Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Swaarkry is vir niemand lekker nie, maar die lewe sal maar min werd wees daarsonder. Die verskil tussen yster en staal is vuur, maar staal is die ekstra koste werd.
JAKKALS EN KLEIN BÔGOM
BOEKRAK VIR AFRIKANERJIES
Lees nog storietjies by Boekrak vir Afrikanertjies
Van daardie dag af toe Jakkals vir ou Bôgom, die bobbejaan, so die skrik op die lyf gejaag het met sy byl, was hy bang dat ou Bôgom sou wraak neem. Daarom het hy ‘n paar dae later maar baie versigtig teen ‘n rantjie uitgedraf om te sien of hy nie ‘n vleiskossie kon vang vir hom en sy vrou en vir Antjie nie.
Toe hy niks kry nie, gaan lê hy onder ‘n groot moepelboom om ‘n bietjie te rus. Meteens tref ‘n klip hom bo uit die boom teen sy ribbes en toe hy verskrik opspring om weg te hardloop, kry hy nog een skrams teen sy kop. Hy laat nael ‘n entjie weg van die boom af, maar toe word hy baie nuuskierig om te weet hoe daar klippe uit ‘n moepelboom kan uitval. Hy draai toe om en sien hoog in die takke tussen die blare, die kop en skouers van klein Bôgom uitsteek. Hy was ou Bôgom se jongste seuntjie.
“Ja, jy dink mos jy’s vreeslik slim om met bobbejane die gek te wil skeer, né? Maar ek sal jou ‘n les leer!”
Hy gooi weer ‘n klip na Jakkals, maar hierdie een was mis, want ou Jakkals het betyds gekoes. Hy het ook gesien dat Bôgompie nie meer klippe gehad het om te gooi nie.
Jakkals was nou so kwaad dat hy klippe kon stukkend byt, maar hy besef dat as hy vir Bôgompie wil bykom, moet hy taktiek gebruik. Hy vryf sy ribbes en kreun asof dit vreeslik seer is en vra: “Ag, wanneer het ek met jou die gek geskeer?”
“Dit was nie met my nie. As jy dit ooit met my probeer, sal jy uitvind dat ek vir jou te slim is. Maar jy het ‘n gek van my ou pa gemaak en daardeur het ek in die moeilikheid gekom.”
“Hoe so, man?” Ou Jakkals vryf weer sy ribbetjie en kreun asof dit verskriklik seer is.
“Kyk, jy terg vir ou Wolf so vreeslik dat hy dit nie meer kon uithou nie. Toe kry hy my pa om hom te help om jou op te dons. Toe my pa terugkom, was sy stert só seer dat hy net die heeldag besig is om hom te dokter en befoeterd te wees. As hy so siek voel, kry hy lus vir gom. Dan stuur hy my en my broer die bome in om gom te soek. Maar as ek net een klein stukkie daarvan eet, dan sambok hy my tot ek skreeu of ek regtig seerkry en amper dood is. Sien jy nou, hé?”
“So, al wat jou pla is dat jy nie van die gom wat jy afpluk, mag eet nie.”
“Ja, en ook omdat ek gesambok word omdat ek al die klein stukkies eet wat ek in my mond steek,” sê klein Bôgom.
Jakkals trek ‘n vies gesig en sê: “As ek jy is, eet ek al die gom wat ek kan kry en soek dan nog ‘n bietjie vir jou pa. Jy dink jy’s slim, maar ek skaam my morsdood as ek nie slimmer as jy kan wees nie.”
Toe word Bôgompie kwaad en sê: “Ag, jy dink jy is so vreeslik slim, maar ek wed jy weet glad nie hoe my probleem opgelos kan word nie.”
“Só goedkoop vang jy my darem nie,” sê Jakkals. “Maar bring vir my môre ‘n stuk gom, goeie, helder gom; dan sal ek jou sê wat jy moet doen om al die gom te kry en jou broer al die sambok.”
Klein Bôgom het hiervan baie gehou. Hy belowe om die volgende dag weer hier met die gom in die boom te wees en Jakkals belowe om nie te vergeet om te kom nie.
