor. Hy is versigtig om nie sy snellervinger naby die sneller te bring nie. Hy ervaar die spanning waarmee Cornelle worstel aan die manier waarop haar bors dieper en vinniger beweeg soos sy asemhaal.
’n Koue straaltjie reënwater loop naby hulle koppe by die seil in en Max besef dis as gevolg daarvan dat iemand ook teen die rots, waaronder hulle lê, gaan sit het en per ongeluk ‘n stukkie van die seil met sy stewel weggestoot het.
Max beweeg sy regterhand stadig, totdat die tromp van die loop presies wys na waar hy glo die man moet sit. Cornelle knyp haar oë styf toe en onwillekeurig gryp sy Max se sy so styf vas dat hy haar naels deur die klere kan voel.
Na ‘n paar minute beweeg die man weer sy voet effens, miskien om dit meer gemaklik te maak, maar in die proses druk hy die seil met sy hak verder weg en tot sy verbasing sien hy iets onder die seil wat nie vir hom reg is nie. Hy haal ‘n klein flitsie uit en skyn onder die opening wat die seil gemaak het, in.
Vir ‘n flietende oomblik sien hy die matswart tromp van die knaldemper, voordat die koeël hom teen die voorkop tref. Hy val vooroor op Max en Cornelle en Max moet haar styf vashou om te verseker dat sy nie beangs opvlieg nie.
“Sjuuut!”
Skielik is dit baie koud en nat in die modder onder in die sloot. Max besef hulle sal nie veel langer hier kan stillê nie. Versigtig, om nie te veel aandag te trek nie, druk hy die dooie, swaar liggaam van die man weg. Van die bietjie bloed uit die wond in die man se kop loop oor Cornelle se wang en sy is nou desperaat om uit die plek te kom. Dit verg al Max se krag om haar onder bedaring te hou en terselfdertyd die dooie man weg te druk. Dit moet hy stadig en versigtig genoeg doen om nie aandag te trek nie.
Met ‘n enorme poging stoot hy die seil weg en die man se liggaam rol van hulle af. Onmiddellik kom Max regop en besef dadelik dat daar nog twee manne is wat langs hom regop kom. Voordat hulle tot verhaal kan kom, tref twee skote hulle elkeen in die bors en een in die kop.
“Kom!”
Hy gryp sy geweer en Cornelle se hand om haar op te tel. Sy het ongemaklik gelê en haar regterbeen is vir die oomblik doodgelê, tog is hy sterk genoeg om haar regop te tel. Met genoegdoening sien hy dat sy steeds haar geweer vashou.
’n Weerligstraal skeur die hemel oop en in die knal en donderslag kan Max hom en Cornelle uit die voete maak.
*
Potchefstroom 2022
“So, jy gaan nie aan my raak nie? Nie soen of net bietjie vashou nie”
Herrie lê al vir meer as twee ure wakker en kyk na waar die dak moet wees. Die wind het vroegaand opgekom en waai soos dit net kan in die ou Wes-Transvaal, nou Noord-Wes Provinsie.
Hy is al ‘n hele ruk lank alleen nadat Stella oorlede is en hy het daaraan gewoond geraak. Hy het sy eie dinge wat hom besig hou, soos lees, skyfskiet, aan sy “wrak” soos hy die absurde ding noem, werk, iets nuuts aanpak, iets nuuts studeer. Hy vermy meeste mense se geselskap, nie omdat hy ‘n nors ou man is nie, maar bloot omdat hy van sy eie geselskap hou. Hy bly fiks, oefen gereeld in sy tuisgimnasium, rook glad nie en sal nie meer as twee of drie maal per jaar iets drink met alkohol in nie. Hy pla niemand en niemand pla hom nie.
Hy is baie spyt dat hy hierdie nostalgiese reis aangepak het en neem homself voor om so gou as moontlik terug te gaan na sy huis toe – dis nou as die plek nog staan.
“Hoe bedoel jy?”
“Ek bedoel, Herrie, jy het my vandag van ‘n gewisse trauma gered. Weet jy wat is die diepste wens van enige vrou?”
“Nie werklik nie.”
“Jy was getroud en jy weet nie? Ek sal jou sê: dis om die heldin in haar eie verhaal te wees. Eintlik is ‘heldin’ nie die regte woord nie. Eerder ‘eensame prinses’, wat deur die held gered word. Waarom dink jy is sprokies soos Rapunzel en die Slapende Prinses so gewild? Of die Barbara Cartland-boeke? Mills and Boone? Jy moet ‘Die Ongetemde Hart’ van John Eldredge lees.”
“Ek het geen idee nie.”
“Dis omdat diep in elke vrou se hart sy wag vir haar prins op ‘n perd. En weet jy wat nog? Elke man is in sy wese ‘n held wat die skone prinses wil gaan red. En vandag het jy my gered.”
Herrie lê ‘n paar lang minute stil, so stil dat Tertia dink hy het aan die slaap geraak. Dan antwoord hy.
“Jy weet, Tertia, jy is miskien die mooiste vrou wat ek nog ooit gesien het. Ek het dit nie geweet toe die taxi-manne jou gegryp het nie, maar daarna kon ek dit mos sien. Jy is nie net mooi nie, maar vir my die epitoom van reinheid. Daarom...”
“Daarom wat?”
“Ek het nie veel in die lewe oor nie. My kinders is ver en het hulle eie lewens waarmee hulle aangaan. Ek het nie eintlik vriende nie, is nie ryk nie, maar het genoeg geld om gemaklik te lewe vir die res van my jare. Ek het hierdie ou kar hierbuite, ‘n armvol vuurwapens, ‘n paar ander goed wat meer sentimentele waarde het as wat dit geld werd is. Die enigste ding wat ek nog regtig het wat vir my saakmaak is my selfrespek en trots. Jy is wat – dertig jaar jonger as ek? Sê nou net ek raak verlief op jou, wat baie maklik kan gebeur, en ons het fisiese omgang vanaand, wat sekerlik ‘n diepe begeerte is by my, wat dan? Dan is ek nie meer ek nie, maar ‘n skaaperige ouman met ‘n jong blaartjie. Ek het nog nie, maar een of ander tyd gaan ek oumensskete begin kry, miskien tande verloor, my arms gaan slap begin hang, ek gaan bedags op my stoel aan die slaap raak en snork.”
“Ek gee nie om nie!”
“Maar ek doen! Ek gee om dat jy my dan sal minag. Jy sal saam met vriende van jou eie portuur wil gaan dans of braai of kuier by plekke waar jongmense gaan. Jy gaan my meet aan jong, viriele manne en my begin verwens.”
“So, wat gaan jy doen?”
“Ek gaan my hart bewaak, soos die Bybel sê, vroegoggend my goed vat en teruggaan na my huis toe.”
“Waar is dit?”
Herrie draai op sy sy, vat saggies aan haar wang en lê weer op sy rug.
“Ver genoeg dat ek na jou gaan verlang en wonder wat kon gebeur, maar ek gaan my menswaardigheid behou.”
“En wat van my?”
“Jy sal my gou genoeg vergeet.”