Toe ou Jakkals die volgende môre by die moepelboom aankom, sit Bôgompie lankal hoog en droog tussen die takke. Jakkals se mond water toe hy die groot stuk soetdoringgom sien waaraan klein Bôgom kort-kort sit en lek.
“Vertel nou vir my wat jy gister beloof het.”
“Goed, maar gee eers daardie gom hier, sodat ek kan sien of dit goeie gom is.”
“Ja goed, ek sal jou gou wys hoe goed die gom is.” Klein Bôgom byt ‘n groot stuk af en begin dit só luidrugtig te kou met ‘n gesmak van sy lippe, dat dit klink soos ‘n span osse wat in diep modder trap.
Toe ontplof ou Jakkals: “Hier jy, waaroor eet jy my gom?”
“Omdat jy sê dat dit nie goeie gom is nie. Ek wys net vir jou hoe goed dit is. Dis ook nie jou gom nie. Jy kry dit nie voor jy my nie daardie plan vertel het waarvan jy gepraat het nie.”
“Ag, dink jy dan dat ek jou sal kul?”
“Ja, jy kry nie die gom voor jy my die plan vertel het nie.”
“Is dít hoe die wind waai? Dan sal ek maar jou broertjie gaan probeer. Hy sal my nie verneuk nie.”
“Dis goed. Loop soek hom. Ek gee hom net ‘n lekker pak slae, dan vertel hy my alles. En nou gaan ek maar hierdie gom sit en eet.”
Jakkals se mond water so dat hy skaars kan praat. “O, jy vertrou my nie, né?”
“Kyk hier, oom Jakkals, ek weet nie of jou plan ooit goed sal wees nie, maar ek weet hierdie gom is goed en daarom gaan ek dit geniet. “ Hy rek sy mond wyd oop om te hap en vryf met sy hand oor sy maag en smak met sy lippe: “Njam, njam, njam!”
Ou Jakkals voel of hy wil flou word, maar hy kry dit reg om te kreun: “O, jy is slim, ja jy’s vreeslik slim.”
Klein Bôgom sê: “Allawêreld, my ma sal baie bly wees as sy dit hoor!”
Toe sien Jakkals daar is nie salf aan die ventjie te smeer nie en verander sy taktiek: “Kom ons praat nou besigheid. Gaan sit die gom op daardie klip by die boomstam en dan staan ek hier ver van jou af en vertel vir jou die plan wat ek vir jou gemaak het.”
“Nou praat jy, man!” skree klein Bôgom en gaan sit die gom op die klip neer, maar hy gaan staan langs die klip en sê: “Nouja, hier is jou gom. Praat nou.”
Jakkals gee toe moed op en sê: “Al wat jy moet doen is om al die gom te eet wat jy in die boom kry. Dan moet jy stilletjies jou broer se kalbassie vol gom met jou leë een omruil. Dan kry hy die sambok as julle by die huis kom.”
Jakkals storm nader om die gom te kry, maar klein Bôgom gryp dit en spring weer in die boom in. Jakkals kry byna die stuipe toe hy sien Bôgompie gee ‘n groot hap in die gom, sodat die helder stroop langs sy ken afloop.
“Hier jou skelm, gee nou my gom! Dis nou myne!”
“Nee oom Jakkals, jou raad is baie sleg. My broer is nie dom nie. Sy oë is altyd oop. As ek die kalbassies omruil, sal my hare waai!”
“Jy het dan gesê jy kan jou broer enige dag ‘n pak slae gee.”
“Ja, maar hy was nie hier naby toe ek dit gesê het nie.”
“Goed,” sê ou Jakkals, “maar ek het jou nou. Ek gaan hier sit tot jy moet afklim.”
“Dis goed. Sit maar lekker. As my pa en die ander bobbejane netnou hier verbykom, sal jy jou draaie nie kry nie.”
Ou Jakkals spring op en sien die grys kraag van die ou voorloper oor die bult kom en toe laat spat hy. Hy hardloop koes-koes tot agter die rantjie en gaan sit daar en dink hoe hy vir Bôgompie kan terugbetaal.
Toe die bobbejane oor die bult kom, het klein Bôgom by hulle aangesluit en saam na skerpioene onder die klippe gesoek. Hy kom by ‘n groot soetdoringboom en sien lang stukke gom wat uit stukkende plekke uit sy bas uitdrup. Hy maak vinnig ‘n plan om al hierdie gom vir homself te kry en sê vir sy pa: “Wil Pa graag daardie ou Jakkals beetkry?”
Ou Bôgom grom kwaai toe hy aan die seer kinkel in sy stert vat. “Ja, laat ek hom net in die hande kry!”
“Hier is nou Pa se kans. Ek pluk gou al die gom van hierdie boom af. Dan smeer Pa dit al oor my lyf en ek hou ‘n groot stuk in my hand vas en Pa sit my op daardie klip in die son en dan wei julle net hier oor die rantjie totdat ek roep.”
“Nou wat dink jy sal gebeur?”
“Pa sal sien.”
Ou Bôgom dink toe sy seuntjie is oulik genoeg om ‘n slim plan uit te dink om ou Jakkals te vang en hy maak toe so. Toe hy oor die rantjie wegdraf, sit Bôgompie hoog en droog in die son, onderwyl die taai gom van sy lyf af op die klip drup. Hy voel sommer baie in sy skik. Hy sal sommer gou al die gom opeet en dan maak dat hy in die naaste boom kom, voordat die ander bobbejane opdaag.
Maar Bôgompie het gou ontdek dat hy nie besig was om piekniek te hou nie. Die son maak hom lomerig en brand die taai gom só droog dat hy glad nie kan roer nie. Hy sien ou Jakkals aankom en probeer om van die klip af te spring, maar sy sitvlak sit daaraan vas en hy kan nie ‘n hand of ‘n voet roer nie.
“Ahaa!” skree ou Jakkals. “Nou het ek jou, en sommer al die gom ook. Ek sal jou leer om met my die gek te skeer!”
Bôgompie bars amper uit sy vel, so beur hy om los te kom. Hy probeer om vir sy pa te skreeu, maar hy kry nie ‘n geluid uit nie want sy kakebene sit aan mekaar vas.
Ou Jakkals kom staan voor hom en lag met ‘n wydoop bek. “Kom ek wys jou waar ek jou die eerste byt gaan gee.” Hy vat aan Bôgompie se ribbetjies, maar daar sit sy hand vas.
“Laat los my hand, of ek sal jou sop laat spat!” Hy slaan klein Bôgom met die linkerhand, maar toe dié ook vassit, skrik hy groot en skree: “Los my, los my, of ek sal jou sewe soorte reënboë laat sien!” Hy byt na klein Bôgom en daar sit sy bek ook aan hom vas. Hy sien twee bobbejane vinnig nadergalop en toe beur en ruk hy met alle krag. Dit klink of daar ‘n stuk linne skeur. Dit was die vel van klein Bôgom se sitvlak wat van die klip losgeskeur het. Maar die twee sit nog aanmekaar vas en toe ou Bôgom en sy ander seun naderstorm om vir Jakkals by te kom, hou hy vir Bôgompie al voor hom om te keer.
Daar sit die drie bobbejane en ou Jakkals almal aan mekaar vas! Dit was ‘n konsternasie om te aanskou. Hulle ruk en pluk en brul en skree en skel. Ou Jakkals kom eerste los en laat nael oor die rantjie dat die rooi stoffies agter hom opslaan.
Toe die drie bobbejane hulle uiteindelik van mekaar af losgeskeur het, dink klein Bôgom dat sy voorland ‘n vreeslike pak slae met die sambok gaan wees. Maar ou Bôgom sê: “Geluk my seun! Jy’s baie slim. Ons het ou Jakkals goed opgefoeter!”
Klein Bôgom het geswel van trots. Van toe af wou hy sy blink sitvlak vir geen ander een verruil nie.